1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Verbond met Israel

Dit is in die Skrif duidelik dat God met Israel ʼn verbond gehad het. Hoe dié verbond verstaan moet word, is ʼn saak waaroor baie gestry word.

Die groot vraag is of die verbond met Israel ʼn ander verbond is as die verbond van God met sy volk in die Nuwe Testament, en hoe die Ou Testament (ou verbond) en die Nuwe Testament (nuwe verbond) met mekaar verband hou. Is hulle oud en nuut dáárin dat hulle verskillende soorte van verbond was, opgerig met twee verskillende groepe mense, of is dit ouer en nuwer openbarings van een verbond?

Die dispensasionalisme beantwoord dié vrae met die leer dat die ou en die nuwe verbonde geheel en al van mekaar verskil; dat hulle betrekking het op verkillende groepe mense, verskillende beloftes en verkil in vervulling. die mees ekstreme vorms van dié leer, hou selfs vir Israel in die ou verbond en vir die kerk in die nuwe verbond, verskillende maniere van saligheid in. Die aantekeninge by die Scofield Study Bible is ʼn voorbeeld hiervan.1

Daar is diegene wat die dispensasionalisme verwerp, maar tog huiwer om die twee verbonde met mekaar te vereenselwig. Sommige vind ʼn verskil tussen die beloftes en vervulling van die ou verbond en die nuwe verbond (premillenialisme en postmillenialisme). Hulle voer aan dat, ten minste sommige, van die beloftes van die ou verbond op aarde vervul word, in teenstelling met die beloftes van die nuwe verbond, wat geestelik en hemels is.

Baptiste maak ʼn bepaalde onderskeid tussen Israel en die kerk, in die besonder wat die verbond en die teken van die verbond betref. Hulle sê, byvoorbeeld, dat Israel nie die kerk is nie, maar slegs tipe van die kerk, en hulle weier om die besnydenis en die doop, as tekens van die ou en nuwe verbond onderskeidelik, met mekaar te vereenselwig.

Nog ander maak ʼn skeiding tussen wet en genade. Hulle leer op die een of ander wyse  dat die wet geen plek het in die lewe van ʼn gelowige in die nuwe verbond nie. Dié dwaling word antinomianisme genoem.

In teenstelling met die voorgaande is die Gereformeerde leer dat daar net een verbond is, een verbondsvolk, met Israel as die kerk van Ou testament (Hand. 7:38); een verbondsteken, besnydenis en doop, wat in wese dieselfde is (Kol. 2:11,12); een Verlosser en een weg tot saligheid (Hand. 4:12); een belofte van ewige lewe in Christus (Hand. 2:38,39); en een geestelike vervulling van alles wat tot die belofte hoort (Heb. 11:9,10,13-16). Dit leer ook dat daar besliste eenheid is tussen wet en genade onder beide verbonde (Rom. 7:12).

Die Gereformeerde leer beklemtoon ʼn volkome eenheid van die twee testamente (verbonde) as ʼn weerspieëling van die eenheid van God self. Net so min as wat daar verdeeldheid in God is, kan daar verdeeldheid wees in die wese van die ou en die nuwe verbond.

Endnotes🔗

  1. ^ C. I. Scofield (1843—1921), oorspronklike redakteur en Doris W. Rikkers, voortgaande redakteur, Scofield Study Bible, King James Version (New York: Oxford University Press, 2003). Scofield se werk het die eerste keer in 1909 verskyn.