1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Verklaring van die Skrif

Omdat die Skrif die Woord van God is, en die Heilige Gees die outeur daarvan, het niemand die reg om dit uit te lê nie. Mense praat dikwels asof hulle so  ʼn reg het. Hulle praat van ‘my vertolking’ of van dié van  ʼn ander. Dit mag nie (2 Pet. 1:20). Selfs by dispute is daar maar een aanvaarbare verklaring van die Skrif, en dit is die verklaring van die Skrif deur die Skrif self; die verklaring van God, en nie van die mens nie.

Een van die groot beginsels van die Reformasie was dat die Skrif selfverklarend is. Alhoewel dit vir ons vreemd klink, kan dit nie anders nie, omdat net die outeur self, die Heilige Gees van God, die reg en die gesag het om vir ons te vertel wat Hy bedoel. My verklaring beteken niks. Net God se verklaring maak saak.

Dit word in 2 Petrus 1:20,21 duidelik geleer dat geen van die Skrifte “  ʼn saak van eie uitlegging” is nie. Hierdie stelling mag met die eerste oogopslag ietwat onvanpas lyk, omdat die klem in daardie verse op inspirasie is, en nie op interpretasie nie. Nietemin het die leer van inspirasie wat in hierdie verse geleer word, hierdie toepassing: niemand anders as God wat die Woord geïnspireer het, het die reg om dit te verklaar nie.

Dit is inderdaad die Heilige Gees wat die Skrif verklaar. Hy doen dit nie op  ʼn mistieke manier deur die betekenis van die Skrif op misterieuse en geheime wyse, deur  ʼn private openbaring, aan ons bekend te maak nie. Dit is verkeerd om te sê “God het my gewys” of “God het vir my gesê” of “God het dit aan my bekend gemaak”. Ook dit is  ʼn ontkenning van die Skrif, van die volkomenheid én van die inspirasie van die Skrif.  ʼn Mens wat dit sê, maak daarop aanspraak dat hy  ʼn verklaring van die Skrif het wat God privaat aan hom gegee het, buiten die Skrif self. Die werklike verklaring van die Skrif word gegee wanneer Skrif met Skrif vergelyk word.

As ons die betekenis van  ʼn woord, byvoorbeeld doop, wil vasstel, moet ons die verskillende Skrifgedeeltes en die konteks waarin die woord voorkom, nagaan om vas te stel wat die woord in die Skrif beteken en hoe die Skrif die woord gebruik. Behoorlike Skrifverklaring vereis dus noukeurige studie, sodat ons uit die Skrif self kan leer wat dit beteken. Iemand wat dink hy kan  ʼn Skrifgedeelte net oopslaan en dit verstaan, is vermetel en  ʼn dwaas.

Ons moet dus daarop bedag wees dat ons nie ons eie idees op die Skrif afdwing nie, en om wat die Skrif vir ons sê, ootmoedig en biddend aan te neem. Die aanleer van behoorlike Skrifverklaring het genade, gebed en gehoorsaamheid nodig.

Daar is niemand, ook nie bedienaars van die evangelie nie, wat daarop mag aanspraak maak dat hulle bó die Woord van God verhewe is nie. Elke verklaring, elke leerstuk, elke preek, mag en moet onderwerp word aan noukeurige ondersoek in die lig van wat God se Woord sê, juis omdat niemand  ʼn eie reg het om die Skrif te verklaar nie. Om hierdie selfde rede was selfs die prediking van die apostels onderworpe aan ondersoek en beoordeling (Hand. 17:10,11). Ook hulle prediking moes ooreenkom met die Gees se eie verklaring van sy eie Woord.

Mag God aan ons die nodige genade, groot genade, gee om daardie énigste verklaring te ontdek en daarop ag te gee (Heb. 2:1).