Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Die Reg is 'n Saak van God

God is die Regter van die hemel en die aarde (Gen. 18:25 en 2 Tim. 4:8). As Regter oordeel Hy nie net regverdig nie, maar bepaal ook wat reg is. Die reg, alle reg, behoort dus aan God. Maar die reg en regspraak in Suid-Afrika is losgemaak van die Regter. Die reg is aan die mens verbind asof die mens seggenskap het oor wat reg en wat verkeerd is. Deur die reg aan die mens te bind, het die reg al meer onreg geword. Die mens was van alle eeue dwaas in sy eie oorlegginge. Vandag in ons land gaan dit nie anders nie. Die volke wil as hulle eie regters optree en daarmee vermoei die volke van Suid-Afrika God (Mal. 2:17).

Met die aanvaarding van die menseregte grondwet het Suid-Afrika die navolger van Amerika geword. Daar is "kerk en staat" van mekaar geskei. Dit beteken dat enige optrede in die howe en regbank deur 'n sogenaamde objektiewe maatstaf - die mens se reg -  beoordeel word. Effektief beteken dit egter dat enige verwysing na iets anders as maatstaf - soos die Skrif as subjektief en onaanvaarbaar afgewys word.  Hierdie dwaling moet duidelik uitgewys en heftig bestry word.

Hoogste Gesag🔗

Onder leiding van die Minister van Justisie, Dullah Omar, word die regstelsel in ons land ingrypend verander. Onlangs moes alle amptenare van die departement, soos landdroste en regters, 'n verklaring aflê dat hulle die grondwet as die hoogste gesag in Suid-Afrika beskou en sal handhaaf. Wanneer 'n mens geloof en praktyk, kerk en staat, leer en lewe, belydenis en beleid netjies van mekaar losmaak, word gepoog om die reg uit God se hand te gryp. Wanneer daar oor enige saak reg gespreek moet word, het die landsregters hulle tans soos een man verbind om die grondwet as rigsnoer te gebruik. Daarmee spreek hulle hulle onreg voor God uit. Hoeveel gelowige landdroste het geweet wat hulle met daardie verklaring aangevang het?

Alle Mag Christus s'n🔗

Maar as mens die Woord van God ernstig opneem, kan daar nie met hierdie verklaring saamgegaan word nie. Alle gesag behoort, reëel en effektief, aan Christus. Hy dra nooit sy gesag aan iemand oor nie. Met sy hemelvaart stel Jesus Christus dit ondubbelsinnig: "Aan my is gegee ALLE mag, in die hemel en op aarde" (Matt. 28:18). Dit sluit ook die howe en die regbank in Suid-Afrika in. Hierdie eed wat afgeneem is, stem nie met die waarheid ooreen nie. Alle mag behoort aan Christus. Hy, as die Woord van God, is die hoogste gesag op aarde, nie die nuwe grondwet nie. As Christus se allesomvattende gesag nie meer erken word nie, het enige ander gesagsaanspraak afgodies geword.

Om dit met 'n voorbeeld duidelik te maak: Die grondwet bepaal dat 'n moeder haar eie ongebore kind kan vermoor sonder om eens haar eggenoot daarvan in kennis te stel. Hierin maak die grondwet nie alleen voorsiening dat moord nie gestraf word nie, maar dit verwoes ook gesinne en huwelike aangesien die hoof van 'n huwelik, die man, se amp ondermyn word in weerwil van Christus se gesag oor die huwelik. Gereformeerdes mag nie toelaat dat die dwaling van 'n skeiding in genade en natuur in die regbank voortgesit word nie - daar sit in die toekoms geen heil in die huidige grondwet nie, aangesien dit Christus se eer afkraak en sy gesag wil ondermyn. En Christus gaan Hom in ons leeftyd oor hierdie duiwelse dwaling wreek.

Saak van God🔗

Die grondwet fouteer ten diepste daarin dat nie erken word dat die reg 'n saak van God is nie (Deut. 16:18-22, Lev. 19:15). Misdaad is nie ten eerste om teen 'n "mens se reg" te oortree nie, maar is om teen God se reg te oortree. God se reg is direk aan sy bestaan gekoppel, daarom sê God: "Ek is die HERE, jou God, jy mag nie ..." Om God se reg te skend, is presies dieselfde as om sy bestaan te ontken. Die nuwe grondwet probeer die bestaan van God inperk tot die innerlike geloofsoortuigings van mense. Asof Hy net daar bestaan! Die reg van God geld vir alle mense - Hy is immers hulle Skepper-God. God het die mens tien gebooie gegee, nie net ses nie. Al sou jy teen jou naaste oortree, bly dit 'n sonde teen God - so is egskeiding 'n gruwel voor God. Die Here is nie 'n God wat in die kerk en kerkgeboue opgesluit kan word nie. God se reg reël die hele menslike lewe. Alle mense is in alles verantwoordbaar voor God se reg. Die grondwet erken eenvoudig nie dat God se reg geld vir die hele menslike lewe nie, en daardeur ontken hy God as Regter van die aarde, en  so verwerp die menseregte ook die finale oordeel van God. Die nuwe grondwet stel die bevolking bloot aan die wraak van God as gevolg van hierdie stompsinnigheid.

Die hele Skrif is vol daarvan dat God enige regsverdraaiing as 'n gruwel beskou. Verydeling van die reg is nie om die grondwet te oortree nie, maar om die grondwet te erken as die reg. Calviniste moet dit kragdadig stel dat die huidige grondwet wederregtelik en onwettig is. Nie omdat dit deur 'n nasionalistiese minderheid nie aanvaar word nie, nie omdat die meeste mense demokraties daarmee instem nie, maar omdat die grondwet nie die reg as komende van God erken nie. Die grondwet stel dat die reg opspruit uit die mens se hartsbegeerte na ongebreidelde gelykheid, soveel so dat selfs dinge wat Christus uitdruklik verbied, soos afgodery, vasgeskryf word as 'n onvervreembare reg: dit is om God se reg te verdraai.

Geen Veilige Hawe🔗

Die Calvinis se grootse vyand tans is die grondwet se aanhangers. Die gereformeerdes wat dink dat die grondwet 'n veilige hawe bied vir die uitbreiding van Christus se kerk, misreken hulle totaal en al. Die grondwet gaan nie beskerming van die gereformeerde leer waarborg soos dit beloof om te doen nie, maar juis vervolging bring. Vervolging omdat die egte Calvinis bely dat daar maar een ononderhandelbare reg is - die Here s'n. Christus se enkelduidige gesag moet in alles geld - en dit vind die grondwet se aanhangers 'n doodsonde.

Meerderheid soms Verkeerd🔗

Die Marxiste maak groot gewag daarvan dat die grondwet demokraties is en dit bevorder. Hulle is baie trots op hulle grondwet. Tog waarsku die Here dat jy nie die meerderheid in verkeerde sake moet volg nie (Eks. 23:2). Op talle plekke kan aangetoon word dat die grondwet Christus se gesag weerspreek. Al sê al die mense in Suid-Afrika 'n saak is reg as Christus anders sê, is die meerderheid verkeerd. God se reg tel nie koppe nie.

Die grondwet verdraai die reg op twee verdere punte, naamlik oor vergelding en vergoeding.

Regspreek is 'n Amp🔗

God is baie duidelik dat die regters van 'n volk in 'n amp staan en aan God verantwoordelik is. Net soos mens owerheidspersone kan kry, selfs heidene wat nog steeds diensknegste van God is en aan Hom verantwoording verskuldig is (Rom. 13), net so is 'n regter 'n dienaar van God (vgl. Ps. 82, veral vers 6). Regspraak het met 'n amp voor God die Heilige Gees te doen. Geluk is geleë in ampsvervulling onder leiding van die Heilige Gees. Slegs deur Christus as die Koning wat reg spreek te erken, sal Suid-Afrika op die pad van geluk(saligheid) kom. Dit is die Calvinis se taak om hierdie pad aan te wys en dit dwarsdeur versperring oop te kap.

Om byvoorbeeld 'n landdros te wees, is nie 'n beroep nie, dis primêr 'n roeping van God. Maar in hierdie amp kan die ampsdraer gehoorsaam wees, maar ook sy amp versaak met verskriklike gevolge vir dié oor wie God bepaal het dat hy moet regspreek.  'n Amp moet onderhoriges beskut en bewaar. Seën vloei van God as die amptenaar sy amp voor God nakom en reg spreek, maar vervloeking volg - op die onderdane - as die amptenaar die reg verdraai.

Oorgegee aan Sonde🔗

Dit is presies wat in Suid-Afrika gebeur. Elke hofuitspraak waar Christus se gesag nie gehoorsaam word nie, elke regsaak wat nie op grond van God se Woord besleg word nie, is 'n gruwel in God se oë. Dit was sekerlik vir die vorige regstelsel waar, en veral vir die huidige grondwet. Die nuwe menseregte grondwet roep die vervloeking van God op die land af, aangesien die ware reg verdag gemaak word, en wat verkeerd is, word as reg gehandhaaf. Dit is reeds straf dat ons voortgaan met die handhawing van hierdie onregverdige grondwet (vgl. Rom. 1:28-32). So sê God in Ps. 81:13 "Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hulle hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel."

Die regters word self deur God "gode" genoem, om aan te dui hoe 'n groot saak regspraak in God se oë is. Regspraak gaan in wese oor God se eer en enige onreg tas God se heiligheid aan. Geen land kan God se heiligheid aantas en dink ons gaan ongeskonde daarvan afkom nie. Die kerk moet hier die trompet blaas om God se oordele rondom ons raak te sien.

Vergelding🔗

Die nuwe grondwet maak nie voorsiening vir vergelding nie. Dit is baie duidelik dat God verwag dat euwels uitgeroei moet word. Tans is daar so 'n groot verwarring dat van "die staat" verwag word om die hele samelewing se reg te handhaaf en om alle kwaad uit te roei. Dit is 'n verdere dwaling. Die vergelding van sonde in 'n huisgesin waar 'n seun teen sy vader oortree, is anders as die vergelding waar 'n moordenaar onder die mense uitgeroei moet word. God maak ook voorsiening dat daar 'n hiërargie is van regspraak. Nie alle reg kan in howe beslis word nie. Die reg van Christus oor sy kerk is dieselfde as sy reg oor 'n staat, maar sy ampsbediening verskil. Hy het verskillende amptenare in verskillende lewensverbande aangestel. In die huisgesin het die vader die plig tot regspraak in sy huis, in die kerk as verband moet die ouderlinge die reg handhaaf. God het ook regters aangestel, soos landdroste om die reg in samelewing te handhaaf. Die skool se regspraak word deur die hoof gehanteer, dit is dus totaal onvanpas dat 'n landdros uitspraak moet gee of 'n kind in die skool lyfstraf mag kry of nie - dit is nie die landdros se ampstaak nie.

Uitroei🔗

Vergelding is waar God verwag dat die sonde uitgeroei moet word. Hierdie vergelding maak voorsiening vir die toediening van strawwe en die voltrekking daarvan, as erkenning van God se eer en om ligsinniges af te skrik om teen Hom te oortree. Vergelding het ten doel om God se genade ten toon te stel. Dit is egter 'n dwaling in die (post)-moderne samelewing dat die regbank verantwoordelik is vir die reg in die ganse samelewing. Dit is onwaar. Die "almagtige" staat se vlerke moet in hierdie opsig geknip word. Dit is ironies dat die liberaliste wat so hoog opgee oor staat absolutisme as euwel, juis deurdat hulle 'n regstaat bepleit, hierdie dwaling bevorder.

Sonder vergelding kan daar nie regspraak wees nie. Regspraak sonder vergelding is regskrenking. Elke oortreding roep om vergelding. Vergelding is egter 'n ampsuitoefening wat in verskillende samelewingsverbande verskil. Nie alle sondes word net teen die medemens begaan nie. Die grondwet maak nie voorsiening vir vergelding van sonde teen God, soos afgodery, nie.

Ou Testament🔗

Daar word deesdae baie gesê dat die Ou Testament se wet van 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, barbaars en oudmodies is. So asof God in die Ou Testament niks vir die huidige samelewing te sê het nie. Die Ou Testament getuig van God se heiligheid – ‘n woord wat vandag nie eers meer in die postmodernis se mond kom nie. Ons moet bely dat die wette van die Ou Testament hulle vervulling in Christus gehad het. God is ewig heilig - ook te midde van Suid-Afrika se onheilighede. Dit beteken nie dat ons dieselfde vergelding as in die Ou Testament moet toepas nie, maar God maak duidelik dat Christus, ook as opgestane Koning, nog steeds vergelding as deel van sy heilige reg beskou. Ampsmatige vergelding sal daar altyd wees. As dit nie nou deur die regters wat aan Christus verantwoording moet gee, gedoen word nie, dan sal Jesus, die Gesalfde, dit by die wederkoms voltrek. Die verskil is net dit as daar nie nou vergelding kom nie, wreek God hom op die regskending deur die oortreding op die onderdane te wreek.

Doodstraf🔗

'n Duidelike voorbeeld is die doodstraf. Die owerheidspersone handhaaf nie God se reg om moordenaars se lewe hulle te ontneem as vergelding nie. Dit is ampsontrouheid van die owerheid. Die grofste moordenaar kan deesdae maar net vir 'n dekade opgesluit word (met 'n gebalanseerde dieet en vry medies.) God wreek daardie ampsontduiking deurdat die moorde en geweldadige oortredings toeneem. Watter klad op ons land dat ons toelaat dat veroordeelde moordenaars vry tussen ons rondloop om in baie gevalle maar net weer te moor. Die misdaad in Suid-Afrika is nie 'n probleem wat net die polisie moet oplos nie. Die hoofregters moes nie toestemming gegee het dat die doodstraf afgeskaf word nie. Omdat hulle daar God se reg misken het en sy vergeldingsopdrag verwerp het, lei die land daaronder. Die land bloei en ween en sug omdat die regters hulle amp versaak.

Tronke Onbybels?🔗

Deel van vergelding, waar medemense te na gekom is, is ten tweede vergoeding. Dit is om hierdie rede dat tronke, soos dit vandag in Suid-Afrika bedryf word, dalk 'n totaal buite-Bybelse praktyk is. Tans word die slagoffers (en nie die oortreders nie) dubbel gestraf. As 'n wetsonderhoudende burger byvoorbeeld besteel word, verloor hy sy besittings en hy moet belasting betaal om die oortreder in 'n tronk aan te hou. Hierdie betaling van belasting vir tronke is nie verantwoordbaar met die Bybelse begrip van vergelding en vergoeding nie. In die Ou Testament, as iemand besteel is, moes die dief die persoon twee of drie keer die waarde van die gesteelde goedere vergoed. Tans gebeur die teenoorgestelde by ons. Die slagoffer verloor nie net sy besitting nie, hy moet ook betaal vir die oortreder se sonde deur sy sogenaamde vergelding uit sy sak te verhaal.  Dit is 'n vraag of tronkstraf in alle gevalle as vergelding beskou kan word. Waar is die vergoeding aan die slagoffer?

Profetiese Roeping🔗

Ons as Calviniste moet dit duidelik stel dat die reg 'n saak van God is. Altyd. Ons moet bly aandring daarop dat die regters hulle verantwoordelikheid voor God moet verstaan en reg moet spreek volgens God se Woord. Baie sal vra watter nut dit het om so oor die reg te praat terwyl ons dalk nie die mag het om dit af te dwing nie. Ons moet egter onthou dat ons nog ons profetiese amp het, waarvolgens ons moet getuig teen hierdie onreg wat ons sien. As ons dit nie doen nie, versaak ons ons amp, as profete, en dan kom die wraak van God ook oor ons en ons kinders vanweë ons stilswye. Al tref die geweldsgolf tans ook die kerke, moet ons ons troos dat ons die ampsversaking uitwys en die regte rigting aantoon. Dit skryf God op in 'n gedenkboek (Mal 3:16) en ook vir hierdie gehoorsaamheid sal God ons met sy seën tegemoet kom - al is dit na die graf voor sy regterstoel, want tot daar bly die reg 'n saak van God. Reformasie van die reg in Suid Afrika kan nie meer uitgestel word nie. Grondige studie hieroor bly gebiedend noodsaaklik. Moet ons wag tot die klippe God se reg uitskree voordat ons die reg reformeer? Hoe lank moet ons nog ly onder ampsversaking voordat ons regmatig gaan begin profeteer?