Bron: Die Kerkblad, 1990. 1 bladsye.

Die Psalmboek in Noord-Afrika

In sy navorsing oor die plek wat die Nagmaalstafel in die kerkgebou en die erediens van Noord-Afrika in­geneem het (dit word deur die op­grawings bewys), vertel dr. A.G. Luiks ook van die Psalmsang.

Augustinus, die kerkvader (einde 4e eeu, begin 5e eeu) se voorliefde vir die Psalms is welbekend. Hy het gesê dat niemand in staat is om iets te sing wat God waardig is nie, be­halwe dit wat hom deur God self in­gegee is, en dit is die Psalms. Cal­vyn sluit met instemming hierby aan en verklaar dat die Psalms God waardig is soos geen ander lied dit kan wees nie. Hulle profeteer Jesus Christus en is deur die Heilige Gees geïnspireer. En daarom kan ons seker wees dat as ons hulle sing, God ons self die woorde in die mond lê om sy lof te besing.

Psalmsang aan die Nagmaalstafel🔗

Uit die opgrawings van die ou Noord-Afrikaanse kerke word oor en oor bewys dat die Nagmaalstafel se plek in die skip (= die middelste ruimte) van die kerkgeboue was, of te wel in die sentrum sodat die gemeente dit maklik kan bereik. Dit is hier "waar Gods gezin zich moest vergaderen rond de eettafel van het H. Avondmaal," (Vgl. A. G. Luiks, Cathedra en Mensa, Franeker, 1955, bl. 145 e.v. Terloops: 'cathedra' en 'mensa' dui hier op die preekstoel en die Nagmaalstafel.)

Selfs tydens die gebruik van die Nagmaal, het Augustinus Psalms laat sing.

Ons weet ook dat daar in die Egip­tiese kloosters uitsluitlik Psalms gesing is.

Die Groot Tragedie🔗

Teen die einde van die 7e eeu sou die Psalmsang in Noord-Afrika gedoof word. Saam met die kerk se vernie­tiging is ook die Psalms vernietig. In 647 kom die eerste hordes van die Islam uit Arabië. In 698 verwoes hulle die hoofstad Kartago geheel en al. Hippo, die stad van Augustinus waar die kerk in die 5e eeu so prag­tig gebloei het, word in puin gelê. In 706 val Tangiers en word die Straat van Gibraltar bereik. In 717 is die Mohammedaanse kalief Omar 2 se keuse aan die Christene onverbidde­lik: Bekeer julle tot die Islam of emigreer! En die wat nie gesterf het of Moslems geword het nie, het ge­emigreer na Europa. En daarmee was die eens bloeiende kerk van Noord-Afrika tot niet. Oor die kerk­geboue (ongeveer 600) wat nie mos­kees geword het nie, het die woes­tynsand van die Sahara geskuif. Die dag oor Noord-Afrika se kerk het gedaal. Die Psalms is nooit meer daar gehoor nie.