Bron: Kompas, 2012. 5 bladsye.

Die Nuwe Verbond

Die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament is een van die belangrikste verskilpunte onder Bybelgetroue Christene wêreldwyd. Die woord testament is die Latynse vertaling van die Griekse en Hebreeuse woord vir verbond. Dit gaan dus eintlik oor die verhouding tussen die ou en die nuwe verbond. Ek wil in twee artikels die gesprek oor die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament dien deur ’n antwoord te vind op die vraag: “Wat is nuut in die nuwe verbond?” Ons kyk na die belangrikste tekste oor die nuwe verbond. Daarna trek ons teologiese konklusies op grond van die Bybeltekste wat ons ondersoek het.

Jeremia 31:31-34🔗

Dis die eerste en enigste plek in die Ou Testament waar gepraat word oor ’n nuwe verbond. Daarom speel hierdie teks so ’n baie belangrike rol in die Nuwe Testament. Ons lees in Jeremia 31:32 dat die volk die verbond wat God gesluit het toe Hy sy volk uit Egipte bevry het (= Sinai-verbond), verbreek het. Hierdie Sinai-verbond is weer ’n voortsetting van die verbond met die vaders (Jeremia 11:10).

Uit die hele boek van Jeremia kan afgelei word dat daar twee oorsake is vir hierdie verbondsbreuk:

’n Jarelange geskiedenis van skuld en sonde;

Die onvermoë van die volk om hom te hou aan die verbond met die Here.

Nêrens lees ons dat God ook die verbond verbreek het nie, eerder die teendeel (Jeremia 31:36). Omdat die volk die verbond verbreek het, sal God in die toekoms ’n nuwe verbond oprig. Die uitdrukking ‘in die dae…’ is vaag. Ons moet hier rekening hou met die profetiese perspektief. ’n Profeet sien die toekoms binne een perspektief. Hulle sien sowel die beslissende keerpunt as die voltooiing van die heilsgeskiedenis in een prentjie. Die vervulling van die profesie gebeur in fases. Die eerste vervulling het plaasgevind by die terugkeer uit ballingskap. Die koms van Christus is die beslissende keerpunt in die geskiedenis en daarmee die belangrikste vervulling van hierdie profesie. Maar daar is nog aspekte wat eers op die jongste dag in vervulling sal gaan. Wanneer ons na die inhoud kyk, sien ons dat die nuwe verbond oor vier dinge gaan:

Ek sal my wet op hulle hart skrywe

Ek sal vir hulle ʼn God wees en hulle sal vir My ʼn volk wees

Hulle sal My almal ken

Ek sal hulle sondes vergewe

Geeneen van hierdie vier is nuut ten opsigte van die ‘ou’ verbond nie. Ook by die Sinai-verbond was dit ongetwyfeld die bedoeling dat die wet van die Here nie net uiterlik sou bly nie, maar ’n plek sou kry in die hart van die volk, soos duidelik gesien kan word in Deuteronomium 6:4-6 en 11:18. Die verbondsformule is onder die ‘ou’ en die nuwe verbond dieselfde (Openbaring 21:3). Ook die Sinai-verbond was daarop gerig om die Here te ken. En ten laaste: vergifnis van skuld was ook ’n belangrike onderdeel van die Sinai-verbond.

Wat is dan die verskil? Baie mense maak op grond van Jeremia 31 onderskeid tussen oud en nuut wat nie Bybels is nie. Byvoorbeeld dat die Sinai-verbond ʼn wettiese verbond was en die nuwe verbond ’n evangeliese verbond. Of dat die Sinai-verbond uiterlik was – die wet was net op tafels van klip geskrywe, maar in die nuwe verbond sal die wet innerlik wees – in die hart van die volk. As ons na die inhoud van die nuwe verbond kyk, moet ons sê dat dit nie verskil ten opsigte van die ‘ou’ verbond nie. Wat is dan nuut? Die klem van Jeremia 31:31-34 lê nie op die inhoud van die nuwe verbond nie, maar op hoe die inhoud gerealiseer sal word. Jeremia het in ’n krisistyd gelewe. Die volk is gekonfronteer met sy skuldgeskiedenis en onvermoë om trou te wees in die verbond met die Here. Hoe kan die verbondsbreuk ooit weer herstel word? Die Here sal Self sorg dat die verbondsomgang weer moontlik word. God wou in die geskiedenis met Israel aan die mensdom duidelik maak dat verbondsomgang met Hom net moontlik is deur sy genadige ingryping. Die nuwe verbond sal eers in die eindtyd ten volle realiteit wees. Immers, eers dan sal die wet volmaak in die hart van die volk geskrywe wees en sal almal die Here ken. Maar God sal in die geskiedenis ingryp om hierdie nuwe verbond nader te bring.

Die Nuwe Verbond in die Beker-Woord van die Here Jesus🔗

Christus het in al sy onderwys op aarde nie een keer die woord verbond genoem nie, behalwe tydens die laaste Paasmaaltyd met sy leerlinge. Toe het Hy gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed wat vir julle uitgestort word.” (Lukas 22:20) Die bloed van die verbond is ’n verwysing na Exodus 24:8 – die verbondsluiting by die berg Sinai. Jesus het gesê dat, net soos in Exodus 24 die bloed van die offers gebruik is om die Sinai-verbond in te wy, net so wy sy bloed die nuwe verbond in. Die uitstorting van sy bloed is die inhuldiging en bevestiging van die nuwe verbond. Deur sy dood word die nuwe verbond gerealiseer en daarmee is dit die vervulling van die Sinai-verbond. Wat die Sinai-verbond nie kon realiseer nie, naamlik volmaakte lewensgemeenskap tussen God en sy volk, is deur die dood van Jesus definitief wel gerealiseer.

Die Nuwe Verbond by Paulus🔗

Romeine 9:4 en 11:27🔗

Die hele betoog van Romeine 9-11 skryf Paulus teen mense wat, moontlik op grond van Jeremia 31:31-34, beweer dat die verbond wat God met Israel gesluit het, verby is, omdat Israel die verbond verbreek het. Hierteenoor benadruk Paulus die onveranderlikheid en trou van God in roeping en verkiesing. God het sy verbond met Israel nie verbreek nie. Die meervoud verbonde in Romeine 9:4 moet daarom slaan op die verbonde wat God in die geskiedenis met Israel gesluit het. Ons kan dink aan die verbond met Abraham, die Sinai-verbond, die verbond met die Leviete en die verbond met die huis van Dawid. Paulus beklemtoon die een onveranderlike verbond van God met sy volk, sy ewige verbond. Die verbond wat God in die geskiedenis met Israel gesluit het, rus op die een blywende verbond van God. Hierdie verbond is ook vir die toekoms van Israel nog steeds geldig, ondanks die ontrou van die volk.

2 Korintiërs 3🔗

Die teenstelling wat Paulus maak, is nie dié tussen die ‘ou’ en die nuwe verbond nie, maar eerstens tussen die heerlikheid van die ou verbond wanneer jy dit vergelyk met die heerlikheid wat geopenbaar is in Christus. Die heerlikheid van die ‘ou’ verbond was ’n bewys van ’n egte ontmoeting tussen God en sy volk. Maar noudat ons die heerlikheid van God in Christus gesien het, was dit ’n heerlikheid wat moes verdwyn. Paulus sê dus dat jy die koms van Christus en sy Gees moet verdiskonteer as jy praat oor die ‘ou’ verbond. Die ‘ou’ verbond is nie deur die nuwe vervang nie, maar is deur die nuwe gerealiseer. Die ander teenstelling is dié tussen letter en Gees. Hierdie teenstelling is prinsipieel. Wanneer jy die wet nie sien in die lig van die openbaring van Jesus Christus nie, bly die wet ’n letter wat doodmaak. Wanneer jy die wet nie lees in die lig van Christus nie, kla die wet jou net aan en veroordeel die wet jou. Hierdie letter-karakter van die wet mag ons egter nie terugvoer tot die Sinai-verbond self nie, maar op ’n verkeerde interpretasie van die wet van die Sinai-verbond.

Galasiërs 4:21-31🔗

In hierdie Bybelgedeelte spreek Paulus van twee verbonde wat hy teenoor mekaar plaas. Hy noem hulle nêrens ’n ou en ’n nuwe verbond nie. Die twee seuns van Abraham staan vir twee verbonde. Paulus trek dan wonderlik genoeg ’n lyn van Ismael na die berg Sinai, terwyl die geskiedenis vertel dat daar ʼn regstreekse lyn loop van Isak na die berg Sinai.

Paulus noem die verbond wat teruggaan op Isak ’n belofteverbond, omdat die seun van Sara deur die belofte gebore is. Paulus gebruik graag die historiese verbond met Abraham as voorbeeld vir die een ewige verbond van God (Galasiërs 3:15-18, Romeine 4:13-14 en 9:6-9). Ook hier word die Sinai-verbond nie as historiese verbond aangehaal nie, maar as tipe vir ’n heilsweg op grond van wetsvervulling. So ’n verbond moet tot slawerny lei. Die twee verbonde in Galasiërs 4 staan vir twee verskillende beginsels en hulle sluit mekaar uit.

Die Nuwe Verbond in die Brief aan die Hebreërs🔗

In Hebreërs 8:1-10:18 gee die skrywer ’n uitleg oor die twee verbonde. In 8:6 en 9:15 word gesê dat Christus Middelaar is van ’n beter verbond en ’n nuwe verbond. Hoekom is die nuwe verbond ’n beter verbond? Omdat die beloftes van God onder die nuwe verbond wel gerealiseer sal word, terwyl dit onder die eerste verbond onmoontlik was. Die eerste verbond was nie onberispelik nie (Hebreërs 8:7). Onder die eerste verbond word die Sinai-verbond bedoel, maar uitsluitend met die oog op die Levitiese offer- en versoeningsdiens. Die Sinai-verbond kon nie bereik wat die nuwe verbond wel sal bereik nie, naamlik die volmaaktheid en die vergewing van sondes. Die waarde van die nuwe verbond ten opsigte van die ‘ou’ verbond berus dus nie op ’n ander inhoud nie, maar op die reddingskrag van die Middelaar, Jesus Christus.

Maar die skrywer sê van die Sinai-verbond dat dit verouder is en naby die verdwyning (Hebreërs 8:13). Beteken dit dat die ‘ou’ verbond verlede tyd is en dat die nuwe verbond in plaas van die ‘ou’ verbond gekom het? Nee, want die skrywer sê dit net vanuit ʼn kultiese oogpunt. As dit gaan oor die kultiese kant van die eerste verbond, kan jy praat van verdwyning. Die kultiese kant van die Sinai-verbond is ’n skaduwee en afbeelding van die werk van Christus in die nuwe verbond. Die eenmalige offer van Christus laat die offerdiens en die priesterdiens van die eerste verbond verdwyn. Daarmee verklaar hy nie die hele Sinai-verbond as verouderd nie. Die etiese wetgewing byvoorbeeld bly ook in die nuwe verbond geldig.

Die Volk van die Nuwe Verbond🔗

In die Ou Testament gaan dit veral oor die verbond tussen God en sy volk Israel. Maar hierdie verbond het sy basis in die verbondsluiting tussen God en Abraham. God het sy verbond opgerig met die persoon Abraham en sy nageslag. Die besnydenis word die identiteitsteken. Abraham laat nie alleen homself en sy seuns besny nie, maar ook sy huisgenote en slawe. Die natuurlike omgewing word opgeneem in die verbande waarin die heil van God werksaam is. Die verbond met Abraham het ’n duidelike universele gerigtheid: Abraham sal vader word van ’n menigte volke en in sy nageslag sal al die volke van die aarde geseën word.

Die Abraham-verbond gaan oor in die verbond met die volk Israel. Die identiteit van hierdie verbondsvolk is in die eerste plek etnies bepaal, maar hul identiteit moes ook uitkom in hul heiligheid en gehoorsaamheid aan die wet van die Here. Tussen ’n etniese identiteit en ’n identiteit op basis van heiligheid en gehoorsaamheid sit ’n spanningsveld. Daarom moet ons onderskeid maak tussen belofteverbintenis en lewensgemeenskap. ’n Israeliet word opgeneem in die verbond op grond van sy etnisiteit, maar die lewensgemeenskap met die Here kry gestalte in die weg van geloofsgehoorsaamheid. Ontroue Israeliete het wel in die belofteverbintenis gedeel, maar nie in die vervulling daarvan nie. Ook die Sinai-verbond ken ’n universele gerigtheid: Israel moes, deur God se heiligheid te reflekteer, ’n lig vir die volke wees.

Die nuwe verbond is nie beperk tot een volk nie, maar tot al die volke van die aarde. Dis nie die prestasie van mense nie, maar die verdienste van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees. Alleen deur geloof kan ’n mens tot hierdie verbond behoort. Die wet of besnydenis of afkoms speel nie ’n rol nie – die ware kinders van Abraham is hulle wat aan Christus behoort en lewe deur sy Gees. ’n Omstrede punt is die vraag of die natuurlike verbande ook na Christus in die nuwe verbond betrek word. Hierdie vraag moet ons positief beantwoord. Paulus wys ’n beperking van die verbond tot een volk radikaal af, maar ons lees nêrens dat hy die betrokkenheid van die natuurlike verbande waarin ’n gelowige lewe, ook afwys nie. Eerder die teendeel: wanneer iemand tot geloof kom, word die hele huisgemeenskap in die heil betrek (Handelinge 16:14-15 en 30-34). Boonop is daar geen rede om die onderskeid tussen belofteverbintenis en lewensgemeenskap in die nuwe verbond op te hef nie. Ook na Christus is daar ’n aanbod van beloftes aan baie mense binne die wye kring van die verbond, in die eerste plek aan die kinders van gelowige ouers, én ’n kring waarin hierdie beloftes effektief word in die weg van geloofsgehoorsaamheid.

Dis presies hoekom in die gereformeerde kerke kinders van gelowige ouers gedoop word. God sluit sy verbond nooit net met gelowiges nie, maar ook altyd met die natuurlike verbande waarin hulle lewe, dus ook met hul kinders.

Die Wet en die Nuwe Verbond🔗

Dit was op ’n tyd gebruiklik om die Sinai-verbond ’n werkverbond te noem – asof die nalewing van die wet voorwaarde was vir die verbond met die Here. Israel het die wet gekry nadat God sy volk uit Egipte uitgelei het. Die bevryding uit Egipte was die begin van die verbondsgemeenskap tussen God en Israel. Gehoorsaamheid aan die gebooie van die Here het daarom ’n plek binne die verbondsgemeenskap as ’n antwoord op die liefde van God. Die wet het vanaf die begin ook ’n keersy gehad. As jy die gebooie van die Here nie nalewe nie, sal dit die verbondsgemeenskap met God versteur en selfs opbreek.

Paulus het hom baie besig gehou met die plek van die wet binne die nuwe verbond. Omdat daar vir Paulus maar een weg tot saligheid is, naamlik geloof in Jesus Christus, kan aan die wet nooit die funksie van heilsmiddel toegeken word nie. Werke van die wet is nie in staat om ’n mens voor God te regverdig nie. Die geskiedenis van Israel het dit uitgewys. Maar dis nie te wyte aan die wet self nie, want die wet is heilig, regverdig en goed. Dis te wyte aan die sonde. Deur die sonde het die wet kragteloos geword. Die mens wat deur werke van die wet geregverdig wil word, word net dieper in die moeras van die sonde gedruk. So is die wet tugmeester na Christus Jesus, want alleen deur Hom kan ’n mens geregverdig word. Vanuit die geloof in Christus kom die mens ook weer toe aan die eintlike betekenis van die wet. Christus is naamlik die einde van die wet. Hy het die wet in sy diepste bedoeling vervul en alleen deur sy Gees kan die wet ook in ons lewe vervul word.

Ten slotte moet ons, as ons oor die wet van die ou verbond praat, onderskeid maak tussen kultiese en etiese gebooie. Alreeds in die Ou Testament vind ons by die profete kritiek op ’n verkeerde vertroue van die volk op die kultiese gebooie (offers, tempeldiens, besnydenis), asof nalewing daarvan die belangrikste sou wees in die verbondsomgang met die Here. Paulus sit hierdie lyn voort. Hy bestry die besondere betekenis wat die Joodse Christene aan die besnydenis en ander seremoniële gebooie toegeken het. Die skrywer van die Hebreërbrief stel dat die kultiese wette van die Sinai-verbond skaduwees was van die persoon en werk van Christus in die nuwe verbond. Omdat hulle slegs skaduwees was, het hulle geen heilswerksaamheid gehad nie en het hulle oorbodig geword noudat Christus self verskyn het.

Christus en die Nuwe Verbond🔗

Wat is die betekenis van Christus vir die nuwe verbond? Tydens die laaste maaltyd met sy dissipels sê Jesus dat die nuwe verbond in sy bloed gesluit is. Sy dood aan die kruis is die inwyding van die nuwe verbond. Hebreërs noem Jesus Christus Borg en Middelaar van die nuwe verbond. Jesus bemiddel tussen twee verbondspartye: God en sy volk. Die noodsaak hiervan is duidelik: die sonde van die volk het die verbondsomgang met God onmoontlik gemaak. Christus se middelaarskap is die vervulling van die middelaarskap van Aäron en Moses. Sy offer aan die kruis bring ware versoening tussen God en sy volk.

Calvyn noem Christus ook fondament van God se verbond. Natuurlik is Hy fondament onder die nuwe verbond, maar omdat God se verbond een en ewig is, moet Christus ook die fondament wees onder die verbond met Abraham en Israel. Calvyn het gesê dat ook die gelowiges onder die ou verbond die Middelaar Christus geken het, al het hulle Hom net as verwagting geken.

Ten slotte kan ons Christus ons verteenwoordiger in die verbond noem. Die nuwe verbond is ’n verbond wat gekenmerk word deur ʼn hartlike nalewing van die wet en ’n volmaak kennis van God deur sy volk. Hierdie eskatologiese toekoms het Christus in sy lewe, dood en opstanding gerealiseer en Hy het dit in ons plek gedoen. Daarmee verteenwoordig Hy ons in die verbondsverhouding met die Here. Christus is die nuwe skepping, die eersgeborene van die hele skepping, eersteling van die nuwe toekoms. En wie in Christus is, is nou al ’n nuwe skepping (2 Korintiërs 5:17).

Die Heilige Gees en die Nuwe Verbond🔗

Wat was die werking van die Gees onder die ou verbond? Nehemia 9:20 vertel oor die aanwesigheid en werking van die Gees onder die Sinai-verbond. Tog het die profete in die Ou Testament ’n groter Geestesvolheid in die toekoms verwag, soos ons duidelik kan sien in die bekende profesie van Joël (Joël 2:28-32). Die Gees sal in die eindtyd sorg dat daar weer ’n volmaakte verbondsverhouding sal wees tussen God en sy volk.

Vir Paulus is die toekoms alreeds gerealiseer in die opstanding van Christus. As gawe van hierdie toekoms skenk Christus ons die Heilige Gees. Die Gees is die onderpand van die nuwe onsterflike lewe (2 Korintiërs 5:5) en voorskot (eerstelinge) van ons toekomstige verlossing (Romeine 8:23). Die Heilige Gees begin sy vernuwingswerk reeds hier op aarde en werk toe na die voltooiing van die nuwe verbond. Wat die Gees vandag reeds van die nuwe verbond realiseer, is vir ons ’n waarborg dat die nuwe verbond daadwerklik sal aanbreek, maar terselfdertyd is dit nog nie die volmaakte realisering van die nuwe verbond nie.

Wat doen die Heilige Gees in die nuwe verbond? Hy skryf die wet van die Here in die harte van die deelgenote van die verbond. Wat die mens sonder die Gees nie kon doen nie, naamlik ’n troue en gehoorsame bondgenoot van die Here wees, sal die Heilige Gees in ons lewe realiseer. Hy sal sorg vir ’n volmaakte verbondsverhouding tussen God en sy volk.

Die Eskatologiese Gerigtheid van die Nuwe Verbond🔗

Wanneer begin die nuwe verbond tussen God en sy volk? Dit is onmoontlik om hiervoor ’n tyd in die geskiedenis aan te wys. Elke historiese verbond is ’n stap in die rigting van die definitiewe vervulling van die nuwe verbond. Daarom is dit onjuis om te sê dat die ou verbond gaan tot die koms van Jesus Christus en dat die nuwe verbond van daar af begin. Wel is duidelik dat die koms van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees die beslissende stap was in die realisering van die nuwe verbond. Christus en die Gees het die nuwe verbond gerealiseer en daarom is die uitkoms vir ons seker. Maar solank as wat die geskiedenis voortgaan, moet ons nog lewe met ’n onvolmaakte verbond.

Hierdie eskatologiese gerigtheid voorkom dat ons tussen ou en nuwe verbond ’n verkeerde skeiding maak. Dit hou ons klein, want tot die nuwe verbond definitief aanbreek, lewe die gelowige nog in die spanning tussen volmaak wees in Christus en strewe na die volmaaktheid (Filippense 3:12-15). Dit beteken ook dat die verbondsvolk vandag nie net uit ware gelowiges bestaan nie, maar ook uit mense wat wel die belofte gekry het, maar dit nog nie in geloof aangeneem het nie. Ten slotte beteken dit dat die verbondsvolk nog nie voltooi is nie en dat die verbond van God met sy volk altyd na buite gerig moet wees.

As ons nou alles in een sin wil opsom, kan ons sê: die nuwe verbond is die vervulling en realisering van die ou verbond deur Christus en sy Gees onder eskatologiese voorbehoud.