1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Organiese Inspirasie van die Skrif

Daar is baie mense wat oor die feit dat die Skrif deur middel van mense gegee is, struikel. Omdat dit so is, dink hulle dat daar ʼn menslike element in die Skrif is. Hulle kan nie heeltemal die waarheid, dat die Skrif ten volle en volkome en sonder foute die Woord van God is glo nie; en dat daar geen weersprekings, geen gebreke, geen foute, niks hoegenaamd is wat aan menslike tekortkominge toegeskryf kan word nie.

Ons ontken nie dat die Skrif deur middel van mense gegee is nie, maar dit is van so weinig belang dat ons van twaalf uit die ses-en-sestig boeke van die Bybel, nie eens weet wie die menslike skrywers was nie. Ook waar die skrywers bekend is, bly die waarheid van organiese inspirasie van krag.

Organiese inspirasie beteken, onder meer, dat die inspirasie van  ʼn Bybelboek reeds begin het lank voor die boek geskryf is. As ons die Predikerboek as voorbeeld neem, beteken organiese inspirasie dat God sy inspirasiewerk nie begin het toe Hy Salomo daartoe gedrywe het om die boek te skryf nie (2 Pet. 1:21), maar deur al die omstandighede waaronder Salomo sou skrywe, en Salomo as die skrywer self, voor te berei.

God het met die inspirasie van die Predikerboek honderde en selfs duisende jare vantevore begin, toe hy die omstandighede van die geskiedenis so beskik het dat dit in Israel en die volkere presies só sou wees soos Salomo dit gevind toe hy die boek geskryf het. Honderde jare vantevore begin God se inspirasie toe Hy die Joodse volk en die twaalf stamme, waarvan Juda waaruit die familie van Isai sou kom, een was, geroep het. God berei vir die boek voor toe Dawid koning word en sy dinastie vestig sodat Salomo ná hom koning sou word. God het vir die boek voorberei toe Dawid vir Batseba sien bad het, met haar owerspel gepleeg het en saamgespan het om haar man te vermoor, sodat hy self met haar kon trou.

God het al die omstandighede in Salomo se eie lewe so beskik dat hy nie alleen die mees wyse van alle mense, uitgesonderd Christus, sou wees nie, maar ook een wat in groot sonde geval het. Só het dit gebeur dat die boek Prediker, toe dit geskryf is, die verhaal is van Salomo se bekering en  ʼn getuienis van die nutteloosheid van  ʼn lewe sonder God.

Uiteindelik neem die leer van organiese inspirasie ons na die ewige raad van God, en na die feit dat daar in hierdie hele wye wêreld niks gebeur of gebeur het, wat nie soewerein deur God voorbeskik is en deur sy soewereine en onweerstaanbare krag teweeggebring word nie. Net so min as wat ons, wat ons saligheid terugspoor na God se ewige raadsplan, daarop aanspraak kan maak dat ons self die outeurs van ons saligheid is, selfs terwyl ons glo, bekeer en gehoorsaam, net so min kon Salomo aanspraak maak op die oorspronklike outeurskap van die Predikerboek, al het hy die woorde geskryf, en dit geskryf uit sy eie ervaring. Dit is die ewige, soewereine en verordinerende God en sy Gees, wat deur die lewende Woord die outeurs is van ons saligheid, en van die boeke waarmee die saligheid aan ons bekend gemaak word. Hoe groot is God! Hoe wonderlik dié boeke!