Bron: Die Kerkblad, 1995. 3 bladsye.

Die Media en Ons Christelike Roeping

media

Stel jou voor: ’n wêreld waarin daar geen tydskrifte, koerante, ra­dio en TV is nie. So het ons voorouers gelewe toe hulle die ongetemde binneland ingetrek het. Baie van hulle was maar half geletterd en die land was ’n wildernis. Lekker?

’n Moderne Samelewing🔗

Ons leef vandag nie meer in die wildernis nie en die meeste van ons is geletterd. In ons moderne, hoogs geïntegreerde samelewing het die kommunikasiemedia onontbeerlik geword. Die staatkundige, politieke, ekonomiese, kulturele, religieuse, sosiale, opvoedkundige en ander fasette van ons lewe is in hoë mate afhanklik van die media. As ons hierdie feit nie wil erken nie, moet ons maar in ’n boom klim en die aarde verlaat. In plaas daarvan is dit beter om die media as sodanig te beskou as ’n gawe van ons hemelse Vader wat met danksegging goed gebruik moet word. Die wyse Spur­geon, vroom prediker uit die vorige eeu, het gesê: “Ek lees elke môre my Bybel om te sien wat God in die wêreld gaan doen. Daarna lees ek my koerant om te sien hoe Hy dit gaan doen.”

Spieëlbeeld van die Werklikheid🔗

Die media bied ’n spieëlbeeld van die wêreld waarin ons lewe. Dit is, helaas, ’n gevalle, sondige wêreld. Die apostel Johannes skrywe “dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is”  (1 Joh 5:19).

Die spieëlbeeld van so ’n wêreld in die mag van die duiwel is nie ’n mooi beeld nie. Goddeloosheid, op­stand, rewolusie, geweldpleging, moord en doodslag, onsedelikheid in talle vorme, oneerlikheid, diefstal, roof, bedrog, laster, leuen en alle ander denkbare sondes woeker voort in hierdie wêreld.

Hoe moet die spieëlbeeld lyk wat die media van dié wêreld aanbied?

’n Kwessie van Styl🔗

Die wyse waarop die media hul taak vervul, is in hoë mate ’n kwessie van styl.

Met styl word bedoel die skryfwyse, die trant waarin verhaal of artikel of nuusberig aangebied word.

Styl is in die eerste plek ’n weer­spieëling van die karakter van die skrywer. Die Romeine het ’n ge­segde gehad: “Stylus virum arguit”. Dit is: die styl verraai die man. Die Nederlandse digter en literator Nijhoff het gesê: styl is die watermerk van ’n skrywer en karakter. Met die watermerk word bedoel die gewaterde letters in goeie skryfpapier wat duidelik sigbaar word wanneer jy die papier teen die lig hou. Vir die beoordeling van die media is dit belangrik om te weet hoe die karakter is van die persoon wat met jou wil kommunikeer: as hy ’n medegelowige is, kan jy die goeie van hom verwag. As hy ’n on­gelowige losbol is, kan jy te wagte wees dat sy styl sy swak karakter sal verraai.

koerant

In die tweede plek word styl be­paal deur die doel van die skrywer. ’n Joernalis wat sy taak reg ver­staan, sal met die “beautiful art of omitting” van ’n moordsaak alleen die essensiële feite meedeel, sonder om op allerlei bykomstighede in te gaan.

Daarteenoor sal ’n joernalis wie se doel dit is om te prikkel en trane te trek, met geur en kleur vertel hoe die moordenaar die rewolwer oorge­haal, op sy vrou gerig en toe geskiet het, hoeveel skole daar was en waar die koeëls by haar liggaam in is en waar dit uit is, dat haar skoothond­jie ook swaar gewond is (arme brak – jy kan hom hoor tjank in die be­rig!), dat die bloed tot teen die pla­fon gespat het, dat die moordenaar se pa ’n ouderling in die Dopperkerk is en dat sy oupa feitlik die geloof in eie persoon was, só gelowig dat jy met hom kon toor. Natuurlik sal ’n joernalis wat so skryf, homself ver­dedig met die argument dat sy styl bedoel is om die kwaad aan die kaak te stel en daarteen te waarsku. On­dertussen is dit waarskynlik aan so ’n man soos hy aan wie Pascal ge­dink het toe hy gesê het: die mens is so verdorwe dat hy hom heimlik in sy eie verdorwenheid verheug.

Styl is dus ’n kwessie van karak­ter en van oogmerk, aksent, belig­ting, fokus.

Die Media in Suid-Afrika🔗

In die verlede is die lesers- en kykerspubliek in Suid-Afrika teen Godslastering, onsedelikheid, on­dermyning van die staat en belas­tering van mekaar beskerm deur die Direktoraat van publikasies en die Mediaraad.

Gedurende die afgelope jare (nog voor die koms van die Nuwe Suid-Afrika!) was daar ’n  grootskaalse verslapping van die norme waar­mee hierdie liggame publikasies, films, video’s en TV-uitsendings gekeur het. Die gevolg is dat dinge wat tien jaar gelede heeltemal taboe was, vandag toegelaat word sonder dat ’n haan daarna kraai. En as ons die tekens van die tyd reg lees, sal daar binne afsienbare tyd nog ver­dere verslapping wees. Wat anders kan jy van ’n neutrale owerheid ver­wag wat soveel klem op menseregte lê dat daar van God se regte so goed as geen sprake meer is nie?

Nou is dit ongelukkig waar: ’n nasie kry maar net die media wat hy verdien. Namate die proses van ontkerstening en verwêreldliking in die samelewing deurwerk, na die­selfde mate sal die etiese kodes van die media tekens van verwering vertoon. Moenie vergeet nie: dit gaan vir hierdie mense om sirku­lasiesyfers wat hoog gehou moet word. Hulle bied graag aan waarvoor in die breë lae van die volk aanvraag is. As die volk byvoor­beeld pornografie wil hê, sal dit vir hulle op skinkborde aangebied word. Êrens in die agtergrond is daar iemand wat baie geld maak!

Met publikasiebeheer is dit soos met ’n kraalhek. As jy die hek groot genoeg oopmaak dat een bees kan deurkom, dan mag jy hom nie weer half toemaak nie, want dan veront­reg jy die ander beeste wat ook wil uit. En as hy groot genoeg oop is vir een bees, waarom nie vir twee en drie en ses beeste nie? Die gevolg: netnou lê die hek wawyd oop. Dit is soos Van Wyk Louw in “Raka” be­skryf: toe Koki, die enigste wat die moed gehad het om teen die ondier van wellus te veg, dood is, het die kraalhek wyd oopgelê en daar was niemand wat die moed gehad het om die hek weer toe te maak nie.

In die groot stede in Europa en die VSA gril ’n Christenmens vir die publikasies wat op straat uitgestal en oor die TV aangebied word. Hoe lank nog voor dit by ons net so sal lyk?

Ons Christelike Roeping🔗

Die toedrag van sake wat ek hierbo geskets het, lê op ons as Christene dubbele verantwoordelikheid. Ons moet in die eerste plek posi­tief wees en die media as noodsaak­lik aanvaar. Die Gereformeerde Christen is geen piëtistiese wêreldontvlugter nie.

Maar terselfdertyd sal ons moet leer wat dit beteken om in die wêreld, maar nie van die wêreld te wees nie. Daarom: nie afwysing van die media nie, maar selektiewe ge­bruik daarvan, is ons roeping.

TV kyk

Ons sal nie, soos in die verlede, langer deur Moedertjie Staat be­skerm word in ons poging om ons huise teen ongesonde publikasies en TV-uitsendings te beveilig nie.

Ons sal self moet keur wat ons en ons kinders sal lees en waarna ons wil luister en kyk en waarna nie.

Radio- en TV-programme word vooraf bekend gestel. ’n Mens kan dus by voorbaat besluit waarna jy gaan kyk en wanneer jy die toestel gaan afskakel.

Die Christen-fynproewer kan baie goed proe wanneer die dood in die pot is in ’n koerant of tydskrif. Wel, dan koop jy hom net nie meer nie.

Hier is dit geval van: “Ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos 24:15).

Maar die Here gee ons ’n roeping, nie net teenoor ons eie huis nie, maar ook teenoor die samelewing. Ook daar moet die kwaad gestuit word. Ons mag nie met die skottel sout van God se Woord in ons hande staan en kyk hoedat die water­strome waaruit ons medemense drink, vergiftig word nie (2 Kon 2:20-22; Matt 5:13). Daarna moet ons as Christene by die regte instansies, op ’n manier wat die evangelie van Christus waardig is, wanneer nodig, die Naam van Chris­tus gaan bely en met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel stry (Heidelbergse Kategismus, Sondag 12).