Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Is dit Regtig Nodig om te Trou?

Wat beteken dit om “te trou”? Dit beteken tog om lewenslange trou aan mekaar te sweer. Waarom is dit dan nodig om deur ‘n huweliksbevestiger van die staat “getrou” te word en dit “wettig” te doen? Waarom kan ‘n man en vrou nie eenvoudig privaat teenoor mekaar trou sweer en verder saamwoon nie? Maak die huweliksbevestiging nou regtig so ‘n verskil? Tewens, in die praktyk is saamwoonpaartjies soms meer getrou aan mekaar as wat getroudes is! Is die huwelik nie ‘n agterhaalde en uitgediende praktyk wat niksseggend is in die 21 ste eeu nie?

‘n Mens moet onthou dat ‘n gelowige kind van die Here ánders na hierdie saak sal kyk as die ongelowige. Die ongelowige sal geneig wees om vanuit die humanisme (wat vir die mens reg voel) en vanuit die praktyk (wat prakties die beste werk) te redeneer terwyl die gelowige hom/haarself aan die Here se Woord wil onderwerp. As uitgangspunt vir hierdie artikel word aanvaar dat die leser ‘n gelowige is wat van harte begeer om na die Skrif te luister. Wat leer die Skrif oor die huwelik en saamwonery? So vra die gereformeerde gelowige.

Ons moet eerstens onthou dat ons nie in die Heilige Skrif presiese voorbeelde sal vind van dit wat vandág die praktyk is nie. Ons sal nie in die Skrif huweliksbevestigers kry wat deur die konings (staat) aangestel is en huwelikseremonies soos dit vandag plaasvind nie. Waarom dan nie? Gewoon omdat die Skrif afspeel in totaal ander omstandighede en kulture waar ander gebruike geheers het. Maar: in die Skrif vind ons wel tydlose beginsels wat vandag nog geld in gelowiges se lewens. Genesis 2:18-24 gee byvoorbeeld veel meer as net ‘n beskrywing van hoe Adam ‘n vrou gekry het! Nee, hier vind ons die Here se ordening vir die tyd wat sou kom. Adam het immers nie ‘n “vader en moeder” gehad wat hy moes “verlaat” om sy vrou aan te kleef nie! Hier is ‘n normatiewe skeppingsordening wat vir alle mense sou geld. Die huweliksband is ‘n nuwe band wat geskep word. Vader en moeder moet verlaat word en die vrou moet “aangekleef” word. Die “een vlees wees” dui op ‘n onverbreeklike eenheid. Geslagsgemeenskap is dus nie iets van die oomblik nie, maar veronderstel ‘n permanente relasie. (Vgl 1 Kor 6:16).

In oud-Israel kry hierdie beginsel van Genesis 2 beslag in die huwelik. Hoe presies die sluiting van die huwelik gewerk het, weet ons nie. ‘n Mens moet in gedagte hou dat Israel uit die heidendom opgekom het (en omring was) en dat die Here met hulle pad ‘n gestap het van skoling om hulle stap vir stap te bevry van heidense gebruike, soos byvoorbeeld poligamie. Een ding is seker: in oud-Israel was die huwelik nie ‘n informele en private verbintenis wat maklik verbreek kon word nie. Die huwelik was duidelik ‘n beskermde lewenstaat met allerlei waarborge omgewe. Dit was beslis nie ‘n privaatbesluit wat twee mense neem nie. Dit was ‘n verbintenis wat offisieël en publiek aangegaan is, met die instemming van die familie. Dikwels het die ouers ‘n groot rol gespeel by die totstandkoming van die huwelik (Gen. 21:21, 24:1-4, 28:1-2, 29:16-23, Deut. 7:3, 1 Sam 18:17-21). Die betaal van ‘n bruidsprys en die maak van beloftes was ook belangrik (1 Sam 1:8, 18: 20,28, Psalm 45, Spr 31:10-31, Hooglied, Eseg 24:15-27). Rut en Boas is byvoorbeeld getroud in die stadspoort in teenwoordigheid van die oudstes (Rut 4:1-13). ‘n Huwelik kon ook nie verbreek word sonder ‘n amptelike skeibrief nie (Deut 24:1).

Nou bly die kernvraag: Indien ons dit alles wil oordra na ons huidige tyd, hoekom kan twee mense nie maar net ‘n private besluit voor die Here neem, om voortaan “man en vrou” te wees nie? Waarom duur uitgawes maak vir ‘n troudag? Waarom voor ‘n Kommisaris van Ede in die openbaar beloftes maak? Waarom nie maar “een vlees wees” (Gen 2:24) soos Adam en Eva nie? Dit is egter opvallend dat Jesus en Paulus Gen. 2:24 van toepassing maak op die huwelik en nie op ongehude saamwonery nie! Want, die “een vlees wees” dui op verantwoordelikhede en verpligtinge met bindende krag. Wie “getroud” wil wees sonder om te trou wil juis nie aan hierdie verpligtinge gebind wees nie! Dit gaan veel eerder oor sondige selfgesentreerdheid en ongebondenheid. En juis hierdie ongebondenheid doen ‘n onreg aan Gen. 2:24. Wie ongetroud “getroud” wil wees moet hul dus liefs nie op die Skrif (en op Adam en Eva) beroep nie! Saamwonery het te make met die aanhang van ‘n ontugtige (Sien 1 Kor 6). Daar het ‘n band gekom wat verantwoordelikhede meebring, maar omdat daar geen wettige band is nie, is dit sonde teen die eie liggaam. Alhoewel huwelike in die Bybelse tyd nie gesluit was op dieselfde manier as vandag nie, was dit steeds ‘n publieke aangeleentheid met God as getuie (Mal. 2:14) en is daar ‘n lewenslange verbintenis aangegaan voor familie en vriende. In Spreuke 2 word die huwelik ‘n “verbond van God” genoem. Die huwelik is dus nie ‘n private aangeleentheid tussen twee mense nie! Wie ongetroud “getroud” wil leef dink dat hul verhouding slegs iets tussen hulleself is met wie niemand anders iets te make het nie. Dit is ‘n fatale misverstand. Hulle verhouding kan nie losgemaak word van kerk en samelewing nie. Die huwelik is trouens die hoeksteen van ‘n stabiele samelewing. Vanuit die wettige geregistreerde huweliksluiting gaan daar dus ‘n bederfwerende en beskermende krag uit.

‘n Laaste vraag: Is daar by die Here genade vir mense wat uit onkunde mislei is? Ja, vrye genade en bevryding was reeds op Golgotha ‘n voldonge feit. Die Here se genade het die sonde voorgespring! Wie dit gelowig aanvaar, sal met soveel dankbaarheid vervul word dat die onkunde, die misleiding en die sonde vanself sal wegval deur die krag van die Gees. Lees gerus 1 Korintiërs 6: 9-11 en oortuig jouself!