Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Die Prediker Moet Twéé-talig Wees

Brontaal – Doeltaal🔗

Die prediker het in die prediking die lewende Woord van God én die le­wende mense van sy tyd as opdrag. Hy het die magtige opdrag dat God deur hom aan die woord moet kom (1 Petrus 4:11). Tydgerig en tydbetrokke aan die mense van sy tyd. Daarom moet hy twéé-talig wees. Hy moet God se taal (brontaal) en die lewende omgangstaal (doeltaal) van sy tyd ken en kan praat. Gebalanseerde en Skrifgetroue prediking staan in twee wêrelde: die Bybelse en die hedendaagse. Alleen wanneer die prediking hierdie dubbele gerigtheid het, kan dit aktuele, dina­miese en kreatiewe predi­king wees.

As die prediker nie oor hierdie tweetaligheid beskik nie, verstaan en hoor die mens van sy tyd hom nie. Dan verstaan en hoor hy hulle ook nie. Op die preekstoel het die predi­king dus alles te make met die sitstoel (pulpit en pew). Die preek moet 'grond vat' by, onder en in die mense. Hulle leef im­mers in die moderne wêreld met sy dinamiese ver­houdinge en konkrete vrae. Dit moet hier en nou beantwoord word.

Teoloog – Geoloog🔗

Die prediker as teoloog moet dus ook geoloog wees. Hy moet boorwerk doen — in die grondlae van die Skrif, maar ook in die grondstrukture van sy tyd. Dit is fataal vir die prediker as geroepene om wêreldontvlugter te wees in die Bybelwêreld in. So ook om Bybelontvlugter te wees die wêreld in.

Lewende Omgangstaal🔗

Om eietyds die lewende omgangstaal en idioom van die dag die Woord lewend te bedien, roep die prediker om ook uit sy stu­deerkamer uit te gaan. Hy moet rondloop in die lewe en rondbeweeg onder die mense nie net "sý" mense (gemeente) nie. Maar die mense van sy tyd, want die mense aan wie hy die Woord moet be­dien, is mense tussen mense van 'n groter wêreld. Hy moet dus met 'n wyehoeklens na sy tyd kyk. Hy moet die pano­rama van 'n groter wêreldtoneel oorsien en die kontoere verken. Hy moet God aan die woord laat kom in en deur die taal van die dag (en sy tyd) aan mense in hulle histo­riese en kulturele konteks. Hy praat/preek nie in 'n kultuurvrye vakuum en in vae, swewende algemeen­hede wat kant nog wal raak nie.

Hierin is die Here Jesus Christus die voorbeeld, Leermeester en Profeet. Hy het sy tydgenote in alle dinge, behalwe die sonde, gelyk geword (Hebreërs 2:11b, 17). Dus ook in sy tydge­note se taal en kultuur. As Mens, as Palestynse Jood, het Hy aan sy eie tyd be­hoort. Hy het die taal van sy tyd, sy dorp, stad en land gepraat. Hy het Hom nie daarvoor geskaam nie. Dit sê iets vir die prediking! Die prediker hoef nie die taal van die straat te praat nie, maar wel die taal van die (sy) tyd.

Die neiging om kerk en kerktaal van die lewe los te maak, en om kanseltaal en die lewende omgangs­taal van mekaar te distansieer, hang saam met die valse teenstelling tussen natuur en genade. Die Skrif stel sónde en genade teenoor mekaar. Nie natúúr en genade nie. Om Christus ontwil moet die evangelie die natuurlike lewe en die lewende om­gangstaal in. Doen die prediker dit nie, is hy nie sy sout word nie. Dan versaak hy sy roeping en gee hy 'n hongerdieet aan sy hoorders. Dan praat hy nie Afrikaans nie, maar Afrikanaäns (tale Kanaäns).

Woord en Werklikheid🔗

Die prediker is in, die pre­diking betrokke by die Woord én die werklikheid, die teologie én die empirie. Daarom is prediking iets anders as 'n blote her­haling van tekste. Dit dóén iets met die Skrif. Dit tas na wat bedoel word, 'hoor' wat in die brontaal (die Woord) staan en vertaal dit in die doeltaal (die taal van sy teikengehoor). Dit dra die karakter van 'n vrye, profetiese getuienis saam met die Skrifteks. Daarom spreek iets van die prediker in elke preek mee. Dit is onvermydelik, ja selfs noodsaaklik.

Bybelteks en Tydskonteks🔗

Die prediker moet dus kind van sy tyd wees. Hy moet die geeste beproef en nie net sy teks ken nie, maar ook die konteks van sy tyd. Dit vra natuurlik harde werk. Die dominee kan nie sy ding gedoen wil kry net omdat hy as domi­nee dit sê nie. Sulke do­minees maak hulleself verwerplik en ongeloofwaardig. Kantlyn-predi­kers wat die lewe stormloop vanuit hulle studeer­kamer op 'n afstand, het miskien baie te sê, maar sê inderwaarheid min wat saak maak. Dit staan meesal vreemd teenoor die nood van die wêreld en is teenproduktief. So gaan die kostelike geleenthede om die Evangelie lewensvatbaarheid te bedien aan mense in die wêreld verby. Immers, die heilsdade van Christus het "nie êrens in 'n hoekie gebeur nie" (Handelinge 26:26), maar midde in die openbare lewe. Dan mag die verkondiger en verkondiging van die Evangeliese heilsdade ook nie 'n hoekie bly of gebeur nie! Die prediker moet met priesterlike en herderlike bewoënheid in sy tyd staan en die mens in sy konkrete situasie met die oë van die Here Jesus sien.

Dit is 'n gewetensvraag aan elke prediker: het die prediking in die nooduur van die tyd 'n sterk skerp­gepunte tydgerigtheid. As delwer in die goudvelde van God se Woord is die prediker in die uitnemen­de geleentheid om die be­ginsels van God se Woord na die oppervlak te bring. So kan hy toonaangewende meningsvormer wees in die verwarring van die tyd. Maar dan moet hy by wees, teenwoordig wees, deelnemer wees aan die lewenstryd. Hy moet midde daarin staan en nie pawiljoen-sitter en kantlyn-mens nie. Daar­om kan die prediker nie ongeërg en ongeïnteresseerd staan teenoor die sake van die dag nie. (Hy sal dus benewens die By­bel ook die koerant moet lees, by wyse van spreke.) Dit roep hom dus na inte­resse vir en kennisname van die staatkunde en die politiek, die ekonomie en kultuur. Nie dat hy poli­tieke modelle en 'n finan­siële begrotingsrede moet preek nie, maar wel die ter saaklike beginsels. Die prediking het immers 'n koninkryksperspektief.

Natuurlik moet daar ba­lans wees; kundigheid en beperkinge moet geken word. Daar is dissiplines waaraan die prediker hom moet hou. Dissipel en dis­sipline kom van dieselfde grondwoord.

Voorrang van die Prediking🔗

Tye van stroomversnel­ling waarin dinge vinnig gebeur en verander roep om vinnige oriëntering. Dit roep na nuwe perspektiewe. Ook vanuit hierdie perspektief word die fre­kwensie van die voorrang van die Woordverkondi­ging verhoog. Uiteraard kan die frekwensie van huisbesoek, die pastorale gesprek, nie so vaartbelyn wees nie. Enersyds van­weë die fisiese onmoont­likheid andersyds vanweë 'n al voller agenda in 'n al doller lewenstempo. Die brandpunt val dus al ster­ker op die Sondag na Son­dag se prediking. Tot 'n op-datum-bly met toerus­ting van die gelowiges om mens in die wêreld te wees, moet die prediking dus vaartbelyn en stroom­belyn wees. Die prediking moet die gelowige voort­durend vanuit God se Woord versterk. (Dit behoort dus nie so te wees dat die predikant se krag en tyd versnipper word deurdat hy, wat die veeleisende taak het om die evangelie stroom-op te verkondig, 'n administra­tiewe sukkelaar is nie.)

Prediking is noodwen­dig tydgerig en tydbetrok­ke, want God se ewige Woord is tydgerig en tydbetrokke. Die prediker wat dit probeer vermy, is geen egte prediker nie, want die Woord word nie verwoord/vertaal in die verstaanshorison van die mens van nóú. Die teks moet dus nie in isolasie geïnterpreteer word nie. Die prediker is deur die teks in 'n dialoog met die mens in sy hedendaagse wêreld. In die prediking moet die boodskap van die Woord van God uit die konteks en terme van die Bybelse wêreldbeeld ont­hul word. Dan moet dit weer in die konteks en terme van die huidige wêreldbeeld gehul word. Dit is 'n oormekaarskuif van verstaanshorisonne. Waar dit gebeur, word dit ak­tuele en kommunikatiewe prediking.

Riskant!?🔗

As na-skepper word ou dinge skeppend nuut gesê. Dit stel hoë eise aan die: prediker. Daar is ook risi­ko's aan verbonde. Maar die risiko's moet deur die prediker doelbewus aan­vaar word as hy sy roe­ping wil vervul. As hy met God se Woord en die God van die Woord te velde gaan en in die oopte gaan staan, staan hy sterk in sy swakheid. Bemoedigend en kraggewend is die Skrifwoord, ook vir predikers:

Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?Hebreërs 13:6

Wat die prediker "hoor" met luisterende oor op die Skrif, moet hy deurgee, selfs al skep dit soms die indruk van eensydigheid. Die volle raad van God kan nie in één preek aan die orde kom nie wel moet elke preek met die volle raad verbandhou­dend wees. (Dit het Pau­lus drie jaar geneem om die raad van God aan Efese te verkondig).

Die luisteraar aan die ontvangkant moet begrip hê vir hierdie blootstelling van die prediker. As mens onder mense kan hy van­uit sý verstaansraamwerk en verstaanshorison nie alle kante raaksien of in één preek ontvou nie. Wie nie daarvoor begrip het nie, is onredelik en hang maklik etikette om predi­kers. Dis die eenkanttrek­kers met oogklappe aan. Hulle wil predikers hok­slaan in hulle denkkam­pie. Sulke kritici ly aan on­volwassenheid en selfsug­tigheid. Hulle werk ver­lammend op die prediker in. As hulle eers ander daarmee besmet, is hulle ondermynend oor die pre­diking. Natuurlik moet/mag daar keurend geluis­ter word. Preke mag ge­kritiseer word, want dit is mensewerk. Maar dan moet die kritiek die toets van die Skrif slaag. Bui­tendien is die mens se gees so dat hy "spronge" kan maak en kreatief ook eie toepassing moet/kan maak vanuit sý verstaanshorison.

Leer – Kneg🔗

Die predikant is 'n leier of hy nou leierseienskappe het of nie, want hy kom in die Naam van, en met die instrumentarium van dié Leier, die Leidsman en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:2). Maar, het die Here Jesus gesê, die een wat die leiers moet wees soos die een wat dien (Lukas 22:26b) Daarom moet die prediker die dienende gestalte van die tafelkneg openbaar. Immers, God roep hom tot uitdeler van sy hemelse spys en drank. En die 'skinkbord' waarop hierdie hemelse spys en drank aangebied word, be­hoort met die heerlikheid van die ware in ooreenstemming te wees!

Bid vir die predikers! – kelners van hemelse spys en drank.