1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Wese van die Geloof

Wanneer ons oor geloof dink, dink ons gewoonlik aan die aktiwiteit van geloof en vertroue in God en sy Seun, die Here Jesus Christus. Geloof  is  om te glo en te vertrou, maar eerstens is dit, in sy diepste werklikheid en wese, eenwording met Christus.

Wanneer die Heidelbergse Kategismus van ware geloof praat as “in Christus ingelyf word”1 en die Westminster Groot Kategismus sê dat geloof nie alleen instemming is met die  waarheid van die belofte van die evangelie nie, maar ook om  Christus tot verlossing te ontvang, en in Hom te berus,2 word hierdie eenwording bedoel. Benewens die “aktiwiteit van glo”, word na hierdie inlywing in Christus, hierdie ontvang van en berusting in Christus, soms in die teologie verwys as die “krag van die geloof” en die “beginsel van die geloof”.

Dat geloof eenheid met Christus is, word in die Skrif geleer in gedeeltes soos Johannes 17:20, 21, Galasiërs 2:20 en Efesiërs 3:17. Hierdie eenheid blyk ook uit die manier waarop die Skrif oor geloof praat. In die Nuwe Testament, byvoorbeeld, word in Grieks verskillende uitdrukkings gebruik, waarvan die meeste daarop dui dat geloof ons in lewende aanraking en eenheid met Christus bring.3 Die Skrif praat merendeels van “in Christus glo” (dit wil sê, nie “aan” nie – Nic Grobler). Dit beteken niks anders nie as dat ons, deur te glo, lede is van sy liggaam, van sy bene en van sy vlees (Ef. 5:30).

Al hierdie gedeeltes dui op intieme persoonlike eenheid en gemeenskap met die Seun van God. Selfs die gedeeltes wat bloot daarvan praat dat ons Christus glo, veronderstel dat ons naby genoeg aan Hom is om Hom werklik te hoor spreek en te kan weet en vertrou wat Hy sê (Joh. 14:11; 2 Tim 1:12). Dit is die wese van ware geloof.

Dit is ook wat ware geloof van sy namaaksels onderskei. Namaaksels van ware geloof boots die ware geloof op baie maniere na, maar daar is één ding wat nie nageboots kan word nie, en dit is om deur geloof  een te wees  met Christus.

Om geloof as eenheid met Christus te beleef, moet geloof  noodwendig  as ʼn gawe van God beleef word. As ons net van die  aktiwiteit  van geloof praat, mag ons dink dat geloof sy oorsprong in ons en in ons wil het. Maar as ons besef dat geloof, in die eerste plek,  eenheid  met Christus is, word dit duidelik dat geloof God se werk en gawe is. Is ons in staat om onsself met Christus te verenig? Net so min as wat ʼn loot homself in ʼn boom kan inent!

Hierdie begrip van geloof maak ook baie ander dinge duidelik. Dit verklaar hoe, deur die geloof, die geregtigheid van Christus ons regverdig maak. Dit verklaar hoe geloof die oorwinning is wat die wêreld oorwin, want dit is nie een of ander inherente krag in die geloof wat oorwin nie, maar die feit dat geloof ons in Christus bring, en ons so laat deel in Christus se oorwinning oor sonde, dood, die wêreld en Satan.

Hoe heerlik is dit dan om te kan sê dat ons die geloof het; om te bely dat deur ʼn wonderlike en soewereine daad van God, ons in Christus lewe en Hy in ons, om nooit van mekaar geskei te word nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Heidelbergse Kategismus, Sondag 7, Vraag en Antwoord 20
  2. ^ Westminsterse Groter Kategismus, Vraag en Antwoord 72.
  3. ^ Die Griekse woord eís (wat, onder meer, beteken “in ... in”, na ... toe”, “tot ...” en “op ...” ) word in hierdie verskillende betekenisse in die Skrif gebruik, onder meer in Johannes 3:16, Kolossense 2:5, Romeine 9:23, Romeine 10:11 en in Handelinge 11:17 en 16:13. Die Engels wat in die KJV hier gebruik word, is “in”, “on”, “to”, “unto” ens. Al hierdie betekenisse dui op ʼn lewende, bewegende wedersydse gerigtheid. — NG.