2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Die Volgende Generasie

Toe ek een-en-twintig jaar oud geword het, het my pa my hierdie eenvoudige raad gegee: “Vind manne wat is soos wat jy graag wil wees en sit aan hulle voete”. Namate ek manwees betree het, het hy my herinner dat die lesse wat ek sou nodig kry, nie in handboeke gevind kon word nie – hulle sou geskryf wees in die hart en lewe van ʼn godsman. Ek moes naby genoeg aan hierdie man kom sodat ek sy karakter kon waarneem en deur sy voorbeeld gevorm sou kon word. Ek het ʼn mentor nodig gehad.

Op daardie tydstip het ek nie besef hoe belangrik en vooruitsiende my pa se raad was nie. Maar minder as ʼn jaar later, het God my oor C.J. Mahaney se pad gebring, die man wat my mentor sou wees, my sou oplei in pastorale bediening, en my uiteindelik in sy plek sou bevestig in die kerk wat hy gestig en vir bykans dertig jaar gelei het.  

Wanneer ek terugkyk, raak ek selfs nog meer bewus van die seldsame geskenk wat God my gegee het in my verhouding met C.J.. Ongelukkig is my ondervinding uniek. Daar is vele jong volwasenes wat daarna verlang om aan die voete te sit van Christene wat reeds ver gevorder het in hul geestelike groei. Maar hoeveel ouer Christene is bereid om hulle daar te laat sit?

C.J. het my in sy lewe laat inkom, al het dit vir hom persoonlike ongerief meegebring. Hy het my letterlik in sy huis ingenooi (ek het vir ʼn jaar in sy kelderverdieping gewoon); hy het my studie gelei, my aan groot teologie blootgestel, en my beginner-pogings om leiding te neem en preek te lewer, sowel aangemoedig as konstruktief geresenseer.

Daarom is die krag van ʼn mentor nie vir my ʼn abstrakte begrip nie. Ek weet watter verskil persoonlike voorbeeld, vriendskap en die opdoen van praktiese vakkennis en –vaardigheid maak. Elke deel van my lewe – as ʼn volgeling van Christus, as ʼn eggenoot en vader, en nou as ʼn pastor – is gevorm deur die belegging wat my vriend in my lewe gemaak het, en steeds maak.

Een van die redes waarom ek so lief daarvoor is om my storie te vertel, is omdat ek hoop dit sal ouer Christene inspireer om die tyd af te staan om die jong opkomende generasie gelowiges te mentor.

Die meeste van ons weet dat om die volgende generasie te mentor ʼn goeie idee is. En dit is ook onbetwisbaar Bybels. Spreuke 13:20 doen ʼn beroep op die jongman om die metgesel van wyse manne te wees – by implikasie moet een of ander wyse persoon gewillig wees om dié een wat nie soveel wysheid het nie, sy metgesel te laat wees. Die Psalms praat van een geslag wat God se werke by die volgende geslag aanbeveel of geprys het (Ps. 145:4). En natuurlik hou die Nuwe Testamentiese voorbeeld van Paulus se onderrig en opleiding van Timoteus die belangrikheid van die mentor se rol in die verspreiding van die Evangelie en die opbou van die kerk aan ons voor. 

Om hierdie rede kan ons saamstem dat dit goed is om as mentor op te tree. Maar doen ons dit? En as ons dit nie doen nie, is die probleem dat ons te besig is? Of kan dit wees dat ons versuim om dit te doen omdat ons daadwerklike oortuiging kortkom? En kan ons gebrek aan oortuiging voortspruit uit ons onvermoë om die waarheid van die Evangelie toe te pas op ons verwagting van die volgende geslag? Hoe het die Evangelie betrekking op hierdie onderwerp? Eerstens is dit die wesenlike motief vir Christelike mentorskap. As Christene het ons ʼn boodskap – een wat bestaan uit ware feite oor ware gebeurtenisse – wat groter en belangriker is as enigeen van ons. Die goeie nuus oor Jesus en sy dood en opstanding vir sondaars is die wêreld se enigste hoop. Dit is die enigste weg na redding vir die mensdom. Die vanselfsprekende implikasie is dat, deur hierdie verlossende boodskap aan te stuur na mense wat nog hier sal wees lank nadat ons weg is, die belangrikste ding is wat ons gedurende ons hele lewe kan doen. Ons nalatenskap, ons reputasie, ons erfgoed is in werklikheid onbelangrik. ʼn Gebou of maatskappy of denominasie met ons naam daarop sal die wêreld niks baat nie. Maar as ons mans en vroue kan leer, oplei en dissipels kan maak om die boodskap van Christus en Hom as die gekruisigde te glo, lief te hê en te verkondig, dan het ons iets waardevols tot stand gebring.

Hierdie soort Evangelie-gesentreerde lewensuitkyk lei tot proaktiewe begeleiding. En dit is presies wat vandag nodig is. Lede van die ouer generasie moet dit op hulle self neem om na jong Christene te soek vir wie hulle in die geloof ʼn wyse en betroubare vriend en leier kan wees wat hulle kan volg. Laat ons nou eerlik wees. Hulle mag dalk nie jou deur afbreek om aan jou voete te sit nie. Hulle mag jou dalk nie met bewondering aankyk, verstom deur jou kennis nie. Jy mag dalk nie ʼn “cool” ouer persoon wees nie. Moenie dat dit jou stop nie. As jy gemotiveer word deur die Evangelie, moet dit jou nie stop nie. Onthou, dit gaan nie oor jou nie. Dit gaan oor wat Hy gedoen het. Of jy nou die bykomende aansporing het van die gevoel dat iemand jou mentorskap begeer, nodig het, of dat jy in aanvraag is of nie, jy kan uitgaan en soek waar jy van diens kan wees.  

Maar gestel jy kan nie aansluiting vind by die jonger generasie nie? Weereens is dit hier waar die Evangelie hom laat geld. Die Evangelie stroop die skyn van “generasie-gapings” af en herinner ons daaraan dat ons almal, ongeag ons ouderdom, iets met mekaar gemeen het – ons is almal sondaars wat die plaasvervangende offer van Jesus Christus nodig het. Die Evangelie ruim al die bulte in vriendskappe kruis en dwars oor generasies heen, uit die weg. Dit laat ons daaraan dink dat, ongeag ons ouderdom, ons baie gemeen het.

Dit was God se genade wat my daartoe gelei het om as jongman te besef dat ek ʼn mentor nodig gehad het om vir my raad en opleiding te gee in my bediening. En dit was God se genade wat ʼn Godsman voorberei het om daardie mentor te wees. Twee dekades tevore, in die vroeë stadium van sy bediening, het C.J. ʼn belofte teenoor God gemaak. Hy het altyd gehunker na ʼn ouer, toegewyde mentor vir homself, maar het nooit werklik een gevind nie. En daarom het hy vir God gesê dat as hy ooit die geleentheid sou kry om so ʼn mentor vir ʼn jonger man te wees, hy dit nie sou laat verbygaan nie. Hy sou nie te besig wees nie.

Toe ek oor sy pad kom, het hy my nie as ʼn laspos beskou nie. Hy het my nie as ʼn bedreiging beskou nie. Sy belangrikste oorweging was nie om sy posisie te behou nie. Hy het my beskou as ʼn jongman in wie hy ʼn belegging kon maak in dié sin dat die belangrikste waarheid – die waarheid van die Evangelie – voortgedra kon word. Wat ʼn verfrissende perspektief. Ons werk is nie om die volgende generasie af te weer nie. Ons roeping as mense wat die Evangelie liefhet, is om die volgende geslag so toe te rus dat hulle ons kan verbysteek in getrouheid en doeltreffendheid.

Iewers is daar ʼn jongman of –vrou wat bid vir ʼn mentor. Berei u voor. U kan God se antwoord op daardie gebed wees.