Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die regte plek vir simbole

Onlangs het daar in ‘n kerklike verslag die volgende gestaan oor die plek van simbole en rituele in die erediens en kerk:

“Tekens, simbole en rituele kan foutief ingespan word, maar dit moet ons nie die vrymoedigheid ontneem om dit te benut nie”.

Volgens hierdie verslag het die kreatiewe benutting van tekens, simbole en rituele vir ‘n lang tyd nie in daardie kerke tot sy reg gekom nie. Daarom kan dit vir gemeentelede leeg wees en koud laat.

Onder die oppervlak🔗

Die vraag na die gebruik van rituele, simbole en tekens soos dit in die kerklike verslag na vore kom, moet nie oppervlakkig verstaan word nie. Dit is veel meer as ‘n “ver-Roomsing” van die kerk. Ons moet inderdaad dieper let op wat onder die oppervlak in ons wêreld aan die gebeur is. Daar het verskuiwings plaasgevind in ‘n samelewing wat vanuit die Modernisme rasioneel-gedomineer was.

‘n Verskuiwing weg van rasionaliteit as enigste borg van die waarheid het plaasgevind. “Objektiewe” kennis van die waarheid word nie meer as haalbaar en werklikheid gesien nie. Waarheid lê in die subjek met sy/ haar ervaring en ervaringswerklikheid. Taal word in die hedendaagse linguistiek (taalkunde as u wil) gesien as ‘n tekensisteem volgens konvensie. Kortliks beteken dit dat betekenis berus op konvensie / gebruik / gewoonte en is arbitrêr. Dit wat werklik betekenis gee, lê op ‘n hoër werklikheidsvlak.

Plato🔗

Die werklikheid buite ons eie subjektiewe ervaringswêreld wat werklik betekenis aan ons lewe gee, lê volgens Plato in die wêreld van die ideë. Vir hierdie Griekse filosoof van Athene word die hele wêreld ‘n simbool van ‘n “hoër” werklikheid. Só praat die aangehaalde kerklike verslag ook oor die simbole!! Alles in die wêreld word ‘n simbool wat verwys na ‘n werklikheid vir die wat werklik vêrder wil sien as die onmiddellike lewenservaring. Só word Jesus Christus ook bloot “simbool” van ‘n hoër werklikheid.

In die Middeleeue kom die oortuiging baie sterk voor dat die hele kosmos ‘n verwysing vorm na ‘n hoër werklikheid en bloot ‘n “simbool” daarvan vorm. Die vraag is egter of die sigbare slegs ‘n simbool is van ‘n onsigbare “groter” werklikheid. ‘n Werklikheid wat - omdat dit onsigbaar is - goddelike eienskappe besit en deur sommige op panentëistiese manier as “god” beskou word. Die goddelike word in alles gevind, omdat alles “heenwys” na die “goddelike”.

Betekenisloos🔗

In die postmoderne wêreld van die 21’e eeu word die groot kosmos met die “swart gate” in die heelal nie meer gesien as iets wat betekenis het nie. Die leegheid van die ruimte laat ons juis die betekenisloosheid van ons lewe ervaar. Die betekenisloosheid van die groot heelal “daar buite” simboliseer die betekenisloosheid van ons lewe. Die wêreld word meesal nie meer gesien as ‘n wêreld wat betekenis het nie. Die soeke na betekenis is opgegee. Die wêreld is volgens die postmodernisme nêrens heen op-pad nie.

Die God van Abraham, Isak en Jakob🔗

Waar die geloof in God die Skepper, wat ons Vader is deur Jesus Christus, verloor word, gly ons noodwendig weg in ‘n betekenislose wêreld. Of op Platoniese manier waar die skepping bloot simbool word wat verwys na ‘n ander werklikheid, of alle betekenis word verloor waar alleen maar spirituele ervaring oorbly in interaksie met religieuse rituele, simbole en tekens. Geloof in die Skepper God wat ons Vader is, laat ons sien dat God se dade in hierdie wêreld betekenis het. Dade wat geloof en hoop vir die toekoms gee.

Dit is dade wat “simboolwaarde” het, omdat die God wat hierdie dade doen, nie onwerklik is nie en ook nie verander nie. Die waarde en betekenis van wat God doen, is nie verby, wanneer dit klaar gebeur het nie. Wat God in die geskiedenis van Israel gedoen het en deur sy Seun gedoen het, bly van waarde, omdat dit ‘n werklikheid is. Dit is uitdrukking van God se liefde. Nie maar net “simbool” daarvan nie, maar die uitlewing van God se liefde teenoor heel beperkte geskape mense wat ook nog sondaars is.

Regte gebruik van simbole🔗

Die “werklikheid” / kosmos / natuur as sulks is dus nie sommer ‘n “simbool” van die goddelike “werklikheid” nie. Ons glo nie in ‘n “natuurteologie” wat juis onder die invloed van die Platonisme ‘n plek vir homself gaan wettig het in byvoorbeeld die Roomse teologie en ook in die teologie van die sg. “Nuwe Hervorming” in Suid-Afrika nie.

Nie die natuur as sulks openbaar nie, maar wat God in en met die wêreld doen is van betekenis. Noem dit God se geskiedenis van heil en verlossing in hierdie wêreld. Ook sy werk van skepping. Sy werk! Skeppingswerk en genadewerk. Skeppings-en genade-geskiedenis! In die Bybel word simbole daarom altyd verbind aan wat die verlossingsdade van die Here self. Die skepping self simboliseer nie. Nie los van wat God doen nie. Simbole en die skepping wys nie heen op ‘n mistieke manier na iets “goddelik” nie. Dit simboliseer nie ‘n goddelike werklikheid a la Plato nie. Die simbole wat God ons gee en wat ons self wettig kan en mag en selfs moet gebruik herinner aan God se dade, wie God is en bevestig ons in daardie geloof en werklikheid. Geen “lees” van die boek van die natuur (NGB Artikel 2) sonder die let op God se dade nie. Geen natuurteologie waar die Skepper geëer en geprys moet word nie!