1 bladsye.

Die Taal van die Genoom

DNA

Onlangs is die menslike genoom volledig beskryf1. Dit beteken dat elke geen op al die chromosome van die mens nou bekend is en elk ’n naam het. Die menslike genoom is die molekulêr-biologiese bloudruk van die mens.

Is hierdie beskrywing ’n bedreiging vir die christelike wêreldbeskouing? Geensins. Trouens dit beskryf in nog meer woorde hoe gedetailleerd die Here die mens gemaak het. Die menslike genoom word in vier letters geskryf: A, C, T en G. Dit staan vir vier aminosure wat al die proteïne maak wat uiteindelik ons biologie vorm. A staan vir adenien, C vir cytocine (sitosien), T vir tiamien en G vir guanien. Die rangskikking van hierdie letters in die genoom is verantwoordelik vir oogkleur, haarkleur en ’n reeks ander fisiese kenmerke. Dit is selfs verantwoordelik vir die feit of iemand sy hare sal verloor en bles sal word.

‘Spelfoute’ van die genoom, as ons dit so kan uitdruk, is verantwoordelik vir ongeveer 4 000 geneties verwante siektes. Verder was wetenskaplikes verbaas dat die menslike genoom slegs uit 30 000-50 000 gene bestaan, heelwat minder as wat aanvanklik veronderstel is. Die vrugtevlieg besit 13 000 tot 14 000 gene. Die verwagting was dat die genoom van die mens ten minste tien maal soveel sou wees, weens die ooglopende groot verskille tussen die mens en die vrugtevlieg. Maar dit is nie so nie. Die menslike genoom is slegs ’n bietjie meer as twee keer dié van die vrugtevlieg. Die taal van die genoom is dus meer kompak, amper soos wat genuanseerde inligting vervat kan word in minder sinne. Dit hoef ons nie te verbaas nie. God verpak meer komplekse inligting meer kompak – wonderlik!

Die feit dat ons biologie in ’n leesbare taal geskryf is, getuig nog meer van God wat geskep het. Die feit dat God alle lewe van ’n relatief eenvormige bloudruk gemaak het, verbaas ons ook nie. Dit is dan nie vreemd dat die mens se genoom baie ooreenstemming met ander skepsels vertoon nie. Onlangse navorsing toon dat die sjimpansee 98.8% van ons gene deel, muise ongeveer 85-90% en piesangs ongeveer 50%. God het immers die mens uit die stof van die aarde gemaak.

Klein en subtiele verskille in die taal van ons genoom het diepgaande verskille in mens en dier en plant tot gevolg. Die evolusionis moet inderdaad nie sy sterk Darwiniaanse bril verloor om vol te hou dat evolusie van een na die ander spesie plaasvind nie. Die Darwiniaanse lense is steeds in omloop in die moderne biologie. Hoe meer ons van die DNA en menslike genoom verstaan, hoe moeiliker word dit vir evolusioniste om te verduidelik wat hulle sien. ’n Voorbeeld daarvan is Francis Crick, een van die ontdekkers van die dubbel heliks vorm van die DNA molekule. Hy het baanbrekerswerk gedoen om uiteindelik die menslike genoom te ontrafel. Crick, wat saam met Watson die ontdekking in Cambridge gemaak het, sê onder andere: ‘Biologists must constantly keep in mind that what they see is not designed, but rather evolved’ (Crick, What Mad Pursuit, 1988, p 136). Dit is asof die herinnering aan die eie dogma hulle moet oortuig dat die bewysstukke van ’n Skepper-argitek ’n lugspieëling in wetenskaplike verduideliking is.

Ons weet en sien objektief dat God die Skepper sy voetspore oral in die biologie gelaat het, en dat die God wat in sy ontsettende wysheid spreek ’n taal gepraat het wat ons almal in die lewe geroep het.