Bron: Die Kerkblad, 2010. 4 bladsye.

Die Shack - 'n Beoordeling

Die Schack: Waar Tragedie Ewigheid Konfronteer🔗

Die Shack (pondok, krot, hut) is die titel van ’n boek wat in die jongste tyd besondere belangstelling gewek het. Dit is geskryf deur William Paul Young van Oregon, VSA, met die doel om ’n eksemplaar daarvan as kersgeskenk aan elkeen van sy ses kinders te gee tydens Kersfees 2005. Sy doel was nie om dit te publiseer nie.

Toe die inhoud daarvan onder die aandag van sy vriende gekom het, is besluit om dit wel te publiseer. Spoedig het dit ’n blitsverkoper geword, en volgens die uitgawe van 2007 was daar alreeds 2 miljoen eksemplare gedruk.

In 2008 het die boek ook in Afrikaans verskyn. ln Suid-Afrika het dit ook goeie aftrek gekry, want in kerke in verskillende denominasies is dit van die preekstoel af gunstig beoordeel en is lidmate aangemoedig om dit te lees. Voor in die Afrikaanse uitgawe word die boek sterk aanbeveel deur predikante en ander vooraanstaande persone.

Die boek word te koop aangebied vinde onder andere by CUM-Boeke en Leserskring. ln laasgenoemde se katalogus word dit bekendgestel onder die tema “Christelike groei”, en is dit tans nie net in boekvorm beskikbaar nie, maar ook op sewe kompakskywe (CD’s).

Die Verhaal🔗

Die hoofkarakter in die boek is Mack (Mackenzie) Phillips. Hy is getroud met Nan en hulle het vyf kinders. Gedurende ’n vakansie van Mack saam met sy drie jongste kinders word die jongste dogter, Missy, ontvoer. Die polisie vind bewyse dat sy in ’n afgeleë en onbewoonde shack vermoor is deur ’n berugte reeksmoordenaar, maar haar liggaam is nooit gevind nie.

Dan ontvang Mack ’n brief van God onder die naam Papa - die naam waarmee Nan gewoonlik na God verwys het. (ln die Afrikaanse vertaling word Papa weergegee as Pappa.) Papa nooi Mack uit om die volgende naweek na die shack te kom vir ’n ontmoeting tussen hulle. Hy besluit om daarheen te gaan sonder om Nan daarvan te vertel.

ln die shack ontmoet hy die drie persone van die drie-eenheid. Die vader met die naam Papa is ’n groot swart Afrikaan-Amerikaanse vrou (92-94), hoewel sy teen die einde van die boek as ’n man verskyn (239-242). Jesus is ’n man uit die Midde-Ooste in sy dertigerjare, en hy sê self dat hy uit die stam van Juda is (93, 94). Die heilige gees is Sarayu, ’n vrou van Asiese afkoms (94, 120). Mack is verbaas oor die “samestelling” van die drie-eenheid: “... twee vrouens en ’n man. En nie een van hulle van blanke afkoms nie” (96).

Die grootste deel van die boek bestaan uit gesprekke met die drie persone van die drie-eenheid, soms gesamentlik, maar meesal afsonderlik. Die gesprekke handel oor sake soos die drie-eenheid, Jesus se lyde aan die kruis, oor die betekenis van God se wet, oor vryheid, verantwoordelikheid en vergewensgesindheid. Daar is ook ’n gesprek met ’n vrou met die naam Sophia, wat die wysheid van Papa verpersoonlik (186). ln die gesprekke word Mack se sogenaamde verkeerde sienings die een na die ander afgebreek, en in die plek daarvan word ander oortuigings in hom opgebou.

Uiteindelik verlaat Mack die shack as ’n totaal ander mens.

Fiksie🔗

Dit word op die agterblad van die boek duidelik gestel dat dit wat in die boek aangebied word, fiksie is. Maar onmiddellik ontstaan die vraag of die drie-enige God, wat Hom in alle waarheid in sy Woord aan ons geopenbaar het, voorwerp van fiksie kan word. Fiksie impliseer immers dat ’n denkbeeldige voorstelling van sake gegee word soos dit in die skrywer se gedagtes na vore kom.

Ons glo egter dat die Woord van God, wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, die waarheid is en enige vorm van fiksie oor God se openbaring van Homself in die Woord ’n aantasting van die waarheid beteken.

ln die Heidelbergse Kategismus (HK 46:121) word gesê dat ons “van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie” (vgl. Jes 40:25, 26; Jer 23:23-24; Hand 17:24, 25, 27). Maar met fiksie as produk van menslike denke soos dit in hierdie boek aangebied word, word niks anders as aardse (menslike) denke oor die hemelse majesteit van God aangetref nie.

Hoewel die boek as fiksie voorgehou word, is die gebruik van die name Papa (ook genoem Elousia (95)) en Sarayu skynbaar nie so onskuldig nie. Volgens gegewens op die internet is Papa ’n godin in die Polinesiese godedom. Daar word ook ’n verband gelê tussen Papa en die Black Madonna, wat weer ’n ander naam vir die Egiptiese godin, Isis is. En wat Sarayu betref, is daarop gewys dat die naam verband hou met die Hindoe-mitologie.

God se Openbaring🔗

Dit is opvallend dat Young in Die Shack ’n redelik negatiewe houding teenoor die Bybel openbaar. Nooit word daarna verwys as ’n rigsnoer vir die lewe van die mens nie. In elk geval het die Bybel volgens Young minder waarde as persoonlike ervaring.

Op ’n vraag van Mack hoe hy God se stem kan hoor, antwoord Sarayu: “Jy sal leer om my gedagtes in joune te hoor (215). Verder sê Sarayu aan hom dat hy God kan sien (en leer ken?) in kuns, musiek, stilte, deur mense, in vreugde en smart en op nuwe wyse in die Bybel (218). Hier word die Bybel op dieselfde vlak gestel as sake wat heeltemal sekulêr van aard kan wees.

ln die Skrif is daar baie wette en voorskrifte, veral oor die mens se verhouding tot God en sy medemens. Die vernaamste daarvan is sekerlik die Tien Gebooie, wat saamgevat word in die eis om God bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:35-40; Rom 13:8-10). ln die lig hiervan is dit opvallend dat daar by die drie-eenheid van Die Shack ’n weersin in die onderhouding van gebooie is. Sarayu sê aan Mack: “Die Bybel leer ’n mens nie om reëls na te kom nie. Dis ’n skildery van Jesus” (217). Later sê sy aan hom dat hy nie moet “soek vir reëls en beginsels nie maar altyd na verhoudings” (218).

Op ’n vraag van Mack wat die doel van die Tien Gebooie is, kom Sarayu se antwoord daarop neer dat dit wel ten doel het om die mens sy sondes te laat besef en hom dan uit te dryf na Jesus, maar die gebooie moet beslis nie onderhou word om op dié wyse jou dankbaarheid en liefde teenoor God te openbaar nie (222, 223). Mack vra aan Sarayu: “Probeer jy sê ons hoef geen reëls meer te volg nie?” Sy antwoord: “Ja, in Jesus is julle nie meer onder enige wet nie. Alle dinge is toelaatbaar. Reëls kan nie hand aan hand met vryheid werk nie” (223, 224). ln die oorspronklike Engelse kopie word laasgenoemde sin baie sterker weergegee: “Rules cannot bring freedom” (203). Hier word dus ’n wettelose (antinominiaanse) godsdiens en losbandige lewe bepleit.

Oor God🔗

Die drie-eenheid word in Die Shack as mense voorgestel. Maar in die tweede gebod word so ’n afbeelding van God verbied. ln die verklaring van die tweede gebod word in die Kategismus (35:97) gesê: “God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie.”

ln Romeine 1 dui Paulus aan dat die toorn van God oor die goddelose mense vanuit die hemel geopenbaar word. En dan sê hy van die optrede van die goddelose mense onder andere die volgende: “Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. ln die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.”

’n Ander probleem is dat Young voorgee dat die Vader saam met Jesus aan die kruis gehang en saam met hom gely het. Op verskeie plekke in die boek word daarna verwys dat daar littekens van wonde aan Papa se hande was as aanduiding dat hy ook aan die kruis gehang het (105, 179, 243). Met verwysing na die kruislyde sê Papa van hom en Jesus: “Ons was saam daar” (105). Daarna sê Mack aan Papa dat dit nie waar kan wees nie, want Jesus het dan uitgeroep dat God Hom verlaat het. Papa antwoord daarop: “Jy verstaan nie die geheimenis daar nie. Dit maak nie saak hoe hy gevoel het nie ek het hom nooit verlaat nie” (105). Hierdie siening dat die Vader ook aan die kruis gely het (ook bekend as die patri-passionisme), is ’n dwaling wat aI in die eerste eeue van die Christelike kerk voorgekom het en afgewys is. Dit was net die Seun wat die kruislyde ondergaan het.

Verder is die bewering dat dit vir die Here Jesus slegs gevoel het of God Hom verlaat het, maar dat God Hom nie werklik verlaat het nie, eenvoudig nie waar nie. As Jesus die woorde van Psalm 22 aan die kruis uitroep, het dit nie net vir Hom gevoel of God Hom verlaat het nie, maar dan spreek Hy ’n werklikheid uit: dan het God Hom verlaat. Daardeur het Hy vir ons die genade verwerf dat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

In ’n gesprek met Sophia sê sy oor Papa aan Mack: “Hy het die kruis gekies, waar genade seëvier oor ge­regtigheid as gevolg van liefde” (179). Hier word die indruk geskep dat God se deugde met mekaar in stryd is: dat sy barmhartigheid (genade) in stryd is met sy regverdigheid, en dat sy barmhartigheid die oorhand gekry het oor sy regverdigheid. Maar dit is nie waar nie (vgl. HK 4:11). God is nie innerlik met Homself in stryd nie. Hy is tegelyk volkome regverdig en volkome barm­hartig. En juis in Christus se lyde aan die kruis word dit duidelik geopenbaar.

Toe Moses in die geskiedenis van die brandende doringbos aan God gevra het wat sy Naam is, het Hy daarop geantwoord: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het My na julle toe gestuur” (Eks 3:13, 14). ln aansluiting hierby sê Sarayu van haar, Jesus en Papa as drie-eenheid: “Ek is ’n werkwoord. Ek is wie ek is. Ek sal wees wie ek sal wees. Ek is ’n werkwoord. Ek is lewend, dinamies, altyd aktief en mo­biel. Ek is die werkwoord ‘om te wees’ ” (224). Behalwe vir “ ‘Ek is’, is daar geen werkwoorde nie, en werkwoorde maak die heelal lewend” (225). Die implikasie hiervan is dat God nie ’n Persoon is nie, maar bloot ’n krag. Hier word dus aangesluit by die New Age-beskouing dat God nie ’n Persoon is nie, maar ’n universele krag of energievorm wat alles deurdring en oral teenwoordig is. Dit is in stryd met die Skrif wat leer dat God nie ’n blote werkwoord of krag is nie, maar ’n Persoon en dat die Drie-eenheid drie Persone.

Die Verlossing deur Jesus Christus🔗

Wat ’n mens opval in Die Shack, is dat die naam Christus nie daarin voorkom nie. En Jesus self neem volgens die boek ’n baie negatiewe houding in teenoor die aanduiding van iemand as ’n Christen (199).

Wat Young wel oor die verlossing deur Jesus sê, is soms sodanig dat dit ruimte laat vir onbybelse beskouings. So sê Papa byvoorbeeld aan Mack dat hy nie net die gelowiges met homself versoen het nie, maar die hele wêreld (212). Dit dui op die onbybelse leer van ’n algemene versoening: die redding van alle mense.

Andersyds kom wat Papa sê, daarop neer dat hy sy deel gedoen het om die mens te verlos, en dat dit nou van die mens self afhang om sy deel te doen as hy gered wil word (212). So gesien, verkondig hy die pelagiaanse of remonstrantse leer, wat beteken dat die mens nie deur God uitverkies word om gered te word nie, maar dat sy redding uit en uit in sy eie hande is.

Jesus sê by geleentheid aan Mack: “Die wat my liefhet, kom van elke denkbare sisteem wat bestaan. Boeddhiste, Mormone, Baptiste, Moslems, Demokrate, Republikeine, en baie wat nie eers stem of deel is van Sondagoggende of godsdienstige ordes nie. Ek het geen begeerte om van hulle Christene te maak nie” (199). Dan vra Mack of dit beteken dat alle paaie na Jesus toe lei. Jesus antwoord: “Beslis nie. Die meeste paaie lei nêrens heen nie. Wat dit beteken, is dat ek bereid is om enige pad te loop om jou te vind” (199).

Wat wil Young te kenne gee met hierdie woorde wat hy in Jesus se mond lê? Ondanks Jesus se ontkenning dat alle paaie na hom lei, beteken hierdie woorde tog dat hy van mense uit alle godsdienste en sekulêre groeperings kinders van God (Papa) wil maak, maar sonder dat hulle Christene word. Dit lyk na ’n tipiese New Age-standpunt.

By ’n ander geleentheid het Jesus aan Mack gesê: “Die beste manier waarop enige mens ooit met Papa of Saraya ’n verhouding kan hê, is deur my” (120). Daarteenoor sê Jesus van die Bybel: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Volgens Jesus van Young is hy die beste weg na die Vader, terwyl Jesus van die Bybel sê dat Hy die enigste weg na die Vader is, en dit maak ’n baie groot verskil.

Samevatting🔗

ln die voorgaande het dit duidelik geword dat baie van die sienings wat in die boek voorkom, nie in ooreenstemming is met wat die Bybel leer nie.

Wat egter verontrustend is, is die feit dat daar sekere uitsprake daarin voorkom wat, as hulle uit hulle direkte verband en uit die verband van die boek as geheel losgemaak word, as reg en volgens die Bybel beskou kan word (vgl. sekere uitsprake oor die drie-eenheid (110, 111). Daarom hou die boek so ’n groot gevaar in, want dit kan daartoe aanleiding gee dat ’n mens stellings in die boek, wat in stryd is met die Bybel, ook as korrek kan aanvaar (vgl. Matt 7:15).

In die lig hiervan is dit uiters onverantwoordelik om die lees van Die Shack van die preekstoel af aan te beveel asof alles in die boek suiwer en korrek is.