Bron: De Reformatie. 6 bladsye.

Die Plek van Seksuele Opvoeding van die Jong Kind

Ons lewe in ʼn tyd waarin allerhande sake oor opvoeding in diepte bespreek word. Ons praat baie met ons kinders. Dit is nou eenmaal deel van die tyd waarin ons lewe. Alles moet beredeneer word. Hoekom maak pappa en mamma so? En hoekom mag jy dit nie doen nie, maar die ander ding wel? Ons lewe in ʼn wêreld waar baie gepraat word.

En dit is ʼn goeie saak. Maar mens moet ook partymaal kan sê: ‘Jy moet dit doen, omdat ek so sê!’

Nie alle onderwerpe is ewe maklik bespreekbaar met jou kinders nie. Ek dink veral aan sake op die gebied van seksualiteit. Dit wil voorkom asof alle taboes in ons tyd eenkant toe geskuif word. Dit kos baie ouers moeite om openlik hieroor met hul kinders te praat.

Hoekom is dit so? Hoekom skroom ons om normaal met ons kinders oor hierdie dinge te praat?

Ek wil in twee artikels, behalwe enige algemene sake betreffende die seksuele opvoeding van ons kinders, veral die aandag vestig op die seksuele opvoeding van die jong kind (tot 12 jaar oud).

Oorsake🔗

Wat sou tog die oorsaak daarvan wees dat dit vir ons so moeilik is om openlik met ons kinders hieroor te kan praat? Ek het probeer om ʼn paar oorsake op te som:

  • Baie ouers is nie self deur hulle ouers ordentlik ingelig nie. In hulle jeug is hierdie onderwerp skaars aangeraak. Omdat jy self skaars of glad nie ingelig is nie, weet jy as ouer ook nie hoe om dit te hanteer om met jou kinders daaroor te praat nie. Maar as jy as gevolg daarvan ook aan jou kinders te min leiding gee, sal jou kinders eendag weer dieselfde probleem as ouers teenoor hul kinders hê.

  • Seksualiteit betref die intiemste van jou omgang met iemand anders. Jou belewing vind deels in die verborgene plaas. En dis hoe dit hoort. In Levitikus 18 lees ons ʼn aantal reëls oor die bedekking van skaamte. Dit staan lynreg teenoor die skaamtelose tentoonstelling van die liggaam in advertensie en TV programme in ons tyd. Wat intiem is, moet ook intiem bly. Die seksualiteit behoort grotendeels tuis binne die intimiteit van die huwelik. Daarmee kan ons nie fout vind nie. Wanneer jy met jou kinders praat oor seksualiteit, dan praat jy oor baie intieme sake. (Dit is wat dit terselfdertyd ook so spannend maak om sommerso met jou kind daaroor te begin praat.)

  • ʼn Derde probleem met die seksuele opvoeding van ons kinders is waarskynlik daarin geleë dat ons hierdie deel van die opvoeding te veel afsonder van die res van die opvoeding. Ons soek ʼn spesiale geleentheid om ʼn slag met ons kind hieroor te praat. En dit skep dan al gou ʼn buitengewone atmosfeer.

  • Die vierde moeite lê opgesluit in die feit dat seksualiteit ons gevoelens raak. Ons moet dan oor ons gevoelens praat. En dit is juis nie vir ons maklik om openlik daaroor te praat nie. Ons het moeite daarmee. Hoe kan jy jou kinders laat verstaan hoe jy voel oor ʼn bepaalde gebeurtenis? Ons leef nog steeds in ʼn kultuur waarin huil ʼn teken van swakte is. Daarom word byvoorbeeld gesê ʼn man mag nie huil nie. Dit bly in ons kultuur nog taamlik moeilik om te sê wat ons die diepste raak.

  • Ten slotte sou ons eie visie op seksualiteit moontlik ʼn belemmering kon wees. Wat is eintlik ons eie sig op seksualiteit? As ons eie beeld daarvan verkeerd is, byvoorbeeld ‘dit is iets vuils, dis sonde’ of iets dergeliks, dan sal dit ʼn positiewe gesprek daaroor belemmer.

In die vervolg van die artikel sal nader op hierdie punte ingegaan word.

Hoe Sien Ons Ons Kinders?🔗

Dit is van groot belang in die lig van die totale opvoeding, hoe ons ons kinders sien. Daarom wil ek eers die aandag hiervoor vra, in die belang van die vervolg van hierdie artikel.

Dink so ʼn paar minute oor die volgende vraag: Hoe sien jy jou kind? Maak toe u oë en dink daaroor… en wees eerlik!

Sien jy jou kind as ʼn geskenk van God? Of is dit net my trots, waar niemand iets van mag sê nie. Of is jou kind veral ʼn oorlas en gee dit net probleme? Voel dit asof ek al my energie met my kind opgebruik? Of is my kind my gelyke, met wie ek alles op gelyke voet bespreek?

Ek dink dat ons in die eerste plek daarvan moet uitgaan om ons kinders te sien as kinders van God. En wat beteken dit konkreet vir die opvoeding van elke dag? Dit beteken in elk geval van ons kant af verwondering. Want is dit nie ʼn groot wonder dat ons kinders, kinders van Hom mag wees nie? Hy het hulle aanvaar soos hulle is. Mens kan dit nog sterker sê: Hy wou hulle self hê, net soos hulle is!

Want Hy was immers teenwoordig toe die saadsel van die man die eiersel van die moeder binnegedring het om ʼn nuwe lewe te begin. Hy het juis daardie saadsel, tussen die miljoen ander, na daardie spesifieke eiersel gelei. Daaruit het u kind onstaan met daardie spesifieke eienskappe wat geen ander kind ter wêreld het nie. As mens hierby stilstaan, raak jy diep onder die indruk. Die magtige God, die Vader van ons kind!

Maar dink nou bietjie verder: U het self ook op daardie manier ontstaan, en u eggenoot, en u ouers ensovoorts. As jy goed daaroor nadink sal dit jou kop laat duisel. So sien jy dat die Here God die pad gelei het na ons en ons kinders. Dit is sy wil dat u hier sou wees, en u kind, om vir Hom te lewe en ewig by Hom te wees.

Laat ons probeer om in verwondering na ons kinders te kyk. Met ʼn dankbare blik boontoe.

Dit maak dat ons meer ontspanne kan wees ook as kinders moeites gee by die opvoeding. Tog moet ons in verwondering bly sê: Dit is sy kind, ʼn Godsgeskenk! As jy dit so kan sien is dit baie makliker om jou moeites in die opvoeding voor Hom neer te lê. Waar beter as by Hom!

Dit is ons opdrag om daardie geskenke van die Here nou ook vir Hom op te voed. Uit jouself sou jy nooit hiertoe in staat wees nie. Maar gelukkig, die God wat sy verbond met ons kinders en met ons gemaak het, laat ons ook hierin nie aan ons lot oor nie. Hy wil alles in werking stel sodat die kinders vir Hom sal opgroei. Daarom het Hy ook hulp belowe aan die ouers: die Heilige Gees.

En die Gees kan sy werk net doen as die opvoeders die Woord in hulle lewe toelaat. Daardie Woord moet in die gesinne kan deurstroom. Dan kan die Gees in die harte van die kinders werk. Dit hou in dat ons in ons gesinne erns moet maak met die lees van die Bybel. En nie slordig daarmee omgaan nie, maar saam in alle erns buig oor die Woord terwyl ons Bybellees na ete. Probeer as Bybelleser onder woorde bring wat jy gelees het. Vra jouself af wat dit in die algemeen beteken, en verkieslik ook wat dit vir jouself beteken! Dit sal voorbereidingstyd kos, maar dit is die investering werd. Laat ons ook daarop let dat ons self met ʼn positiewe instelling kerk toe gaan. Want of daar nou liturgiese veranderings is of nie, dit is en bly die plek waar ons die Here van ons lewe ontmoet. Waar Hy ons wil voed met sy Gees. Die plek waar Die Lewe bekombaar is!

Hy wil hê dat ons moet kom, is dit nie al voldoende rede om dan met blydskap soontoe te gaan nie?

Ons kinders doen baie dinge verkeerd. Ons kom agter dat ons gereeld met hulle moet raas… Maar is ons self soveel beter as hulle? Maak ons nooit meer foute nie? Moenie dat ons ooit vergeet dat die een sondaar die ander sondaar opvoed nie!

Sowel die opvoeder as die kind lewe alleen maar danksy God se genade. Dan is dit gepas om kwaad te wees by ongehoorsaamheid, want jy wil immers jou kind op die regte pad hou. Maar daardie kwaad-wees moet ‘bo die saak’ staan. Ons moet tydens daardie kwaad-wees nie vergeet dat ons self ook nog baie foute maak nie. En dat ons self ook net verder kan gaan omdat God ons nie straf volgens ons sondes nie.

Probeer die kinders veral positief te benader. Ons is geneig om kinders tereg te wys as iets fout is. Maar hoe dikwels gee ons ʼn positiewe terugvoering as hulle iets goed gedoen het?

ʼn Positiewe opvoedingsklimaat by die huis is van wesenlike belang vir die seksuele opvoeding. ʼn Goeie, oop geloofsverhouding tussen u en u kind sal die opvoeding positief beïnvloed. Dit is hoekom ons uitgebreid daaraan aandag gegee het.

Nie Losmaak Nie🔗

Seksuele opvoeding moet liewer nie van die gewone opvoeding losgemaak word nie. Dit het ʼn plek in die totale opvoeding van u kind. Net soos jy jou kind die omgang met die Here voorhou, of jou kind leer om met ander mense om te gaan, net so moet die kind ook leer om met homself om te gaan. Want dit is ʼn belangrike deel van seksuele opvoeding: leer omgaan met jouself. Met jou liggaam, met jou hele wese.

So moet seksuele opvoeding ʼn plek hê in die totale opvoeding. Verkieslik nie op so ʼn manier nie: “Luister boetie, kom sit nou bietjie hier, pa wil iets belangriks met jou bespreek”. Dan maak jy seksualiteit iets besonders, iets buitengewoons.

As u daaraan gewoond is om met u kind oor allerhande opvoedkundige sake te praat, dan sal u kind nie snaaks opkyk as seksualiteit ook ter sprake kom nie. Seksualiteit is buitendien deel van so baie ander opvoedkundige aspekte. Dit het te doen met jou geloof, dit het te doen met jou omgang met ander. As ons daardie onderwerpe ernstig met ons kinders bepreek, dan sal seksualiteit outomaties daarby ter sprake kom.

Nie Losmaak van die Liefde Nie🔗

In die wêreld van vandag lei die seksuele gereeld ʼn solo-bestaan. Dit is seksualiteit sonder ʼn verhouding.

Seks is ʼn leë dop as dit losgemaak word van die liefde. En dit is iets wat ons kinders vandag gereeld onder oë kry. Dink net aan die baie seksuele prikkels wat reklames vertoon. Dan dink ek nie slegs aan die TV nie. Kyk maar net langs die pad by die bushaltes. Dikwels is dit méér as skaamteloos soos wat die liggaam ten volle gepresenteer word. Dit word nie slegs gepresenteer nie, maar dit word opgedring. Ons moenie dink dat sulke dinge by ons kinders verby gaan nie.

Ons kinders sien dit alles raak. Ons moet hulle dan ook die verkeerde in dit alles uitwys. Toon maar aan jou kind dat jy verontwaardig is oor soveel skaamteloosheid. Daarom moet ons ook baie selektief wees in ons TV-gebruik. Waarna kyk ons en waarna nie? As ons die TV maar net aan laat staan onder die motto: “Ons kinders moet tog weet wat daar in die wêreld aangaan”, waarmee is ons dan besig?

Kyk maar hoe word seks in baie TV-programme ‘verkoop’ sonder dat die liefde deel daarvan is.

Ons kyk ʼn film of serie kyk en dit word vir ons so spannend, dat ons bepaalde verkeerde tonele of leefwyses maar op die koop toe neem – ons kan net die daartoe kom om die af-knoppie te druk nie. Ons besef dan nie dat die vyand daarop uit is om ons in sy strik te vang nie. Want stadig maar seker raak ons aan alles gewoond. “Dit is tog nie regtig só erg nie. Hierdie een keer in die week, so iets sal mos nie te veel skade doen nie…”

Ons sus onsself aan die slaap. Onwillekeurig gaan ons selfs voetjie vir voetjie in so ʼn leefwêreld saam. Ons verslap in die stryd.

Miskien dink ons: “Ag, wat is nou die invloed hiervan op ons kinders? Hulle lê tog meestal teen daardie tyd al in die bed?”

Die invloed en die mentaliteit wat uitgaan van verskeie “sepies”, die konstante aanslag van advertensies, werk op ons moraal. Dit kan nie sonder gevolge bly nie.

Ons vra aan die Here God: ‘Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose.’ Maar wat doen onsself aan ons stryd teen die bose?

Laat ons die verkeerde invloede op ons opvoeding keer, om die kinders in hulle hele lewe te rig op wat die Here wil.

U moet aan u kinders toon wat liefde is. Pa en ma wat mekaar af en toe ʼn lekker drukkie gee (waar die kinders by is), is ʼn baie beter voorbeeld. Daar straal ʼn enorme positiewe invloed uit wanneer ouers wys dat hulle baie van mekaar hou. ʼn Kind voel baie veiliger onder sulke omstandighede.

As jy met jou kind oor allerhande dinge praat, maar in besonder oor seksualiteit, is dit die belangrikste om te wys dat die liefde sentraal moet staan. Die liefde van God staan eerste. Sonder hierdie liefde kan niemand lewe nie. Die liefde tussen pa en ma kom ook van Hom af. Liefde is om vir mekaar reg te staan, mekaar lief te hê, om na mekaar te verlang en om dit sigbaar te maak.

Die mooiste sal wees as jy jou kinders kan vertel: “As ʼn man en vrou getroud is omdat hulle van mekaar hou, dan soen en liefkoos hulle mekaar. En dan kan daar ʼn babatjie in die ma se maag begin groei. So het jy ook in die wêreld gekom. Jy is gebore omdat pa en ma lief is vir mekaar.”

Die God van liefde bou deur die liefde van die mens sy kerk! Hoe wonderlik mooi het Hy dit gemaak.

Ons Houding teenoor Seksualiteit🔗

Ons eie houding teenoor seksualiteit is van groot belang. Hoe beleef u self die seksualiteit? Jy mag gerus aan jou kinders laat blyk dat julle as man en vrou dit ook geniet. Daarom het die Here God die seksualiteit ook aan mense gegee. Ongelukkig het seksualiteit, deur die sondeval ‘vuil’ geword. Die mens het deur die sondvloed die pragtige gawe van God vuil gemaak. Ons sien dit vandag in allerlei vrome van seksualiteit.

Adam en Eva het voor die sondeval nie eers agterkom dat hulle naak was nie. Hulle was nie skaam vir mekaar nie! Hulle liefde vir mekaar was volmaak.

Hoe hartseer is dit nie dat mense juis op hierdie gebied stukkend gemaak word deurdat hulle hul aan hul (seksuele) luste oorgegee het.

Kinders van die Here moet probeer om dit weer in die regte verhouding terug te bring. Een van die sake wat hierin van belang is, is dat jy daarvan mag geniet as ʼn gawe van God.

Aan die anderkant is dit ʼn intieme saak. Die naaktheid van man en vrou is vir hulleself, nie vir die kinders nie (dink aan Levitikus 18!). Ook nie as ʼn tipe ‘lewendige voorligtingsmateriaal’ nie. Die vrye omgang met mekaar in ʼn gesin waar almal naak is, gee aanleiding vir allerhande narighede op latere leeftyd.

Andersyds moet ons ook aan die kinders wys: die seksualiteit is nie alles nie. Die Liefde staan bo-aan. Hoe moet dit andersins gaan met ʼn huwelik waar een of beide van die huweliksmaats nie meer in staat is tot seksuele omgang nie?

Die kiem vir hierdie sake word reeds op ʼn jong ouderdom gelê. Dit is dan des te sterker wanneer ons later op 'n natuurlike manier met die seksualiteit moet omgaan.

Oor niks bestaan daar so baie grappe soos oor die seksualiteit nie. Die sogenaamde ‘skewe grappe’. As ons as ouers die seksualiteit tot ʼn voorwerp van spot maak – juis oor dit waarvan ons kan sê: ‘Hoe mooi het God dit gemaak!’ – watter voorbeeld kry ons kinders dan daaruit?

Iets vuils, iets lagwekkends, iets onbetaamliks? Kinders is uitstekende waarnemers. Hulle weet presies hoe ouers oor die dinge dink, hulle voel dit aan. Hulle kom agter of u staan vir u woorde of nie.

Die Bybel sê ook aan ons dat ons alle snaakse, los en onkuise taal uit ons midde moet verwyder. Laat ons mekaar maar oefen in die liefde!

Wanneer Vertel jy Wat? En Wie?🔗

Dit is seker duidelik dat ek, wat betref die seksuele opvoeding, ʼn voorstander is van ʼn so natuurlik moontlike oordrag. Laat dit so veel as moontlik plaasvind binne die geheel van die opvoedkundige gesprek wat ons met ons kinders het. Ons moet dan ook sorg dat ons definitief hierdie gesprekke met ons kinders het. Moet dan nie ʼn spesiale ‘sittende’ gesprek daarvan maak nie.

Die natuurlike oordrag is ook van toepassing betreffende die ouderdom waarop jy met jou kinders oor die seksuele dinge praat. Gee aan die kind, ongeag sy ouderdom, gewoon antwoord op sy of haar vrae. Probeer om dit dan ook op die ontwikkelingsvlak van die kind te doen. Maar moenie dit probeer ignoreer asof dit oor iets skelms gaan nie. By jonger kinders sal dit gewoonlik makliker gaan as by die oueres. Daarby kom ook nog dat as jy dit nie van jongsaf gedoen het nie – die gesprekke met jou kinders oor liefde en seks – dan word dit slegs moeiliker met die ouer leeftydsgroep. Dit alleen is al ʼn groot genoeg aanmoediging om van jongsaf met jou kinders daaroor te praat. Miskien vra hulle ʼn ruk later presies dieselfde vrae, omdat hulle alles weer vergeet het. Vertel dit dan gewoonweg nog ʼn keer. Dit is dan nie ʼn teken dat die kind ongeïnteresseerd is nie. Inteendeel, u vertel dinge aan u kind waarvan hy/sy skaars ʼn voorstelling kan maak. Dit word dan minder goed in die geheue vasgevang.

Daar is nog ʼn rede om van jongsaf op ʼn natuurlik manier met die kinders hieroor te praat. Dit is beter dat die kinders dit hoor met u woorde van verwondering vir die Skepper, as dat hulle dit hoor met die onbetaamlike taal van die straat.

En wat doen ek as my kind nooit iets vra nie? Dan sal die ouers self aanleiding moet soek om hierdie onderdeel ook in hul gesprekke met die kind na vore te bring. ʼn Geboorte in die omgewing, ʼn prentjie in ʼn boek, ʼn advertensie op die TV. Dit kan ook gedoen word deur ʼn vraag aan die kind te stel: “Weet jy eintlik waar jy vandaan kom?”

En wie moet dit nou aan die kinders vertel? Pa of ma, die skool? Die bostaande maak duidelik dat die skool of ʼn ander soort instansie nie die eerste aangewese plek is vir die seksuele opvoeding nie. Dit moet by die huis gebeur. Dit moet ook in die rolverdeling tussen pa en ma op ʼn natuurlik wyse aan die orde kom. In die praktyk beteken dit: As die kind sy vrae aan pa stel, moet hy tyd maak om dit te beantwoord, en as vrae oor hierdie saak aan die ma gestel word, dan sal sy die antwoord gee. Moenie dit te kunsmatig opdeel nie, soos byvoorbeeld seunsvrae vir pa en meisiesvrae vir ma. Dit neem nie weg dat moeder miskien op 'n natuurlike manier die beste die gevoelens van ʼn vrou kan vertolk en die vader dié van ʼn man nie. Om albei saam met jou kind te praat lewer soms ook baie mooi oomblikke op. Dan kan jy mekaar aanvul.

Die skool kan ook ʼn rol vervul in die seksuele opvoeding. Dit sal veral gebeur na aanleiding van ʼn gebeurtenis waarby die seks ʼn rol speel: prentjies wat ontdek is of kinders met grootpraatjies. Die skool kan ook deur middel van Bybelverhale aan die seksuele opvoeding deelneem.

Dit is goed as ouers en die skool weet wat hulle van mekaar kan verwag. Dit is daarom aan te bevele dat u met die skool op ʼn oueraand of ʼn klasaand hieroor praat. U weet dan watter aandag die skool daaraan gee en wat hulle van u verwag.

Seksuele opvoeding is gereeld vir ons ʼn moeilike opdrag. Dit mag nie rede wees om niks of spaarsamig iets daaraan te doen nie. Sorg vir ʼn goeie opvoedkundige klimaat in die huis. Begin gewoonweg net daarmee. As u eenmaal oor die drumpel getree het, sal u menige ryk oomblikke met u kind beleef. Momente wat u verseker nie sou wou mis nie.