Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Die Tiende Gebod en Geneeskunde

skoonheid

“Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie”.

Die tiende gebod: ‘n gebod wat die Here vir alle lewensterreine gee, ook vir die gesondheidsorg. ‘n Gebod wat baie duidelike implikasies vir die geneeskunde het.

In Kolossense 3:5 lees ons die oproep om alle hartstog wat afgodediens is, dood te maak. Die hebsug kan tot allerhande onreinheid aanleiding gee (Efesiërs 4:19). Ons lees in die brief aan die Galasiërs oor die stryd tussen die Gees en die vlees (Galasiërs 5:16-26). Johannes skryf ook oor die wêreld en sy begeertes (1 Johannes 2:17).

By die eerste gebod het ons gesien dat die gesonde liggaam en gesondheid tot die hoogste norm verhef word. Gesondheid is nie net meer die ontbreking van siekte nie, maar dit verwys ook na dinge soos om goed te lyk, om goed te voel en jeugdigheid. Dink maar aan die geweldige groei van vakgebiede soos ortodonsie, plastiese chirurgie en veral verskeie alternatiewe geneeswyses. Die sekulêre heilsverwagting lê vandag in die gesondheid van die liggaam. Die begeerte van die gesondheidsorg is direk daaraan verbind.

‘n Moderne apteek se winste word vandag deur skoonheids- en verslankingsmiddels gegenereer. Die mens se begeerte is na die gesonde liggaamsbeeld van die vrou en die man wat deur die media voorgehou word as die ideaal om na te streef. Liggaamlike gesondheid is amper heilig. Daarsonder kan jy nie geniet en “kwaliteit van lewe”, ‘n tipiese goddelose moderne begrip, ervaar nie.

Advertensies het deesdae dikwels die volgende strekking: “Het u ‘n goeie gesondheid en wil u sorg dat dit so bly, of dat u selfs nog beter sal voel?” Ons hele samelewing word bepaal deur die ideaal van ‘n jong gesonde liggaam.

Ons het inderdaad die taak om na ons liggaam om te sien. Die aanneem van ‘n gesonde lewenstyl waarin ‘n mens gesond eet, genoeg oefening kry en nie rook nie, is natuurlik God se wil. Vandag neem die begeerte na die ideale liggaamsbeeld godsdienstige trekke aan. Sodanig dat dit in konflik kom met die tiende gebod. ‘n Begeerte na die liggaam van die naaste.

In die tiende gebod kyk die Here in die hart van gesondheidsorg. Die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan. Wat in die hart leef, versprei altyd na buite. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor, sê die spreekwoord. Dit sien ons ook in die geneeskunde.

Aan die een kant het gesondheid ‘n doel op sigself geword; aan die ander kant ook ‘n voorwaarde om te kan funksioneer en veral te kan geniet. Die heil van die liggaam word verafgod. Om die Here te dien is nie meer prioriteit nie, maar om die liggaam te dien. Karl Jaspers, filosoof en medikus van die vorige eeu, tipeer dit soos volg: “Die verlies van die transendente werklikheid het die aardse strewe na geluk tot die absolute laat toeneem”. In ons kultuur word die liggaamsheil as heilig beskou. Dit kom in die plek van die heil van die siel. Om gesond te wees en te bly word as ‘n absolute noodsaak gesien om te kan deelneem in die arbeidsmark en aan die verbruikerskultuur. Gesondheid word van die hoogste belang geag.

Die gesondheidsorg en sy begeertes het ‘n groot impak op die lewe. Neem byvoorbeeld die manier waarop geneesmiddele geadverteer word. In die advertensie van ‘n nuwe migraine-middel word twee mense uitgebeeld: jonk, bruingebrand, in swemklere op die strand, met die opskrif: The freedom to get on with life. ‘n Moegheidskuur word deur ‘n groot geneesmiddelvervaardiger geadverteer: ‘n jong meisie met die minimum klere, besig om ‘n gevaarlike krans met rotsklimtegnieke te bemeester. Die advertensie lees: You need performance and reliability you can trust on. Die logo van die firma is: Life is our life’s work. ‘n Kontraseptiewe pil word só geadverteer: contraceptive freedom begins with a wish. Die ideale gesondheidsbeeld: ‘n Werkende ma met ‘n klein gesin (indien enige) en baie selfgenieting van die lewe. ‘n Man met ‘n gespierde liggaam en baie tyd vir allerhande stokperdjies. Siekte en gebrek pas nie in hierdie ideaal nie. Op hierdie goddelose ideaal word vandag gebou om werk en mediese of ander versekerings te kry.

bruingebrand

Die geneeskunde speel lustig in op hierdie ideale mensbeeld. In die toekoms kan moontlik deur genetiese toetse ook bepaal word of iemand nog siek gaan word. Vir kinders met gebreke is daar dan weinig plek oor. Genetiese seleksie vir die regte gene wat uiteindelik die ideale ‘produk’ sal oplewer, word genoem. Selfs voor inplanting van die menslike embrio, kan ge’screen’ word vir afwykings wat kan voorkom. Genetiese manipulasie is nie ver van genetiese eugenetika af nie.

Daar bestaan positiewe en negatiewe eugenetika. Negatiewe eugenetika wil voorkom dat slegte genetiese materiaal van die een na die ander geslag oorgedra word, terwyl positiewe eugenetika daarop uit is om die mens aan die hand van sekere kriteria te verbeter. Met genetiese manipulasie word beoog om sekere siektes te beveg, soos byvoorbeeld om die diabetiese geen te probeer uitsny. Eugenetika wil egter nie die mens beter maak nie, maar wil beter mense maak; mense met hoër intelligensie, groter fisiese vermoë, beter hanteringsvermoë van stres. Waar lê die grens tussen genees en verbeter? Waarom kan ons as ons siek gene met normale gene kan vervang, nie maar ook normale gene met nog beter gene vervang nie? Deur middel van kloning kan ons nog verdere voorbeelde van hierdie ‘beter’ mens maak.

Engelhardt, ‘n Nederlandse etikus skryf baie positief oor die strewe om ‘n superman en supervrou te kweek in sy artikel: De menselijke natuur technologisch herzien. Die mens sou selfs moreel verbeter kon word.

Die begeerte na die ideale mensbeeld vorm die grondslag van baie indikasies vir aborsie, eutanasie, orgaanoorplanting, embrio manipulering, ensovoorts. Dit vorm tot ‘n groot mate die basis van die outonomie-beginsel in die gesondheidsorg. Met hierdie beginsel word die hart van menslike outonomie, naamlik die begeerte na ‘n sekere mensbeeld, veilig gestel. Die bevrediging van hierdie behoefte vorm die grondtoon, en nie meer die wil van God nie.

Met die tiende gebod raak die Here die kern van baie gesondheidsproblematiek aan. ‘n Gebod om deeglik van kennis te neem en dankbaar uit te leef, want daarsonder verander die gesondheidsorg onherkenbaar.