3 bladsye. Vertaal deur Lize Kampman.

Die Tweede Party in die Verbond

twee hande

Nadat ons gehoor het dat die HERE God die inisiatief geneem het om sy ontferming aan die gevalle mens te betoon en hierdie ontferming binne die raamwerk van duidelike verhoudings geplaas het, d.w.s. in ʼn verbond, gaan ons in hierdie afdeling sien met wie Hy hierdie verbond wil aangaan. Dit gaan dus oor die bondeling as tweede party in die verbond van genade.

Vooraf het ons gehoor dat dit God was wat in sy ontferming na die eerste gevalle mense gegaan het. Hier word die kontoere van die verbond van genade reeds sigbaar. ‘In feite is die ganse evangelie, die hele verbond van genade, hier aanwesig. Alles wat volg, spruit voort uit dit wat tans reeds as saad geplant is.’ Hierdie kontoere sal later duideliker word, maar wanneer God Hom na die sondeval tot die mens rig, sê dit al vir ons wie God met sy genade wil bedeel binne die raamwerk van sy verbond. Hy besoek die gevalle mensepaar met sy seën en maak hulle deel van sy heilsingryping. Hy belowe verlossing aan hulle uit die magte van die duiwel, die bose en die dood. So klink dit uit God se mond:

En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.Genesis 3:15

Hier word aan die nageslag van die vrou ʼn verdere instandhouding van die menslike lewe opgedra, ʼn inperking van die magte van die dood as straf op die sonde wat begaan is. Daar sal bestryding plaasvind van die kwaad, deur alle tye, en ʼn definitiewe bevryding uit die kloue van die demoniese ryk deur die Seun wat uit die geslag van die vrou sal voortkom. Hierdie belofte word dan ook die ‘moederbelofte’ genoem, omdat dit in beginsel al God se weë tot redding van die verlore mens en oorwinning van die sonde bevat!

Hierdie belofte het God aan Adam en Mannin gemaak, en in hulle, as hoofde van die menslike geslag, aan die komende geslagte. Dit is al die oorspronklike universele aspek van die verbond van genade genoem. Die hele mensdom was deel van hierdie verbond en die belofte is aan almal gerig. God het by hierdie begin Hom nie gerig tot ʼn enkele gesin, familie of volk nie, maar tot alle mense. Vir hulle is sy besondere openbaring bedoel.

Maar dit word al gou duidelik dat dit vir ʼn deel van die menslike geslag nie belangrik was om aan God te behoort, na sy stem van ontferming te luister, in sy weë te wandel en tot sy eer te lewe nie. Adam self wou klaarblyklik wel steun op God se belofte. Daarom noem hy sy vrou Eva, lewe, bron van lewe, moeder van die lewendes (Genesis 3:20). Maar een van hulle seuns, Kain, het al laat blyk dat hy oor ʼn ander gees beskik, en het verkeerd opgetree deur teen sy broer Abel op te staan en hom dood te maak. Sy gees leef voort onder sy nageslag. So groei daar slangsaad onder die mense. Maar in die geslag van Set het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep (Genesis 4). So gaan die verbondslyn voort in hierdie geslag, terwyl die geslag van Kain hulself al hoe meer daaraan onttrek. Soos wat ons lees in die Bybel, die boek van die verbondsgeskiedenis, brei die invloed hiervan steeds verder uit tot in die geslag van die Godvresendes. Daarom kon dit gebeur dat die ‘seuns van God’, die jongmans uit die geslag van Set, hulle deur middel van huweliksgemeenskap vermeng het met die geslag van Kain. Daardeur het die kennis en vrees van die Here al hoe meer uit Set se geslag verdwyn. Dit sou tot gevolg kon hê dat die kennis van God en van sy verbond heeltemal van die aarde af kon verdwyn. Daarom het God ingegryp, omdat Hy dit nie wou gehad het nie en getrou gebly het aan die belofte wat Hy gegee het dat die ryk van die bose nie sou oorwin nie. Daarom het Hy die sondvloed gestuur om ʼn suiwering tot stand te bring in die oordeel oor sondaars, om die lyn van die verbond te kon kan vashou en te laat deurloop in die geslag van Noag (Genesis 6). So gaan God se verbond na die sondvloed verder in Noag se gesin. Hulle is nou die bondelinge. Opnuut tree God universeel op in die geskiedenis van sy verbond.

Noag

Maar ook dan vind daar weldra agteruitgang plaas. Baie van Noag se nageslag onttrek hulself aan God se verbondswoorde en ontferming. Dit sou weer skeefgeloop het as God nie opnuut ingegryp het nie. Nou kom daar ʼn baie sterk ingryping. God gaan die lyn van sy verbond voortaan tot een volk beperk om hierdie verbond só beter te kan bewaar. Dus roep Hy Abram en rig sy verbond op met hom en sy nageslag, naamlik in die lyn van Isak. Daarom word die mense wat uit Abraham, Isak en Jakob gebore is, die volk van God se genadeverbond. Hulle ontvang ook almal die besnydenis as teken daarvan. Ons kan dus sê dat na Abram die hele volk en alle Israeliete bondelinge is. Hierdie volk sal die verbondsvolk wees en die draer van al die verbondsbeloftes, -eise en -bedreigings. Hoe duidelik blyk dit immers by die plegtigheid by Sinaï, waar die Here hierdie volk vir altyd, ook in die tyd van die Nuwe Testament (sien Romeine 11:1, 11, 24b, 29) as sy verbondsvolk bestempel. Hy vertrou aan hulle sy verbondswoorde, insettinge en veroordelings toe (Psalm 147:19). Al die profete baseer hulle toesprake en boodskappe op die feit dat daar ʼn besondere verhouding tussen die Here en Israel bestaan. God noem die Israeliete ‘my kinders’. Die psalms sing voluit van hierdie verbondsverhouding. Ook in die Nuwe Testament word Israel God se volk genoem, ‘u volk’ en die lede van Israel ‘sy eie mense’ (sien Lukas 2:32; Johannes 1:11).

So het God sy verbond vanaf Abraham beperk, begrens tot sy geslag. Ons kan dit as die partikularistiese aard van God se verbond met Israel beskou.

Die Jode is dus die verbondskinders, die tweede party in die genadeverbond!

Tog het hulle nie die enigstes gebly nie. Reeds in die Ou Testament word lede van ander volke by hierdie verbond van God met Israel ingelyf. Ons dink hierby aan Ragab uit Jerigo, Rut uit Moab, en ander. Die HERE God het trouens al vir Abraham gesê dat alle geslagte op die aardbodem in hom geseën sal word (Genesis 12:3). Psalm 87 gee ook hierdie perspektief op die volkere. Want God sal Ragab en Babel vermeld onder hulle wat Hom ken. In die Godstad Sion word ook Filistea, Tirus saam met Ethiopië as ingeborenes genoem. Na die versoeningswerk van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees word die bedding van die genadeverbond binne hierdie Ou-Testamentiese perspektief verbreed. Petrus sê op die Pinksterdag aan die Jode en Jodegenote voor hom:

Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.Handelinge 2:38, 39

Die Heiland self het kort voor sy hemelvaart aan sy dissipels opdrag gegee om met die evangelie na die volke toe te gaan, hulle tot dissipels van Hom te maak, hulle te doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy hulle gebied het (sien: Matteus 28:19; Markus 16:15; Handelinge 1:8).

Ons sien dan ook dat die apostels, gehoorsaam aan hierdie opdrag, in die wêreld ingaan en die evangelie na die volke toe bring. Oral waar daardie evangelie kom, waar God mense daardeur roep en hierdie evangelie sy beslag kry onder hulle, daar neem die Here hierdie hoorders van sy woorde op in sy verbond met Israel. Hulle is ‘dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is’ (Efesiërs 2:19, 20). Hulle word nou saam met Israel genoem: medeburgers van die heiliges, huisgenote, kinders van God! So is diegene wat deur God geroep is, ‘nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene, soos Hy ook in Hosea sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! – daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God’ (Romeine 9:24 e.v.). So is die heidene as wilde loot tussen die takke van Israel geënt en het hulle deel gekry aan die sapryke wortel van die olyf (vgl. Romeine 11:17). Hulle is voortaan deel van ‘die geliefdes van God, geroepe heiliges’ (Romeine 1:7; vgl. 1 Korintiërs 1:2).

doop

Hierdie gegewe kom baie kernagtig na vore in die brief van die apostel Petrus aan ‘die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië’, wat genoem word ‘uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus’ (1 Petrus 1:1 e.v). Die aangeduidenes was vroeër heidene gewees (sien: 1:14; 4:3). Hoewel hulle waarskynlik reeds aangesluit het by die Jode wat in die ‘verstrooiing’ woon en daarom ook ‘vreemdelinge in die verstrooiing’ genoem word – soos ons hoogs waarskynlik kan aanneem –, is hulle nou heeltemal deel van die verbond en van God se volk. Petrus skryf: ‘julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is’ (1 Petrus 2:10). Hy maak die verbondsvoorwaardes vir Israel nou op hulle van toepassing, wat ‘’n uitverkore geslag (is), ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig’ (2:9).

So word uit die geheel van die Skrif duidelik dat die verbond na die koms van die Messias Jesus Christus verder uitstrek om Israel en die volke te omvat. Daar is gesê dat die genadeverbond nou weer sy oorspronklike universele karakter aanneem wat dit voor die roeping van Abram gehad het. Tog moet ons dit wel reg verstaan. Dit bly die verbond met Abram en Israel. Die nasies word nou in hierdie verbond ingelyf. Die verbond met Israel kry nou ʼn universele karakter. Voortaan is Israel en die Jode deel van die verbond, maar ook diegene by wie die evangelie inslag gevind het, die gemeentes uit die volke. Hulle vorm saam die tweede party van die genadeverbond.

Vir elkeen van hulle geld die bepalings van hierdie verbond.

Verbondskinders is almal wat onder God se openbaring in die Skrifte staan, tot wie God Hom met sy roeping gerig het en wat Hy in sy reddingswerk ingesluit het.

Hulle word sonder onderskeid heiliges, geroepenes, kinders van God, huisgenote van God, erfgename van die belofte, ranke van die wynstok, skape van die goeie Herder ens. genoem.

So kan die Heidelbergse Kategismus sê dat klein en groot, kinders en volwassenes deel het aan die verbond van God en sy gemeente en dat aan hulle die verlossing van sondes deur die bloed van Christus en die Heilige Gees, wat die geloof skenk, belowe word (Sondag 27 ant. 74).