1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Noodsaaklikheid van Ons Opstanding

Ons het vasgestel dat daar net een liggaamlike opstanding, van die verlostes en van die verlorenes, aan die einde van die wêreld is, en nie verskeie, soos deur die premillennialisme en die dispensasionalisme geleer word nie. Vir ons is daardie één opstanding die middelpunt van al ons hoop, soos die Woord van God ons leer dit hoort te wees (1 Kor. 15:12-19). Kom ons kyk nou na die leer van die Skrif aangaande die opstanding van die gelowiges op die laaste dag.

Ons behoort te sien dat dit ʼn ernstige dwaling is om die opstanding van Christus te ontken én om die opstanding van die gelowiges te ontken. As daar nie vir ons ʼn opwekking uit die dood is nie, is Christus ook nie opgewek nie. In 1 Korinthiërs 15:16, 17 word geleer dat daar so ʼn noue verband tussen die twee is dat die een nie sonder die ander kan gebeur nie.

Daar was altyd mense wat die opstanding van Christus ontken het. Dikwels gaan so ʼn ontkenning gepaard met ontkenning van die Godheid van Christus, sy maagdelike geboorte, sy wonders, en sy versoenende bloedoffer. Daar was diegene wat ook die opstanding van die gelowiges ontken het. Hulle was in die vroeë kerk daar (1 Kor. 15:12; 2 Tim. 2:17, 18) en hulle is vandag daar.

Sommige mense, veral in die Christelike Rekonstruksie-beweging, het met ʼn preteristiese beskouing weer lewe in die dwalings van Himenéüs en Filétus (2 Tim. 2:17, 18) geblaas. Hulle glo dat die meeste, indien nie alle, Bybelse profesieë reeds vervul is (preterisme is die geloof dat die vervulling van profesie verby is). Hulle het begin beweer dat die opstanding ook in die verlede lê.

Paulus sê ewenwel dat die ontkenning van die toekomstige opstanding van die liggame van die gelowiges, die opwekking van Christus ontken, die geloof vergeefs maak en ons in ons sonde laat bly. Dit is dus ʼn baie ernstige dwaling. Waarom?

Eerstens is die ontkenning van die toekomstige liggaamlike opstanding ʼn ontkenning van die opwekking van Christus, omdat die opstanding van gelowiges deel is van die opstanding van Christus. Gelowiges is deel van die liggaam van Christus, die kerk, en het daarom deel aan sy opstanding. Die onvermydelike gevolg hiervan is dat hulle ook saam met Christus uit die dood opgewek word. As dit nie so was nie, is die enigste verduideliking dat die opwekking van Christus nie bestaan nie – dat Christus nie opgestaan en die dood oorwin het nie. Die bewys van die krag en oorwinning van Christus oor die dood lê nie alleen by sy opwekking nie, maar ook by die opstanding van die gelowiges.

Ontkenning van die opstanding sou ons ook in ons sonde laat bly, want die opwekking van Christus is die bewys van ons regverdigmaking voor God. Toe Christus vir die sonde versoening gedoen het, het Hy gesê, “Dit is volbring”. Toe God Jesus uit die dood opgewek het, het God die Regter ook gesê, “Dit is volbring”, sodat die opstanding ons regverdigverklaring voor God was. Dit is die betekenis van Romeine 4:25 wat sê dat Jesus ons Here “opgewek is ter wille van ons regverdigmaking”.

Omdat ons hoop op die hemel is en “vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie” (1 Kor. 15:50) wag en verlang ons na die opstanding. Daardie hoop is vergeefs as die gestorwenes nie opstaan en ons liggame nie in die opstanding verander nie. Ons moet glo in die opwekking van Christus op die derde dag én aan ons eie opstanding saam met Christus, wanneer ons vernederde liggame van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam (Filip. 3:21).