Bron: Kerk en Woord, 2003. 4 bladsye.

Die Ware Kerk om Jou by te Voeg

Teen die einde van art 28 NGB kom die roeping van gelowiges om hulle te vergader om die Here se strydende en oorwinnende kerk te wees. Die roeping is dat gelowiges dus verplig is om hulle by die ware kerk toe te voeg en daarmee te verenig, hulle onder die herderlike sorg van die ampte in Woordbediening, sakramentsbediening, tugbediening en gemeenskapsbeoefening te plaas en hulle af te skei van die wat valslik beweer dat hulle kerk is, maar hulle by die ware kerk aansluit.

Nou is die vraag gewoon logies waar om 'n betroubare leier, 'n goeie herder en betroubare waarmerke te soek. Waar vind ons die wettige openbaring van die Liggaam van die Here Jesus? Dit is nie 'n volstrek-heilige kerk wat uit sondelose mense bestaan soos die Donatiste wou nie. So iets sal ons nie in hierdie bedeling kry nie.

Die volmaakte heilige kerk sal eenmaal in die Nuwe Jerusalem vergader wees, en ons is nou nog nie daar nie. Ons verlang weliswaar om daar te wees, ons sing van ons verlange om na Jerusalem van God toe te gaan, maar nou is ons nog nie daar nie en daarom kan ons ook nog nie sonder sonde wees nie.

Dit is soos die gelykenis van die onkruid wat deur die vyand in God se goeie saai­land gesaai is en wat eers eenmaal met die finale afrekening versamel en verbrand sal word (Matteus 13). Selfs in die kring van die dissipels was daar 'n Judas Iska­riot, en onder die eerste gemeentelede van Jerusalem 'n Annanias en Saffira. Daar is altyd namaaksels van die egte. Skyn­gelowiges wat hulle uitgee vir ware gelo­wiges.

Die gelowiges het deur die eeue van die kerkgeskiedenis geleer om valse profete van ware profete te onderskei soos die HERE ons reeds in Deuteronomium 13 leer, om die gees van die Here Jesus te onderskei van die gees van die Antichris (1 Johannes 3), en om die ware skape van die goeie herder te onderskei van die wolwe wat in skaaps­klere na ons toe kom (Matthéüs 7).

Ons het dan ook al in die Heidelbergse Kategismus geleer om te vra wat is ware geloof, en wat is ware bekering, want daar is ook so-iets soos valse geloof en skynbekering.

Die Psalmdigters gebruik dikwels vir hierdie onderskeiding die terme regver­dige teenoor goddelose en gee byvoor­beeld in Psalm 1 reeds 'n eenvoudige onderskeiding tussen die twee soorte gelowiges om onsself en die hele kerklike gemeen­skap daaraan te toets.

So is daar ook op die kerklike terrein die onderskeid tussen waar en vals. En ons het die roeping om vanuit die Woord van God noukeurig tussen ware en valse kerk te onderskei, spesifiek met die oog daarop om ons (volgens art 28) by die ware kerk toe te voeg en van die valse kerk af te skei.

Nou is dit verstommend om te sien hoe mense dikwels te werk gaan om die betroubare waartekens te soek. Byvoor­beeld by mense wat jou so vriendelik behandel en wat so aantreklik is, of daardie groep mense wat so uitbrei. Of 'n groep wat so welvarend leef as teken van die Here se seën.

Maar dis presies nie hierdie aanloklik­heid van die oë wat die betroubare merk­tekens is nie. Daar is net een bron waar­mee ons betroubaar die maatstaf kan aanlê: Om met groot oplettendheid uit die Woord van God te onderskei watter kerk die ware kerk is.

Hoe sal ons uit die Woord aflei wat en waar die ware kerk is? Dis uit die staan­spoor nie ingewikkeld nie.

Ons belydenis self sê dit op 'n punt: kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Jesus het dit self 'n keer vir die Fariseërs gesê:

Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.Johannes 8:47

En hierdie standaard het Jesus as deel van sy Hoëpriesterlike gebed gemaak toe Hy gebid het:

Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo…Johannes 17:20

En Jesus het baie eksplisiet in sy sen­dingsopdrag aangewys waar Hy met sy ware kerk sal wees tot aan die einde van die wêreld, naamlik:

Gaan dan heen, maak dis­sipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.Matteus 28:19

En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. AmenMatteus 28:20

Dus eintlik eenvoudig: U sal die ware kerk onmiddellik herken by mense wan­neer almal hulle ooreenkomstig die sui­were Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. En alles onderhou wat Jesus ons beveel het.

So oor die algemeen gesê is dit ook wel goed, maar dan gee dit ons nog nie sekere betroubare handvatsels of sekere uitstaande betroubare kenmerke soos die verskillende betroubare simptome van 'n sekere siekte waaraan jy dit onmiskenbaar kan eien nie. En dit was deur die swaar stryd van die kerkgeskiedenis heen dat die gelowiges ontdek het wanneer mens met vertroue die ware kerk kan herken en wanneer daar verseker valse kerk op 'n plek vergader is.

Hoe sal ek weet dat die mense hulle oor­eenkomstig die suiwer Woord van God gedra?

Wel, tussen al die baie interessante dinge wat by 'n godsdienstige gemeen­skap behoort, het die kerkvaders drie uit­staande betroubare aanduidings gevind:

  • As die mense waarlik soos Jesaja 66:2 uitwys, bewe vir die Woord van die HERE, sal hulle dit ook met goddelike respek verkondig en aanhoor soos wat die HERE dit vir ons laat toekom het, soos reeds in Artikels 2-7 behandel is.

  • As hulle waarlik ooreenkomstig die suiwer Woord van God handel, sal hulle nie die Bybel probeer aanvul of verbeter met allerlei bronne van destyds of van vandag nie. Suiwer Woord beteken die enkel-Woord, die naakte Woord… of ook soos wat die reformasieslagspreuk lui: Sola Scriptura, die Woord alleen. Want dan bely ons dat die Heilige Gees die hele Woord geïnspireer het, dat die Woord sy eie verklaarder is en dat die Woord self die absolute arbiter in enige leergeskille is.

Hierdie belangrike merkteken word so maklik getorpedeer waar die inrigting van die kerklike lewe sommer maklik volgens ander allerlei moderne modelle geskoei word, en waar die Woordverkondiging as die hart van die eredienste sommer maklik deur allerlei vermaaklik­hede verdring word.

Die dwaasheid van die prediking ­soos wat Paulus dit aan die Korinthiërs benoem, wat eintlik die wysheid van God is, moet nog die hart van gemeen­te-wees vorm. Dit mag nie verdring wees deur populêre opwekkingsdienste en aan­loklike opsmuksels nie.

Die ergste subtiele aftakeling van die suiwere Woord is wanneer op so 'n manier leiding in die lewens van mense gegee word om hulle te probeer behaag, soos wat Paulus aantoon dat sy prediking nou juis nie is nie:

Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n dienskneg van Christus wees nie.Galasiërs 1:10

U sal weet dat die Woord suiwer bedien word wanneer dit alleen lidmate in gehoorsaamheid aan Christus opskerp en nie mense behaag nie.

En uit hierdie hoofsaak van die hoor­bare verkondiging van die suiwer Woord, volg noodwendig ook die sigbare bedie­ning van die suiwer Woord. Wanneer die sakramente wat Christus vir ons ingestel het – en nie meer as dit nie, ook nie minder as dit nie – bedien word op die besondere manier wat Hy beveel het.

Die sakramente stel ons immers in staat om ons verbondsverhouding met God te mag aanskou en dit aan ons persoonlik bedien te kry. Naas en saam met die hoorbare Woordverkondiging, ook die sigbare, voelbare, proebare Woordver­kondiging — suiwer indien ons toets en lees en bevind dat dit bedien word soos wat Christus dit beveel het.

Dan sal ek weet dat daardie mense God se gesagvolle Woord ook met goddelike respek gehoorsaam.

En as verdere uitvloeisel hiervan sal ek weet dat die liefdesgehoorsaamheid aan die Woord van God by 'n gemeente in die sentrum staan sodra ek ontdek dat die lidmate en die ampsdraers en die ampte­like bediening so funksioneer dat hulle mekaar in die gehoorsaamheid aan sy Woord dissiplineer.

Hulle los nie die lidmate maar net uit om sorgeloos en bandeloos van die Woord van God weg te drywe en uit die gemeenskap van die kerk te onttrek nie. Inteendeel, jy ontdek dat as jy nie ywerig meelewe nie, jy baie vinnig jou mede­broeders en susters en jou ampsdraers op jou hoof kry.

En as jy nie gehoor gee nie, word drin­gende liefdevolle maatreëls getref. Die eer van God moet immers gehandhaaf en die gemeente van God moet suiwer gehou word. Die broeder of suster moet in die geloof behou word. Die mense moet geleer word om alles te onderhou wat Jesus beveel het.

Die Grieks sê dit baie sprekend, die onderwysers sal dit baie goed verstaan: Daar staan dat didaktiek toegepas moet word om Christus se Woord te onderhou: inligting oordra en met oefeninge indril; dissiplineer, afrig, onderrig – leer hulle. As dit is wat jy sien by kerk, dan weet jy dat hulle hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Dan weet jy dat daardie die ware kerk van Christus is.

Die dinge wat as merktekens vir ons gegee word van die ware kerk is dienste en praktyke, gebeure en gedrag wat mens sigbaar en beleefbaar in 'n plaaslike gemeente ontdek wat Christus daar ver­gader het.

U moet vasstel of die gemeente die Woord van God met goddelike gesag res­pekteer, en met goddelike respek gehoor­saam. Of hulle Christus alleen (en nie enige mensegesag, die Pous, die sinode, die dominee of die enigste ryk boer nie, maar Christus alleen) as hulle Hoof erken.

En u sal dit onmiskenbaar weet as die Woord intensief en suiwer bedien word, nie na die mens nie, maar om op te roep tot gehoorsaamheid aan Christus.

U sal dit ook weet as hulle die sakra­mente bedien in gehoorsaamheid aan Christus soos Hy dit beveel het.

En u sal dit veral ook verseker weet as u ontdek dat die lidmate mekaar liefdevol streng dissiplineer om ywerig en suiwer die Here te dien.

Hieraan — sê die belydenis, kan mens sekerlik die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.