Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

Die Moedelose Sisyphus en die Getroosde Verbondskind van God Oor die Prediking van die Wet Binne God se Verbond

Sisyphus🔗

Al gehoor van Sisyphus? Dis daardie figuur uit een van die Griekse mitologieë. Hy het die een of ander oortreding begaan en word toe deur die gode gestraf. Sy straf was dat hy ’n baie swaar klip teen ’n steil berghang moes oprol. Maar elke keer, net wanneer hy bo gekom het en op die punt was om die klip oor die rand van die berg te rol, het die klip uit sy hande geglip en afgerol na die onderkant van die berg. Dan moes Sisyphus maar terugstap en weer begin om die klip teen die berghang op te rol. Dit sou vir ’n ewigheid so voortduur…

Waarom begin ek met hierdie verhaal? Waarom begin ek met mitologie, terwyl dit in hierdie artikel gaan oor die realiteit van die prediking van die Woord van die Here? Juis omdat die prediking in baie kerke in ons land duisende kerkgangers die afgelope jare soos Sisyphus laat voel het. Baie prediking laat kerkgangers huis toe gaan met die klip van Sisyphus wat hulle teen die berg moet oprol. Die evangelie van vrye genade in Jesus Christus het op baie plekke stil geword en in die plek daarvan het die wettiese prediking gekom, wat sê: gaan rol hierdie klip teen die berghang op en moenie stop totdat jy daarin geslaag het nie.

Hieronder wil ek enkele oorsake van wettiese prediking bespreek en dit sal duidelik word dat hierdie oorsake nie eie is aan ’n bepaalde kerkgroep of aan sekere tipes predikante nie, maar dat dit iets eie aan die sondige mens is. Elkeen wat die Woord van die Here mag verkondig, moet homself telkens weer reinig van die neiging om die evangelie as wet aan die gemeente op te lê. Elke prediker van die evangelie moet steeds weer soek om te verstaan wat dit beteken dat die prediking die sentrale gebeurtenis in die verbondsomgang van God met sy volk is (Trimp, Klank en Weerklank).

Wettisisme🔗

Wanneer ons praat van wettisisme, dan gaan dit oor elke strewe van die mens om aan die wet en aan ons werke van gehoorsaamheid ’n sleutelposisie toe te ken waardeur die genade van Christus, wat ons behoud is, verduister word. Die mens word dus uiteindelik op homself teruggegooi. Wat sou die oorsake van wettisisme wees (lees meer in J Cilliers, Die uitwissing van God op die kansel)?

  1. ’n Eerste oorsaak lê in ’n verkeerde sig op die mens. Aan die mens word dikwels ’n potensiaal toegeken wat hom nie toekom nie. Dit spruit voort uit ’n onbegrip van ons skuld voor die Here. Ons staan nie skuldig met die potensiaal om dit nog reg te maak nie. Nee, ons staan doodskuldig, sonder enige vermoë om maar iets goeds te doen.

  2. Tweedens kan ons let op ’n verkeerde sig op die evangelie; in die “wettiese” evangelie word Christus nie meer as Verlosser vóór ons gestel nie, maar word Hy as Voorbeeld lángs ons gestel. Dit is as gevolg van die natuurlike neiging van die sondige mens om homself te verlos. Natuurlik is Christus vir ons dié Voorbeeld, maar Hy is dit nooit in die eerste plek nie en Hy is dit ook nooit buite sy hoedanigheid as ons Verlosser nie. Evangelie beteken nie om die voorbeeld van Christus na te volg nie, maar die evangelie is die verkondiging van die blye boodskap van verlossing in Christus.

  3. Derdens kan ons wys op ’n verkeerde manier van omgang met die Skrif. Dikwels word gepoog om ’n brug te bou vanaf die ou teks en die gebeure in die teks na die tyd van vandag (om sodoende die teks relevant te maak). Die prediker sal dan wys wat God in die Skrif gedoen het, wat Hy moontlik weer vandag sal doen en wat die mens moet doen om God weer te laat doen wat Hy gedoen het. Die mens se optrede word dus die voorwaarde om God weer te laat optree soos wat Hy in die spesifieke Skrifgedeelte opgetree het.

  4. Verder kan ons dui op ’n vorm van wettisisme wat vir ons dikwels baie reëel is, naamlik rigorisme. Dit dui op ’n neiging om die vryheid wat ons in Christus het, kleiner te maak as wat God in sy Woord vir ons aandui. Dit gee vir ons ’n gevoel van veiligheid wanneer ons die grense van ons lewe voor God se aangesig so klein as moontlik rondom onsself kan trek. En dis selfs nog beter as ons die ander mense in die gemeente ook so ver kan kry om dieselfde grense te trek. Dan voel ons veilig.

    Calvyn (Inst. 3.19.7) verwoord hierdie neiging soos volg: As iemand byvoorbeeld begin twyfel of hy linne mag gebruik vir sy lakens, sy hemde, sy sakdoeke, en servette, sal hy later ook nie seker wees of hy hennep mag gebruik nie. Uiteindelik sal hy ook oor vlas twyfel. Hy sal trouens begin nadink of hy sonder servette kan eet en of hy sonder sakdoeke kan klaarkom. As iemand die indruk het dat fyner kos vir hom verbode is, sal hy uiteindelik geen rus voor God vind as hy growwe brood en gewone kos eet en dit hom te binne skiet dat hy sy liggaam met nog goedkoper kos kan onderhou nie. So ver sal ons gaan om die grense so klein as moontlik om onsself te trek. Maar watter mens kan so ’n las dra? Dis ’n las wat God nie aan ons oplê nie!

  5. Laastens wil ek dui op ’n oorsaak wat na my mening die hart van die wettiese prediking raak, naamlik ’n verkeerde omgang met die verbond. Ons almal ken die uitdrukking verbond = belofte en eis. Jammer genoeg bly dit vir baie, ook vir baie predikante, net ’n uitdrukking en word dit nie die lewende werklikheid wat dit behoort te wees nie. Die gevolg vir die prediking is ’n tweeledige homiletiese (preekkundige) skema waar belofte en eis as twee aparte dele aan die gemeente voorgehou word. Die een deel handel dan oor wat God vir ons gedoen het en apart daarvan volg dan die tweede deel waar aan die gemeente voorgehou word wat hulle nou moet doen. Outomaties volg dan die piëtistiese spreuk: dit het Ek vir jou gedoen; wat doen jy nou vir my?

Beteken hierdie slaggate dat predikante nou maar moet ophou om oor die wet te preek? Is dit wat die Here vra? Laat ons vervolgens kyk wat dit beteken om as gemeente binne die verbond met die Here te leef. Dit sal dan ook die antwoord gee op bogenoemde vraag.

Die Verbond🔗

Wie wil nadink oor die prediking en spesifiek ook die prediking van die wet, kan nie anders as om dit vanuit die perspektief van die verbond te doen nie. Binne die verbond wil die Here met sy volk omgaan en wil Hy dat daar gemeenskap tussen Hom en sy volk sal wees.

God wil dus ná die sondeval met die mens verder gaan. En dit beteken dat Hy met die mens as méns omgaan. Hy het die mens as ’n redelike en sedelike wese geskape, en daarom bly Hy trou aan Homself as Hy só met die mens omgaan. Die mens bly ná die sondeval verantwoordelik en kan nie verontskuldig word nie. Daarom doen ons God se verbond onreg aan wanneer ons dit volledig in die belofte sou laat opgaan sonder om die oproep aan die mens te laat klink. Die belofte kom nooit alleen na ons toe nie, maar roep ons altyd op om dit te glo en ons te bekeer. Die appèl op ons verantwoordelikheid (die eis van die verbond) behoort tot die konstitutiewe, die wesensbepalende elemente van die verbond. In die paradys reeds, en ook deur alle volgende fases van die verbondsgeskiedenis (K Schilder, Looze Kalk). Dis immers ook die opdrag van ons Here om die evangelie te verkondig met bevel tot geloof en bekering. Ja, die eis behoort by die verbond. Die wet moet daarom verkondig word!

Verbond en Prediking van die Wet🔗

In die prediking verrig die wet twee belangrike funksies in ons verbondsomgang met die Here. Eerstens ontdek dit ons aan ons sondes; dit stel ons doodskuldig voor God, sodanig dat enige idee om ons eie verlossing uit te werk, in die kiem gesmoor word en ons na Christus as ons enigste Verlosser gedryf word. Tweedens het dit die funksie dat dit ons, in die nuwe lewe met Christus, die weg wys waarop ons moet gaan om by daardie lewe te bly. Ons leer deur die wet hoe om in dankbaarheid voor God se aangesig te leef.

Hierdie twee funksies van die wet moet in die verkondiging van die evangelie tot sy reg kom. Hoor mooi, ek sê in die verkondiging van die evangelie. Ja, evangelie en wet (belofte en eis) hoort bymekaar, dit vorm ’n integrale eenheid. Dis slegs in hierdie eenheid dat die predikant werklik die wet in sy volle wydte kan verkondig; slegs met die evangelie as basis kan die predikant die etiese vrae van vandag beantwoord en die gemeente ook oproep om daarna te lewe; dis slegs in hierdie verband dat die predikant beveilig is teen die slaggate van die wettisisme. Die oomblik wanneer ons evangelie en wet van mekaar losmaak, word die verbondsomgang tussen God en sy volk verkrag. Dan vind daar ’n tweedeling in die prediking plaas waarin eers God se dade verkondig word en dan gesê word wat die mens moet doen. Hierdie tweedeling is vreemd aan die verbond. Ware verbondsprediking verkondig aan ons die heerlike belofte van verlossing. Wat vra die Here dan van ons? Glo dit, want dis vir jou! Kan ons dit uit onsself doen? Nee, maar daarom is ook die nakoming van die eis, daarom is ook die kennis van ons ellende en die lewe voor die Here inhoud van die belofte. Ja, die Here belowe om die eis van die verbond aan ons te gee. Ook die eis is dus belofte. Dit maak dit nie nie minder ’n eis nie; dit maak ook nie ons verantwoordelikheid minder nie.

Maar dit maak wel van die gemeente ’n getroosde gemeente. Hulle mag die kerk verlaat; getroos omdat hulle die evangelie mog hoor, getroos omdat hulle mog hoor hoe God hulle sal help om vanuit daardie evangelie te leef, elke oomblik, elke dag. Nie soos Sisyphus wat maar weer moet begin om sy klip teen die berg op te rol nie, maar soos verbondskinders wat weet dat hulle leef!