Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Lag (in Kerstyd) Rondom die Verbond

Lees Genesis 17:17; 18:12-15; 21:5-6

ou man wat lag🔗

Sou Iets vir die Here te Wonderbaar wees? (Genesis 18:14)🔗

Ons mag in hierdie naderende Kerstyd weer besef dat die verbond wat die Here met Abraham gesluit het vandag nog waar en eg is. Ons moet dit as een van die grootste werklikhede in ons lewe beskou dat ons verbondskinders van die Here is. Niks moet ons groter vreugde verskaf nie as om te mag weet dat die Here vandag nog met hierdie één verbond, wat Hy met Abraham begin het, besig is! God is met my besig. God wat almagtig is, Hy wat soewerein is, het met Abraham hierdie verbondspad begin stap om sy roeping en verkiesing vas te maak. Die verbond maak vas, en gee die vaste gronde vir God en die mens dat wie ek ook al is, waarna ek ook al mag soek, wat my omstandighede ook al mag wees, in watter tyd en volk en land ek ook al mag bly, geen verskil maak aan die vaste belofte en seëninge van die verbond wat met Abraham begin is nie. Hierdie belofte en seëninge staan nie alleen nie. Die belofte van God werk ook met die eise van God, en die seëninge van God kan ook te doen hê met die wraak van God.

Met hierdie uitgangspunt is niks vir die Here te wonderbaar nie. Dit wat die mens as buitengewoon mag beleef, is vir God nie buitengewoon nie. Die wonderbare verbond moet ons laat wonder hoekom die mense gelag het toe God sy verbond in werking gestel het. Is ek nog die bondeling wie se hart met vreugde opspring as die verbond ter sprake kom? Of is ek die mens wat lag, nie omdat ek bly is nie, maar omdat ek God uitlag – want my omstandighede wil dan lyk of God belaglik kan wees, al sê ek dit nie?

Abraham Lag🔗

Die amper honderdjarige Abraham (Gen. 17:17) het in sy hart gelag omdat God se verbond sy verstand te bowe gaan. God maak sy verbond steeds duideliker, selfs al word die omvang en betekenis van die verbond groter. Eers word die verbond in Genesis 12 met landsgrense geteken. Abraham moet uit sy land trek na die land wat God sal wys. Die verbond word vir Abraham as groot aangedui: ‘En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees’ (Gen. 12:2). Maar hoe groot is groot? God wil dit ook wys. Die volgende verbondshoofstuk in Abram se lewe (Gen. 15) kyk verby die land en mense. Sien die sterre in die hemelruim raak, sien die seestrand raak – nog groter sal die verbond se grense wees. Die verbond se grense is altyd groter as landsgrense. Dit is wonderlik. God maak dit wonderbaar. Abraham is die een met wie dit alles begin het, en met wie dit nog verder gevoer word. Die sterre of die sandkorreltjies op die seestrand word nie vandag afgetel en môre is jou wiskunde klaar nie.

Waar eindig God se wiskunde? In dit wat so oneindig baie is, eindig God weer by een (Gen. 17) – ‘n seun, ‘n enkele mens wat gebore moet word. Hoe werk dit? Abraham doen baie somme. Hy tel sy jare, amper honderd, sy vrou se jare, negentig. Hierdie getalle en hierdie jare maak dit eenvoudig onmoontlik om die verbond wiskundig te verstaan. Die lag in Abraham se hart, ná alles wat die verbond so groot gemaak het, is ‘n vraende lag wat nie met die groot getalle worstel nie, maar hoe ‘kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ‘n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar?’ (Gen. 17:17)

Abraham se lag, lag God nie uit nie, maar is vraend, worstelend, selfs verward en verbaas omdat sy naam Abram na Abraham moes verander en sy vrou se nuwe naam, Sara. Hierdie naamsveranderinge is opsigself al skepping van God. God gee nie maar net nuwe name nie. Vir God is naamsverandering wesensverandering. Soos wat God hulle noem, so is hulle of moet hulle word, al is dit teen menslike logika in. Daar waar die logika ophou, daar begin Abraham in sy hart te lag, want die mens wil mos glo dat iets te goed kan wees om waar te wees. Dit is wat genade, genade maak. God se ‘Abrahamitiese’ genadeverbond is te goed om waar te wees. God se weg begin waar menseweë besig is om dood te loop of reeds doodgeloop het.

herfsboom

Hy wat oud is, Abraham, die vader van die gelowiges, staan nie alleen nie, en lag nie alleen na binne nie. Saam met hierdie gelag wat uit die geloof kom, ‘n vreugdelag, lag ‘n vrou – wel nie sy vrou nie, maar ‘n jong vrou, Maria die moeder van Jesus. Hy wat oud is en tog vader kon word, sy wat nog so jonk was en tog moeder kon word, sou die vraag: Sou iets te wonderbaar vir God kon wees? op dieselfde wyse ontdek. Maria se vreugdelag het ‘n lofsang geword (Luk. 1:46-56) nadat binne haar bloedverwant ook ‘n lag plaasgevind het – die ongebore Johannes het binne sy ma Elisabet van blydskap beweeg. Hoe wonderlik die vreugde van hierdie vroue, ook na binne gerig waar alleen die verbond die aansluiting na buite kon maak, toe Abraham ook na binne gelag het. Deur die wonderbare wonderdade van God word hulle ouers van wonderkinders. Albei hoor by wyse van goddelike aankondiging hoe dit sal wees wat hulle gedink het nie moontlik kan wees nie. Albei buig in aanbidding en lag omdat hulle God so wonderlik is.

Sara se Lag🔗

By die ‘mooi’ gelag hoor ons ook die gelag wat nie mooi is nie. Die gelag rondom die verbond wil-wil die verbond uitlag. Waar ons Maria se lofsang as lag in Abraham vind, het Sara se gelag (Gen. 18:12) in Kersfeestyd iets met die gelag van Sagaria te doen. Sy gelag moes gesluk word, omdat daar tot ‘n bepaalde tyd geen klank uit sy mond gehoor mag word nie. ‘n Omgekeerde gelag. Abraham, die vader wat in geloof sy hart verbly, se vrou lag nie saam nie. Sy luister af en dan lag sy. Nou kom Sagaria. Hy lag verkeerd. Sy vrou het wel die ware vreugde in haar oor ‘n kind wat in ‘n ander na vore sal moet kom.

Die kontoere na Bethlehem wat vanaf Abraham die einders van die verbond inkleur, het bo die gelag ook met dinge soos eet en drink en slaap te doen. Die verbond het altyd ook met hierdie gewone dinge te doen. Daar waar Abraham die hemelboodskappers ontvang, word daar op eg Oosterse wyse hartlike gasvryheid betoon. Die beste kos moet vir hierdie mense voorgesit word. In die dae van die jong vrou Maria is die gasvryheid wat die verbond by Abraham gekenmerk het, skandalig afwesig. Watter skande kleef aan die mensdom om te moet besef dat toe God sy Seun na ons gestuur het, ons nie eers vir hom ‘n behoorlike bed gehad het nie. In ‘n krip, deel van ‘n stal, het Hy sy eerste slaap moes slaap. Hierdie skande het in Sara al begin deurkom. Wanneer die geloof insink word die wonder belaglik gemaak. Sara wat ook moeder sou word van ‘n wonderkind het in die moedersonde teruggeval. Sy wil haar daaroor verkneukel hoe hulle as oumense weer hulle liefde jonk sal kan maak, soos jongmense in hulle liefdeslaap dit kan doen, om ‘n kindjie te verwek.

Wie is daar wat nie al saam met Sara gelag het nie? Sy het wel agter die tentklappe haar lag probeer verberg, soos wat die ‘hart-klappe’ ons manier is om ons lag weg te steek. Wanneer die teenstellings tussen die beloftes van God se verbond en die ingesteldheid van ons hart te ver van mekaar begin afwyk, dan gebeur die gelag wat nie moet gebeur nie. Dan word dinge betwyfel wat nooit bedoel was om betwyfel te mag word nie. Hierdie gelag sal alleen kan ophou en oorwin kan word as God se vraag na: ‘Waarom het Sara daar gelag?’ deur die geloof beantwoord kan word – om dit wat God as betroubaar beloof het ook betroubaar te ag.

God Lag🔗

God se genade is so groot dat, al het Sara die verbond eintlik uitgelag, sy tog volgens die beloftes van die verbond ‘n seun sal ontvang. Hierdie wonder was vir almal daar om te sien. Sara lag weer. Die lag in ongeloof het nou verander in die lag van opgewondenheid oor die rykdom van God se verbond en die beloftes wat hierdie verbond so heerlik in vervulling laat tree. Binne hierdie beloftes moet ons God sien, soos Hy gesien wil word, ook wanneer die psalms sing van ‘U aangesig straal vrolikheid en lig’ (Psalm 21:4; 97:7 berym).

By die laaste gelag ontvang hierdie seun nie net die besnydenis, die verbondsteken nie, maar ook ‘n besondere naam, naamlik Isak. Isak beteken: hy wat lag, of hy wat rede gee om te lag. ‘n Beter naam sou daar nie kon wees nie. Aan die een kant sou daar hulle wees wat vra waarom hy Isak genoem is. Dan sou hy maar net moes antwoord: omdat my ma gelag het toe God ernstig was – ‘n ma wat ‘n wonder wou ‘ont’wonder en belaglik wou maak.

sonstrale

Aan die ander kant verkondig dieselfde naam die wondermag van Hom wat in staat is om dit wat onpersoonlik is persoonlik te maak, dit wat dood is word lewend, ‘n onvrugbare word vrugbaar, en Sara kan saamlag waar Abraham ook gelag het. Hierdie seun, die wonderkind wat deur die verbond kan heenwys na die nog groter Wonderkind, die Kind van Bethlehem rondom Wie die gelag nog steeds bestaan. Steeds is die gelag verskillend. Daar is dié wat lag omdat hulle Hom bespot. Wie egter rondom die verbond werklik besef wat God vir ons gedoen het, lag uit dankbaarheid en vreugde.

In hierdie tyd, waarin mense met hulle onnodige geskenke hulle lag wil koop, mag die verbondskind weet: ek is reeds uitgekoop, ek hoef niks meer te koop nie. Die lag is egter rondom verbondskinders wat werklik besef wat God vir hulle gedoen het, lag uit dankbaarheid en vreugde.

In hierdie tyd, waarin mense met hulle onnodige geskenke hulle lag wil koop, mag die verbondskind weet: ek is reeds uitgekoop, ek hoef niks meer te koop nie. Die lag waar u Gods vriendelike aangesig wil sien, straal vrolikheid en lig wat die kersliggies van kersfees eintlik belaglik maak. God gee in die betekenis van die verbond met Abraham vir die mens die ware redes om te mag lag.