Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

Die Virus van ’n Kerklike Minderwaardigheidsgevoel

moedeloos

In Nader Bekeken van 11 November 2011 skryf dr J van Bruggen uit Nederland die volgende:

Deesdae is daar al hoe meer kerkmense wat ʼn gevoel van moedeloosheid en minderwaardigheid kry. Dit maak hulle slap en onseker. ʼn Mens kan dit vergelyk met ʼn virusinfeksie. Van Bruggen benoem dit die virus van ʼn kerklike minderwaardigheidsgevoel (km-virus). Net soos by ander virusinfeksies, is die eerste simptome dat jy lusteloos begin voel. Jy is nie meer met oortuiging betrokke by die kerklike lewe nie. As die siekte erger word, kry ʼn mens te make met vorms van geestelike verwarring. Dit maak ʼn mens ongeskik om nog met oortuiging in die kerk te werk.

Onwerklike Ideale🔗

Kom ons probeer om hierdie virus in beeld te kry. Dit begin met bepaalde hoë ideale wat ons ontmoedig.

  • Die eerste ideaal is dat die kerk duidelik moet wees vir elkeen. Liedere, preke, gewoontes moet vir elke besoeker duidelik wees – ʼn drumpellose gemeente.

  • Die tweede ideaal is dat die kerk veilig moet wees vir elkeen – ook veilig vir mense met afwykende gevoelens, mense wat verhoudingsbreuke deurgemaak het, ens. Slegs as die gemeente vir elkeen voel soos ʼn warm kombers om jou heen, is dit ʼn goeie gemeente.

  • Die derde ideaal is dat die kerk relevant moet wees vir mense van die hede. Slegs wanneer die gemeente as relevant ervaar word deur moderne mense, het dit bestaansreg.

Hierdie drie ideale is so hoog dat hulle spoedig gevoelens van moedeloosheid en lusteloosheid sal begin oproep.

Ontevredenheid🔗

Hierdie drie ideale het baie te make met die uitgangspunt vandag dat die gemeente veral missionêr moet wees. Wanneer die woord missionêr daarop dui dat ʼn Christen oop moet staan vir sy omgewing en bereid moet wees tot verantwoording, dan is dit inderdaad ʼn waardevolle en onmisbare kenmerk van ʼn Christen. Wat deesdae egter gepropageer word onder die begrip missionêre gemeente, is egter iets anders as wat die Skrif en die belydenis nog altyd gesê het oor die taak van elke Christen.

Baie Christene is deesdae ontevrede en onvoldaan as hulle gemeente nie groei nie en nie buitestaanders bereik nie. Dit gaan dus nie oor ontevredenheid oor jou persoonlike Christenwees nie, maar oor ontevredenheid oor die kerklike gemeente. Dit is ʼn ontevredenheid waarvan jy eintlik die ander meer verwyt as jouself. Dit is hier waar die km-virus toeslaan. Wanneer hierdie besmetting voortgaan sonder dat dit gekeer word, sien ons dat Christene hul tradisie begin loslaat – nie slegs versteende onderdele nie, maar selfs die kernwaarhede. Sommiges begin die einde van hul kerk(verband) voorspel. Nog ʼn stap verder en hulle begin die bestaande gemeente afbreek of sluit, met die argument dat die kerk heeltemal opnuut oorgebou moet word. Dit is duidelik dat hierdie soort pessimisme en eksperimenteerdrang nie ʼn gesonde klimaat skep vir ʼn goeie kerklike lewe nie.

Om ons te wapen teen hierdie virus, is dit nuttig om eers te vra hoe haalbaar hierdie drie ideale is.

ontevrede man

Verlammende Ideale🔗

  • Duidelikheid – Natuurlik moet ons doen en late in die kerk nie onnodig vreemd of ingewikkeld wees nie. Dit moet so duidelik as moontlik wees. Tog is dit ʼn illusie dat elkeen altyd alles dadelik moet kan verstaan. Duidelikheid het nie net te make met wat ons sê, sing en doen nie. Duidelikheid veronderstel ook iets van die kant van die besoeker. Het hy ʼn welwillende of ʼn vooringenome houding? Staan hy oop vir God se boodskap, en vir dit wat dalk vir hom onbekend, onverwags of ongelooflik sal klink? Kortom, net soos liefde moet ook duidelikheid van twee kante kom. Verder is dit so dat duidelikheid meer te make het met gevoel as verstand. Klein kinders verstaan dikwels meer van ʼn kerkdiens as wat hulle onder woorde kan bring. Wie as ideaal stel dat alles in die kerk vir elkeen duidelik moet wees, gee homself oor aan ʼn ideaal wat nóg haalbaar nóg reëel is. Laat ons eerder daarop fokus om met hart en siel verbonde te wees met ons woorde, liedere en tradisies. Watter indruk ʼn ander van ons kry, gaan vooraf aan die feit of die persoon wel alles verstaan.

  • Veiligheid – Natuurlik moet ʼn Christen baie inlewingsvermoë aan die dag lê by mense in aanvegting of met psigiese probleme. Maar of daarmee elkeen in die kerk ʼn veilige gevoel het, hang ook af van die ander. Soms wil ons self ook nie in ons swakheid of sonde aangespreek word nie en voel ons bedreig wanneer dit tog gebeur in die gemeente. Wanneer in Korinthe ʼn ongelowige of toehoorder in die gemeentesamekoms kom, “word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig.” Ek weet nie of dit wel so ‘veilig’ gevoel het nie, maar dit is wel so dat hy “op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.” (1 Korintiërs 14:24-25) Die heiligheid van die hemelse God is veilig vir elke mens, maar as sondaars kan ons in die eerste plek ook baie daardeur bedreig voel. Moet ons daarom nie eerder begin by heiligheid as by veiligheid nie?

  • Relevansie – Moet die kerk nie meer moeite doen om vorms aan te neem wat meer by die moderne samelewing pas nie? Moet ons nie meer aansluit by aktuele temas van hierdie tyd, eerder as die temas van die ou belydenisse nie? Maar dan kon onderwerpe soos hemel en hel, skuldvergewing, God se verbond dalk buite beeld bly. Die evangelie is wel vir die 21ste eeu, maar dit kom uit die hemel en het sy eie onderwerpe, wat dikwels vir ons kultuur of ouderdom glad nie relevant lyk nie. Dit is waarhede wat slegs weer as belangrik ervaar sal word wanneer onwil oorwin word, en nederigheid voor God terugkeer. Reeds in Athene het hulle Paulus nie relevant gevind nie toe hy op die Areopagus oor iets soos die opstanding van die dode begin praat het. Kortom, die ideale van duidelikheid, veiligheid en relevansie is onwerklik en onhaalbaar. Hulle veroorsaak onsekerheid en gee die gemeente ʼn minderwaardigheidsgevoel. Dit is te sien in die volgende:

    • Aanhoudende ontevredenheid oor psalmberymings, liedere, Bybelvertalings, liturgie, preek. Die minderwaardigheidsgevoel veroorsaak dat mense nie meer suinig is op dit wat hulle besit nie.

    • Onduidelikheid m.b.t. norme. Mense durf nie meer die norm onbeskroomd en vryuit toe te pas nie. Die tug verswak of verdwyn in die naam van beskerming en veiligheid.

    • Christene laat hulle denke en doen al hoe meer bepaal deur wat vir niegelowiges interessant en relevant is. Dit lei tot uitholling van die prediking en reduksie tot ʼn paar temas soos liefde en sosiale bewoënheid. Hulle is nie meer trots op die hele leer nie.

Missionêre Gemeente?🔗

Hierdie ideale word bevorder deur die idee van die missionêre gemeente. Die kerk sou slegs bestaansreg hê as dit groei. Die fokus is hier nie meer op die bekering van die Christen en die opstanding van die nuwe mens nie. Dit gaan oor die opstanding van ʼn nuwe kerk. Die kerk moet radikaal verander. Sommiges vind dat dit selfs beter is om die kerkdeure te sluit omdat hulle skaam is vir die bestaande gemeente en liewer iets nuuts wil begin – ʼn eksperimentele groep. Hier en daar verdwyn lank bestaande gemeentes, leeggesuig deur missionêre werk, sonder dat binne afsienbare toekoms nuwe gereformeerde gemeentes daarvoor in die plek kom.

kerkdeure

Met die eerste oogopslag lyk dit na ʼn Bybelse konsep: die kerk as lig in die wêreld. Maar is die kerk eers ʼn lig as sy missionêr geword het? Die idee van ʼn adjektiewe kerk (missionêre gemeente, diakonale gemeente, ens.) is ʼn betreklik nuwe verskynsel wat in die sestigerjare van die vorige eeu ontstaan het. As ons egter teruggaan na die Nuwe Testament, vind ons iets anders:

  • Dit was vanaf die begin God se bedoeling dat die goeie nuus van Jesus die Messias deur die hele wêreld verbrei sou word. Dit is ook maar gelukkig vir ons! Die apostels het orals gemeentes begin plant.

  • Die opdrag aan gestigte gemeentes is om te bid vir alle mense, sodat hulle tot bekering kom. Hulle tweede opdrag is om so heilig en liefdevol te lewe dat daardeur die laster van die ongelowiges weerlê word.

  • Die briewe in die Nuwe Testament staan vol opdragte om op jouself toe te sien, omdat die teenstander rondsluip soos ʼn hongerige leeu. Ook die oudstes moet toesien op hulself en die gemeente. Die gemeente is in hierdie wêreld ʼn heilige priesterdom.

  • Daar is nie ʼn opdrag om die bure en die stad (waarvoor daar gebid word) te bekeer nie. Daar is wel ʼn opdrag om nie skaam te wees vir die evangelie nie en om te alle tye bereid te wees tot verantwoording. Miskien sal God die gedrag van persone en gemeentes beloon deur ander ook tot geloof te bring.

  • Die stad en die wêreld waarin Christene lewe, bepaal nie die karakter van hul huisstyl nie. Inteendeel, dit is die duisternis waarin hulle ʼn lig moet wees.

  • Die belangrikste vraag vir gelowiges en gemeentes is daarom of hulle later self sal mag ingaan in die vreugde van hulle Heer, nadat hulle uit die groot verdrukking gekom het. Wanneer gelowiges suinig is op die lig wat God in hulle ontsteek het en sorg dat dit brandend bly, kan God ook ander na daardie lig toe lei. Ons lees nêrens in die Nuwe Testament dat Christene later verwyt sal word as hulle geen bekeerlinge gemaak het nie. Ons lees wel dat ons Heiland Hom sal skaam vir ons wanneer ons ons vir Hom geskaam het en nie die durf gehad het om vir sy Naam uit te kom nie.

Christus sê aan die gemeente in Filadelfia:

Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.Openbaring 3:11

Laat ons trots en suinig wees op wat ons ontvang het in belydenis, lied en liturgie.

Die kerk het ʼn tyd geken toe sy haarself meerderwaardig gevoel het met sy katedrale. Deesdae dreig ʼn minderwaardigheidsgevoel in die Weste. Maar beide is die keersye van dieselfde muntstuk: ons vind onsself belangrik. Maar dit is nie so nie. God kan ons gebruik, ons belangrikheid lê in die hemel, by Hom. Hierdie besef gee ons nederigheid, dankbaarheid, rus, vertroue, liefde en tevredenheid.