Die Verbond met Abraham
Die Verbond met Abraham
Die Skrif is duidelik dat die verbond met Abraham dieselfde verbond is as die verbond met Israel. Toe God sy verbond met Abraham opgerig het, het Hy dit ook met sy nageslag opgerig (Gen. 17:7), en toe God sy verbond met Israel opgerig het, het Hy dit duidelik gemaak dat Hy die verbond wat Hy reeds met Abraham, Isak en Jakob opgerig het, gestand doen (Eks. 3:15-16).
Dit is belangrik, want dit beteken dat dit wat in die verbond met Abraham waar was, ook vir Israel waar was. En aangesien almal wat glo die ware saad en kinders van Abraham is, is dit wat vir Abraham waar is, ook waar vir ons.
Die verbond met Abraham het verkeie noemenswaardige kenmerke. Die eerste, en mees belangrike kenmerk is dat die verbond met Abraham, en dus ook met Israel, by uitstek ʼn verbond van genade is. Die groot openbaring van die verbond in Genesis 15 toon dit aan.
Om Genesis 15 te verstaan, moet ʼn mens besef dat in daardie dae ʼnmenslike verbond nie gesluit is deur ʼn kontrak op te stel en dit regtens te laat attesteer nie, maar deur die partye wat die verbond sluit, wat saam tussen die verdeelde stukke vanʼn dier of diere deurgeloop het. Jeremia 34:18 beskryf hierdie plegtige seremonie, wat net vir belangrike sake gebruik is, wat ʼn waarskuwing was dat die een wat die verbond verbreek, bestem is om in stukke gesny te word en dat sy liggaam aas vir die diere en voëls sal wees. God het Israel hiermee gedreig toe hulleʼn verbond wat hulle onderling gesluit het, verbreek het (Jer. 34:19, 20).
Aangesien ʼn menslike verbond tussen gelykes gemaak word, is dit ook ʼn ooreenkoms – ʼn bilaterale of tweesydige verbond – en daarom het almal wat by die verbondsluiting betrokke was, tussen die stukke van die diere deur geloop. God se verbond is anders, want God en die mens handel nooit as gelykes in die verbond nie. Die verbond tussen God en Abraham was, volgens Genesis 15, by uitstek ʼn eensydige (unilaterale) verbond, ingestel deur God alleen. Toe God met Abraham verbond gesluit het deur tussen die stukke van die diere deur te loop, was Abraham vas aan die slaap. Abraham het niks te doen gehad met daardie verbondsluiting nie. In geen opsig was dit van hom afhanklik nie. Dit was waarlik ʼn verbond van genade.
Deur tussen die stukke van die diere deur te gaan, het God simbolies verklaar dat Hy alleen die gevolge sou dra van verbondsverbreking, wat Hy inderdaad gedoen het deur die dood van sy Seun (Jes. 53:8; Gal. 3:13). Vir ons sondes onder die verbond, het God in Christus die straf gedra deur afgesny en uitgewerp te word. Christus het dit verklaar toe Hy uitgeroep het “My God, my God, waarom het U My verlaat?” So is die genadeverbond wat aan Abraham geopenbaar is, in Christus vervul.