Bron: Die Kerkblad, 2009. 3 bladsye.

Die Ouderling as Leier

Vandag nog is dit in Israel die praktyk dat die skaapwagter voor sy skaaptrop uitloop, hulle “laat neerlê in groen weivelde”, en hulle “na waters waar rus is, lei ...

Psalm 23

pinguins

Die ouderling is vir die gemeente hulle voorloper, die een wat hulle “regeer” (proestootês) (Rom 12:8; 1 Tess 5:12; 1 Tim 5:17). Hy is hulle leier (Heb 13:7). Met die Woord wys hy die pad, versorg, regeer hy hulle. Christus gebruik ouderlinge as “opsieners” (episkopoi) om toesig te hou oor sy gemeente en hulle op te pas soos die skaapwagter dit met die kudde doen (poimainein) (Hand 20:28). ’n Ouderling polisieer nie, maar sien as herder liefdevol na die gemeente van Christus om.

Die Ouderling maak Christus se Herderlike Regering Sigbaar🔗

Herderlik “regeer” Christus sy gemeente Sondae deur die preek van die ouderling “wat arbei in Woord en leer” (1 Tim 5:17). Dog Hy “regeer” net soseer deur die ander ouderlinge as hulle met die Woord in die gelowiges se huise kom.

Dan hoor die gelowige die Goeie Herder se stem en word die gemeente gelei om Hom te volg. Dan sien Hy liefdevol na sy gemeente om, selfs na die kleinstes. En dan ervaar die gemeente dat Christus self hulle opbou om in die “amp van alle gelowiges” te staan, om God en hulle naaste te dien en al hoe meer tot manlike rypheid te kom, tot die mate van die volle grootte van Christus (Ef 4:12, 13).

Sommige Gereformeerdes leef in die waan dat die predikant die eintlike herder is, en die ouderling maar net sy handlanger. Nee, albei laat hoor die stem van die Goeie Herder as hulle kom met die Woord! Dit is die enigste gesag in hulle diens.

Ouderling-wees Beteken: Vol-wees van die Gees🔗

Niemand kan in eie krag vir die gemeente ’n herder wees nie, ook al beskik hy oor spesiale leierseienskappe. Sonder die Woord en sonder die volheid van die Gees het hy niks anders as sy sondige, menslike insigte om op terug te val nie.

Om instrument van Christus te wees, kan hy nie anders nie as om Hom gedurig te vra om hom met die Gees te vervul (Ef 5:18), sodat hy “vol van die Gees en van wysheid” (Hand 6:3) die gemeente kan lei. Terself­dertyd sal hy dan volhou om die Bybel so te bestudeer dat “die Woord ryklik in hom woon in alle wysheid” (Kol 3:16).

Nie Heerser nie, maar Nederige Voorbeeld🔗

Toe Christus op aarde was, het Hy sy dissipels nederig, soos ’n slaaf gedien (Joh 13:12). Hy verwag van elkeen wat sy gemeente wil lei, dieselfde (Matt 23:8-12). Petrus sê vir almal in die gemeente, veral die jongeres, maar net so vir die ouderlinge: “Beklee julle met ootmoed” (1 Pet 5:5). Letterlik staan daar: “Omgord julle met nederigheid” (engkomboosthai). So maak ’n slaaf wat homself gereed maak om slawewerk te doen: hy trek sy klere op, bind dit styf om die middel en gaan op sy knieë om die ander se voete te was.

voete was

So moet die ouderling nederig, soos ’n slaaf die gemeente met die Woord dien en hulle help om al hoe meer hulle Christen-wees uit te leef en God en hulle naaste te dien. So is hulle voorbeelde (tupoi) (1 Pet 5:2) van hoe almal mekaar moet dien. Hulle is nie “kerkvorste” wat wil sien dat die gemeente na hulle pype dans nie, maar diens­knegte wat nederig die gemeente lei tot volgroeidheid in die geloof.

Die Herder Versterk die Siekes en Verbind dié wat Seergekry het🔗

Christus is die Herder van wie Esra 34:16 gepraat het “wat die siekes sou versterk, en dié wat gewond is, sou verbind” as Hy kom. Tydens sy lewe op aarde was Hy altyd by sulke hulpbehoewendes. Nou doen Hy dit vanuit die hemel deur die ontfermende versorging van die ouderling.

Selfs al is hy nie by hulle nie, bid die herder-ouderling vir dié in sy wyk wat ly. In sy gedagtes is hy met hulle besig, diep begaan oor hulle ewige, maar ook tydelike welsyn. Hy soek hulle egter ook gereeld op in hulle nood, smeek God saam met hulle dat Hy hulle sal gesond maak (Jak 5:14). En as die gemeente in hom die deernis van die Groot Herder sien, ont­brand die vuur in hulle om dieself­de medelye te bewys. Dan kom daar “reine en onbesmette godsdiens”, dat “wese en wedu­wees in hulle verdrukking” besoek word (Jak 1:27), tot stand.

Die Herder Lei die Gemeente om die Verdwaalde te Soek🔗

Christus wil nie sien dat een van sy skape verlore moet gaan nie. As die honderdste een verdwaal, laat Hy die 99 agter en soek Hy die verlore een tot Hy dit kry (Matt 18:11-14). So moet die gemeente ook maak. Hulle moet “toesien dat niemand in die genade van God veragter nie” (Heb 12:15). As iemand in sonde volhard, moet hy volgens Matthéüs 18:15 onder vier oë met die Woord gehelp word om te sien dat hy God se liefde in Christus verag (Matt 18:15).

Die ouderling neem nooit dié liefdestug uit die hande van die gemeentelid nie. Hy laat hom slegs betrek in die stryd om die verdwaalde te red as die vermanings van die individuele gemeentelid nie die verwagte uitwerking het nie. En selfs dan bring hy die saak nie op die kerkraad se tafel nie, maar word hy een van die “twee of drie” wat saam bid en worstel om die skuldige sy sonde te laat insien. En tien teen een is die verdwaalde “gewin” lank voordat die saak by die kerkraad genoem hoef te word.

Buitendien is dit nie die ouderlinge of dominee wat die onbekeerde uit die gemeente uitsluit nie, maar die gemeente as geheel. Dog ook dan waak die ouderlinge dat dit, soos die stappe gevolg word, nie ’n liefdelose prosedure word nie, maar ’n ernstige stryd om ’n verbondskind te red van ewige verlorenheid.

Die Herder Beskerm die Kudde🔗

Die skaaptrop is nie bang vir ’n aanval as hulle deur die dal gelei word waar roofdiere hulle voorlê nie. Immers, onder die dreiging van dié doodskaduwees is hulle herder daar. En soos Dawid sy pa se skape met sy eie lewe verdedig het (1 Sam 17:34, 35), so sal hulle herder met sy knopkierie en staf die aanvallers te lyf gaan (Ps 23:4).

Volgehoue Bybelstudie stel die ouderling in staat om “aan die gesonde leer vas te hou”, “bekwaam (te wees) om te onderrig” (1 Tim 3:2) en “die teësprekers (te) weerlê” (Tit 1:9). Soos ’n ware herder sien hy toe dat die gemeente nie net met “die hele raad van God” (Hand 20:27) gevoed word nie, maar ook dat die predikant en ander ouderlinge “die woord van die waarheid reg sny”.

Paulus se Galasiërsbrief is ’n voorbeeld van so ’n “geveg” om die kudde teen die “wrede wolwe” (Hand 20:29 – die Judaïste) te beskerm.

’n Ware herder is ook begaan daaroor of dié wat aan hom toevertrou is, soos die gelowiges in Berea, “elke dag die Skrifte ondersoek” om te kan onderskei “of die dinge wat aan hulle verkondig word, so is” (Hand 17:11), en hulle verstaan hoe hulle hul profeet-wees moet uitleef.

skaapherder

Die Ouderling en die Buitestaanders🔗

Die ouderling begeer hartstogtelik dat die gemeente nie net toeneem in kennis van Christus nie, maar ook in grootte en getal. Daarom rus hy hulle met die Bybel toe om “die deugde van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, te verkondig” (1 Pet 2:9), nie net met hulle lewenswyse nie, maar ook met hulle mond, en om sover moontlik “van alle nasies dissipels te maak” (Matt 28:19).

Geen ouderling se lewe mag daarvoor ’n struikelblok wees nie. Hoe kan hy dan “ander opwek tot die Christelike godsdiens” (Art. 23 KO)?

Die Herder en Orde in die Gemeente🔗

Omdat God nie ’n God van wanorde is nie, maar van vrede (1 Kor 14:33), lei die raad van ouderlinge, die “presbuterion” (1 Tim 4:14), met die Bybel, soos verwoord in die Kerkorde, die gemeente om alles ordelik en tot opbou van die gemeente te doen, byvoorbeeld die stappe waarvolgens die gemeente ’n volhardende sondaar liefdevol moet probeer terugwin.

As die ouderlinge sulke leiding aan die gemeente gee, kan ons daarvan seker wees dat die kerk sal groei, nie net geestelik nie, maar ook in getalle.