1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Versoeking van Christus

Hebreërs 4:15 leer ons dat Christus ʼnswakke menslike natuur (“wat ... met ons swakhede medelye kan hê” en “wat in alle opsigte versoek is net soos ons”) én ʼn sondelose natuur (“maar sonder sonde”)gehad het. Hierdie waarhede het ons reeds verduidelik. Sáám laat die twee waarhede vrae oor die versoeking van Jesus ontstaan. Hoe kon Hy versoek word as Hy sonder sonde was? Hoe kon die versoeking werklik versoeking wees as dit nie vir Hom moontlik was om te sondig nie? As Hy nie kon sondig nie, het Hy dan werklik ʼn swakke menslike natuur, in alle opsigte soos ons sʼn gehad?

Dat die versoeking van Christus werklik was, is duidelik in die Skrif. Toe dit verby was, het Hy die bediening van engele nodig gehad (Matt. 4:11). Hy had ʼn swakke menslike natuur wat, net soos ons, in versoeking ly. Dit beantwoord nie die vraag hoe die versoeking werklik kon wees, as Hy nie kon sondig nie.

Sommige sê dat dit vir Christus in sy menslike natuur moontlik was om te sondig, maar nie in sy goddelike natuur nie. Ons glo nie dat dit ʼn aanvaarbare antwoord is nie. Dit sê wat ons nie moet sê nie: dat Hy nie volmaak was nie. Selfs al sou dit waar wees dat Hy net in sy menslike natuur kon sondig, was dit immers Hy, die eniggebore Seun van God, wat sou kon sondig. Dit is lasterlike taal.

Ons glo dat die Skrif, sonder om die groot geheimenis van “God is geopenbaar in die vlees” (1 Tim. 3:16) te verklaar, ons tog help om die versoeking van Jesus te verstaan. Ons moet besef dat die Nuwe Testament net een woord gebruik waar ons twee het: “versoek” en “beproef”. Deur net een woord te gebruik leer die Bybel ons dat versoeking en beproewing, wat vir ons so verskillend voorkom, twee kante van dieselfde geestelike stryd teen Satan en die sonde is. Wanneer Satan ons versoek, word ons terselfdertyd deur God beproef.1 Dít is ʼn geweldige getuienis van die soewereiniteit van God oor Satan en die sonde; ʼn getuienis wat ons telkens wanneer ons tot God bid, “Lei ons nie in die versoeking nie”, weer laat hoor, en dit help ons ook om die versoeking van Christus te verstaan.

Wanneer Christus dus deur die Satan versoek word, word Hy ook deur God beproef. As ons só oor sy versoeking dink, is dit ietwat makliker om te verstaan dat Hy versoek kon word sonder om in staat te wees om te kan sondig, en om te verstaan waarom Hy so versoek is.

Die versoeking van Christus was ʼn hewige geestelike stryd teen die sonde en teen Satan, ʼn beproewing wat deur God gestuur is en wat bewys dat Christus werklik sonder sonde was. Vanuit hierdie oogpunt gesien, is dit nie nodig om selfs dink aan die moontlikheid dat Hy sou sondig nie, maar besef ons dat sy versoeking nogtans werklik en moeilik was — dat Hy in alle opsigte versoek is net soos ons.

Om dit te verstaan, is vir ons belangrik. Die sondeloosheid van Christus in die stryd teen Satan is ʼn deel van ons bemoediging in dieselfde stryd. Ons moet die oog op Hom vestig, sodat ons nie in ons siele “vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:2,3).

Endnotes🔗

  1. ^ Of “getoets” – NG.