Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Die Pastorale Briewe Van Paulus

Die Naam ‘Pastorale Briewe’🔗

Die benaming ‘Pastorale Briewe’ as aanduiding van Paulus se twee briewe aan Timótheüs en sy brief aan Titus is die eerste keer, sover be­kend, gebruik deur D.N. Berdot in 1703. Dit het onmiddellik inslag gevind en is tot vandag toe die alge­meen bekende en aanvaarde kollek­tiewe naam vir dié belangrike Nuwe Testamentiese geskrifte.

Pastor is die Latynse woord vir herder, sodat die drie geskrifte deur hierdie kwalifiserende benaming omskryf word as ‘die herderlike briewe’ van Paulus.

Dit is nie verbasend dat die bena­ming soveel inslag gevind het nie, want in hierdie briewe is die herder-­apostel inderdaad besig om aan die jong herder-leraars van twee jong gemeentes advies te gee oor en hulle op te wek tot getroue en doeltreffen­de herderlike versorging van die kudde van Christus!

Die Geadresseerdes🔗

Timótheüs en Titus was twee van Paulus se getrouste en blykbaar ook bekwaamste medewerkers op sy sendingreise en die daaropvolgende opbou van die jong gemeentes. Dit was naamlik die apostel se gebruik om op sy reise jong helpers saam te neem, wat hy na sy aanvanklike sendingprediking in ’n nuwe plek en die stigting van ’n gemeente deur homself, dan daar agtergelaat het as herder en leraar, terwyl hy intus­sen met ’n ander helper(s) verder gegaan het.

Van die verbintenis tussen Paulus en Timótheüs lees ons van die begin van die tweede sendingreis in Handelinge 16:1 en volgende. Hy was ’n jong­man van Listre in Ikonium, seun van ’n gelowige Joodse moeder en ’n Griekse vader. Van toe af was hy blykbaar gedurig in samewerking met Paulus, en ons lees van hom in nie minder nie as 7 van Paulus se briewe (1 en 2 Thessalonicense, 2 Korinthiërs, Romeine, Kolossense, Filémon en Filippense) terwyl nog twee persoonlik aan hom gerig was.

Van Titus lees ons minder: Niks in Handelinge nie, maar wel in 2 Korinthiërs, Galásiërs en 2 Timótheüs, en dan die brief wat aan hom per­soonlik gerig is. Hy was ’n gelowige Griek (Galásiërs 2:3) wat blykens Pau­lus se baie goeie getuienis van hom (volgens 2 Korinthiërs 8:16-24) ’n getroue herder en leraar was wat tydens die sendingreise van Paulus veral in Korinthe gearbei het.

Op die tydstip van die skrywe van 1 Timótheüs tree Timótheüs op as pas­tor van die gemeente van Efése (1 Timótheüs 1:3) , terwyl Titus pastor van die eiland Kreta is as Paulus aan hom skryf (Titus 1:5) . Hoewel dit nie vermeld word nie, was Timótheüs by die skrywe van die tweede brief aan hom waarskynlik steeds herder in Efése.

Tyd en Plekke van Ontstaan🔗

Paulus is wanneer hy 1 Timótheüs en Titus skryf weer vry op reis na sy twee jaar gevangenskap in Rome ± 60-62 n.C.) . Vanwaar 1 Timótheüs geskryf is aan Timótheüs wat in Efése is, word nie gesê nie, maar die Titusbrief word geskryf vanaf Niko­polis aan die weskus van Griekeland aan Titus op die eiland Kreta.

2 Timótheüs is duidelik Paulus se laaste geskrif: Hy is weer in die gevangenis, duidelik weer in Rome (2 Timótheüs 1:16-17) en nou is sy einde hande (2 Timótheüs 4:6-8).

Aangesien ons nie weet hoe lank Paulus na sy eerste gevangenskap in Rome op vrye voet was of hoe lank sy tweede gevangenskap ge­duur het voor sy teregstelling nie, kan hierdie briewe slegs by benade­ring gedateer word.

Ons kry dus die volgende beeld:

Brief Plek van skrywe Adres
waarheen
Datum
1 Timótheüs ? Efése ± 62 - 64 n.C.
Titus Nikopolis, Griekeland Kreta ± 62 - 64 n.C.
2 Timótheüs Gevangenis in Rome Efése ( ? ) ± 64 - 65 n.C.

Betekenis van die Briewe🔗

1. Hierdie briewe beklee ’n unieke plek in die Kanon: Hulle is die enig­ste onder Paulus se geskrifte, tewens onder al die boeke van die Nuwe Testament, waarin die open­baringswoord spreek tot herders en leraars in die kerk van Christus!

Daarom het hulle ook ’n beson­dere waarde as geïnspireerde on­derrig oor hoe Christus self wil hê dat sy kerk in sy Naam gelei moet word in alle waarheid.

2. Hierdie briewe is besonder waardevol met die oog op ’n Skriftuurlike kerkregering:

  • die aanduiding van die plek van die ouderlinge as regeerders van die gemeente;
     
  • die gelykheid van die ampte van diakens en ouderlinge;
     
  • die hoë goddelike vereistes om die besondere ampte waardig te wees, ensovoorts (1 Timótheüs 3:1-15; 1 Timótheüs 5:17-22; Titus 1:5-9).

3. Die briewe beklemtoon die onmisbare plek van PERSOONLIKE pastorale versorging in die gemeen­te: Oues van dae, jongmense, vroue, weduwees, rykes en armes elk moet na sy eie behoeftes uit die Woord bemoedig en vermaan word (1 Timótheüs 5:1-16).

4. 2 Timótheüs 3:10 - 4:5 is van beson­dere belang as Skrifopenbaring oor die gesag van die Bybel as Woord van God: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk vol­kome toegerus” (3:16-17).

5. 2 Timótheüs 4:6-18, die afskeidsgroet van die apostel op die vooraand van sy teregstelling, is seker van die aangrypendste openbaringe van die triomf van die genade in die lewe van die kind van God ’n oorwin­ningslied uit die dodesel! (Volgens veral verse 6-18 en 17-18.)