1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Volharding van die Heiliges

Tulp

Volharding van die heiliges1  is die gebruiklike benaming van die vyfde van die Vyf Punte van Calvinisme. Dié naam verskil van die ander vier punte, omdat dit oënskynlik die klem op ons roeping en verantwoordelikheid lê, eerder as om God se werk en die krag van sy genade te beklemtoon. Daarom verkies sommige mense die naam bewaring van die heiliges.2  Dié naam beklemtoon wel God se soewereine genade.

Deur van volharding eerder as van bewaring te praat, word ewenwel nie ontken dat ons volharding op die heilsweg “deur genade alleen” is nie. Buiten genade is daar geen manier waarop ons sou kon volhard nie.

Net soos die woord bewaring, leer volharding die wonderlike waarheid dat God se volk wat een keer gered is, nie hulle saligheid kan verloor of verloor nie. Hulle volhard op die heilsweg tot aan die einde.

Die naam dui ewenwel aan dat die heilsweg vol moeite en beproewing is. Dit is nie ʼn maklike pad nie, maar ʼn pad waarop ons ons kruis dra, ly om Christus ontwil, stry teen die duiwel, die wêreld en die vlees en deur beproewing getoets word. Nietemin kom die volk van God veilig deur al die moeite en gaan die heerlikheid in om by Christus te wees.

Ons gebruik die naam volharding om die besware van diegene wat glo dat God se volk hulle saligheid kan verloor, te weerlê. Hulle sê die leer van volharding moedig wêreldgelykvormigheid en onverskilligheid aan en vernietig alle beweegrede tot vroomheid.

Die woord volharding én die woord heiliges toon dat dit nie so is nie. God se volk word deur die krag van genade heiliges gemaak en volg die pad van heiligheid na die hemel – nie die pad van onheiligheid nie (Heb. 12:14). Die heilsweg is die pad van heiligheid en daar is geen ander pad na die heerlikheid nie. Dit is nie moontlik dat iemand wat deur die bloed van Christus losgekoop is, vernuwe en weergebore is deur die Gees van God, en in wie die Heilige Gees inwoon, sal voortgaan op die pad van verdelging nie (Rom. 6:1, 2).

Daar is mense wat dit ontken. Hulle gee te kenne dat ʼn mens wat verlos is in staat is om nooit enige verandering in sy lewe te toon nie, en voort te gaan met dieselfde sondige lewenswyse as dié voor hy gered is. Dit is die leer, byvoorbeeld, van diegene wat sê dat Jesus jou Saligmaker kan wees sonder dat Hy jou Here is, dit wil sê sonder dat Hy op jou hele lewe aanspraak het en dit onder sy heerskappy gebring is.

volharding

Daarom skram ons weg van die naam “ewige sekerheid”. Daar is niks met die naam verkeerd nie, maar hulle wat die naam gebruik, is dikwels diegene wat “Eenmaal gered, altyd gered” leer en daarmee te kenne gee dat dit nie werklik saak maak hoe jy lewe nie. Dit maak saak. Dit maak tewens baie saak.

Die volharding van die heiliges is ʼn groot troos. Dit verseker ons dat die volk van God in die lewe hierna almal in heerlikheid by Christus sal wees én dat hulle in hierdie lewe heilig is. Geen gelowige kan sy sonde liefhê en wil om dit te behou nie. Hy behoort dit te haat en te begeer om volkome daarvan verlos te word. Die leerstuk van volharding van die heiliges leer dat die gelowige van sy sonde verlos is en sal word.

Endnotes🔗

  1. ^ Perserverance of the saints – die P in die akroniem TULIP (Total depravity, Unconditional election, Limited atonement, Irresistable grace, Perserverance of the saints). – NG.
  2. ^ Preservation of the saints. – NG.