3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee .

Die Nuwe Verbonds-Geskrifte

Te midde van groot media-aankondigings en heelwat geleerdes se opgewondenheid, het die National Geographic Society in April 2006 die langverlore Gnostiese evangelie, Die Evangelie van Judas, aan die wêreld bekend gestel. Een geleerde het voorspel: “Dit is ʼn groot storie. Baie mense gaan ontsteld wees.” ʼn Ander een het gesê: “Dit verander die geskiedenis van die vroeë Christendom” (Andrew Cockburn, “The Judas Gospel,”National Geographic, Mei 2006, p. 91). Maar nou, twee jaar later, is al wat verander het oor die vroeë Christendom die bankrekeninge van dié wat boeke oor die evangelie van Judas geskryf het. Hierdie nuwe-en-tog-oue evangelie is byna heeltemal vergeet deur die meeste Christene, wat waarskynlik die promosie daarvan gesien het as nóg ʼn “Paas-verrassing” wat bedoel is om die Christene opgewonde te maak. In plek daarvan is die geleerdes nou self deurmekaar  en argumenteer oor hoe die dokument vertaal en geïnterpreteer moet word. Ondertussen hoef die kerk nie sy kollektiewe asem op te hou oor die invloed wat die evangelie van Judas (in enige vertaling) moontlik op geloof sal hê nie. Nogtans laat die ontdekking daarvan in die gedagtes van Christene opnuut die vraag ontstaan oor hoe die sewe-en-twintig boeke van ons Nuwe Testament die “Nuwe Testament” geword het.

As mens na ʼn klomp van die onlangse werke oor die Nuwe-Testamentiese kanon kyk, sal jy waarskynlik vind dat die skrywer die wortels van die Nuwe-Testamentiese kanon sal soek in die behoeftes van die vroeë kerk. Een sê dat dit die stryd teen kettery was wat die kerk aangespoor het om ʼn klompie gesaghebbende tekste te kry waarop sy haar standpunte kan baseer. Iemand anders wys op die kategetiese en liturgiese behoeftes aan nuwe geskrifte om die spirituele lewe van die kerk te voed. Nog iemand kyk na Konstantyn die Grote se veldtog om die ryksgebied  te verenig, wat na bewering ʼn ooreengekome stel geskrifte nodig gehad het om eendrag te bevorder. Hierdie almal, en nog ander, het beperkte rolle gespeel om die kerk tot ooreenstemming te bring oor die inhoud van die Nuwe Testament. Maar die uiteindelike grondslae vir die bestaan van ʼn Nuwe-Testamentiese kanon moet nie in enigeen van hierdie geskiedkundige behoeftes gesoek word nie, maar in die genadige doel van ʼn self-openbarende God wie se woord Sy eie goddelike gesag dra.

Die gronde vir nuwe Verbond-geskrifte🔗

God se verlossende dade in die geskiedenis is dwarsdeur die verloop van God se omgang met die mensdom deur woord-openbaring vergesel. God se konfrontasie met Adam en Eva na hul sonde, Sy verbond met Abraham, Sy dramatiese verlossing van Israel uit Egipte, Sy vestiging van die Israelitiese koningskap, Sy oordeel in Israel se ballingskap, en toe Sy herstel van Israel – alles is begelei deur nuwe openbarings van God aan Sy volk. Net so, toe die beloofde Messias gekom het om Sy volk te verlos, het ʼn ruim uitstorting van goddelike openbaring  as vanselfsprekend daarop gevolg (2 Tim. 1:8-11; Titus 1:1-3).

Profetiese gedeeltes soos Jesaja 2:2-3; 49:6 en Psalm 2:8 het ʼn tyd voorspel wanneer die lig van God se genade aan alle nasies verkondig sal word. Alhoewel Jesus Christus die lig van die wêreld was (Joh. 8:12; 12:46) het Hy nooit in sy volwasse lewe die land Palestina verlaat nie. Hy het wel lig vir die nasies gebring, maar dit was deur Sy gekose apostels, aan wie Hy volmag gegee het om Sy gesaghebbende verteenwoordigers te wees (Mat. 10:40: “Wie julle ontvang, ontvang My”). Hierdie mans is spesiaal deur die Heilige Gees toegerus om aan Jesus se woorde en werke te “herinner” (Joh. 14:26; 16:13-14) en van Hom te getuig in “Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8; sien ook Mat. 28:19-20; Luk. 24:48; Joh. 17:14,20).

Dat uit hierdie getuienis ʼn nuwe versameling van geskrifte vorendag gekom het – Evangelies, apostoliese geskiedenis, briewe, en profesieë – aanvullend tot die boeke van die ou verbond, het natuurlikerwys gevolg uit die patroon van God se verlossende werk in die verlede (soos bo genoem) asook van die werklike geskrewe bediening deur sommige van Jesus se apostels en hul helpers in die volvoering van hul opdrag.

Die herkenning van die nuwe Verbond-geskrifte🔗

Christene bely dat die “God-geïnspireerde” Skrif (2 Tim. 3:16), as God se Woord aan die mensdom, selfverklarend is, en dus kan van die kanon gesê word dat dit self-bevestigend is. Maar in die geskiedenis is aangeteken dat daar variasies in die praktyke van die plaaslike kerke en onenigheid tussen kerke en teoloë oor verskeie boeke van die Nuwe Testament was. As mens daaroor nadink is hierdie variasies nie verrassend nie, veral as aangeneem word dat meer as twee dosyn boeke ontstaan het in ʼn tydperk van omtrent vyftig jaar en dat hierdie boeke onstelselmatig tussen kerke sirkuleer het soos hulle  in wydverspreide dele van die Roomse Ryk tevoorskyn gekom het.

Om sake te kompliseer het daar baie dokumente gedurende die vroeë eeue ontstaan wat tot ʼn mate die Nuwe Testamentiese boeke nageboots het. Party van hierdie boeke was nogal gewild by sekere mense. ʼn Goeie aantal “evangelies”, “handelinge” van sekere apostels, ʼn aantal vervalste briewe van Paulus, en verskeie openbarings (geskrifte wat die komende oordeel van God beskryf)  het mettertyd ontstaan. Hulle is met verskillende doelwitte geskryf. Nie almal is geskryf as “mededingers” met die meer aanvaarde boeke nie; dit lyk asof sommige geskryf is ter aanvulling daarvan, of selfs vir vermaak. Twee van die ou “alternatiewe” waaroor deesdae die meeste gepraat word, is die Evangelie van Tomas en die Evangelie van Judas. Moet ons dink dat hierdie evangelies wydgelese en vertroud was en wat “dit net nie gemaak het” nie? Nouliks.

Tomas is ʼn versameling van 114 gesegdes wat aan Jesus toegeskryf word, waarvan sommige duidelik gebaseer is op Jesus se woorde soos vervat in die kanoniese evangelies, maar baie ander van onbekende oorsprong is. Sommige van hierdie gesegdes beeld ʼn heeltemal ander Christus af, aanvaar ʼn heeltemal ander teologie, en adem ʼn heeltemal verskillende gees as dié wat ons in die kanoniese evangelies vind. Slegs drie kerkvaders noem hierdie evangelie, en dan op ʼn negatiewe wyse, as klaarblyklik ketters. Ons kan aanvaar dat sommige van die boek gehou het maar die kerk oor die algemeen het nooit die ware stem van Jesus daarin gehoor nie.

Die Evangelie van Judas is duidelik ʼn Gnostiese evangelie, en is nog meer radikaal. Dit is waarskynlik teen die middel van die tweede eeu geskryf. Dit bevat geen histories betroubare inligting oor Jesus nie, maar gee mens ʼn goeie idee van die soort verborge, Gnostiese mitologie wat die Christene frustreer het. Een vroeë ortodokse skrywer, Irenaeus, noem hierdie evangelie, net om dit af te keur.

Dit is miskien interessanter om te kyk wat gebeur het met die sogenaamde Diatessaron wat deur ʼn man genaamd Tatian in ongeveer 172 n.C. saamgestel is. Die Diatessaron was een van die eerste “harmonieë” van die vier evangelies wat ooit gemaak is. Die Siriese weergawe van hierdie harmonie was die eerste vorm van die Evangelies wat bekend was in die Siries-sprekende gebiede waar kerke begin is, en dit het vir ʼn aansienlike tyd gedien as hul enigste evangelie.

Teen die einde van die tweede eeu is ‘ʼn “kernversameling” van die Nuwe-Testamentiese boeke – een-en-twintig van die sewe-en-twintig – algemeen erken onder die kerke: vier evangelies, Handelinge, 13 briewe van Paulus, 1 Petrus, 1 Johannes, en die boek Openbaring. Hebreërs was bekend maar is in Rome bevraagteken oor vrae oor die outeurskap. Êrens in die derde eeu was versamelings van al sewe die “katolieke briewe” in sirkulasie en bekend aan die meeste kerke. Openbaring, wat blykbaar aanvanklik oral aanvaar is, het onder kritiek deurgeloop in die derde eeu, want sommige het dit moeilik gevind om dit te interpreteer in lyn met die res van die Nuwe Testament.

In die jaar 367 het die Alexandrynse biskop Athanasius in sy jaarlikse Paasbrief ʼn lys van Nuwe-Testamentiese boeke gegee wat al sewe-en-twintig boeke, sonder enige voorbehoud, bevat het en terselfdertyd het hy verskeie ander genoem wat nuttig kon wees vir katkisasie, maar wat nie skriftuurlik is nie. Ander lyste uit die vierde eeu het in essensie ooreengestem, maar dikwels nie presies nie. Drie Afrika-sinodes, by Hippo Regius in 393 en by Carthago in 397 en 419, sowel as die invloedryke Afrika-biskop, Augustinus, het die sewe-en-twintig boeke as kanon bevestig. Dit is ook vasgevat in Hiëronimus se Latynse vertaling, die Vulgata, wat die standaard Bybel vir die Westelike kerk geword het, terwyl sommige Oostelike kerke vir meer as ʼn eeu gewag het voor hulle sekere boeke erken het.

In al die oorwegings oor die boeke wat die kanon van die Skrif opmaak , is dit belangrik om te besef dat die kerk nie eensydig die boeke waaraan sy die meeste voorkeur gegee het, “bepaal” of “gekies” het nie. Die kerk het haarself gesien as bemagtig om slegs die boeke te kies wat God voorsien het; dit is boeke wat deur die apostels en hul onmiddellike metgeselle oorgelewer is. “Apostolositeit”, “oudheid” en “ortodoksie” is nie die kriteria waarmee die kerk eensydig geoordeel het watter dokumente sy wil hê nie, maar is juis daardie kwaliteite wat die kerk herken in die stem van sy Verlosser. Netso is “liturgiese gebruik” en “kerkkonsensus” weerspieëlings van die getuienis van die Heilige Gees in die lewe van die kerk.

Bruce Metzger, een van die vorige eeu se vooraanstaande geleerdes van die Nuwe-Testamentiese kanon, het opgemerk: “nóg individue nóg rade het die kanon geskep; hulle het die self-bevestigende kwaliteit van hierdie geskrifte herken en erken, geskrifte wat hulself as kanonies aan die kerk opgedring het” (The New Testament, Its Background, Growth and Content, derde ed. (Nashville: Abingdon Press, 2003), p. 318). William Barclay het dit meer beknop gestel: “Dis die eenvoudige waarheid om te sê dat die Nuwe-Testamentiese boeke kanonies geword het omdat niemand hulle kon verhoed om dit te word nie”. En dit is op die ou einde omdat Jesus se skape Sy stem hoor.

Een van die beste maniere om jouself van die kanonisiteit van die Nuwe-Testamentiese geskrifte te verseker, is om een van sy mededingers te lees, so word dikwels gesê .  So kan ons die ontdekking van meer geskrifte soos Die Evangelie van Judas slegs verwelkom. Hoewel die meeste van ons sonder al die bohaai kan klaarkom.