Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Ongebore Kind met 'n Gebrek

sonar

Dit is dikwels die vraag, ook onder gereformeerdes of die gebrek by 'n ongebore baba rede vir 'n aborsie is. Mag die ongebore baba geaborteer word as ons reeds voor geboorte weet van 'n slegte prognose van die baba of as 'n erflik oor­draagbare siekte vroeg in swangerskap gediagnoseer word? Wat sê God se Woord? Is babas met gebreke ook verbondskinders? Kan ons na die ongebore baba verwys as 'n verbondskind? Wat is die taak van die ouers van 'n ongebore baba met 'n gebrek? Wat is die taak van die dokter en verpleegpersoneel?

Aan die einde van die twintigste eeu het verskeie ondersoeke op ongebore babas moontlik geword. Ja, die lewe in die baarmoeder het 'n pasiënt geword. Vandag kan die lewe waaroor vroeër nog gewonder is, gesien word met bv. 'n sonar. 'n Ma en pa kan met elke opvolgbesoek die baba sien en die wonderlike werk van die HERE aanskou. Dit wat Dawid van geskryf het in Psalm 139 is nou sigbaar op die sonarskerm.

Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Psalm 139:13

Daar kan ook defekte en siekte by die baba aangetoon word met behulp van ondersoeke soos 'n sonarondersoek. Defekte soos 'n afwesige nier, hartafwykings, anenkefalie (afwesige brein) en ander genetiese afwykings kan aangetoon word.

Ander ondersoeke wat gedoen kan word is bv. 'n amniosentese. 'n Naald word dan deur die ma se buikwand gedruk en 'n klein bietjie vrugwater getrek. Die vrugwater bevat onder andere epiteelselle van die baba se liggaam wat mens onder die mikroskoop kan ondersoek. So kan die DNA van die baba ondersoek word om vas te stel of daar enige genetiese afwykings is al dan nie. Hierdie ondersoek word veral gedoen om vir 'n Down sindroom baba (mongooltjie) te sif. Dit word gewoonlik met ander bloedtoetse gekombineer wat dan gesamentlik 'n risikofaktor kan uitwerk vir die moontlike bestaan van 'n Down sindroom baba. Hierdie babas het 'n afwyking op chromosoom 21. (die mens het 46 chromosome wat genetiese inligting bevat)

Deesdae kan genetiese afwykings selfs op embrio's bepaal word. Dit kan gedoen word deur die embrio's wat by in vitro fertilisasie betrokke is te ondersoek vir genetiese afwykings. Die bedoeling is dan om slegs daardie embrio's wat "geen" genetiese defek het nie, in te plant. Die gebreklike embrio's word nie ingeplant nie en sterf in die petribakkie. Dit word pre­inplantasie diagnostiek genoem.

Wat is die motivering agter al hierdie ondersoeke op die baba in die baarmoeder van sy ma?

Dit is hierdie vraag wat elke gelowige moet afvra as die dokter bv. een van hierdie ondersoeke wil aanvra. Gewoonlik is dit die motivering: "Mevrou, as daar 'n gebrek by die baba is kan ons nog moontlik betyds 'n aborsie doen." Die volgende word dan aangevoer as redes vir die aborsie:

  • Die lewe wat die gebreklike kind tegemoet gaan is vreeslik. Die kind sal hom of haarself nie ten volle kan ontplooi nie.

  • Dit is ongewens vir die ma en die res van die gesin om 'n gebreklike kind te hê.

  • Gebreklike kinders is in feite 'n las vir die samelewing.

Daar is egter soms ook ondersoeke nodig vir die beswil van die moeder en ongebore kind. Dit is die dokter se priesterlike taak om so goed moontlik om te sien na die ma en kind. Dikwels is die sonar dan baie nuttig om die korrekte ouderdom van die baba te bepaal. Ander bloedondersoeke soos om die bloedgroep van die ma te bepaal is belangrik om maatreëls te tref indien daar 'n probleem mag wees. Daar kan deesdae al sekere gebreke by die baba reeds in die baarmoeder herstel word, soos bv. sekere hartafwykings. Dit is egter nog nie in Suid Afrika moontlik nie en is nog baie eksperimenteel waar dit gedoen word.

amniosintese

Dit is dus nog nie prakties moontlik om terapeuties in te gryp by 'n defek van die baba nie. Daarom is dit nie werklik geregverdig om uitgebreide voorgeboorte ondersoeke op die baba te doen nie. Dit mag in die toekoms moontlik word, maar dan sal ons ondersoeke wat omkeerbare gebreke vasstel moet doen met die oog op herstel daarvan, en nie met die oog om 'n gebrekkige ongebore kind te aborteer nie. Indien die motivering agter die ondersoeke is om 'n gebrek vas te stel wat dan moontlik tot 'n aborsie kan lei, moet dit afgewys word.

Die vraag is verder of dit wys is om hierdie gebrek vooraf te weet indien 'n aborsie nie oorweeg word nie. Is dit werklik medies verantwoordbaar om 'n gebrek voor geboorte te weet? Wat gaan die ouers met die inligting maak? Miskien kan hulle hul dan al vooraf voorberei op die moontlike versorgingstaak van 'n kindjie met 'n gebrek waarvoor die HERE hulle roep. Die vraag is of dit nie die lyding swaarder sal maak nie? Hierdie versorgingstaak sal ook met geboorte van so 'n kindjie blyk. Ouers kan hierin die belofte van die HERE omhels dat Hy ook met die roeping die krag daarvoor sal gee.

Daar is ook 'n geringe kans dat die diagnose foutiewelik gemaak kan word. Sekere ondersoeke soos 'n amniosentese het ook komplikasies. Daar is 'n 1% kans op 'n aborsie a.g.v. 'n amniosentese. Daarom moet die doen van voorgeboorte ondersoeke waar dit gaan om die vraag: "Sal ons 'n normale of gebreklike kindjie hê?", afgewys word. Ook as die risiko groter is, bv. by ouer moeders en ouers waar geneties oorerflike siektes voorkom. Dit is nie nodig om 'n gebrek vooraf te weet nie. Ons kan rustig ons sorge aan die HERE voorlê. Hy laat immers alles vir sy kinders ten goede meewerk.

Die HERE roep reeds die ongebore kind. Ons kan praat van die roeping van die ongebore kind. (Jesaja 49:1, Jeremia 1:5) Ja, reeds voor konsepsie van die kindjie het die HERE al 'n roeping en lewenstaak aan hierdie kindjie verbind. Die Here het sy verbond gesluit met Abraham en sy nageslag. Kinders van verbondsouers is dus verbondskinders. Die Here het reeds in die baarmoeder die nuwe lewe aangeneem as sy kind. So ontstaan die verbond eensydig van God se kant alreeds by konsepsie. As die kindjie gebore is verseël die HERE sigbaar aan hierdie kindjie sy verbondsbeloftes by die doop. Dit is die teken dat die HERE hierdie kindjie reeds in die baarmoeder aangeneem het as sy verbondskind en reeds in die baarmoeder sy verbondsbeloftes aan hierdie kindjie wil verbind.

Verder staan ongebore verbondskinders onder die verlossingswerk van Jesus Christus wat ook die volle 9 maande in die baarmoeder van sy moeder gelewe het. En wat van die gebreklike kindjie? Wat van die anenkefaal (afwesige breinontwikkeling)? Kan ons bely dat hierdie kinders van gelowige ouers ook verbondskinders is? Het die HERE 'n doel met hul lewe? Is daar 'n roeping aan hierdie lewe verbind?

Die antwoord is sonder twyfel ja. Christus leer ons in Johannes 9 van die blindgebore man waarin die werke van God openbaar moes word. Hierdie man het 'n duidelike taak van God gehad. Sodat Christus die werke van God in hom kon openbaar. Christus is die Lig van die wêreld. Hy genees die blinde en hy sien weer. Christus illustreer God se almagtige hand en wys dat Hy ons wat blind deur die sonde is, weer die Lig laat sien.

God verbind ook aan die mees gebreklike kind 'n lewensroeping. Al is dit om aan die moderne mens te sê dat die lewe onvolmaak is en verlossing in Christus nodig is. Juis hierdie belydenis is vandag baie nodig.

Lewenskwaliteit is nie 'n selfverwesenliking volgens die moderne mens se standaarde nie. Nee dit is om God te loof, in watter graad van gestremdheid ook al.

Ongebore kindjies met gebreke is ook verbondskinders. God verbind ook aan hulle in die baarmoeder sy beloftes, ook die belofte van die ewige lewe.

ongebore kind

Glo ons dat hierdie gebreklike kind, wat miskien slegs in die baarmoeder van die ma gelewe het en na geboorte dadelik sterf, ook volkome deur God herskep sal word op die nuwe aarde? Glo ons dat hierdie kindjie in die baarmoeder gelewe het om die HERE te loof, in watter graad van gestremdheid ook al? Glo ons dat ook die anenkefaal van gelowige ouers 'n verbondskind van die HERE is en op die nuwe aarde volkome herstel sal wees, en so ook die Down sindroom kind? Dit is die werklikheid. Alle gebreke sal deur die HERE volkome herstel word op die jongste dag.

Kyk, Ek maak alle dinge nuut. Openbaring 21:5

Hierdie belofte het die HERE aan al sy kinders gegee, ook aan hulle met liggaamlike gebreke.

Indien die ongebore kind met 'n gebrek geaborteer word is dit niks anders as intrauteriene eutanasie nie. (genadedood in die baarmoeder van die ma) Dit is beslis nie 'n geneeskundige handeling nie. God en sy werk word voor die voete geloop.

Nee, God gee aan die ouers en dokters van die ongebore kind met 'n gebrek 'n duidelike taak.

Koninklik moet ons hierdie lewe beskerm totdat die natuurlike sterwe intree. Koninklik moet ons die siening dat hierdie kindjie die ouers en samelewing in die weg staan bestry.

Priesterlik moet ons hierdie kindjie versorg sover God die middele gee. Ja ook bid vir die gebreklike ongebore kind.

Verder is dit ons taak om ons aan God se soewereine wil wat alleen goed is te onderwerp. Deur hierdie kindjie sal ook die werke van God openbaar word.

Profeties mag ons bely dat God hierdie lewe gegee het en onderhou totdat Hy hierdie lewe weer neem tot Hom om ook hierdie lewe uit die krag van die opstanding van Christus te herskep. Ons sal dit teenoor 'n baie onverdraagsame wêreld wat hierdie kinders uit die weg wil ruim moet bely en moet oproep tot bekering: Wat God doen is welgedaan! Vir ons nie altyd verstaanbaar nie, maar in sy Raad, volmaak. Kan ons nog die lyding wat ons deur die sondeval op die hals gehaal het in Christus verwerk? Of wil ons dit nie onder oë sien nie? Verdring ons die lyding uit ons lewe? Hy wat 'n gebreklike kind aborteer of laat aborteer keer hom in feite teen Christus. Christus word in Jesaja 53 geteken as die lydende kneg van die HERE, 'n man van smarte en bekend met krankheid, ja soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg. Ons kan wel probeer om die stem van 'n sugtende skepping te demp, maar dan staan ons nie in die spoor van Christus wat ons krankhede en gebreklikhede op Hom geneem het nie. Jesaja 53:4.

Want ons weet dat die lyding van die teenswoordige nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Romeine 8:18