Bron: De Reformatie. 4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Vermaaklikheidswaarde van 'n Kerkdiens

Vir baie mense is gereformeerde eredienste vervelig. Veral jongmense beleef dit so, maar ook ouer mense, én mense uit ander kulture, byvoorbeeld dié van Afrika. Is dit nie rede tot kommer nie? As ons ons kinders, kleinkinders en agterkleinkinders nog in die kerk wil sien, as ons ʼn kerk met werfkrag wil wees, moet ons nie ons samekomste ingrypend vernuwe nie?

ʼn Eentonige monoloog?🔗

Agter pleidooie vir liturgiese vernuwing is daar soms ʼn onuitgesproke motief. Ouers hoop byvoorbeeld stilweg dat hulle hul kinders dan makliker saam in die kerk sal kan kry. As die kerkdienste bietjie prettiger was, sou dit nie elke Sondag so ʼn stryd wees nie.

Ek is ewewel van mening dat liturgiese vernuwing nie bedoel is, en ook nie in staat is om die teësinnigheid vir kerkgang weg te neem nie. Dit is beter om kerkgang as ʼn saak van gesag en gehoorsaamheid te bly benader. Die Here wil sy gemeente ontmoet. En ons, ouers én kinders, is deel daarvan. Daarom gaan ons kerk toe, of dit nou pret is of nie.

Daarmee wil ek nie sê dat daar nie verandering in die kerkdienste kan wees nie. Mens kan ook onnodig teenstand veroorsaak. Die gevaar van die vaste orde in ons kerkdienste is dat ons prooi kan word van eentonigheid en ritualisering. Ek betrap myself dikwels dat dit vir my moeilik is om die gevoel van ‘altyd dieselfde doen’ te vermy. Die vraag is egter of die mate van voorspelbaarheid in ons dienste nie in spanning is met die veelvuldige fasette van die waarheid en werklikheid van God nie. Doen die gebrek aan betrokkenheid van meer gemeentelede nie afbreuk aan die verskeidenheid in die gemeente van Christus nie? Dit sou goed wees om te leer om eentonigheid te vermy.

Vermaak🔗

Eentonigheid en voorspelbaarheid werk nie goed nie. Kerkdienste is nie verrassend òf boeiend nie. Is dit nie, in ʼn kultuur waarin alles prettig voorgestel word, hoog tyd om kerkdienste ietwat meer boeiend in te klee nie?

As ons mense vandag met ʼn boodskap wil bereik, moet ons besef dat dié mense gewoond is aan boeiende aanbiedings. Van leerstof op skool tot aktualiteitsprogramme op televisie – alles word op só ʼn manier aangebied dat mense daardeur geboei word. Selfs nuusberigte moet amusant aangebied word. Alles word vermaak.

As ʼn mens kerkdienste hieraan meet, is die vorm daarvan dan nie ʼn ramp nie? Gʼn wonder mense dink dit is vreeslik vervelig nie. Moet ons in die kerk nie baie meer aansluit by daardie vorms van aanbieding wat vandag daarin slaag om mense te boei nie?

Te veel gevra🔗

Die eerste ding waarop ek wil wys, is die beperkings waaraan ʼn kerkdiens onderhewig is. Wat is ʼn kerkdiens? ʼn Samekoms van ʼn paar honderd mense wat merendeels deur die week ontsettend besig was. Één beskikbare voorganger, met ʼn meerdere of mindere mate van talent om aan die liturgie vorm te gee en vir voordrag.

Dit is hopeloos te veel gevra om weekliks van so ʼn samekoms iets te maak met groot vermaaklikheidswaarde. Die middele en moontlikhede daarvoor is veels te beperk. Daar is selfs vir televisie paneelbesprekings ʼn baie beperkte getal talentvolle deelnemers en aanbieders. Én hulle het ook nog ʼn hele span mense om hulle. Aanbieders van vermaaklikheidsprogramme het maande om voor te berei aan ʼn teks wat hulle daarna herhaaldelik gebruik. Hulle word bygestaan deur ʼn professionele span wat sorg vir musiek, klank en beligting. Én ʼn stewige begroting is hiervoor beskikbaar.

Vergelyk ʼn mens die weeklikse kerkdiens hiermee, hoef jy jou nie te verbaas dat dit baie verveliger is nie. ʼn Voorganger wat met sulke vermaak wil meeding, mik hopeloos te hoog. Natuurlike talent daargelaat.

Kerkdiens en teater🔗

Dit is nie so vreemd dat baie mense geneig is om die kerkdiens met bepaalde vorms van vermaak te vergelyk nie, want uiterlik vertoon kerkdienste ooreenkomste met ander byeenkomste waarin groepe mense aangenaam besig gehou word. Dink aan ʼn teater. Wat sien mens wanneer jy inkom? Rye stoele waarop mense gaan sit in afwagting van iets wat gaan kom. Alle oë is gerig op die podium of verhoog. Op ʼn gegewe oomblik verskyn daar ʼn mens of mense op die verhoog en almal in die saal word stil. Die mense het gekom vir ʼn opvoering of ʼn voordrag. Hulle hoop stellig dat dit boeiend, ontroerend of iets dergeliks sal wees, sodat hul voldaan huis toe kan gaan.

Die ooreenkoms met ʼn kerkdiens is treffend.

Die strik van Korinte🔗

ʼn Tyd gelede was daar in ʼn dagblad ʼn artikel oor die vraag of daar in die kerk ook applous gegee kan word. Die vraag spreek boekdele. Die gedagtegang is dieselfde: die kerkgangers is die gehoor wat met applous waardering betuig vir die geslaagde vertoning deur die predikant of ander mense op die podium.

In ons samelewing wat so vol vermaak is, kan ʼn mens maklik in ʼn kerkdiens die houding inneem van ʼn deel van ʼn gehoor. Voor in die saal word die toneel opgevoer. Meesal ʼn ‘one-man show’. Ons hoop maar dat dit goed sal wees.

Wie dan ʼn kerkdiens só beleef, trap in die strik van Korinte. In Korinte was hulle byeenkomste ook so. Hulle wou skouspelagtige vertonings hê, en in dié lig het hulle die voorgangers beoordeel. Dit blyk ook dat die smaak van Korinte se publiek nogal uiteenlopend was. Die één se held was Paulus; die ander was ʼn ‘fan’ van Apollos.

Die kritiek op die optredes van Paulus was nie van die beste nie. Sy briewe, so is beweer, is wel kragtige taal, maar sy persoonlike optrede is swak en sy woorde het weinig betekenis (2 Korintiërs 10:10). Baie in Korinte was maar louerig oor die optredes van Paulus. Die man het g’n persoonlikheid nie!

Die strik van Korinte was dat hulle die optrede van die voorgangers met dié van professionele redenaars vergelyk het. In die Griekse wêreld in die dae van Paulus het vermaak gebloei. Mense is oral op die markpleine en in teaters vermaak. Openbare debatte en redevoerings volgens die reëls van die kunste, was aan die orde van die dag; deurspek met kwinkslae, taalgrappies, skerpsinnighede en humoristiese opmerkings. Toe die inwoners van Korinte Christene geword het, was hulle steeds ʼn bietjie behep met hulle eie samekomste. Wanneer Paulus gepreek het, was dit vir hulle maar ʼn powere vertoning; nie juis iets waarna jy jou vriende sou nooi nie.

Ons trap vandag nog dikwels in die strik van Korinte, wanneer ons kerkdienste aan hulle vermaaklikheidswaarde meet. ‘Hoe was die preek?’ ‘So-so’. ‘Wie preek vandag?’ ‘Dominee X’. ‘Ag nee, tog nie hý nie!’

Nie ʼn gehoor nie, maar die volk van God🔗

Baie mense verbeel hulle dat hulle ʼn gehoor by ʼn uitvoering is. Maar ʼn kerkdiens is heeltemal iets anders. Dit is sommer na enkele minute duidelik. In geen teater gebeur dit dat ‘die gehoor’ sommer dadelik – nog voordat daar ʼn bietjie stemming geskep is – betrek word deur die sing van ʼn lied nie. Selfs Pavarotti kry dit nie reg nie.

Die mense in die kerk is nie die gehoor by ʼn opvoering nie. Dit is dan ook van belang om kerkgangers nie so te behandel nie. ʼn Kerkdiens kan nie vergelyk word en hoef nie mee te ding met ʼn film of teaterstuk nie. Dieselfde geld vir musiek en sang in die kerk: dit is oneerlik en onjuis om dit met ʼn uitvoering van ʼn koor, orkes, pop- of gospel sanggroep te vergelyk. Enige ooreenkoms tussen ʼn kerkdiens en ʼn vermaaklikheid is toevallig. Om werklik in die kerk te wees, moet jy loskom uit die (gewaande) sfeer van vermaaklikheid. Mense kom nie vir ʼn lekker oggend of ʼn lekker aand nie, maar om saam met ander God te ontmoet. Jy is nie deel van ʼn gehoor nie, maar van die volk van God.

Gepaste aanbieding van die boodskap🔗

ʼn Mens moet dus nie die kerkdiens as ʼn vorm van vermaak benader nie. Dit is onrealisties om sulke eise daaraan te stel. Maar al kon dit, dit mág nie!

In sy brief aan die Korintiërs verdedig Paulus hom teen kritiek op sy preke. Dit was nie vir die mense boeiend genoeg nie. Dit is opvallend dat Paulus dan toegee dat sy preke nie vol meeslepende woorde of treffende wyshede is nie. Dit was egter nie ʼn kwessie van onvermoë nie, maar van onwilligheid. Paulus sê nie: ‘Dit spyt my, maar ek is nou eenmaal nie ʼn begaafde spreker nie’. Nee, dat sy voordrag sober, byna eenvoudig is, hang saam met die boodskap wat hy bring. Daar is nie indrukwekkende woorde of skitterende wyshede nie, “sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie” (1 Korintiërs 1: 17; lees ook 2:4-5). Dít is die motief vir die soberheid van Paulus: die boodskap van versoening vir sondaars deur die bloed van Christus. Wie daaromheen ’n skitterende vertoning wil bou, verydel die boodskap. Daarom wíl Paulus nie ’n skouspelagtige vertoning gee nie. Die kern van die boodskap is, na menslike maatstawwe, alles behalwe opwindend. Juis omdat dit so sleg met ons, mense, gesteld is, laat die Seun van God Hom martel, hang Hy naak en bebloed aan ’n hout kruis, ly Hy die toorn van God en sterf. Hierdie beskamende boodskap laat hom nie in ’n boeiende betoog of ’n lewendige vertoning verpak nie. Nie vanweë die boodskap self nie, maar omdat dit sou probeer om die aandag van die gekruisigde Christus na die begaafde voorganger te verskuif.

Kerkdienste moet nie daarop gerig wees om bewondering en applous vir mense op ’n podium te verwerf nie, maar verootmoediging, bekering en lofsange vir Christus in die hemel. Dit het alles met die aanbieding te doen. Die boodskap moet gepas aangebied word.

Samevatting en gevolgtrekking🔗

Van ’n kerkdiens moet nie verwag word dat dit ‘oulik’ moet wees, in die sin van vermaaklikheid nie. Só ’n verwagting is:

  1. Onrealisties in die lig van die beperkte middele;
  2. verkeerd, in die lig van die karakter van die kerkdiens: ontmoeting tussen God en die mense;
  3. onverenigbaar met die Bybelse boodskap: versoening en vernuwing van sondaars deur die bloed en die Gees van Christus.

Dan tog maar ’n saai, eentonige monoloog? Dit hoef nie. ’n Gepaste aanbieding is iets anders as ’n saai aanbieding. Verantwoordelikheid vir die verloop van ’n erediens is altyd ’n moeilike opdrag. Dit moet duidelik en indringend wees, maar mens moet die versoeking weerstaan om dit nie te ‘mooi’ te wil maak nie. Die boodskap moet aanspreek, sonder dat die vorm die inhoud geweld aandoen. Die bring altyd ’n bepaalde spanning mee, waarmee jy as voorganger moet leer omgaan.

Trouens, nie net as voorgangers nie, maar ook as gemeentelede het ons ’n aandeel in die ontmoeting met die Here God. Ons is immers deelnemers, nie ’n gehoor nie.

Aan sulke aktiewe deelname kan weliswaar meer aandag gegee word. Solank net die predikant en die orrelis hulle individuele bydraes lewer, word die assosiasie met ’n teater of ’n eenman vertoning natuurlik in die hand gewerk. Ons kan miskien met sorg soek na moontlikhede om aan meer gemeentelede verantwoordelikheid by, of vir bydraes in, die diens te gee. Voorstelle in dié rigting wat elders in hierdie blad gemaak is (deur, onder meer dr. De Bruijne, De Reformatie 4, 11, en 18 April 1998; dr. Luiten, De Reformatie 25 Julie 1998) kan oorweeg word. Die beslissende maatstaf daarby moet egter nie die verhoging in vermaaklikheidswaarde van die kerkdiens wees nie, maar die verlewendiging van ’n eerbiedige ontmoeting tussen God en sy volk.