1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Wet en die Verbond

Die unieke kenmerk van die verbond met Israel was natuurlik die afkondiging van die wet op die berg Sinai. Wat is die verhouding tussen die wet en die verbond?

Galasiërs 3:17-21 is grondliggend aan begrip van hierdie verhouding. Hierdie gedeelte wys, eerstens, daarop dat die verbond met Abraham, vierhonderd jaar voor die afkondiging van die wet, dié verbond is wat “in Christus ... bekragtig is”, dit wil sê die één ewige verbond van God; en, tweedens, dat die wet nie die verbond kragteloos gemaak het nie (vs. 17). Die wet is nie teen die beloftes van die verbond nie (vs. 21).

Eksodus 24:7 gaan sover as om die wet die “boek van die verbond” te noem, die boek waarin God sy verbond met sy volk bekend maak. As die verbond waartoe die wet behoort, die verbond is wat in Christus bekragtig is — dieselfde  verbond waartoe ons behoort – dan is die wet steeds die boek van die verbond, alhoewel baie sedertdien by daardie boek gevoeg is.

Volgens Galasiërs 3:19 is die geskrewe wet by die verbond gevoeg weens die oortredinge, totdat Christus sou kom. Dit beteken dat die wet, deur die sonde te openbaar, ons behoefte aan Christus toon. Dit is “ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof” in Hom (vs. 24).

Romeine 10:4 sê grotendeels dieselfde. Dit sê dat Christus die einde van die wet is, nie in die sin dat Hy die wet wegneem nie, maar wel dat Hy die einde van die wet is omdat Hy die doel en oogmerk van die wet is. Die wet is gegee met Christus as doel, en dit verwesenlik sy oogmerk wanneer dit, deur die sonde te openbaar, aan die ware Israel hulle behoefte aan Christus en aan regverdiging deur geloof in Hom toon.

Paulus wys duidelik in Romeine 7:7 dat die wet steeds hierdie funksie verrig: ”... ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie”. Galasiërs 3 bewys dit ook, waar daar staan dat die wet nie net die tugmeester van die Jode was nie, maar ook van ons (vs. 23-24).

Dit is dus nie vir ons moeilik om te sê dat die wet deel is en was van die verbond nie. Dit was gewis deel van die verbond in die Ou Testament, waaraan Galasiërs 3:19 ons dan ook herinner. Dat dit steeds tot die verbond behoort is duidelik uit die feit dat dieselfde wet steeds óns tugmeester na Christus toe is. Wat verander het is ons, die verbondsvolk, se verhouding tot die wet, maar dit is  ʼn  ander onderwerp; die onderwerp van Galasiërs 4:1-7.

Hiermee word nie ontken dat daar “eerste beginsels van die wêreld”, en ook bloot seremoniële elemente, aan die wet verbind word nie (Kol. 2:20-23). Dít het opgehou, maar selfs in die Ou Testament was dit deel van die verbond omdat dit na Christus heengewys het en vir Israel  ʼn  “tugmeester” na Christus was.

Dat daar net een verbond is, is tersake — ʼn  verbond wat nie in botsing is met die wet nie,  ʼn  genadeverbond in Christus waarby die hele ware Israel behoort. God se wet was nie, is nie en sal nooit teen God se verbond wees nie.