Bron: Die Kerkblad. 7 bladsye.

Die Skepping

Die skepping is een van die groot werke van God. Wie hom verdiep in wat die Bybel oor die skepping sê, kom onder die indruk van die predi­king dat God die SKEPPER is. Die eerste artikel van die Apostolicum lui: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde.” God word as Vader geken en aangeroep in waaragtige geloof.

God se werke is toeganklik vir die geloof. Die Vader is die Almagtige. Die almag van God word verbind met die skepping van hemel en aarde. Om te skep is die werk van die almagtige God. Juis in die feit dat God die Skepper is, kom sy almag uit. Almag is nie ’n vae begrip nie. Die woord “almag” kry ’n konkrete invulling in die spreke van die Bybel oor die skepping. Die skepping is die werk van die almagtige, onverganklike, onvergelyklike en ewige God. Lees in dié verband Jesaja 40 : 12 - 31. Veral vers 18: “By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?” So ook vers 25, 26 en 28.

God se eie werk🔗

Die hele Skrif getuig, in die Ou en Nuwe Testament, dat God die Skep­per is. Om te skep is nie die werk van mense nie. Om te skep is die eie werk van God. Ons het aan hierdie uitsprake gewoond geraak. Dit het vir ons oppervlakkig geword. Die diepte en rykdom in die spreke van die Bybel oor die skepping dreig om ons te ontgaan.

Van die werkwoord wat die Bybel spesifiek vir “skep” gebruik - Hebreeus: bara; Grieks: ktizoo - is God die onderwerp. Dit se alles van die besondere en die geweldige van God se skeppende werk. Dieselfde geld trouens ook van die herskepping!

Die verandering van die sondaar in ’n nuwe skepsel is eweneens geheel en al God se werk. Vergelyk Efésiërs 2 : 10 – “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Die werkwoord “skep”🔗

Aan die begin van die groot werke van God staan die skepping. Die Bybel begin daarmee: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1 : 1). Wat beteken die werkwoord “skep”? Dit dui op die goddelike making. God is die Maker van alles wat is. Hoe het God die skepping van hemel en aarde en alles wat daarin is, tot stand ge­bring? Op dié vraag sal ons nie die laaste antwoord kan gee nie.

Die “hoe” van die ontstaan van wat God gemaak het, is vir die mens verborge. Die eintlike ontstaan van alles wat is, gaan terug in die onmeetlike krag en wysheid van God. Dit is vir ons verborge in God se verstand, wat ondeurgrondelik is.

Skep deur die Woord🔗

Daar is tog wel iets te sê van die hoe van die skepping. Iets baie belang­riks. Die Skepper het geen materiaal byderhand gehad waaruit Hy die skepping voortgebring het nie. Met ander woorde, niks het die skepping voorafgegaan nie. Daar was geen bestaansvorm gewees waaruit God die bestaan van wat ons nou het, laat ontstaan het nie.

Die Skrif praat van die skepping deur die WOORD. Daarop val die klem. Deur die spreke van God is die hemele en die aarde voortge­bring. In Genesis 1 lees ons telkens: “En God het gesê. Hierdie woorde staan nie maar net daar as ’n inleiding tot die skeppingswerk van God tydens die ses skeppingsdae nie. God skep deur sy Woord. Psalm 33 : 6 sê: “Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” En in vers 9: “want Hy het ge­spreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.” In Romeine 4 : 17 sê Paulus dat God die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.

Moontlik wel dié teks in hierdie verband is Hebreërs 11 : 3 – “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.” Wie hierdie teks in die geloof verstaan, het die geloofsgeheim en ook die geloofswerklikheid van die skepping vir eens en altyd verstaan. Dit is ’n verstáán: “deur die geloof verstaan ons!” Dit is nie die begryp van die wetenskap wat aan objek en materie gebonde is nie. Dit is die verstaan van die geloof.

Die geloof verstaan dat die wêreld deur die Woord van God ontstaan het. Want die geloof is self deur die Woord van God voortgebring. Daar is ’n ooreenkoms tussen die ontstaan van die wêreld en die ontstaan van die geloof in die mens. Beide kom voort uit die Woord van God.

Beide is werke van God. Só verstaan die geloof dat die sigbare dinge nie ontstaan het uit die sig­bare nie. Materie kom nie voort uit materie wanneer ons praat oor die skepping deur die Woord nie. Op grond van onder andere die teks mag ons praat van ’n ‘creatio ex’ dit wil sê: ’n skepping uit niks. Hebreërs 11 : 3 kan gesien word as dié teks wat as verklaringsmodel van die bestaan teen die evolusieleer ingebring kan word.

Daar kan ook nog gewys word op Johannes 1 : 3 “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Deur die Woord het God alles gemaak. Joh. 1 laat verrassend sien dat die Woord ’n Naam het, ’n Persoon is: Jesus Christus, God se eniggebore Seun. Die skepping het nie sonder Jesus Christus tot stand gekom nie, maar dit voer te ver om in dié artikel daarop in te gaan.

Die goeie skepping🔗

Van die skepping word gesê dat dit goed was (Génesis 1 : 10, 12, 18, 21, 25 en vers 31 selfs: “dit was baie goed.” Omdat alles wat God deur sy Woord skeppend tot stand ge­bring het goed was, kon God rus op die sewende dag van al sy werk (Génesis 2 : 2 en 3). Rus is geniet van wat deur die werk voltooi is en tot sy doel gekom het. (Die tema van rus is egter ’n aparte Bybelse tema.)

Alles wat deur God se Woord tot stand kom, is goed. Dit is volmaak. Dit geld van die skepping en van die herskepping. Daarom moet al Gods werke God loof en prys. God se werke prys hul Maker. Psalm 19 : 2 sê “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Psalm 103 : 22 “Loof die Here, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy!”

Psalm 104 moet genoem word. Hierdie ‘skeppingspsalm’ besing die wysheid van die Skepper. Al God se werke blink uit deur wysheid. God is wys en daarom is al sy werke vol wysheid. Hulle is goed. ‘Goed’ beteken: doelmatig, geskik om te funksioneer waartoe dit bestem is. Die skepping sit op so ’n magtige wyse inmekaar! Wie in geloof toekyk, merk oral die wysheid van die Skepper op. God ontvang lof van sy werke. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Alles wat asem het, loof die HERE. Die lofsange uit die boek Openbaring spreek oor God se skepping, bv. Openbaring 4 : 11 “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”

God se wil🔗

Laasgenoemde teks word doelbewus genoem, omdat daaruit blyk dat agter die skepping die WIL van God staan. God het die bestaan gewil, as instrument van sy lof. Die skepping bepaal ons by God se wil. Agter alles wat is staan ’n wil. Ons is gewil. Ons is nie maar net som­mer nie. Ons is nie maar net in die wêreld ingegooi nie. Ons is deur God tot God geskape.

Augustinus het die bekende woor­de gespreek: “U het ons tot U ge­skape, en onrustig is ons hart in ons, totdat dit rus vind in U.” Die geloof vind rus, vreugde en doel in hierdie wil van God. Omdat God ons gewil het, moet ons onsself wil. Die volle, Bybelse selfaanvaarding rus in ons gewil wees deur God. Hierdie selfaanvaarding is noodsaaklik, as daar van ware selfverloëning in liefde sprake wil wees. Hier raak ons egter weer aan ander Bybelse temas.

Daar moet nou ingegaan word op die vraag hoe dit staan met die skep­ping na die ‘sondeval’. Kan ons nog praat van die heelheid van die skep­ping? Moderne vrae kom sterk op ons af. Uiteraard sal daar nie ant­woorde wees op allerlei vrae nie, altans nie ’n finale antwoord nie. Maar daar is vanuit die Bybel stellig een en ander te se wat ons betrou­bare leiding gee en rigting wys by die nadenke oor die moderne vrae van milieu en lydende skepping, en die antwoorde wat op die vrae gegee kan word. Meer hieroor egter in volgende artikels.

Die Skepping (2)🔗

Die skepping na die “sondeval”🔗

Die Skrif beklemtoon dat die skep­ping goed was (Génesis 1). Die goedwees van die skepping beteken nie dat die skepping ooit nie goed was nie. Aan die mens word ’n opdrag gegee. God se seën gaan dié opdrag vooraf. Génesis 1 : 28 – “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeer­der en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” In die lig van God se seën mag en kan die mens sy taak in die skepping ter hand neem. Hy moet dit ook doen. Dit is aan hom opgedra. Arbeid is wesenlike onderdeel van skepselwees.

Deur sy arbeid mag en moet die mens uit die skepping haal wat God daarin gelê het. Dit blyk geweldig baie te wees.

Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê dat God aan elke skepsel sy wese, vorm en gestalte gegee het, en aan elkeen sy eie funksie om sy Skepper te dien. God onderhou ook nou nog alle skepsele en Hy regeer deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien. Alles in die skep­ping is aan die mens gegee. Dit wat geskape is, moet die mens dien, maar die taak van die mens is dat hy, al werkende in en aan die skep­ping, sy God dien. Alles is op God en sy lof gerig, ook die arbeid van die mens. So het God dit bedoel.

Toe kom die sonde in die skepping🔗

Génesis 3 vertel ons hoe die sonde in die wêreld gekom het. Ons gaan nie nou dieper daarop in nie. In elk geval is die lot van die skepping verbonde aan die lot van die mens. Die omge­keerde is ook waar: die lot van die mens is verbonde aan die lot van die skepping. Dit was so nadat die mens teen sy God gesondig het.

Deur sy sonde het die lot van die mens op ’n verskriklike manier verander. Die dood het ingetree in die goeie skepping. Daar klink vloeke uit die mond van God Génesis 3 : 14, 17. Dit is wel opvallend dat die mens nie vervloek word nie. Oor die mens as skepsel word nie ’n vloek uitgespreek nie. Hy word wel onderwerp aan die dood, en dit is al verskriklik genoeg, maar die volle vloek tref hom nie. Die vloek wat die mens sou moet tref as straf op sy sonde, kom in die volheid van die tyd neer op Christus. Daarom kan Paulus in 1 Kórinthiërs 16 : 22 skryf: “As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ’n vervloeking wees! Maranáta!”

Omdat die lot van die mens deur die sonde anders geword het as voordat die mens gesondig het, het die lot van die skepping ook verander­. Ons het gesien dat die skepping bedoel is om die mens te dien. Dit het ook so gebly, selfs na die sonde van die mens. Maar vanweë die sonde van die mens word die vloek wel oor die aarde uitgespreek (Génesis 3 : 17). Met moeite moet die mens nou van die aarde eet solank hy leef, en dit sal vir hom dorings en distels voortbring, en die mens sal die plante van die veld eet. In die sweet van sy aangesig sal die mens sy brood eet en laastens sal hy na die aarde terugkeer, omdat hy daaruit geneem is.

Maar beteken dit nou dat die goeie skepping opgehou het om te be­staan? Die skepping was goed, maar is dit nou nog goed? Ons sou kon sê dat die skepping op sigself nog steeds goed is. Die sonde sit immers nie in die skepping en in die materie as sodanig nie. Die mens het gesondig, en dit het ellendige gevolge vir die skepping, maar dit wil nie sê dat die skepping en al sy gawes nou sleg geword het nie. Lees maar wat skryf Paulus in 1 Timótheüs  4 : 4 – “Want alles wat deur God ge­skape is, is goed, en niks is verwerp­lik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die Woord van God en die gebed.”

Uit hierdie teks blyk tussen hakies dat die erkenning van die goeie skepping ’n geloofserkenning is. Die gawes van die Skepper dien die mens en eer die Skepper as dit met danksegging ontvang word. Dit het heiliging nodig, deur die Woord van God en deur gebed.

Daar is ’n voortgaande, genadige bemoeienis van God met die skep­ping, waardeur Hy die verwoesten­de werking van die sonde tot so ’n mate stuit, dat ook van ons wêreld nog gesê kan word dat dit God se goeie skepping is. Die wêreld het nog nie die hel geword nie, al is die mens dikwels besig om die wêreld tot ’n hel te maak, omdat hy dank­segging nie ken nie, en verval in hebsug, heerssug en hoogmoed.

Die sonde is ’n verskriklike werk­likheid en mag in die wêreld. Maar die skepping is nog steeds skepping. Kennis van die skepping is 'n geloofsaak; kennis van die goeie skepping is eweneens ’n geloofsaak.

God se verbond met Noag🔗

Dit is opvallend dat die opdrag wat God aan die mens gegee het in Génesis 1 dus voordat die sonde in die skepping gekom het aan Noag herhaal word die sondvloed. In Génesis 9 : 1 lees ons dat God Noag en sy seuns seën en aan hulle sê:

“Wees vrugbaar en vermenigvuldig en vul die aarde.” God se seën gaan opnuut aan dié opdrag vooraf. Deur die seën van God is vervulling van die opdrag moontlik. In die gelowige besigwees met die opdrag sal God se seën ervaar word.

God sluit met die oog op die ver­vulling van hierdie opdrag ’n ver­bond met Noag (Génesis 9 : 8 - 17) . Dit is ’n verbond met Noag en sy nage­slag, en met die lewende wesens wat saam met Noag is: die voëls, die vee en die wilde gediertes van die aarde. God ontferm Hom oor sy ganse skepping na die sondvloed. Met nadruk word alle diere in die ver­bond opgeneem. Niks wat leef sal voortaan meer deur die waters van die sondvloed uitgeroei word nie, en daar sal geen sondvloed meer wees om die aarde te verderwe nie. God toorn teen die sonde, maar gedenk in ontferming alle geskapenes.

Tot teken van die verbond stel God die boog in die wolke. Die reënboog is die teken van die ver­bond tussen God en die aarde. Tel­kens wanneer die boog in die wolke verskyn, sal God sy verbond ge­denk. Génesis 9 : 16 “As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aan­sien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.”

God gee sy skepping nie prys nie. God beskerm sy skepping. In dié lig gesien, klem te meer die omgang van die mens met die skepping.

Die skepping (3)🔗

Lees: Rom. 8 : 19 - 22🔗

Die skepping na die sonde van die mens bly dus ten volle skepping. Selfs goeie skepping. Maar die lot van die skepping is deur die sonde van die mens wel drasties verander. Die oordeel van God oor die sonde van die mens werk deur in die skep­ping. Paulus skryf daaroor in Romeine 8 : 19 - 22. In Romeine 8 : 22 sê die apos­tel dat ons weet dat die ganse skep­ping tesame sug en in barensnood is tot nou toe.

Die lot van die skepping is ver­bonde aan dié van die mens. Omdat die mens gesondig het, is die skep­ping aan die vrugteloosheid onder­worpe. Die skepping kan nie meer tot sy doel en bestemming kom nie. Hierin is die oordeel van God te sien oor die skuld van die mens. Die vloek oor die aardbodem uit Génesis 3 : 17 staan hier op die agtergrond. Die skepping is immers nie vrywil­lig aan die vrugteloosheid onder­worpe nie. God het dit daaraan onderwerp. Dit hou in dat die skep­ping diensbaar is aan die ver­ganklikheid, en dit is ’n uitsiglose diensbaarheid.

Daar is hoop🔗

Onder skepping verstaan ons hier alles wat geskape is, met die uit­sondering van die mens. Die skep­ping word deur Paulus as ’n soort persoon voorgestel. Dit kom wel gereeld voor in die Ou Testament (volgens byvoorbeeld Psalm 98 : 6; Jesaja 55 : 12; Eségiël 31 : 15). Vrugteloos­heid en verganklikheid werk in die skepping. Die dood is ’n werklike mag. Sondige, antigoddelike magte en kragte werk nog in die skepping, al troon Jesus Christus ook bo hulle uit! Die skepping kan nie losgemaak word van die allesomvattende heerskappy van Christus nie.

Maar net soos God se kinders op hierdie aarde nog nie ten volle ver­los is nie, so is die skepping ook nog in barensnood. Die goeie skepping is ter wille van die sonde die sugtende skepping. Maar daar is hoop. Die hoop in en deur Christus. Met reik­halsende verlange wag die skepping op die openbaar-wording van die versoening van God. Wanneer God se kinders, die deur Christus ver­loste nuwe mensdom, sal deel in die volle, ewige, ongesteurde heil van God, wanneer die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God sal aanbreek, dan sal ook die skep­ping bevry wees: bevry van die diensbaarheid aan die verganklik­heid. Alle doodswerking sal daaruit weg wees. Alle vorme van vrugte­loosheid en verganklikheid sal dan weggeneem wees. Na die toekoms van die kinders van God, wat dus ook die toekoms sal wees van die tot nog toe sugtende skepping, sien die skepping met reikhalsende verlange uit.

Alles word nuut🔗

By ’n vernude mensdom hoort ’n vernude skepping. Die verlossing van God se kinders hou ook in die bevryding van die skepping. Alle sonde en alles wat met die sonde te make het, het dan vir goed verdwyn. Die sonde en die gevolge van die sonde word uit die skepping wegge­doen en daar sal ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wees, waarop gereg­tigheid sal woon (2 Petrus 3 : 13). Dan sal daar die volle heerlikheid wees, die volle glorie, die volle krag, waarin sowel die nuwe, deur Christus verloste mensdom, as die bevryde skepping sal deel. Dan het alles nuut geword.

Die mens word dus nooit uit die skepping verlos nie. Hy word met die skepping verlos, of nog beter: die skepping word met die versoe­ning van God verlos. Die einde sal meer wees as die begin. Die volheid, wat daar aan die begin nog nie was nie, ondanks die feit dat die skep­ping goed was, sal daar straks wel wees. Die ewige einde sal die ganse verloste en verheerlikte skeppings­werklikheid wees. Dit sal vol wees van God en van die totale vrug van die werk van Christus, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem.

Heelheid van die skepping🔗

Dit is dus beter om nie te praat van ’n gevalle skepping nie. Die mens is gevalle, moedswillig, en in die oor­deel oor sy sonde en skuld is die skepping daarby betrek. Die skep­ping is geboë onder die vrugteloos­heid en die verganklikheid. Vanuit die Bybelse spreke oor die skepping na die sonde van die mens kan ons eintlik ook nie praat van die ‘heel­heid van die skepping’ nie. Dit gaan te veel verby aan wat ons in Génesis 3 vertel word, en wat Paulus sê in Romeine  8 : 19 - 22. In sy besig-wees met die skepping sal die mens tel­kens allerlei moeite en versoekings ervaar. Tegelyk gee die gestalte van die ‘ou’ skepping aan die mens die tyd wat hy kan en moet gebruik. Die opdrag tot arbeid in en aan die skep­ping is ons opgelê! Van ons besig-wees sal ons verantwoording moet doen aan God! Dit is ’n ernstige gedagte, maar voluit Bybels.

In ’n volgende artikel DV sal ons nog nader ingaan op die mens en sy besig-wees in die skepping. Vrae rondom tegniek en menslike kennis, milieu en natuur, sal ons besig hou. Want dat die situasie van die skep­ping nou deur die toedoen van die mens uiters ernstig is, staan vas.