2 bladsye.

Die Regverdiging

Die regverdiging gaan oor die vraag: hoe sal dit tussen God en my weer regkom? Luther het die vraag so gestel: hoe kan ek ʼn genadige God vind? Die Heidelbergse Kategismus, vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?

Daar word beweer dat die moderne mens nie met die probleem van God se toorn gepla is nie. Baie meer aktueel is die vraag: God, waar is U?

Is U eintlik wel aanwesig in ons wêreld? Daar is geen vrees vir sy toorn nie, maar wel die vrees dat Hy nie hier is nie. Veral op hierdie punt word sekerheid gesoek. Asof ons (en God self!) al tevrede mag wees, wanneer ons slegs sou glo in sy bestaan en aanwesigheid. Asof dit die allerbelangrikste aspek van die geloof sou wees.

Hierteenoor geld nog steeds wat Calvyn gesê het, dat die regverdiging die vernaamste pilaar is waarop die godsdiens rus.

Asof Ek Nooit Sonde Gehad het Nie🔗

Die sondeval in die paradys het ʼn onomkeerbare proses in werking gestel. Dit kan nie meer gestop word nie. Sonde kan nie ʼn natuurlike dood sterf nie. Dit het die eienskap om na alle mense oor te slaan en in elke mens verder te groei. Daarom wag almal sonder uitkomkans vir die ewige straf aan liggaam en siel (HK antwoord 10).

Die regverdiging keer egter hierdie onomkeerbare proses om. Ter dood veroordeeldes kry vryspraak. Dit is regverdiging. Vyande van God sal as sy kinders aangeneem word. Selfs moordenaars en vervolgers van die kerk. Hierdie regverdiging stel God vir almal beskikbaar. Basuin dit uit!

En nie net solank daar voorraad is nie, dis beskikbaar vir elkeen wat glo.

Hierdie regverdiging is ʼn geskenk uit die hemel. Alleen net God se inisiatief. Van ons kant is dit totaal onmoontlik om die sondeval wat eenmaal aan die gang gesit is, te stuit. Selfs al kan ons, wil ons dit nie doen nie. Dit is die groot verrassing van die evangelie, dat God ’n oplossing hiervoor gevind het.

Dink net hoe onvoorstelbaar lief Hy vir die mense moet wees, om dit te wil doen, gesien die groot offer wat Hy daarvoor gebring het. Die regverdiging is immers gebaseer op Christus se lyding en sterwe. Hy het deur sy lewe op aarde – tot en met sy dood aan die kruis – alle geregtigheid bemagtig wat ons eintlik moes volbring het. Dit reken God ons toe. En op grond daarvan verklaar Hy ons regverdig.

En daarom is ons dit ook!

Dalk nie volgens mense nie. En glad nie volgens my eie gewete, wat voldoende stof opgegaar het om ʼn dodelike aanklag teen my te lê nie. Maar tog gee God my gewete nie gelyk nie. Hy verwys my gewete na die offer van Christus en spreek my vry. Dit vind so werklik en so radikaal plaas, dat ek as ‘t ware in die paradys teruggeplaas word. Ek mag weer kind van God wees, soos Adam. Daar is vir God se alsiende oog selfs nie meer ʼn spikkeltjie vuil in of aan my te sien nie. Asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie (HK antwoord 60).

En wat moet ons daarvoor doen? Ons moet Christus omhels. God se verklaring van vryspraak aanneem. Dit is wat geloof inhou. Hier kom ons uit by die belangrike vraag na die waarde van ons geloof.

Is dit ʼn prestasie van ons kant? Hoe gering ook al? Want een ding is seker: ons moet glo. Sonder geloof is daar geen vryspraak (of regverdiging) nie.

Is hierdie geloof nie miskien so ’n effense teenprestasie van ons kant nie? Amper soos ʼn geldjie wat ons moet ingee om so die onbetaalbare vryspraak daarvoor terug te kry? Maak ons onsself deur te glo nie so ’n klein bietjie by God geliefd nie? Sodat Hy daarom vryspraak aan ons sal verleen?

Op al hierdie vrae is die antwoord: Nee. Die geloof is van onskatbare waarde! Daarsonder kry ons nie vryspraak nie. Maar dit maak ons nie vir God aanneemlik nie (HK vraag en antwoord 61). Dit is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid omhels (Art 22 Nederlandse Geloofsbelydenis). ‘Slegs’ is nie hier verkleinerend bedoel nie, maar trek haarfyn die grens vir die geloof: geloof is aanneem. Niks minder as dit nie. Maar ook niks meer nie. Net dit: ‘slegs’ ons leë hand wat ons ophou en wat God vol maak met sy genade.