Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Ratifikasieproses

Die HERE bind sy plaaslike kerke saam en roep hulle om in kerkverband saam te lewe. Afgevaardigdes na meerdere vergaderings mag nie in die minste die regeerboevoegdheid van die kerkraad, die enigste kerklike bestuursliggaam wat ons Here ingestel het, aantas nie. Plaaslike kerke moet alles in die werk stel om die eenheid van die kerke in die waarheid te bewaar. Om aan al twee hierdie opdragte te voldoen het gereformeerde kerke ooreengekom, dat die kerkraad besluite van meerdere vergaderings wat nie met die Skrif of kerkorde stry nie, as vas en bindend sal hou. Kortliks gesê, sal kerkrade die genoemde besluite ratifiseer. Die vorige artikel in hierdie reeks het op die ratifikasieplig gewys.

Hierdie artikel, wat die reeks afsluit, handel oor die ratifikasieproses wat in vier stappe verloop. (Vir kennisname van die aktiwiteite wat by elke stap verrig behoort te word, vergelyk die studie "Ratifikasie en die gereformeerde kerkreg" van ds. G.J. Meijer, p. 183-186).

Wat is Ratifikasie?🔗

Die woord ratifikasie is 'n samestelling van twee Latynse woorde: ratum facere, wat "geldig maak" beteken. Ratifikasie is 'n regsbegrip wat aandui dat 'n lasgewer (sender) die werksaamhede wat hy aan sy lashebber (gestuurde, gesant, afgevaardigde) opgedra het, na goedkeuring regsgeldig maak Die term ratifikasie kom egter in ons kerkorde nie voor nie.

Die Latynse teks van die Dordtse kerkorde het in artikel 31 nie die woorde "ratum facere" (geldig maak) nie, maar "ratum habere" (as geldig hê, hou of besit). Ook in die geldig hou gaan dit oor 'n lasgewer wat die werksaamhede van die lashebber (afgevaardigde toets), en na beoordeling goedkeur ens. Kerkrade wat besluite van meerdere vergaderings as vas en bindend hou, maak die besluite nie geldig nie, maar hou, besit dit as geldig. Ratihabisie is dus 'n beter weergawe van artikel 31 as ratifikasie. Aangesien ratifikasie 'n ingeburgerde term is, gebruik ons dit maar in die betekenis van ratihabisie.

Toetsing van die Kerklike Besluite🔗

Die eerste stap in die ratifikasieproses is die toetsing van besluite wat meerdere vergaderings geneem het. Is dit nodig om die besluite van die meerdere vergaderings te toets? Sekerlik. "Alle mense (ook afgevaardigdes) is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self" (Psalm 62:10). Kerklike vergaderings kan dwaal. Daarom moet kerkrade die besluite van hulle afgevaardigdes toets en sodoende voldoen aan die Skriftuurlike opdrag: ''Stel die geeste op die proef of hulle uit God is" (1 Johannes 4:1 en N.G.B. art 7).

'n Kerkraad kan sommige besluite nie toets nie. Die uitspraak van 'n nasionale sinode oor 'n appèlsaak wat nie in die betrokke partikuliere sinodale ressort gedien het nie, val buite sy beoordelingsraamwerk. In so 'n geval neem die kerkraad net kennis van 'n sinode-uitspraak. Dit gaan in hierdie artikel net oor besluite wat deur die kerkraad getoets kan word.

Nie alleen besluite van meerdere vergaderings nie, maar ook besluite van kerkrade moet in die lig van die genoemde voorskrifte in die Bybel getoets word. Belydende lidmate maak nie deel uit van 'n skare wat nie die wet ken nie, maar beklee die amp van die gelowige. Hulle behoort as gesalfde profete die werksaamhede van die kerkraad te toets. Artikel 31 gee die maatstawwe wat by die toetsing gebruik word: Die Skrif en die kerkorde.

Die Kerkraad Oordeel die Geldigheid van Besluite🔗

Aan die einde van die toetsing vorm die kerkraad 'n oordeel. As hy ratifiseer, kom die kerkraad tot die oordeel dat 'n besluit van 'n meerdere vergadering nie met die Skrif of die kerkorde stry nie. Dan maak die kerkraad so 'n besluit nie geldig in die letterlike betekenis van die woord ratifikasie nie. Nee, dit is geldig, omdat die afgevaardigdes die wil van die Here vertolk het. Die kerkraad oordeel dat die betrokke besluit geldig is vanaf die oomblik dat die afgevaardigdes dit geformuleer het.

Aan die einde van die genoemde twee stappe in die ratifikasieproses kom die kerkraad uit by sy gunstige oordeel oor dit wat die afgevaardigdes gedoen het. Die besluit wat die kerkraad getoets en beoordeel het, is in hierdie stadium egter nog steeds die besluit van die meerdere vergadering, 'n besluit van afgevaardigdes.

Om nie die verhouding lasgewer en lashebber uit die oog te verloor nie, karakteriseer Calvyn die uitspraak van 'n meerdere vergadering as 'n voorwaardelike oordeel. Met die oog op uitsprake van konsilies merk hy op dat hy "graag wou hê dat die besluit waaroor gehandel word, noukeurig aan die Skrif getoets moet word – en dit op so 'n manier dat die besluit van die konsilies sy eie gewig moet dra en as't ware 'n voorwaardelike oordeel moet wees." (Institusie, 4.9.8, vertaling H.W. Simpson, p. 1454).

Die voorwaardelike oordeel van die meerdere vergadering in die woorde van Calvyn word in die volgende stap van die ratifikasieproses die besluit van die kerkraad.

Die Kerkraad Aanvaar Geldige Besluite🔗

Die derde stap in die ratifikasieproses is die aanvaarding van 'n geldige besluit wat afgevaardigdes geneem het Na toetsing van en sy goedkeurende oordeel oor die handelinge van die gesante spreek die kerkraad uit dat hy die geldige besluite as sy eie aanvaar.

In die aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings deur die kerkraad word sowel
sinodokrasie as independentisme afgeweer. Die hele proses van ratifikasie impliseer afwysing van independentisme wat met uitsprake van die wyer kerkverband en met gesamentlik aanvaarde kerkorde maak wat hy wil.

Die kerkraad weerstaan benewens die independentisme ook die sinodokrasie. Hy erken nie die klassis en sinodes as bestuursliggame wie se besluite hy moet uitvoer nie. Nee, hy handel met uitsprake van meerdere vergaderings as besluite van afgevaardigdes. As enigste kerklike bestuursliggaam aanvaar hy besluite van meerdere vergaderings as sy eie eers na toetsing en na sy beoordeling dat dit nie met die Skrif en die kerkorde stry nie.

Die kerkraad beëindig die aanvaarding van 'n besluit met voorligting daarvan aan die gemeente op die wyse waarop hy al sy ander besluite wat nie 'n vertroulike karakter dra nie, aan die broeders en susters bekendstel. Lidmate wat hulle amp van gelowige verstaan en bedien, het fyn voelhorings vir afwykende gevoelens en uitsprake. Die skape volg die goeie Herder, omdat hulle sy stem ken (Johannes 10:4).

Die Kerkraad Besluit om Sy Eie Besluit uit te Voer🔗

In die vierde en laaste stap van die ratifikasieproses besluit die kerkraad hoe die besluit van die meerdere vergadering, wat hy na toetsing en gunstige beoordeling as sy eie besluit aanvaar het, uitgevoer kan en moet word. Die uitvoerbesluit lei tot daadwerklike optrede en geloof en gehoorsaamheid aan die Here.

Die "Tensy" in Artikel 31 van die Kerkorde🔗

Ons keer terug na die eerste stap van die ratifikasieproses, die toetsing van die besluit van 'n meerdere vergadering. Die kerkraad kom tot die oortuiging dat die betrokke besluit in stryd is met Gods Woord of die kerkorde. Wat moet hy nou doen?

Ook in hierdie geval volg daar na toetsing nog drie stappe. In die eerste een beoordeel die kerkraad die betrokke besluit sorgvuldig. Die strydigheid van die besluit met die Skrif of die kerkorde word noukeurig vasgestel. Die kerkraad oordeel op grond van sy bevindings: die besluit is ongeldig. Dit spreek vanself dat 'n ongeldige besluit nooit as 'n eie besluit van die kerkraad aanvaar mag word nie.

Die volgende stap in hierdie proses is wat artikel 31 die bewys noem. Die kerkraad bewys in die lig van sy bevindings tydens die vorige stap met vers en kapittel dat, en waarom, 'n besluit van 'n meerdere vergadering ongeldig is.

Dan volg die laaste stap: Die kerkraad lê die bewys van ongeldigheid aan die meerdere vergadering voor. Hy vervul hiermee 'n liefdesplig. Kerkraad A wat 'n besluit nie as vas en bindend mag hou nie, wys kerke B-Z daarop dat hulle dit in die diens van die Here ewe min mag doen.

Wat daarvan as die kerkraad ten onregte geoordeel het dat 'n besluit ongeldig is? Die eersvolgende klassis waar hy sy bewys voorlê, sal – as die afgevaardigdes in geloofsgehoorsaamheid oordeel – die ondeugdelikheid van sy bewys aantoon. En in die gereformeerde kerkraad sal hierdie klassisbesluit ratifiseer en besluit om sy eie bewys van ongeldigheid te herroep.

Saamhorige Kerke🔗

Gereformeerde kerke behoort saam op die een fondament van apostels en profete te bou. Hulle wys sowel sinodokratiese as independentistiese optrede in die kerkverband af. Ons glo as gereformeerde lidmate dat die kerke saamhorig is en tot samehorigheid geroep is. Saamhorig: hulle behoort saam aan Christus wat sy kerke met sy bloed gekoop het. Hy bind sy kerke saam. Tot samehorigheid geroep: Hulle hoor saam die stem van die Opperherder en volg Hom.

Dit beteken konkreet:

Gereformeerde kerke belowe aan mekaar om geldige besluite wat afgevaardigdes in meerdere vergaderings geneem het, na toetsing en beoordeling as hulle eie besluite te aanvaar en uit te voer. Hulle sal ongeldige besluite nie as hulle eie aanvaar nie, maar die bewys aan die meerdere vergadering voorlê.

So buig die kerke saam die nek onder die sagte juk van Jesus Christus (NGB, art. 28).

Die nasionale sinode van 1997 het besluite geneem en die sinode bestaan nie meer nie. Die sinode het volgens die Skrif, die belydenis en die kerkorde nie die laaste woord nie. Dit is in hierdie artikelreeks genoegsaam aangetoon.

Die bal is nou aan die kant van die ratifiserende kerkrade. Die acta van die laaste sinode sal etlike honderde bladsye beslaan. 'n Blad soos hierdie kan in die amp van gelowige bystand verleen deur resultate van toetsing en beoordeling deur kerkrade en lidmate te publiseer, sodat die een van die ander se werksaamhede kennis neem en inspannende en tydrowende toetsingswerk nie onnodig gedupliseer word nie. Mag die Koning van die kerk gee dat al sy plaaslike kerke, kerkrade en lidmate, by ratifikasie van die sinodebesluite eerbiedig en aandagtig luister na sy stem.