Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die vrede van Kersfees misbruik

"Vrede op aarde ..." het die engele die boodskap van God oor die velde van Betlehem uitgesing. Dit was die eerste Kerslied van alle tye, 'n lied wat die verbeelding van mense deur die eeue sedertdien aangegryp het. Ook vanjaar met Kersfees in ons land.

Politieke "vrede"?🔗

Ongelukkig het Kersfees in ons land vanjaar 'n ander kleur begin kry — 'n politieke kleur. Kersfees, word deur verskeie politieke voorpraters gesê, het 'n boodskap vir ons tyd van geweld en politieke onenigheid. Natuurlik is die boodskap van Kersfees 'n boodskap vir ons tyd en ons omstandighede — maar heeltemal 'n ander boodskap as wat die mense van hierdie voorpraters in gedagte het. En hulle het nie eens dieselfde "vrede" in gedagte nie!

Sommige mense bedoel met vrede 'n situasie waarin daar politieke orde en stabiliteit is. Vir hulle is vrede bereik as al die landsburgers die politieke opset van die dag aanvaar. So 'n vrede is natuurlik belangrik. Daarom het God landsowerhede daargestel om goeie orde in die samelewing te handhaaf. Maar dit is nog lank nie die vrede waarvan die engele daar op die oop velde van Bethlehem gesing het nie.

"Vrede" van die pasifisme🔗

Baie mense bedoel met vrede 'n situasie waarin niemand stry of veg nie, waarin daar geen botsing bestaan nie. Dit is die vrede van die pasifisme.

Die vredesoekery van die pasifisme is egter iets heeltemal anders as die opdrag van die Here Jesus om vredemakers te wees (Matt. 5:9). Vir die pasifisme het vrede as 't ware 'n afgod geword. In 'n sekere sin is hulle terug by die ou heidense Grieke wat die godin van vrede (Irene) aanbid het. Die vrede waarna die pasifisme soek, is 'n geweldlose situasie: geen stryd nie, geen botsing nie, geen onderlinge verskille nie — ten alle koste!

Teen die godin van "vrede" is daar net een sonde wat die mens kan begaan, en dit is dié van beginselvastheid. Iemand wat onwrikbaar vasstaan by sy oortuigings, en selfs bereid is om daarvoor te stry, staan in die weg van die vrede van die pasifisme. In die mond van die pasifis word die vrede van Kersfees dus 'n oproep tot alle mense om hulle oortuigings — selfs hulle geloofsoortuigings — prys te gee, ter wille van strydlose naasbestaan van mense. Die pasifisme se vrede staan egter lynreg teenoor die vredeboodskap wat God met die geboorte van Christus na die aarde gestuur het.

"Vrede" van die Kommunisme🔗

Verder het ons in ons tyd al meer te doen met die bedrieglike vredestaal van die Marxisme. Vir die Kommunis met sy Marxistiese strewes bestaan vrede slegs as daar 'n eenheidstaat tot stand kom op die patroon van die Marxistiese ideologie. Alles wat so 'n eenheidstaat in die weg staan, staan in die weg van vrede. So sê die Kommunis.

Daarom beroep die Kommunis hom ook op die vrede van Kersfees, maar met vrede bedoel hy dan 'n situasie van geen weerstand teen die Kommunisme nie. Wie teen die Kommunisme weerstand bied, tree nie in die gees van Kersfees op nie. Baie Christene begin al om so te dink.

Daarmee is die vredesboodskap van Kersfees binnekant buitetoe omgedop. Van die oorspronklike boodskap het niks behoue gebly nie.

Beroepe op die vrede van Kersfees🔗

Vanuit hierdie Babelse spraakverwarring word daar nou uit alle oorde 'n beroep op die kerke gedoen om veral vanjaar met Kersfees die boodskap van vrede uit te dra. Soms word dit selfs openlik gesê: 'n boodskap van vrede en nie geweld nie.

Met sulke beroepe moet die kerke baie versigtig wees. Nie omdat ons as gelowiges voorstanders van geweld is nie, allermins. Die probleem is egter dat die kerk, die Bybel en die vredesboodskap van Kersfees maklik misbruik kan word. Die vredesboodskap van Kersfees word dan 'n hefboom in die hand van die owerheid of die pasifis of die Kommunis om bepaalde politieke of ideologiese ideale te bereik.

Die vrede van God🔗

As ons van die vrede van Kersfees praat, daaroor dink, daaroor praat, daarvan getuig, doen ons dit altyd met die perspektief dat dit 'n vrede van God is. Die lied van die engele begin immers uitdruklik met "Eer aan God in die hoogste hemel". Die begin is by Hom en sy hemelse eer. En die "vrede op aarde" waarvan hulle sing, kom dan juis van Hom af wat vanuit die hemel regeer. Dit is nie 'n vrede wat uit die aarde self opkom nie.

Verder is dit 'n vrede wat slegs in en deur Jesus Christus bereik kan word. Daarom het die lied van die engele gekom juis met die geboorte van Jesus Christus. Sy geboorte was die begin van die vrede wat God vir die mens bereik het. En hierdie vrede is juis deur stryd bereik: God het sy Seun vir ons gestuur om Satan te oorwin, ons sondes te dra en ons in liefde met die Vader te versoen. Dus: nie vrede sonder stryd nie, maar vrede deur die oorwinning van Christus.

In hierdie Kerstyd is ons roeping as kerk van die Here dan baie duidelik om sy boodskap van vrede uit te dra: buite Jesus Christus om soek julle tevergeefs na vrede, want sonder geloof in Hom is daar geen ware vrede nie. Bekeer julle tot Hom. Soek God in gebedsvertroue op. Glo dat Hy die Lig van die nasies en die Redder van die wêreld is. Onderwerp julle aan Hom as enigste Here en Koning. Doen dit, en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou.