Bron: Die Kerkblad, 1997. 3 bladsye.

Die mens is wat hy dink

refleksie in water

Die Bybel sê: Die mens is wat hy dink. Dit is 'n kritiese uitspraak. Veel eerder sou die mens van sy kant wou sê: Die mens is wat hy dink hy is.

Dan kan hy hom immers baie belangriker indink as wat hy in werklikheid is.

Die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) van Spreuke 27:19 lui soos volg: "Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink." Ook die Lewende Bybel vertaal in dieselfde rigting: "Net soos 'n mens die weerkaatsing van jou eie gesig in water kan sien, wys 'n mens se gedagtes wie jy werklik is.

Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) vertaal meer letterlik: "Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens." Die teks is moeilik om te vertaal, want in die Hebreeus staan net: "Soos water die gesig tot die gesig, so die hart van die mens tot die mens."

Die teks kan op twee maniere verstaan word. Die eerste moontlikheid is: As jy jouself wil sien, kyk na jouself/na binne. Die tweede moontlikheid is: As jy jouself wil sien kyk na jou naaste; soos water 'n gesig weerspieël, so weerspieël die hart van die een mens die van die ander, want elke mens sien sy geaardheid in 'n ander.

Nagenoeg alle nuwe vertalings kies vir die eerste moontlikheid, byvoorbeeld die Duitse, Nederlandse en meeste Engelse vertalings (RSV, GNB, NIV, REV, met uitsondering van die RES).

Die Duitse vertaling lui (vertaal): "In die spieël van water herken 'n mens sy gesig en in die spieël van sy gedagtes herken 'n mens homself." Die Nederlandse vertaling en NIV lui: "Soos water 'n gelaat weerspieël, so weerspieël die hart van die mens die mens."

Daar is natuurlik ander moontlikhede om die mens te beskryf. 'n Bekende (ateïstiese) filosoof het byvoorbeeld gesê: Die mens is wat hy eet. In Duits is dit nogal beskrywend: "Der Mensch ist was er isst." Vegetariërs sal dit, maar vanuit 'n heeltemal ander hoek, beaam.

Ander sal sê: Die mens is wat hy glo, of ook: Die mens is wat hy hoop. Met goeie reg. Die groot kerkvader Augustinus het gesê: Die mens is wat hy liefhet. Goed Bybels.

Wat is die mens?🔗

Die Bybel voeg by: Die mens is wat hy dink. Daarmee vra die Bybel aandag vir daardie groot onbekende en onsigbare wêreld van die mens se gedagtes. 'n Mens se woorde, dit kan nog getel word; en jou dade, dit kan nog geweeg word. Maar wie is in staat om sy gedagtes te dissiplineer?

persoon wat dink

Gedagtes is die ontoeganklikste deel van die mens. Net jy alleen weet wat jy dink, jy en God. Net vir God kan die mens sy gedagtes nie wegsteek nie, want God ken ons gedagtes nog voordat hulle by ons opkom (Ps. 139:3-4; Ps. 94:11, vgl. Matt. 9:4; Matt. 12:25).

Ons gedagtes, ons innerlike, ons begeertes moet ook, soos ons woorde en dade, onder die tug van die Woord gebring word. Want daar, soos nêrens anders nie, vind die sonde 'n uitstekende skuilplek en broeiplek. Die mens se gedagtewêreld kan vergelyk word met 'n slykpoel waar baie dooie kar­kasse saamgespoel lê.

Uit die hart van die mens, het Christus gesê, kom al die slegte gedagtes (Matt. 15:19; vgl. Spr. 15:26). Elkeen wat byvoorbeeld met begerige oë na 'n vrou kyk, het reeds in sy hart oortree (Matt. 5:28). Geen wonder nie dat een van die Tien Gebooie spesifiek op die mens se innerlike, sy begeer­tes, gerig is. Ons sê spesifiek, want uiteindelik raak al tien ge­booie die mens se innerlike.

Waaroor dink ons?🔗

Waaroor dink ons? Ons mag wel mooi dinge praat en ons mag mooi dinge doen, maar dink ons ook mooi dinge? Wat is die mooi dinge waaraan ons behoort te dink?

Paulus gee die antwoord: "Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is watter deur en watter lof daar ook mag wees, bedink dit" (Fil. 4:8 OAV). Ons moet voortdurend bedink wat goed is voor alle mense (Rom. 12:17), ter­wyl ons ook nooit die gebod van God mag vergeet nie (Ps. 103:18).

Die Here God wil nie net in ons leefwêreld gedien wees nie, maar ook in ons gedagtewêreld. Dis waarskynlik die moeilikste wêreld om bekeer te word omdat dit so 'n verskuilde wêreld is. Iemand kan my woorde en dade nog weeg en beoordeel, en my daaroor aanspreek en vermaan, maar dit kan nie met my gedagtes gedoen word nie. Want daarvan weet net ek en die Here.

Watter lelike dinge ek oor my man of vrou dink, oor my ouers of kinders, oor my buurman of mede­burger, oor my baas of werknemer, oor my onderwyser of skolier, oor my predikant of medelidmaat, oor my professor of student, dit weet niemand nie, net ek en die Here. 'n Mens se gedagtes is in 'n sekere sin nog gevaarliker as 'n mens se dade. Slegte gedagtes kan immers oor en oor bedink, getroetel en gevoed word, terwyl 'n slegte daad meesal eenmalig is. Een van die beroemdste sinne in die teologiegeskiedenis is die heel eerste sin in die Institusie van Cal­vyn en lui soos volg: "Byna die volle eindtotaal van ons wysheid, wat ons as die ware en grondige wysheid moet beskou, bestaan uit twee dele: kennis van God en ken­nis van onsself."

Met kennis van God bedoel Calvyn nie 'n vae godsbesef nie, maar om God in sy genadige toewending in Christus te ken. En met selfkennis bedoel hy dat die mens hom/haar as sondaar voor God sal ken. Dat hy nie van homself meer sal dink as wat 'n mens behoort te dink nie (Rom. 12:3), wat die oersonde van die mens is. Adam het immers geval die oomblik toe hy te veel van homself en te min van God gedink het.

Hoe kan ons die goeie bedink?🔗

Die vraag ontstaan hoe die mens se gedagtes onder die tug van die Woord gebring kan word? Hoe kan die wilde en haas ontembare gedagtes gedissiplineer word? Hoe anders as dat die Gees van God ons innerlike, ook ons gedagtes, nuut maak? Dit is die Gees van God wat die mens se denke vernuwe en hom in staat stel om te kan onderskei wat die wil van God is en wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom. 12:2).

gedagte

As ons lewe en vrede wil hê, moet ons ons nie deur ons ou natuur (en ou gedagtes) laat beheers nie, maar deur die Gees van God (Rom. 8:5- 8). Alleen so sal ons die doelwit bereik waar elke gedagte gevange geneem is in gehoorsaamheid aan Christus Kor. 10:5).

Die kerklied lui tereg:

Die hart is setel van die lewe, maar laat hom so gou mislei. Aanvaar in denke en begeerte, die Gees van God se heerskappy.

Waaroor dink God?🔗

Die mens is na die beeld van God geskape, wat onder meer beteken dat hy iets van God se karakter in sy lewe moet weerspieël.

Omdat God heilig is, moet die mens ook heilig wees (1 Pet. 1:5); omdat God vergewe, moet die mens ook vergewe (Ef. 4:32); omdat God barmhartig is, moet die mens ook barmhartig wees (Luk. 6:36). En omdat God in sy groot genade teenoor sy volk "eew'ge heilsgedagtes" (Sb. 1: 6) gekoester het (Ps. 106:45), moet ons ook teenoor mekaar gedagtes van heil en seën koester. Die liefde bedink immers net wat goed is (1 Kor. 13:5).

Wat sien ons as ons na ons gedagtes kyk? Sonde? Dankbare herin­nering aan God se heilsgedagte teenoor my? Goeie gedagtes teenoor my naaste? Dit is nie goed genoeg dat ons ons lelike gedagtes nie uitspreek nie –ons het eers dan op die pad van heiligmaking gevorder as ons nie meer plek maak vir lelike gedagtes nie.