1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Teenwoordigheid van Christus in die Nagmaal van die Here

Dit is jammer dat die nagmaal van die Here wat die eenheid van die huigesin van God simboliseer die onderwerp van soveel verdeeldheid en debat tussen die kerke is. Die vraagpunte waaroor dit gaan, is ewenwel belangrik.

Die groot vraag het uiteraard te doen met óf en hoé Christus in en by die nagmaal van die Here teenwoordig is. Ons beskouing berus grootliks op die manier waarop ons die nagmaal gebruik: bygelowig of gelowig, onverskillig of sorgsaam.

Die verskillende beskouings is die volgende.

Die siening van die Rooms Katolisisme, wat transsubstansiasie genoem word, leer dat die brood en wyn van die nagmaal van die Here in die liggaam en bloed van Christus “verander” sodra die priester dit seën. Hierdie beskouing stel geloof tersyde, want al wat nodig is om Christus te ontvang, is om die brood te eet en die wyn te drink. Dit is ook die grondslag van die mis, wat “offer” beteken, want wanneer die brood, wat kwansuis nie meer brood is nie, maar liggaam, gebreek word, word die offer van Christus van voor af herhaal.

Die beskouing van die Lutherane leer dat die fisiese liggaam en bloed van Christus met die brood en wyn teenwoordig is. Hoewel hierdie leer, wat konsubstansiasie genoem word, nie die leer van die mis insluit nie, is dit onderhewig aan dieselfde kritiek as die Rooms Katolieke beskouing. Albei leer dat Christus fisies teenwoordig is.

Die beskouing van die meeste hedendaagse evangelikale groepe was na bewering ook dié van die sestiende eeuse Switserse hervormer, Ulrich Zwingli. Dit behels dat Christus op geen wyse in die nagmaal van die here teenwoordig is nie, maar dat die nagmaal bloot ʼn herinnering of ʼn gedagtenis aan die dood van Christus is. Klaarblyklik vermy dit die dwaling van Rome en die Lutherane, maar die beskouing isnietemin, soos ons weldra sal sien, nie Bybels nie en dit verklaar ook nie waarom die nagmaal van die Here so sorgsaam gebruik moet word nie. As die nagmaal net ʼn gedagtenismaal is, is selfondersoek nie nodig nie en is daar geen vrees vir “ ʼn oordeel” (1 Kor. 11:29) nie.

Die Gereformeerde beskouing van die nagmaal van die Here is dat Christus werklik teenwoordig is, maar geestelik, nie fisies nie. Hy is, met ander woorde, teenwoordig vir die geloof van die volk van God en het gemeenskap met hulle en voed hulle deur geloof. Hy gebruik die brood en die wyn om hulle geloof op Hom te rig.

Hierdie Gereformeerde beskouing word duidelik in 1 Korinthiërs 11:29 geleer, waar gepraat word van die “liggaam van die Here ... onderskei” in die nagmaal, en word ook deur Jesus self versinnebeeld in die woorde waarmee Hy die nagmaal ingestel het: “Dit is my liggaam”. Slegs omdat Christus in die nagmaal teenwoordig is, kan ʼn menssonder ware selfondersoek ʼn oordeel oor homself eet of drink. Die Gereformeerde beskouing, wat ook Bybels is, gee soveel meer betekenis en waarde aan die nagmaal van die Here. Dan ontmoet ons Christus in die sakrament en geniet Hom in al sy volheid as ons Verlosser en ons Saligmaker. Laat ons die sakrament so gebruik.