Bron: Kompas, 2002. 2 bladsye.

Die Offergawes in die Erediens

kollektesak

Terwyl die prediking, sakramente en liedere baie aandag in ons erediens ontvang, kan dieselfde nie van die kollektes gesê word nie. Dit lyk asof dit byna ’n vergete aspek van die liturgie is. Tog is dit jammer en behoort die offergawes ’n geëerde en gerespekteerde plek te vind wanneer gelowiges die Here ontmoet.

Die Liturgiese Plek🔗

Hoekom is dit ’n vergete aspek? ’n Deel van die probleem kan te doen hê met die plasing van die kollektes in die erediens. Daar is twee voorgestelde ordes van die erediens, wat soms die “A”-liturgie en die “B”-liturgie genoem word, of ook wel die Middelburgliturgie en die Kampenliturgie. Onder “A”- of die Middelburgliturgie kom die kollektes ongeveer in die middel van die erediens. Onder die “B”- of Kampenliturgie vind dit net so voor die einde van die diens plaas.

Wat moet ons sê van die plasing? Daar kan op albei ordes kritiek gelewer word, en beide moet ondersoek en bespreek word. Die “A”-orde plaas die kollekte in ’n taamlik vreemde plek, naamlik tussen die lees van die Bybel en die verkondiging van die Woord. Wat is die rede hiervoor? Is dit nie onvanpas om die lees en die verkondiging van die Woord te onderbreek met die kollekte nie? Hoekom moet die vloei verhinder word? Hoekom moet die kollekte op so ’n sentrale punt geplaas word?

Die “B”-orde neem ’n ander benadering. Dit plaas die kollekte reg voor die slotlied en die seën. Op ’n manier kan dit as ’n verbetering gesien word, omdat gebede vir vergifnis, vernuwing en voorbede, asook belydenisse, sakramente en kollektes na die Woord behoort. Die volgorde van die diens moet wees dat ons eers luister na wat die Here aan ons wil sê en dat ons daarna ons geloof bely, Hom vra om na ons behoeftes te luister, die sakramente gebruik, en ons gawes offer.

Daar is egter nog ’n probleem met die “B”-orde en dit is dat die kollekte amper aan die einde van die erediens geplaas word. Dit lyk asof dit sommer ’n nagedagte geword het. Die gevolg is dat die indruk geskep word asof die kollekte nie belangrik is nie.

Dit is ’n gedagte wat ten alle koste vermy moet word. Ek wil nie beweer dat die kollekte die belangrikste onderdeel van die erediens is nie, maar ek is oortuig daarvan dat dit ’n integrale deel van die diens moet wees. Met ander woorde, die kollekte verdien nie die plek wat dit in die “A”-orde het, waar dit te sentraal geplaas word nie, maar ook nie die plek in die “B”-orde waar dit lyk asof dit toevallig voorkom.

Die “A”-orde is volgens my liturgies gesien verkeerd en kan ook nie maklik verander word nie. Ek sou graag wou sien dat die “B”-orde die kollekte kan opskuif, sodat dit ’n plek kry na die verkondiging van die Woord en die sing van die amen-lied, en voor die laaste gebed.

Na die Kollekte🔗

Verder sou ek dit ook toejuig as daar ’n bespreking sou kom oor die moontlikheid om ’n toepaslike antwoord van die gemeente op die offergawes te kry, in die vorm van ’n kort gebed of lied. Dit is reeds lankal die gewoonte by verskillende Presbiteriaanse en Gereformeerde kerke. Myns insiens bevorder dit die ware Christelike rentmeesterskap en die werk van die diakens in die gemeente.

Die agtergrond vir hierdie voorstel vir ’n gemeentelike antwoord op die kollekte is tweevoudig. Die eerste het te doen met die feit dat die kerke nie genoeg doen om teen die materialistiese gees van ons tyd te stry nie. Ek bekommer my steeds meer oor die skade wat die mag van geld aan ons gemeentes doen.

kollektesak

Dit lyk asof steeds meer mense vergeet dat die doel van ons lewe nie is om ’n oorvloed van besittings te verkry nie. Sommiges kies ’n beroep, nie omdat hulle daarvoor geroepe voel nie, maar omdat hulle daarmee baie geld kan verdien. Ander word gedryf deur ’n kompulsiewe behoefte om te koop, om by te hou met die laaste modes, motors en elektroniese toerusting. Dan is daar ook diegene wat nie kan wag vir die volgende vakansie of toer nie. En laat ons nie die dobbelary en lotery vergeet wat so prominent in ons gemeenskap funksioneer en waarskynlik ook sal oorloop in ons gemeentes, indien dit nie alreeds die geval is nie.

Insigte van Calvyn🔗

Die eerste rede hoekom ek meer aandag en bespreking oor die kollektes wil hê, het te doen met die aanval van materialisme. Die tweede rede het te doen met die Bybelse mening oor geld. Om eerlik te wees het ek voorheen nooit vreeslik veel aandag aan hierdie onderwerp gegee nie, totdat ek ’n paar jaar gelede ’n uitstekende boek oor Johannes Calvyn raakgeloop het. Dit is geskryf deur ’n man met die naam Andre Bieler en word genoem La Pensee Economique et Sociale de Calvin. In hierdie insiggewende boek wys Bieler hoe Calvyn oor verskillende sosiale en ekonomiese kwessies gedink het. Hy het baie nougeset deur al Calvyn se kommentare en briewe gegaan en ’n groot hoeveelheid inligting verkry oor Calvyn se gedagtes oor hierdie kwessies. Die resultaat is dat die leser verbaas word deur Calvyn se grootmoedige, moderne en Bybelse idees.

Bieler som Calvyn se idees en gevolgtrekkings soos volg op:

Verenig met Christus deur geloof en herstel in sy waardigheid as kind van God, vind die mens ’n nuwe verhouding met sy naaste. Geld is ’n instrument van God vir die ondersteuning en bestaan van die samelewing. Hierdie mens verstaan ook dat geld bemeester moet word sodat dit aan God en die naaste geoffer kan word. Dit is ook met sy geld dat die Christen aan God offer in gees en in waarheid. Vir die Christen is die offer ’n geestelike handeling, ’n handeling van geloof in die hoogste graad. Deur hierdie offer bely die gelowige dat God die Mammon onttroon het. Deur konkrete gawes druk die Christen die ware maat van sy geloof uit. Deur hierdie gawes bely die Christen dat sy Here die erkende Koning van sy hele lewe is – moreel, fisies en materieel. Die kerk wat dit verstaan kan nie volstaan met ’n kollekte wat nie ’n offergawe is nie, waar die kollekte verlore raak onder die gesing van ’n psalm of by die uitgang van die gelowiges na die diens. Die Christelike gemeenskap moet deur ’n openbare handeling bewys dat geld deur die ewige Christus van sy duiwelse kragte bevry is en die ware funksie van dienaar weer aangeneem het. (Tot sover die aanhaling)

Calvyn se basiese uitgangspunt was dat geld die manier is waarop die gemeente van Christus in die openbaar bely dat Mammon onttroon is. Is dit nie ’n pragtige en Bybelse insig nie?

Terselfdertyd dwing dit ons om toe te gee dat ons die kollekte nie altyd in hierdie lig gesien het nie. Alhoewel die kollekte altyd nog as ’n integrale deel van die erediens gesien is, kon ons nie altyd verduidelik hoekom nie. Wel, hier is die rede! Deur die kollekte vra God van sy kinders om hom as Bron en Gewer te erken en “nee” te sê vir Mammon en die kragte van materialisme.

Vanuit hierdie perspektief wil ek daarvoor pleit dat die gemeente meer aandag moet gee aan die offergawes. Om dit te doen, is daar niks wat ons keer om ’n kort gebed of psalm na die kollekte te sing nie.

Daarby kom daar ook vrae op oor ander praktyke. Is dit regtig passend dat die diakens die kollektes wanneer dit opgeneem is, êrens in ’n hoekie bêre, asof dit nie belangrik is nie? Hoekom word dit nie neergesit op die tafel voor die preekstoel wat in die meeste kerke staan nie?

kollekte doos

En wat van die vreemde praktyk dat mense gevra word om hulle vrywillige gawes aan die kerk in ’n boks in die voorportaal te gooi? Is hierdie bydraes nie ook offergawes nie? Verdien dit nie ook ’n plek binne die erediens nie? Is daar ’n soort dualisme hier aan die werk wat veroorsaak dat ons sommige gawes in die kollektesakkie gooi tydens die erediens en dat die ander betaal word as ’n soort ingangsfooi voordat ons die kerk ingaan? Ek wonder of iemand my kan vertel hoekom al die gawes wat ons aan die Here gee, of dit nou ter ondersteuning van die bedryf van die kerk of van die werk van die diakens is, nie alles binne die konteks van die erediens op die Here se dag kan wees nie?