4 bladsye.

Die roeping

Inleiding🔗

‘Roep’ is ʼn gewone woord. Hoe dikwels het ons nie al gehoor dat ons geroep word nie? Maar dit maak ʼn verskil wie dit is wat roep, en waarvoor. Die woord ‘roeping’ is al  minder gebruiklik. Ons kan byvoorbeeld sê dat ons ons roeping moet volg.

Die verband waarin ons hier ‘roep’ en ‘roeping’ gebruik, gaan oor meer as die gewone – dit is immers God wat ons roep.

Wie oor die verhouding tussen God en ons dink, moet hom daaroor verwonder. God sou die mensheid wat hom van Hom afgekeer het aan sy lot kon oorlaat, maar ons lees in Genesis 3:9: “Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?”  ʼn Mens kan daarin hoor dat God die mens tot verantwoording roep, maar in die lig van wat daarop volg, is dit nie al nie. Die Here roep die mens ook na Hom toe terug, en Hy het deur die eeue ernstig en kragtig bly roep. Wat Hy daarmee wil en sal bereik, staan duidelik in die briewe van die apostel Paulus: “God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep” en “God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here” (1 Tessalonisense 2:12; 1 Korintiërs 1:9).

Dit is die hooflyn wat ons wil vashou.

Word almal deur God geroep? Ook die wat die evangelie nooit gehoor het nie?

Alle mense word deur God aangespreek. In Handelinge 14:16 en 17 word gesê dat God, deurdat Hy goed doen, Hom nie teenoor die volke van die wêreld onbetuig laat nie.

Daar is van ouds al baie nagedink oor die openbaring wat tot almal kom, die ‘algemene openbaring’. Niemand kan sê dat hy of sy niks van God merk nie. Daarom is daar ʼn bewuste of onbewuste soeke na God; daar bestaan godsdienste en daar is, op sy minste, ʼn besef dat daar ʼn hoër mag is waarmee ons as mense te make het.

Maar om God te leer ken, moet ons uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep word (vgl. 1 Petrus 2:9). Hier en in ʼn groot aantal ander Skrifgedeeltes, word die roeping tot die heil wat God in Jesus Christus skenk, bedoel. Dit is terselfdertyd ʼn roeping tot verkondiging van sy groot dade. Om geroep te wees tot die heil beteken ook om geroep te wees tot heiliging. Ons hele lewe kom in die teken van die roeping te staan. Miskien word ons selfs tot ʼn besondere diens geroep.

Die roeping in die Ou Testament🔗

Soms staan die roeping tot die diens van God voorop. Dit is veral in die Ou Testament die geval. Ons lees van die roeping van Moses, van Samuel en van profete soos Jesaja en Jeremia. Op sy roeping antwoord Moses “Hier is ek!” (Eksodus 3:4). Die Here roep Samuel ook by sy naam: “Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor” (1 Samuel 3:10).  

God spreek met krag en sorg dat daar aan sy woord gehoor gegee word en dat mense hulle aan sy diens verbind.

Enkele kere het die roeping betrekking op iemand wat by die volvoering van God se plan ingeskakel word en ʼn bepaalde opdrag in sy diens moet vervul, terwyl hy dit sonder dat hy dit weet, gehoorsaam. Ons dink aan Kores, die koning van die Perse, van wie die Here sê: “Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees” (Jesaja 48:18).

In die Ou Testament is Israel die geroepe volk. Daar is geen volk wat op hierdie manier tot heil en tot diens van die Here geroep is nie. Die volk van God se roeping is die volk van God se keuse. Die Here het hierdie volk nie vanweë die kwaliteite van Israel gekies nie, maar om sy liefde en trou te laat blyk. Dit is ook waaroor dit gaan wanneer Hy tot sy volk spreek, dit by sy naam roep en sê: “ ... jy is myne” (Jesaja 43:1). 

Die geroepene by uitstek, is die Kneg van die Here, aan wie gesê word: “Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ʼn verbond van die volk, as ʼn lig van die nasies” (Jesaja 42:6). Hierdie profesie word vervul in die persoon van die Messias, wat geregtigheid en heil op aarde bring.

Wanneer ons alles nagaan, tref dit ons ook dat die roeping onbeantwoord kan bly. Die Here straf sy volk omdat dit nie geantwoord het toe Hy roep, nie geluister het toe Hy praat nie, maar gedoen het wat verkeerd is in sy oë en gekies het wat Hom nie behaag nie (Jesaja 65:12).

Die roeping in die Nuwe Testament🔗

Daar word ook in die Nuwe Testament gepraat oor die roeping tot ʼn bepaalde diens. Die dissipels word deur die Here Jesus geroep. Paulus noem homself ʼn geroepe apostel.

Die klem val egter op die roeping tot die heil in Christus. In die evangelie is dit Jesus wat sondaars roep tot bekering. Ons het hierbo reeds uit die briewe van Paulus en Petrus aangehaal. Daar staan ook dat God tot die ewige lewe en tot sy ewige heerlikheid roep (1 Timoteus 6:12; 1 Petrus 5:10).

ʼn Sleutelteks is 1 Korinthiërs 1:9. Die gemeenskap met Christus, waartoe ons volgens hierdie apostoliese woord geroep word, hou alles in. Die woord ‘gemeenskap’ (in Grieks ‘koinonia’) beteken allereers deelname. Ons kry deel aan Christus en al sy gawes. Die apostel dink aan ʼn daad van God waarmee mense, wat daarbuite gestaan het, in die heil betrek word. In die verkondiging van die evangelie roep God hulle tot Hom. Sy woord klink soos ʼn uitnodiging om die heil by Hom te soek en by Hom te vind. Dit is egter meer as ʼn uitnodiging. Pop sê: ‘Dit is immers Gód wat uitnooi, daarom kom in die uitnodiging of roeping ook al die krag van sy heilswil tot die geroepenes; ʼn krag wat hulle aangryp, losruk uit hulle gebondenheid, vrymaak om aan die roeping gevolg te gee; ʼn krag wat hulle werklik verlos uit die mag van die duisternis en hulle oorbring na die ryk van Christus’.

Julle ‘is geroep’ (onbepaalde tyd). Dit wys op ʼn beslissende gebeurtenis. As die werkwoord in die teenwoordige tyd staan, wil dit sê dat dit geen verbygaande fase is nie. God bly roep, en ons moet bly gehoor gee.

Hoe roep Hy ons? Deur sy Woord, en in die besonder deur die evangelie van Christus. Ons word deur sowel sy Woord as sy eise aangespreek. Deur sy Gees bewerk Hy dat ons na sy stem luister, dat ons glo en dat ons gehoorsaam.

As ons deur God geroep word, is dit ʼn daad van sy genade en van sy mag. Die roeping staan dan ook nie alleen nie, maar in ʼn allesomvattende verband van goddelike heilsgedagtes en heilsdade, wat in Romeine 8:29 en 30 deur Paulus as ʼn aaneengeskakelde ketting voorgestel word. Uit die ewige verkiesing vloei voort, as ʼn eerste daad van God in die tyd, ‘die kragtige, effektiewe roeping van God deur die verkondiging van die Evangelie’ (H. Ridderbos).

In Romeine 8 behoort verkiesing en roeping bymekaar, soos ook die omgekeerde geld, dat ons ons roeping en verkiesing moet vasmaak (2 Petrus 1:10); versterk moet word in die sekerheid dat ons deur God uitverkies is, deur middel van die evangelie en sy beloftes en die gelowige lewe.

Maar wat moet ons dan dink van die woorde aan die einde van die gelykenis van die koninklike bruilofsmaal: “Want baie is geroep, maar min uitverkies” (Matteus 22:14)?

Daar is mense wat geroep word, maar tog nie uitverkies is nie, soos dit blyk uit hulle reaksie op die evangelie. In die gelykenis is die roep gelyk aan ʼn uitnodiging. Die Grieks van die Nuwe Testament het daarvoor één woord (kalein). In die gelykenis beteken dit eers uitnooi: “... nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof” (Matteus 22:9). By Mattheus 22:14 word meesal die vertaling ‘geroep’ gekies. ʼn Ander weergawe kan dus moontlik wees: “baie is genooi, maar min uitverkies”.

Die wat eerste genooi is, wil nie kom nie. Hulle moet daarvoor boet, want die uitnodiging van die koning is nie ʼn uitnodiging wat tot niks bind nie. Dan word die mense van die strate af genooi. Die koning gun ook aan hulle wat oënskynlik nie daarvoor in aanmerking kom nie, ʼn plek in die bruilofsaal. Dit wys op die wonder van die genade. Maar dan word ʼn ongewenste gas opgemerk, ʼn man sonder ʼn bruilofskleed. Hy wil nie die kleed van die begenadigdes dra nie. Hy word van die fees uitgesluit.

God laat die uitnodiging dus nie verniet uitgaan nie. Hy het in sy Koninkryk plek vir die mense. Die evangelie is ruim: Kom na die bruilof! Maar ons moet daarmee erns maak en dit nie misbruik nie. Om nie te kom nie is ewe onverantwoordelik as om anders te verskyn as wat die Koning wil hê. Ongeloof is ʼn groot raaisel en geloof ʼn groot wonder.

ʼn Teologiese onderskeid🔗

Mede na aanleiding van ʼn Skrifwoord soos Mattheus 22:14 praat Calvyn van ʼn tweevoudige roeping (duplex vocatio species). Hy, en vele ander na hom, maak op grond van die uiteenlopende reaksie op die verkondiging van die evangelie ʼn onderskeid tussen ʼn algemene en ʼn besondere roeping. Soms word ʼn uitwendige en ʼn inwendige roeping onderskei.

Oor die terminologie kan heelwat gesê word. Die roeping van die evangelie is in feite nie so algemeen soos die openbaring wat algemeen genoem kan word nie. Met die term ‘uitwendig’ kan die indruk geskep word dat dit maar iets uiterlik is as God in die evangelie met ons praat. Daar word inderdaad geleer dat hierdie roeping net uitwendig is.

Die teologiese onderskeid wat ons bespreek, word tot dié mate in die gereformeerde belydenis gevind, dat van die sogenaamde algemene of uitwendige roeping gesê word: “ ... [I]n alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: Die geroepenes moet na Hom toe kom” en van die besondere of inwendige roeping: “[God] roep hulle [die wat Hy in Christus uitverkies het] almal kragdadig” (Dordtse Leerreëls 3/4, 8 en 10).

Om te kom of nie te kom nie – lê die beslissende verskil by die vrye wil van die mens? Pas die evangelie beter by die een as by die ander, of hoor mense dit terwyl sommige meer en ander minder ontvanklik daarvoor is? Daar is teologiese rigtings soos die sinergisme en die konguïsme wat dit in die rigting soek.

Dit is egter nie so nie. Niemand wat deur God geroep word, kan waarlik na Hom kom as Hy dit nie self bewerk deur aan hom of haar die geloof en bekering te skenk nie.

Die roeping wat van God na ons kom, is altyd ernstig, maar nie altyd  effektief en kragdadig sodat die mens gehoor gee nie. Die saad van die evangelie val nie by almal in die goeie grond nie. Daar is ʼn verskil in uitwerking, maar waar dit oor die inhoud van die roeping gaan, is geen verskil nie. God sê aan ons almal dieselfde: “Wend julle tot My en laat julle red” (Jesaja 45:22), “ bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15), “Kom na die bruilof” (Matt. 22:4). In die naam van Christus vra die apostel: “Laat julle met God versoen” (2 Korintiërs 5:20).

Daarom staan in die Dordtse Leerreëls dat die belofte van die evangelie aan alle volke en mense sonder onderskeid verkondig en bekend gestel moet word, met die eis tot bekering en geloof (DL 2,5). Sonder onderskeid (indiscriminatim, sonder om te diskrimineer), dus nie alleen aan hulle wat oënskynlik daarvoor in aanmerking kom, omdat hulle min of meer op die goeie pad is nie. Ons mag kom soos ons is.

Uit die universele karakter van die uitnodiging tot die heil het ons nie die minste rede om te twyfel dat God ons in die oog het nie. Die vraag mag by ons opkom of nie net ander deur Hom geroep word nie, maar ook ons persoonlik. Maar elkeen wat die evangelie hoor, word geroep. As ons die doop as teken en seël van God se verbond ontvang het, is ons geroep. Sy Naam en ons naam is daarby genoem. Omdat dit so is, roep ons Hom aan wat ons eerste geroep het. Wie sy Naam aanroep, sal gered word.

Die ‘kom’ volg nie vanself op die roeping nie. Daar is geen outomatisme nie. Die Bybelse woord ‘roep’ sê al dat God ons behandel as mense met ʼn persoonlike verantwoordelikheid. Deur ons te roep, stel Hy ons voor die beslissing.

Wanneer God ons tot sy gemeenskap en sy diens roep, bedoel Hy dit. Wie op die pad wil gaan wat Hy aanwys, maar nie sover kan kom as wat hy of sy wil nie, mag glo dat die Here gewilliger is as enige mens. Deur die krag van sy Woord en die werk van sy Gees wil Hy ons na Hom toe trek en vir altyd aan Hom verbind.

ʼn Eenvoudige, treffende Psalmvers lui:

As jul vandag sy roepstem hoor,
 Verhard jul nie, maar neig jul oor,
merk op die roep van sy ontferming.

Literatuur🔗

H. Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek, IV, Kampen 1930, pp. 1-72.

H. Bavinck, Roeping en wedergeboorte, Kampen 1903.

K. Exalto, De roeping, Amsterdam 1978.

J. van Genderen, ‘Roeping en verkiezing’, in: B. J. Oosterhoff e.a., Woord en kerk, Amsterdam 1969, pp. 97-117.

F. J. Pop, Bijbelse woorden en hun geheim, II, ‘s-Gravenhage 1958, pp. 290-307.

K. Schilder, Heidelbergsche Kategismus, II, Goes 1949, pp. 237-260; 431-442.

C. Steenblok, Rondom verbond, roeping en doop, Gouda 1979.

C. Veenhof, Prediking en uitverkiezing, Kampen 1959.

W. H. Velema, ‘Roeping en wedergeboorte’, in: J. van Genderen en W. H. Velema, Beknopte gereformeerde dogmatiek, Kampen, 1993, pp. 527-536.