Bron: Kerk en Woord, 1998. 3 bladsye.

Die Sleutels van die Koninkryk

 (Matteus 16:13-23 (19), Jesaja 22:22 / Openbaring 3:9)🔗

Jesus is by ons bekend vir sy gebedslewe. Nie alleen sy lewe op aarde nie, maar selfs ook nou, as ons enigste Hoëpriester aan die regterkant van die Vadertroon. Oor die inhoud van sy gebed het Hy vir ons 'n kykie gegee met sy gebed wat in Johannes 17 opgeteken is Sy gebed gaan beslis nie tot voordeel van alle mense nie, maar slegs vir die wat die

Vader aan Hom gegee het. Gevolglik lees ons uit sy gebedslewe van sy diepe be­sorgdheid oor sy kerk. Hy bid dat sy Vader in sy Naam almal sal bewaar wat Hy aan sy Seun gegee het. Daarna bid Hy in vers 17 dat die Vader sy kerk sal heilig in sy Waarheid; sy Woord is die waarheid. Ons moet hoor dat dit vir God 'n belangrike saak is om sy kerk in reinheid al hoe meer en al hoe nader aan Hom, en al hoe meer gelykvormig aan sy Seun te vernuwe en af te sonder.

Daarom het Paulus in Efesiërs 5 die beeld van die huwelik gebruik om uit te druk hoedat Christus die kerk as sy bruid vir Homself wil reinig en heilig sodat sy geen vlek of rimpel meer sal hê nie.

Hierdie suiwering is dan die besondere gedagte met ons teksvers waar Jesus aan Petrus stel dat Hy die sleutels van die ko­ninkryk van die hemele aan hom sal gee. In hierdie paragraaf verduidelik Jesus eerstens hoedat Hy sy kerk gaan bou, naamlik op die rotsgedagte dat mense die openbaring van die Vader ontvang, en herken en bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Die onwan­kelbare eienskappe van sy kerk wat Hy so op hierdie rots gaan bou, is so uitnemend dat selfs die poorte van die hel nie in staat is om dit te verswelg nie.

Daarna betrek Hy vir Petrus as die segs­man van die dissipels regstreeks in hierdie gemeentebouplan. Die sleutels wat toegang tot Jesus se gemeente wat Hy gebou het gaan verleen, sal Hy vir Petrus en sy dissi­pels en sy ampsdraers en sy kerk van die eeue wat kom oorhandig. Op hierdie ma­nier sal Hy die Eintlike Suiweraar wees. Jesaja het Hom reeds so benoem (Jesaja 22:22) as die Een wat die sleutel van die huis van Dawid dra, wat sluit, en niemand maak oop nie, en wat oopmaak en niemand sluit nie. 'n Regstreekse aanhaling hiervan is die Christus-bekendstelling aan die ge­meente van Filadelfia (Openbaring 3:7).

Terwyl Hy die Eintlike Toegangsbeheer is: die Weg en die waarheid en die Lewe; die Deur wat toegang tot die skaapkraal verleen, is Hy op hierdie wyse besig om sy kerk te reinig en te suiwer. Hierdie sui­weringswerk wat Hy in sy Kerk aanrig, betrek twee temas. Dit betrek die tema van die sonde. Dit betrek ook die tema van onbekeerlike sondaars. Hy haat die Sonde en wil sy kerk, sy uitverkorenes, daarvan reinig.

Daarom moet Jakob eers bely dat sy naam Jakob – bedrieër – is sodat hy die geseënde naam Israel kan ontvang. Hy het swaar en menigmaal gesondig, maar hy moet deur sondevergiffenis, deur berou en bekering en heiligmaking daarvan ont­slae raak.

So ook sy dissipel, Simon Petrus. Hy moet drie maal belydenis doen en deur Jesus heraangestel word. Hy wil die verlore deur versoening weer terug ont­vang en gebruik in sy rotskerk. Berou en bekering en heiligmaking. So wil Hy sy kerk gedurigdeur suiwer en heilig.

Maar sy heiligingswerk betrek ook die onbekeerlike sondaars. Saam met Jakob, was Esau, die onbekeerlike wat sy eers­geborereg (die verbondsbelofte) vir 'n pot lensiesop verkoop het en nooit weer terug­gekom het nie. Sy berou was nie bekeerlik nie. Hy word uit die verbondsgemeenskap uitgesluit. Hy is vir ewig verlore.

Saam met Petrus was daar ook Judas, die onbekeerlike, wat sy ewige en hemelse erfenis, en sy Messias vir 'n paar silwer muntstukke verkoop het. Net soos Esau het hy nooit weer teruggekom in die ver­bondskring nie. Sy berou was nie bekeerlik nie maar selfvernietigend. Hy het self­moord gepleeg. Hy word uitgesluit uit die verbondsgemeenskap uit. Hy is ewig ver­lore. So reinig en heilig Christus sy kerk. Nie alleen die sondes nie, maar ook die onbekeerlike sondaars.

Dit is die werk wat die sleutels van die koninkryk moet doen; toegangsbeheer. Die sondes moet uitgesluit word, afgelê word. Ook die onbekeerlike sondaars moet uitgesluit word. Daar bestaan dus nie so 'n ding soos buitekerklike Christenskap nie. Dis 'n denkbeeld wat nêrens in die Bybel te vinde is nie. Daarom klink ons belydenis ook: Dat buite die kerk van die Here Jesus geen saligheid te vinde is nie.

Ons teksvers leer nou dat Jesus diens­knegte gebruik in sy suiweringswerk. Jesus gee die sleutels van die hemelse koninkryk aan Petrus (Matteus 16:19), maar ook aan al die dissipels (Matteus 18:18, Johannes 20:23). Verder ook aan die ouderlinge (Handelinge 20:28), maar ook aan die hele gemeente (Matteus 18, Kolossense 3:16, Hebreërs 10:24, Judas 1:20-23).

In die korrekte hantering van die sleutels sal die sleuteldraers altyd terdeë in ag neem van Wie af hulle dit ontvang het, in Wie se Naam hulle dit moet hanteer, en tot Wie se eer!

Daar is natuurlik twee uiterste verkeerde maniere. Die een is waar die ampsdraers in hulle eie naam mense uit die kerk uitdrywe: Byvoorbeeld die blindgebore bedelaar wat Jesus by die tempel genees het, en die tempelowerhede wat hom uit die tempel geban het omdat hy Jesus as sy Geneesheer bely het.

So is Luther ook deur die Pous uit die Roomse kerk geban omdat hy bely het dat sondevergiffenis nie deur goeie werke nie, maar slegs uit genade deur Christus verkry kan word. Dis die verkeerde manier om die sleutels van die koninkryk te hanteer.

Maar ewe verkeerd is dit wanneer die lidmaat die sleutelreg in eie hande neem… Soos toe koning Saul die profete-amp ge­minag het, en uit ongeduld self die offer gebring het voordat hulle met die oorlog begin. Of soos Miriam en Aäron die be­middelaarsamp van Moses geminag het deur te beweer dat hulle ook in die Naam van die Here kan spreek. Saul is sy ko­ningskap kwyt, en Miriam is met melaats­heid getref.

Die een uiterste is dus wanneer die Pous op eie gesag die lidmaat uit die kerk ban, en die ander uiterste is wanneer die lid­maat die profeet uit die huis uitjaag. Die korrekte manier is dat die sleuteldraers hulle sleutelmag volgens die wil en oordeel van God uitoefen. Moses het die sleutelmag op Farao toegepas, maar nooit sonder die Woord, die bevele van God nie. Die profeet Elia moes die sleutelmag toe­pas op koning Agab, maar nooit sonder die openbaring van die Here nie. Paulus moes die sleutelmag toepas op die growwe ontugtiges van Korinthe, maar nooit son­der die uitdruklike inspraak van die Hei­lige Gees nie.

Paulus het die sleutelmag hanteer met sy preek op die Areópagus. Die Opstan­ding van Christus was die tweesnydende draaipunt waarna sommige hom uitgelag het vir 'n praatjiesmaker, en ander weer kragtig tot bekering en geloof in Jesus gekom het. Petrus het in presiese uitvoe­ring van Jesus se opdrag die sleutelmag hanteer op Pinksterdag toe hy uit Joël gepreek het, en uit die draaiwerk van die sleutel het 3 000 mense tot bekering ge­kom.

In Handelinge 8 het Paulus die sleutel-mag op Simon die towenaar toegepas om­dat hy die gawe van die Heilige Gees met geld van die Apostels wou koop. Paulus het hom met sy geld en al na die verderf gestuur. Die sleutel het in Simon se gewete gedraai, hy het berou en bekering getoon en is weer terug ontvang in die gemeen­skap van die gelowiges. Dis die twee sleu­tels: die verkondiging van die Evangelie en die kerklike tug.

Maar so gedoen is die hantering van die sleutelmag dus geen geringe saak nie. Jesus het die ware krag van die sleutelmag helder uitgespel toe Hy dit aan Petrus toevertrou het. Die effek daarvan is so radikaal dat die aardse beslissings hemelse bindkrag het.

Gehoorsaamheid aan die opdrag van Christus sluit die hemelryk oop. Onge­hoorsaamheid aan die opdrag van Chris­tus sluit die hemelryk toe. Dit is in kort die tweerigtingeffek van die sleutelmag. Die ampsdraers se werk is om die lidmate in gehoorsaamheid aan Christus te bind. Wie dit nie wil doen nie word in opdrag van Christus op die aarde uitgesluit, en dit sal ook in die hemel so wees, al gaan ek ook oor na 'n ander kerk toe.

Wanneer ek aan Christus gehoorsaam is selfs teen die onbybelse opdrag van amps­draers in, word die hemelryk vir my oop­gesluit (soos met Stefanus) al bly ek in dieselfde kerk. Wanneer dit egter korrek en gehoorsaam uitgevoer word, het aardse beslissings hemelse bindkrag.

Dit is dan die rede waarom ampsdraers onder die besef van die geweldige erns waarmee hulle hul taak moet opneem en uitoefen, moet bewe. Ampsdraers werk met die ewige toekoms van die lidmate wat aan hulle toevertrou word. Daarom moet hulle seker maak dat hul voorkoms, hul optrede, hul ampserns, hul ampsge­trouheid in alle goddelike waardigheid plaasvind. Dit is ook die rede waarom daar nie eiesinnigheid by lidmate mag wees nie. 'n Ampsdraer verteenwoordig Christus by die lidmaat. Lidmate moet dus in hei­lige erns die gesag van die ampsdraers eerbiedig. Daarom moet aan ampsdraers wat in hul amp getrou dien, volgens die uitspraak van die apostel, dubbele eer waar­dig geag word.

Dit is dan die manier waarop Jesus sy dissipels regstreeks betrek het by sy bouwerk, sy kerk wat Hy op die rotsgedagte bou, dat die Vader dit aan mense openbaar dat hulle besef en bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Hy betrek die dissipels, die ouderlinge en die hele gemeente om hierdie rotskerk te suiwer en te heilig. Hy vertrou die sleutels van die koninkryk aan hulle toe. Wanneer ons dit gehoorsaam en getrou gebruik, geld vir ons die kragtige troosbelofte: Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie