Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Die Skrif is Meer as Menslike Teologieë

Die Here Jesus het sy dissipels gevra: Wie sê die mense is Ek?; en Wie sê julle is Ek? Hierby kan gevra word: Wat sê julle van die Skrif? 'n Bepaalde beskouing oor die Skrif oefen invloed uit op die vertolking en gebruik van die Skrif. In die huidige spanningstyd is dit baie belangrik. So was daar 'n rukkie terug 'n uitsaaidiens oor die radio. Behartigenswaardige dinge is verkondig. Maar die prediker het ook gesê dat die Skrif menslike teologieë oor God se wil openbaar — en nie God se wil self nie. Hy het van 'n Sionsteologie of 'n valse vertroue op Jerusalem en van valse profete gepraat. Maar die prediker het nêrens aangedui dat die Bybel hom positief oor so 'n moontlikheid uitlaat nie.

Gee Miga net Teologie?🔗

Die preek was uit Miga 4 en dit is gesê dat die Here ons deur Miga iets voorhou. Dit beteken dat die gesag van die boodskap daarvandaan kom dat mense na die Woord van die Here moet luister. Maar die luisteraar kon tereg vra: "Is Miga se verkondiging nie ook 'n menslike teologie, en dus skeefgetrek deur die letsels van sy omstandighede, sodat ons dit eintlik moet teenstaan nie?" Die "teologieë-benadering" van die Skrif ontneem dus die Skrif sy krag om onder alle omstandighede, vir alle mense en groepe, die absolute maatstaf te wees. Alleen wanneer die Skrif ons maatstaf is, is daar 'n vaste basis waarvolgens ons 'n aanspraak op mekaar het. Dan moet ons buig voor God se Woord en nie voor mense se menings (of teologieë) nie.

Die beskouing dat die Bybel teologieë bevat, kom in ons tyd dikwels voor. Daarom moet ons die implikasies daarvan duidelik besef.

Natuurlik was daar onder Israel allerlei wanopvattings (soos valse vertroue en valse profete – nasionalistiese teologieë). Maar ek beweer dat wat ons van die Bybelskrywers self in die Bybel het, nie sulke opvattings as waarheid verkondig nie. Trouens, die Bybel stel wanopvattings aan die kaak. Daarom kan jy jou op die Bybel verlaat as betroubare maatstaf vir jou lewe – omdat dit nie bloot skeefgetrokke menslike teologieë sonder korreksies bevat nie.

Verder beweer ek nie dat God sy openbaring tydloos gegee het nie. Dit was God se openbaring, nie maar menslike teologieë nie, vir daardie omstandighede. Ons moet dit vir ons omstandighede toepas.

Verkeerde Vertrekpunt en Afleiding🔗

Die verkeerde benadering (hierbo afgewys) het 'n verkeerde uitgangspunt. Die saak word sosiologies besien en nie teologies nie. Daardie mense beskou die omstandighede as deurslaggewend en nie die Woord nie. Hulle redeneer dat daar verskillende verklarings van die Bybel moontlik is: elke groep verklaar die Bybel uit sy teologiese, kerklike, maatskaplike of politieke hoek. Omstandighede is dus bepalend en word nie in die lig van die Woord benader nie, maar ongeag van en teenoor die Woord. Daarom kom die verklarings nie by mekaar uit nie — en is daar baie kerke en politieke strominge, terwyl elkeen oortuig is dat net hy reg is.

Dit is inderdaad so dat hierdie verskille onder mense voorkom. Maar met die Bybel is dit anders gestel – want die Bybel self bied die Bybelskrywers se benadering as Goddelike openbaring aan. Daarom moet die aangeduide beskouing en gevolgtrekkings afgewys word. Kyk net waartoe lei hulle standpunt. As Bybelskrywers elkeen uit eie hoek skryf en daar botsende beskouings is, het elkeen vandag ook reg op sy eie benadering, volgens sy omstandighede. Dan het verskillende Gereformeerdes reg op hulle onderskeie, onderling-botsende opvattings. Ook het politieke groepe, volke en rasse reg op eie opvattings – soos Bybelskrywers met hulle teologieë. Daarmee kry Wit- en Swart-Teologie elk ook 'n eie bestaansreg (waarteen die genoemde prediker hom wel uitgespreek het). Nee, daardie benadering (wat ek afwys) maak die waarheid betreklik of los; dit bied geen werklike basis vir teologiese of kerklike eenheid nie.

Onbevange na die Skrif Self Toe🔗

Hoe moet ons dan reg redeneer?

Die rede vir verskeurdheid lê nie by die Bybel of sy skrywers nie maar by die lesers. Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat. Dan neig ons om hierdie gesindheid goed te praat en om ons eie tradisie en omstandighede te verabsoluteer.

Dit word ons maatstaf, nie die Skrif nie!

Mense loop maklik met oogklappe rond. Hulle sien net een stukkie van die werklikheid of van die Woord raak. Vir die res net 'n mens 'n blinde kol. Dink maar aan Israel in hulle sondes en hoe die profete hulle ernstig moes aanspreek. Ook Jesus Christus moes die volk en geestelike voormanne, selfs sy eie dissipels, hieroor vermaan. Tog het die Jode Hom gekruisig – en gereken hulle dien God so.

Die stryd tussen kerke en die ernstige verskil tussen kerke oor volkereverhoudinge is 'n aanklag teen ons. Daarom moet elkeen hom aan die Skrif toets. Ons moet ons afvra: Laat ons ons eie omstandighede en tradisie die deurslag gee of speel die Skrif die hoofrol? Die wekroep moet dus wees: Onbevange na die Skrif!

Omkeer na God!🔗

Om so na die Woord te kan luister vereis dat mense van verskillende volke ook saam na die Skrif kyk. Dan is die gevaar minder om die Skrif net uit een bepaalde, subjektiewe hoek te bekyk en hom te verklaar soos ek dit graag wil verklaar om my eie standpunte en belange te dien. Die Gereformeerde kerklike verhoudinge, wat oor volksgrense heen strek, bied die ruimte vir wedersydse insette en toetsing, sodat ons onsself en mekaar kan opskerp om eerlik na die Woord self te luister. Ons kan as gelowiges vir mekaar so tot oë en ore wees en ons gawes tot nut en saligheid van mekaar aanwend, gewillig en met vreugde (soos die Kategismus sê).

Skrifgesag ook aan Ons Optrede Beoordeel🔗

Die Skrifbeskouing (wat ek hierbo genoem het) gee by implikasie aan die Bybel die skuld vir die verskille en stryd tussen kerke en volke. Hierdie benadering moet teengegaan word, want ons mag nie toelaat dat die Skrif self in gedrang kom as vir veranderinge gepleit word nie. Verder word ons voor die ernstige vraag gestel of ons nie self ook skuldig is nie. 'n Mens kan dit prakties in die hand werk dat die Skrif se gesag betwyfel word deurdat jy wel jou eie omstandighede so hoog aanslaan dat dit jou verklaring van die Skrif beslissend beïnvloed.

Nie bloot jou teoretiese beskouing of belydenis oor die Skrif is belangrik nie, maar ook en veral die praktiese gebruik van die Skrif en die uitlewing van sy eis. Daarvolgens beoordeel ander mense Gereformeerdes en die Gereformeerde Kerke en ook die Bybel waarop ons ons beroep. Dit plaas ons dus voor 'n groot verantwoordelikheid en stel ons tegelykertyd voor die eis wat deur die hervorming beklemtoon is: Die kerk moet altyd bly hervorm. Die Skrif is die enigste ware en blywende maatstaf van ons lewe en denke.