1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Woordelikse Inspirasie van die Skrif

Die leer in verband met die woordelikse inspirasie van die Skrif, is nou verwant aan die leer van volkome inspirasie. Dié leer beklemtoon dat die woorde van die Skrif deur God geïnspireer en gegee  is. Die Skrif is nie net die Woord van God nie, maar ook God se woorde.

Ons leer en beklemtoon dit teenoor diegene wat met vroom praatjies sê dat die Skrif in leer en leerstelling geïnspireer is, maar nie in woorde en besonderhede nie. Sulke praatjies is natuurlik blote onsin, want dit is nie moontlik dat die Skrif in leer en betekenis geïnspireer is, maar dat die woorde waarmee geleer word, nie self geïnspireer en onfeilbaar is nie.   

Die geloof aan woordelikse inspirasie maak dié van ons wat Engelssprekende Christene is, sterk voorstaanders van die Bybel in die King James weergawe (Authorized Version — die KJV). ʼn Belangrike kenmerk van hierdie weergawe is dat woorde wat nie in die oorspronklike Hebreeus of Grieks voorkom nie, gekursiveerd weergegee word, om daarmee aan diegene wat nie Hebreeus of Grieks kan lees nie, sover moontlik die oorspronklike woorde van die Skrif deur te gee. Dit mag nodig wees om woorde by te voeg om  ʼn geskikte vertaling in Engels te bewerkstellig, maar die lesers weet dat die gekursiveerde woorde deur mense toegevoeg is, en nie werklik deur God gegee is nie.               

Die leerstelling van woordelikse inspirasie word geleer in Skrifgedeeltes soos Psalm 12:7, Spreuke 30:5, Openbaring 22:18,19 en die vele Skrifgedeeltes wat na die woorde wat God gespreek en laat opskryf het, verwys (Ps. 50:17; Ps. 119:130).

Daar is merkwaardige voorbeelde in die Skrif van die belangrikheid van hierdie leer – van die feit dat die presiese woorde van God belangrik is. In sommige gevalle maak woordkeuse  ʼn groot verskil.

As Genesis 17:7 sou gepraat het van sade en nie van saad nie,  ʼn blote verskil tussen meervoud en enkelvoud, sou dit nie profesie van Christus gewees het nie (sien Gal. 3:16). Hierdie verwysing na Christus gaan in vertalings wat die Hebreeuse woord  zera‛ (saad) met “nageslag” of “afstammelinge” vertaal, heeltemal verlore.

Soms maak die woorde in die oorspronklike taal dit moeilik om  ʼn gedeelte te verstaan, soos in Hebreërs 11:11. Die Griekse woorde (katabolē sperma) beteken letterlik om saad te plant. Die Grieks is gewoonlik vir die manlike vorm gebruik en is elders vertaal met “verwek”. Omdat dit die enigste woorde is wat die Skrif gebruik, is dit ons verantwoordelikheid om vas te stel waarom ʼn woord gebruik word en om nie, soos die NIV doen, die sin te verander om dit in ooreenstemming met ons denke te bring nie. Die NIV sê naamlik dat Abraham in staat gestel was om  ʼn vader te word, terwyl Abraham glad nie in die vers genoem word nie.1Sulke veranderings, wat dikwels in die NIV voorkom, is ontkenning van woordelikse inspirasie.

Daar is nog baie voorbeelde, maar wat ons wil beklemtoon, is dat ons noukeurig moet luister na wat God sê. Om tevrede te wees dat ons die kernbegrip of  ʼn algemene indruk van wat God sê, verstaan, is nie genoeg nie. Ons moet seker maak dat ons Hom noukeurig en in besonderhede hoor, glo en gehoorsaam. As Hy soveel sorg aan die dag lê in sy openbaring van Homself deur die geskrewe Woord, wat is die mens dat ons enigsins minder sou omgee of ons elke woord van God, “rein woorde, silwer wat gelouter is, . . . gesuiwer sewe maal” (Ps. 12:7) hoor, glo en gehoorsaam?                                                                                  

Endnotes🔗

  1. ^ Ook die Die Bybel Nuwe Vertaling (1983) voer hierdie systap uit — NG.