Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Die Uitverkiesing Laat Mens Sing

Lees Efésiërs 1:3 - 14

’n Derde Lofprysing🔗

Vir die derde keer: ’n lofprysing uit die mond van Paulus. Hierdie keer oor God se genadige verkiesing van die Efésiërs. “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Chris­tus ...” (vers 3).

Maar dan moet ons in die plek van ‘geseënd’ liewer lees: ‘prysens­waardig’ of ‘lofwaardig’ of ‘ge­prese’. ’n Mens kan God immers nie seën nie? Dit is juis wat Hy vir ons doen! Wat die mens kan doen, is om God vir sy seëninge te prys.

Maar nou moet ons eers oppas dat ons nie die slagoffer word van ’n misverstand as Paulus hier oor ‘geestelike seëninge’ praat nie. Want die woord ‘geestelik’ beteken nie ‘onaards’ nie. Dit gaan hier om weldade wat die stempel, die waarmerk van die Heilige Gees dra. Daarom is dit ewig, onverganklik en onverliesbaar. Geestelike seëninge is dus seëninge op aarde wat in die hemel veranker is.

Paulus begin nou om die seëninge wat hy in vers 3 genoem het, in ver­se 4 - 14 breedvoerig uit te werk. Die eerste wat hy noem is die uitverkie­sing. Maar dan gaan dit daarby nie om wat die uitverkorenes uit hulle­self is nie, maar om wat God in Christus van hulle maak, nl: “om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees ...” Dié woorde her­inner onmiddellik aan die Ou-Testa­mentiese offerdiens waar alleen onberispelike diere vir God afge­sonder mog word. Nou staan hier nie dat God mense uitverkies het omdat hulle heilig en sonder gebrek is nie, maar sodat hulle dit ten slotte sal wees!

Hier staan dus nie ’n vermaning: Doen jou bes of anders ... nie. Nee, hier lees ons God se uiteindelike bedoeling met sy uitverkore volk. Hierna spreek Paulus in vers 5 van God se voorbeskikking. Daarmee bedoel hy dat God reeds in die ewig­heid ’n grens om sy uitverkore volk getrek het. Hy het hulle toe reeds daartoe bestem om deur Jesus Christus as sy kinders aangeneem te word. Die uitverkorene se verhou­ding tot God is dus die van ’n kind tot sy hemelse Vader. Só was dit God se welbehae.

Die Wyse waarop God Werk🔗

Dié heerlike werk van God kan maar een resultaat hê: God moet vir sy onverdiende goedheid geprys word. Dit gaan dus ten diepste om heelwat meer as net die saligheid van sondaars. Die hoogste doel van die uitverkiesing is die lof van God se heerlike genade (vers 6). Paulus dui in vers 7 twee verdere seëninge aan wat die blywende besit van die Christene is en derhalwe ook steeds deur hulle geniet kan word. Dit is die verlossing deur die bloed van Chris­tus en die vergifnis van die misdade. Met dié twee begrippe kyk Paulus van twee kante na dieselfde saak. Die verlossing is wat God doen; die vergifnis is wat die uitverkorenes ontvang. En dit is alles deel van die rykdom van sy genade waarvan vers 8 sê dat God sy oorvloedige voorsiening vir sy uitverkore volk op so ’n wyse getref het, dat dit ge­tuig van wyse en verstandige op­trede. Vers 8 sê dus vir ons iets van die wyse waarop God werk. En daarvan word in vers 9 nog iets meer gesê. Dit is dat God “die ver­borgenheid van sy wil bekend ge­maak het.” Dit beteken dat iets wat tot op ’n bepaalde oomblik slegs in die raad van God bestaan het nou geopenbaar is, sigbaar geword het.

Die belangrikste inhoud van die openbaring is dat ook heidense volke mag deel in die heil van Israel. Daarom gebruik Paulus as hy aan die Efésiërs, (dus nie-Jode) skrywe steeds die woordjie ‘ons’.

En dit alles - die verlossing deur die bloed van Christus, die vergifnis van die misdade, die feit dat ook nie-Jode daarin mag deel - het moont­lik geword deurdat God Self in. Jesus Christus na die wêreld gekom het in ‘die volheid van die tye’ - toe die tyd daarvoor by God ryp was. Van­selfsprekend dra al hierdie seëninge nou nog ’n voorlopige karakter. Hulle kan eers ten volle deur die uitverkorenes geniet word by die wederkoms van Jesus Christus. Dit is ’n saak waaroor Paulus in vers 10 spreek. Jammer is dit tog dat daar in die vertaling van 1933, sowel as in die van 1983 iets verlore gegaan het van wat daar werklik staan.

In al twee vertalings lees ons van God se bedoeling om alles wat in die hemel sowel as op die aarde is, onder een Hoof, Jesus Christus te verenig. Maar letterlik staan daar nie ‘verenig’ nie, maar ‘weer ver­enig’. Alle dinge, in die hemel en op aarde was dus op ’n stadium reeds onder die een Hoof, Christus ver­enig. So lees ons dit ook in Kolossense 1 : 15 - 19. Maar vanweë die sondeval bestaan dié toestand nie meer nie. En nou word hier in vers 10 vir ons gesê dat die oorspronklike toestand weer sal terugkeer. Die betekenis van hierdie woorde is dus dat God by die wederkoms die ganse skep­ping (met uitsondering van die gevalle engele en die verworpenes) weer onder die een Hoof, Jesus Christus, in sy oorspronklike toe­stand sal herstel.

Bring die Lof wat Hom Toekom!🔗

Die rede daarvoor moet nie in die mens gesoek word nie, maar in die verlossing deur die bloed van Chris­tus (vers 7 en ook Kolossense 1:19, 20) . So word die lys van seëninge in hierdie verse steeds langer.

Maar dit is nog nie klaar nie. In vers 11 praat Paulus van ’n erfdeel in Christus vir die uitverkorenes. Omdat Christus as die Seun van God die eintlike Erfgenaam is, is die uit­verkorenes deur hulle aanneming tot kinders mede-erfgename van Christus (Romeine 8:17) .

Die gevolg hiervan is dat die erfdeel niks minder is as ’n aandeel in die heerlikheid van God wat voort­vloei uit die Seunskap van Christus nie. So het God dit beplan en so voer Hy dit uit. En die doel van dit alles? Dit word omskryf in vers 12 met die woorde: “... sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid ...” Wie deel van God se eiendom geword het, word deur God Self gebring tot op dié stadium waar hy nie anders kan en wil as om aan die wonderlike God die lof te bring wat Hom toekom nie. En wat beteken die woorde in vers 13: “verseël met die Heilige Gees van die belofte”? Dit beteken dat hulle wat tot geloof in die Woord van die waarheid gekom het die redding hét. Hulle is gewaarmerk as God se eiendom. Die heil is eg en seker aan hulle toebedeel. Hulle sal veilig en beskerm hulle ewige bestemming bereik.

Maar die verseëling met die Hei­lige Gees mag nie van Christus los­gemaak word nie. Die Efésiërs is immers in Christus verseël met die Heilige Gees van die belofte! Dat die woorde ‘van die belofte’ hier ge­noem word, beteken dat Paulus hier spreek van die Heilige Gees soos Hy beloof was. Soos Hy ook op die eers­te Pinksterdag van die Nuwe-Testa­mentiese kerk uitgestort is en in die gemeente kom woon het.

Die Eerste Paaiement is Betaal🔗

En die Heilige Gees, sê Paulus, is aan die uitverkorenes gegee as onderpand. Dit is ’n woord wat uit die handelswêreld afkomstig is. Dit dui op die gebruik waarvolgens iemand ’n eerste deposito kon betaal wanneer hy homself onder die ver­pligting geplaas het om die ander paaiemente ook te betaal. Die eerste paaiement het dus gegeld as die waarborg vir die ander paaiemente. Die eerste paaiement veronderstel dus steeds ’n verpligting waaraan nog voldoen moet word.

Met die gebruik van hierdie woord, wil Paulus hulle wat die evangelie van verlossing gelowig aanvaar het, daarvan verseker dat hulle die volle heil deelagtig geword het. Hulle het die Gees van God ontvang toe hulle deur die geloof lede van sy volk geword het. Hierdie Gees wat God aan hulle geskenk het, is tegelyk die waarborg dat hulle deel het aan die volle heil. Daarvan is die Gees as eerste paaiement die bewys. Daarby het God Homself verplig om ook die uitstaande ge­deelte in die toekoms te betaal.

Ook geen wonder nie dat Paulus alleen maar in die terme van ’n lof­lied oor die uitverkiesing kan praat nie ! Kan u saamsing?