Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die Waarheid vir Lensiesop Verkoop

Skynbaar is dit vandag ‘n teken van geestelike volwassenheid by kerke van gereformeerde belydenis, om “ekumeniese” bande met allerlei ander kerke, wat nie die gereformeerde belydenis onderskryf en uitleef nie, te smee. “Samewerking” en “kontakbou” en “saamdoen” is nou die inding, want in die nuwe Suid-Afrika kan niemand isolasie bekostig nie. Ten einde ‘n impak te maak op die samelewing, is samewerking tussen alle gelowiges noodsaaklik. Dit impliseer onder andere kanselruilings en gesamentlike eredienste. Die gereformeerde belydenis word dan as ‘n lastige remskoen ervaar omdat dit die “eenheid” tussen gelowiges in die wiele ry. Die feit dat almal, in alle kerke, “in Jesus glo” en “by die Woord staan” is skynbaar die finale kriterium vir samewerking.

Die gereformeerde belydenis het dan dalk nog ‘n interne funksie (al is dit net formeel op skrif), maar wanneer daar prakties kontak gemaak word met ander kerke, verdwyn die belydenis op die agtergrond en word daar gekonsentreer op “dit waaroor almal saamstem.” Dan word daar gekonsentreer op “Jesus” en “die Bybel.”

Die vraag is van watter “Jesus” en “Bybel” hier sprake is.

Indien ons bely dat die gereformeerde belydenis sinoniem is met die outentieke Apostoliese geloof, dan is dit tog die ononderhandelbare Waarheid. Dit is ook inderdaad wat die gereformeerde belydenis is! So het elke gereformeerde predikant dit met sy handtekening bevestig tydens legitimasie. Daar is “voor die Here” verklaar dat “al die artikels van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid ooreenkom met die Woord van God.” (aanhaling uit Legitimasie-eed, my kursivering). Die kandidaat-leraar beloof voorts “om die voornoemde leer ywerig en volhardend te leer en in sy wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe.” Daarmee saam beloof die kandidaat om “alle dwalings wat teen die leer stry” te “verwerp” en dit te “weerlê” en dit “teë te spreek” en dit “uit die kerk te weer.” Ook het elke persoon wat belydenis van geloof afgelê het in ‘n gereformeerde kerk basies dieselfde verklaring afgelê deur in te stem met die inhoud van “die Artikels van die Christelike geloof.”

Dit is dus ‘n ernstige vraag of daar enigsins onderskeid gemaak kan word tussen dit wat “wesenlik” in die belydenis is en dit wat op die “periferie” (buiterand) lê. So ‘n onderskeid is egter noodsaaklik wanneer ‘n gereformeerde gelowige hande wil vat met ‘n nie-gereformeerde. Dan word daar eenheid gesoek in die sake wat “wesenlik” is, maar oor dit wat op die “periferie” lê word daar in alle tale geswyg.

Sake wat op die periferie lê word gewoonlik aangedui as dinge soos die onvoorwaardelike uitverkiesing, die genadeverbond, die beperkte versoening, die onweerstaanbare genade, die sakramente, die volharding van die gelowiges, die erfsonde, die aard van die heilstoeëiening ensovoorts. Die dwaalleer van die Arminianisme word ook dikwels gerelativeer ter wille van “samewerking.”

Die Arminianisme is op die Sinode van Dordtrecht (1618-1619) as kettery veroordeel. Hiervolgens is dit die mens se keuse vir Christus wat deurslaggewend is en nie God se soewereine keuse in Sy ewige uitverkiesing nie. Hiervolgens het Christus vir alle mense gesterf en die keuse berus by die mens om dit aan te neem of nie. Ook red God die mens op grond van die mens se berou en bekering. Bekering is nie ‘n daad van dankbaarheid nie, maar ‘n voorwaarde vir verlossing. Dit is die algemene manier van dink by feitlik alle nie-gereformeerde mense. Dit is die algemene “evangeliese” teologie. Uiteindelik is dit ‘n vraag of hierdie “Jesus” dieselfde Christus is as die Een van die Woord. Hier het ons nie maar net te make met verskillende interpretasies van die Woord nie. Dit kan nie maar net gesien word as “dogmatiese verskilletjies” nie.

Kyk ‘n mens van naderby na ‘n vergelyking tussen die gereformeerde belydenis en die algemeen-evangeliese teologie van die deursnee gelowige, blyk dit dat daar ten diepste nie soveel raakvlakke is nie. Oppervlakkig beskou lyk dit min of meer na dieselfde geloof, maar die twee is wêrelde van mekaar. Besef ons gereformeerde leraars en gelowiges dit? Weet ons nog wat ons veronderstel is om te glo? Ken ons die inhoud van ons eie belydenis? Is dit ‘n belydenis op papier of van die hart en lewe? Is ons belydenis net ‘n formele aangeleentheid of is dit die hartklop van ons bestaan? Verstaan ons dat dit die outentieke Christelike geloof is waarop geen kompromie moontlik is nie? Is dit nie dalk so dat baie gereformeerdes reeds die arminiaans-evangeliese teologie aangeneem het as die “evangelie” nie? Dalk uit pure onkunde.

Eenheid kan nooit ten koste van die waarheid realiseer nie. Broederskap berus op eensgesindheid oor dit wat ons glo. Gee ons dit prys, verkwansel ons die waarheid vir ‘n pot lensiesop. Daarmee word geen oordeel gefel oor die egtheid van ander se geloof nie. Dat gelowiges uit alle kerke waarlik opregte Christene is, word nie betwyfel nie. Van broederskap in die kerklike sin van die woord is daar egter nie sprake alvorens daar nie eenheid in die enige waarheid van die outentieke Apostoliese leer verkry is nie. Voordat dit nie daar is nie, is daar geen sprake van kanselruilings of gesamentlike eredienste nie.

Dit alles beteken nie dat gereformeerdes in isolasie moet leef nie. Daar moet inderdaad uitgereik word. Gelowiges moet mekaar opsoek. Maar dan moet die samewerking ‘n duidelike oogmerk hê. Die volle waarheid moet uiteindelik die grondslag van alles wees. Daar moet gewerk word na bekering. Bekering tot die waarheid van die volle raad van God. Hierdie wekroep tot bekering mag nooit verswyg word nie. Ons belydenis staan nie om dowe neute bekend as “formuliere van eenheid” nie! Dit verdeel nie. Dit verenig – almal wat hul laat versamel deur die Goeie Herder. Omdat hulle Sy stem ken.