Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Die Skepping

As ons op ‘n Bybelstudie-aand praat oor Genesis 1, waaroor praat ons gewoonlik? Wat neem gewoonlik die meeste tyd in beslag? Ek noem ‘n paar vrae wat gereeld gestel word: Gaan dit dalk oor die lengte van die skeppingsdae in kombinasie met die onlogiese volgorde van die eerste ten opsigte van die vierde dag? Of oor hoe dit moontlik is dat God al op die derde dag plante geskep het? (Hulle is mos afhanklik van die son wat eers op die vierde dag geskape is?) Of gaan dit moontlik oor die vraag hoe ‘n leeu voor die sondeval homself moes voed? (na sy aard is dit mos ‘n vleiseter; terselfdertyd voel ons dat tv-beelde van so ’n roofdier wat ‘n sebra bespring, nie baie paradyslik is nie). Of miskien wonder u oor die vraag waar die paradys geleë was. Of as laaste voorbeeld: word daar baie tyd spandeer aan die kwessie of die hemel en die aarde op of voor die eerste dag geskape is?

Om die regte vrae te stel🔗

Hierdie en soortgelyke vrae is op ‘n manier natuurlik interessant en dit is ook nie verkeerd om ‘n slag daaroor na te dink nie. Vir sommige mense is dit vanweë hul studie of beroep selfs amper ‘n moet. En tog wil ek sommer aan die begin van hierdie artikel ook hierteen waarsku. Jy kan naamlik sommer gou verlore raak in spekulasies en/of eksegetiese besonderhede waaroor Skrifgetroue teoloë al soms jare en jare van mening verskil.

Die gevaar is nie denkbeeldig nie dat op ‘n Bybelstudie-aand enkele van daardie besonderhede so opgeblaas word, dat die verhoudings verlore raak. Hiermee bedoel ek dat ons alles van iemand se geloof wil sê na aanleiding van die antwoord op die vraag: hoe lank was die dae in Genesis 1? Ek sal later nog weer hierop terugkom.

Die tweede risiko is dat jy nie by die ware inhoud van Genesis 1 op so ’n Bybelstudie-aand uitkom nie. Dit sou baie jammer wees, want die eerste hoofstukke van die Bybel is sekerlik van groot funderende betekenis van ons geloof. Wat leer ek daar van my/ons God? Wat doen ek byvoorbeeld met die gegewe dat God geskep het? Watter verband is daar tussen die skepping en die belydenis van God se voorsienigheid? Wat sê dit vir ons dat God alles op so ’n fraai en geordende wyse in ses dae geskep het? Wat beteken dit dat my Skepper op die sewende dag gerus en juis daardie dag geseën het? Wat kan ek daaruit leer oor die mens? (Let op die verwoording van die skepping van die eerste twee mense.) Waarom is dit belangrik om te weet dat ons almal van Adam en Eva afstam? Het die mens nou nog iets van die beeld van God? Het die huidige wêreld nou nog iets van die paradys? Kyk bietjie hoe die apostels in die Nuwe Testament teruggryp na die eerste bladsy van die Bybel. Ek noem as voorbeelde Romeine 5 en Hebreërs 4.

Hierdie soort vrae is baie belangriker. Genesis 1 is nie in die eerste plek bedoel om ons te laat nadink oor die vrae waarmee ek begin het nie. Die laaste aandagspunte moet in elk geval (en liefs uitvoerig) aan die orde kom. Ek hoop dat dit op ‘n Bybelstudie-aand duidelik word hoe onlosmaaklik die skepping met allerhande ander dele van ons geloof verweef is. Ek hoop dat u daardeur geraak word en onder die indruk raak van die geheelbeeld.

Geskiedenis?🔗

Genesis 1 gee ons geskiedenis. God het op sy tyd baie doelbewus en daadwerklik hierdie wêreld uit niks geskep.  En dit was goed, baie goed. Dit was God se inisiatief, dit was God se almag.

Dit sal u egter nie ontgaan het nie, dat talle mense nie glo dat Genesis 1 die regte gang van sake beskryf nie. Baie van hulle is Christene. Raak mens met hulle aan die praat, blyk dikwels dat dit vir hulle ook maar ‘n onbelangrike saak is, of Genesis geskiedenis is of nie. Niemand was immers daar nie en wat maak dit saak, die wêreld word mos nie anders daarvan nie?

Miskien sal hulle u selfs effens bejammer, want u het in hulle oë ‘n naïewe agterhaalde wondergeloof, iets uit die vorige eeue. Die wetenskap dwing immers tog tot ‘n ander siening oor die ontstaan van die aarde, dan nie?

Hulle sal origens nie Genesis 1 uit hulle Bybel uitskeur nie, maar vind dit op hulle manier mooi: dit is digkuns (met onder andere sewe strofes en allerhande refreinsinne). Dit is ‘n mooi getuienis van die Israeliete in die ballingskap. Ontroerend as ‘n volk so ’n prentjie teken van sy God. Daarby gaan hulle daarvan uit dat die Jode vir hulle verhaal, van ‘n indrukwekkende en baie ouer Babiloniese skeppings- en sondvloedverhaal gebruik gemaak het, die sg. Gilgamesj-epos.

Geskiedenis!🔗

As jy hierdie en ander teenwerpings ernstig op jou laat inwerk dan is dit goed om jouself die vraag af te vra: hoekom ons sê dat Genesis 1 geskiedenis is. Waarom hou ons daarmee vol? Watter argumente voer ons eintlik aan?

Jy moet die Bybel ernstig opneem: nie alles in die Bybel het in letterlike sin werklik gebeur nie. Daar is bv gelykenisse: verhale wat wel (regtig) vertel is, maar nie noodwendig (regtig) plaasgevind het nie. En visioene en drome oor die toekoms vra om uitleg en verduideliking. Die skeppingsverhaal word egter as geskiedenis aangebied! Genesis vertel dit gewoonweg self: daar word op gegewe tye deur God gespreek en sekere dinge vind plaas.

Aan die begin van die sg. tweede skeppingsverhaal (waar as ‘t ware op die skepping van die mens gefokus word) staan daar boonop met soveel woorde: ‘Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe sy geskape is’ (Genesis 2:4). GESKIEDENIS is die woord wat gebruik word, in die Hebreeus Toledoth. Steeds as daardie woord gebruik word gaan dit oor betekenisvolle dinge wat regtig plaasgevind het.

Buitendien word daar in die hele Bybel oor die geskape wêreld gepraat. Die Bybel lê homself uit. Die Psalms soos 19 en 104 besing die skepping as God se werk. Ons kan ook dink aan die wet (vierde gebod) en let byvoorbeeld ook op wat Johannes in Johannes 1 en 1 Johannes 1 vertel.

En laaste maar nie die minste nie, die Bybel is nie sommer enige boek nie. Dit is die Woord van God, en as Hy sê dit het so gebeur dan is dit so. Ek glo Hom op sy Woord. Daar is ook nog baie ander ‘ongelooflike’ dinge wat in die Bybel opgeskryf is!

Geloof🔗

Deur te glo in Genesis 1, beteken dat jy seker is dat die wêreld metterdaad deur Goddelike spreke ontstaan het en nie deur spontane evolusie nie.

Dit beteken ook dat jy die reikwydte van Genesis 1 nie kan beperk tot die spesifieke terrein van geloof en kerk nie. Dit beteken in ons tyd byvoorbeeld dat ‘n Christen-wetenskaplike wat nadink oor die ontstaan van die aarde, homself een of ander tyd sal moet konfronteer met wat die Bybel hieroor te sê het.

Die geloof dat die wêreld deur God geskape is, het trouens nie eers omstrede geraak toe Darwin die evolusie-teorie ontwikkel het nie. Die kerk het dit al in die twaalf artikels en in die geloofsbelydenis van Nicea bely. Dit beteken dat daar ook vele eeue gelede al om verskillende redes teen hierdie waarheid geskop is. U sal hieroor kan lees in ’n groot verskeidenheid boeke, ondermeer wat artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verklaar.

Wat staan wel daar en wat staan nie daar nie?🔗

Ek het hierdie artikel begin met vrae waarvoor ons volgens my bietjie moet oppas. Ek wil ook daarmee afsluit. Nie deur al die vrae te beantwoord nie, want dit kan nie in een artikel gedoen word nie. Maar wel om u in elk geval èèn belangrike wenk te gee. As u oor hierdie onderwerp deur verskillende Skrifgetroue skrywers lees, sal u dalk oplet dat daar met name by die Skrifuitleg hier en daar verskille is.  Dit is moontlik terwyl al die skrywers van harte aan die Skrif wil vashou. As u die verskillende konklusies langs mekaar sit moet u let op die argumentasie. Laat dit goed tot u deurdring. Ontleen ‘n skrywer sy argumente vir die uitleg van die Bybel hoofsaaklik aan die natuurwetenskap, of word die Bybelteks self deur ‘n ervare fynproewer ontleed? Vergelyk hy Skrif met Skrif of word die uitleg deur menslike logika bepaal en dus met frases deurspek soos: ‘dit kan mos nie anders nie…. Uiteraard is dit so, ... Natuurlik moet dit ...’

Wees ook bedag op te maklike ferm konklusies, waarby ingekleur word wat die Bybel self oop los. Dit het vroeër gebeur toe daar stellig met die Bybel in die hand ontken is dat die aarde ‘n bol sou kon wees. Dit het ook gebeur deur (te maklike) berekenings wat daartoe gelei het dat die aarde presies 5946 jaar oud is, of die bewering dat beendere van dinosourusse deur die Here in die aardlae ingeskape sou wees om mense te beproef. Wees versigtig! Die Bybel het sy eie inslag: hy beskryf die heilsgeskiedenis. Dit is Godsopenbaring, en met die oog daarop is die feite geselekteer en omskryf. Dit was nie ‘n twintigste-eeuse geoloog wat besig was om te skryf in sy eie vaktaal en met sekere tipiese Westerse vrae in sy agterkop nie! As ons dit genoegsaam besef nie, kan ons Genesis 1 sommer maklik oorvra en te veel antwoorde daarvan verwag.

Aan die ander kant bestaan die gevaar ook dat ons so glad redeneer dat dit wat daar staan soos warm botter uit ons hande gly. Ook daarvan is daar baie voorbeelde: hoeveel wonders in die Ou Testament is nie in verklaarbare natuurverskynsels opgelos waarvoor amper nog ‘n God nodig is nie? Hoe knap word die uniekheid van Jesus se rondwandeling op aarde nie deur vele verkleineer en gering geag nie?

Sommiges slaag byvoorbeeld daarin om die skeppingsdae as ses logies opeenvolgende periodes in ‘n min of meer evolusionêre proses van vele miljoene jare te sien, waarby ‘n skeppende God (wat spreek en dit is daar) nie of nouliks meer aktief is nie.

Dit lyk vir my na ‘n poging om skeppingsgeloof en evolusieteorie aan mekaar te gom, terwyl hulle mekaar fundamenteel uitsluit. Ons moet lees wat daar staan. Geloof bly iets wat nie van nature in die mens se aard lê nie.