3 bladsye.

Die KRUISIGING van die Leuenaar en die OPSTANDING van die Waarheidspreker

Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.

Efésiërs 4:25

Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die ou mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.

Kolossense 3:9, 10

Lees Heidelbergse Kategismus: Sondag 43

Aan die hand van die Skrif en ons mooi Kategismus, wat die Skrif naspreek, wil ek met u stilstaan by die negende gebod: “Jy mag een valse getuienis teen jou naaste spreek nie.” Ek wil egter nie ingaan op verskillende voorbeelde van oortreding van hierdie gebod nie. Daar word baie geskryf oor leuentaal en die verskillende vorme daarvan, maar min oor die verlossing daarvan. Daarom wil ek my beperk tot die volgende drie sake:

  • die oorsprong van hierdie sonde;
  • die ernstige gevolg daarvan; en
  • hoe ons daarvan verlos kan word.

Die Oorsprong van hierdie Sonde🔗

Ons Heidelbergse Kategismus wys ons op die oorsprong van hierdie sonde wanneer hy sê: Ek moet alle vorme van lieg en bedrieg as “die duiwel se eie werke” vermy. Sondag 43 is die enigste Sondag waarin by die verklaring van die Tien Gebooie die duiwel genoem word.

ln Génesis 2:16, 17 kom die HERE met sy Woord na die mens: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” ln Génesis 3: 1 kom die duiwel met sy leuenwoord na die mens: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Terwyl Satan goed weet dat die HERE net van een boom gepraat het, praat hy nou van al die bome. Deur die oordrywing gee hy ’n verkeerde voorstelling van die gebod. Die HERE se Woord word verdraai. Ook kom die HERE se goeie Naam in gedrang, want Hy word as onbillik en hard voorgestel.

ln Génesis 3:4, 5 gaan Satan nog ’n stap verder. Terwyl die HERE uitdruklik gesê het dat die mens sekerlik sal sterwe as hy van die boom van die kennis van goed en kwaad eet, sê die duiwel: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oop­gaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Weer word God se Woord verdraai en sy Naam kom in gedrang, want Hy word voorgestel as onbetroubaar in sy Woord.

Op die geskiedenis van Génesis 3 gryp Jesus terug wanneer hy in Johannes 8:44 vir die Jode sê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.”

Die Erns van hierdie Sonde🔗

Om te lieg, is nie ’n kleinigheid nie. Ons Heidelbergse Kategismus waarsku ons teen die ernstige gevolge van hierdie sonde, wanneer hy sê: “Dit moet vermy word as ek nie die swaar toorn van God oor my wil bring nie”. Hierdie vermaning is op die Skrif gegrond. Spreuke 19:9 sê: “ ’n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om.”

Ons sal eenmaal rekenskap moet aflê van ons woorde. Dit leer Jesus ons in Matthéüs 12:36-37: “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.”

Die Verlossing van hierdie Sonde🔗

Onder andere in Romeine 6:6, Efésiërs 4:22 en Kolossense 3:9 hoor ons van die ou mens. Die ou mens waarvan sprake is, is ons ou, sondige natuur of geaardheid. Dit is hoe ons deur die sondeval geword het: vyande van God en haters van ons naaste. Die Kategismus beskryf die ou mens as ons sondige begeertes (oorspronklik: die bose luste van die vlees) wat oor ons heers (Sondag 16, v/a 43). Die ou mens is n leuenaar. Dit kan ons aflei uit Efésiërs 4:22-25 en Kolossense 3:9, 10.

So mag ’n Christen nie wees nie. Ons moet ons bekeer. Hierdie bekering bestaan uit die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (HK Sondag 33). Daarop wys Paulus die Efésiërs, wanneer hy vir hulle sê: Hulle moet, wat die vorige lewenswandel betref, die ou mens aflê en dat hulle hul met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (4:22-24), en dan voeg hy daarby: “Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede” (vs 25).

ln Kolossense 3:9, 10 kry ons presies dieselfde gedagte: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die ou mens met sy werke afgelê het julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper ...”

ln sowel Efésiërs 4 as in Kolossense 3 kom telkens die beeld van God ter sprake. Ons is beeld van God as ons die leuen aflê en die waarheid spreek. ln Romeine 6:6 sien ons hoe die wonder van die aflê van die ou mens plaasvind: deur die krag van die kruis. “Ons weet dat ons ou mens saam met Christus gekruisig is.” Daarom roep Paulus die Efesiërs en die Kolossense ook op om die ou mens af te lê.

Romeine kan in drie dele verdeel word: ellende (hfst. 1 - 3:20), verlossing (hfst. 3:21 - 11) en dankbaarheid (hfst. 12 - 16). Nou is dit opvallend: Die woorde oor die afsterf van die ou mens staan nie in die deel oor die dankbaarheid nie, maar wel in die gedeelte oor die verlossing. Die afsterf van die ou mens het alles te make met die kruis van ons Here Jesus Christus. Die kruis is die sterfbed van die ou mens en die opstanding is die geboortebed van die nuwe mens.

Die Heidelbergse Kategismus het sy driedeling onder andere ontleen aan Romeine, en nou is dit baie belangrik om te sien: Ook in ons belydenis kom die afsterwe van die ou mens nie eers in die dankbaarheidsgedeelte ter sprake nie, maar alreeds in Sondag 16. ln laasgenoemde Sondag word van die nut van die offerande en dood van Christus gesê: “Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie, maar kan ons onsself as n dankoffer aan Hom toewy.”

Die offer en dood van Christus aan die kruis het gevolge in ons lewe: gevolglik (as gevolg van hierdie offer en dood van Christus) kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as n dankoffer aan Hom toewy. Ook dit kry ons Kategismus in Romeine 6:6: “... aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.” Die kruis was die einde van die heerskappy van ons ou mens.

Die offer van Christus is die geheim en bewerkende oorsaak van ons dankoffer. Christus se kruis het alles met ophou lieg te make.

Teenoor die ou mens staan die nuwe mens. ln Kolossense 3:1 lê Paulus die allernouste verband tussen ons lewe as nuwe mense (dit wil sê: ons lewe as mense wat geestelik weer lewe, mense wat ’n Iewe van liefde lei) enersyds, en die opstanding van Christus andersyds. Ons kan Paulus se woorde in vers 1 en verder so saamvat: “As julle dan saam met Christus opgewek is”, leef nou ook soos mense wat nie meer in die graf van die sonde lê nie.

Ook die opstanding van die nuwe mens kom nie vir die eerste keer ter sprake in die dankbaarheidsdeel van die Kategismus nie. Reeds in die deel oor die verlossing en met name in Sondag 17 bely ons: Deur die krag van Christus se opstanding word ons opgewek tot ’n nuwe lewe.

Die opstanding van Jesus is die geheim van ons nuwe lewe, van waarheid praat. Ewe min as wat ons self uit die gewone graf en dood kan opstaan sonder die krag van Christus se opstanding, ewe min kan ons uit die graf van die geestelike dood opstaan sonder die krag van die opstanding van Christus.

Die kruis is die dood van die ou mens, die leuenaar, die kruis en niks anders nie. Weet ons dit nog? Die opstanding van Christus is die geboortebed van die nuwe mens, die waarheidspreker, die opstanding van Christus en niks anders nie.