Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Dobbel met Skrifgesag Nuwe Standpunt van die Hervormde Kerk

dobbel🔗

Is Alles nou maar Eintlik ’n Leuen-Waarheid?🔗

Kerke wat in terme van die belydenis veronderstel is om gereformeerd te wees, het duidelik die standpunt oor dobbelary en lotery laat hoor. Die standpunt kom daarop neer dat dobbel nie sonde kan wees nie as mens nie sonde daarvan maak nie. Die Hervormde Kerk se jongste besluit (van die 64ste Algemene Kerkvergadering) is: “Die intensie of motief waarmee aan ’n kansspel deelgeneem word, is deurslaggewend… Dobbelary kan ’n spel wees waaraan deelgeneem word ter wille van die spel self, en lotery kan ’n spel wees ter wille van die bydrae wat gemaak word vir ’n bepaalde doel, solank die deelnemer hom nie skuldig maak aan hebsug, selfsug, gierigheid, luiheid, bedrog of diefstal nie…” Hierdeur word te kenne gegee dat dobbel en lotery ’n saak was wat al die tyd reg was voor God: ons as mense moes dit net reggemaak het. Waar gaan standpunte soos hierdie ons bring as ons nog kinders van die Here wil wees? So asof sonde mos nou maar net ’n verkeerde gesindheid of ’n verkeerde belewing van ’n saak is, wat eintlik al die tyd reg was. Asof dit maar net die mens is wat dit reg of verkeerd gehanteer het.

Verbond Skuifbaar🔗

Hierdie soort argumente en Skrifbeskouing is besig om die bodem van die Bybel uit te haal - en dan kan ons maar die Bybel toemaak. Skrifgesag en God se soewereine Skrifopenbaring, daardie vrymagtige selfoptrede en selfbekendmaking van God, naamlik dat Hy die een “IS-wat-Hy-lS.” (Eksodus 3), soos in terme van die Here se verbond, staan dan mos nie meer vas nie. Die “IS-wat-Hy-lS” is juis die manier waarop God Hom in terme van sy verbond bekend maak, en die verbond is tog seker ’n waarheid. As God se verbond volgens die mens se eie maatstawwe “skuifbaar” begin raak, soos wat die relasionele waarheidsbeskouing in werklikheid poog, dan bly daar in die Bybel vir ons baie min oor.

Om die Mens te Pas🔗

Dis waar die huidige standpunt vandaan kom dat ons as mense oor soveel sake (sonde) nie meer ’n absolute “reg” of “verkeerd” uitspraak mag maak nie. Die rede hiervoor is dat die mens self die “IS” van God in terme van verbond en koninkryk wil rondskuif om die mens te pas. Die eietydse konteks moet eers in relasie met die Skrif geplaas word, voordat God met ons as mense sal kan praat. Die relasionele waarheidsbeskouing is in werklikheid die groot voorwaarde waarin mense elke keer die Here wil plaas voordat Hy met ons sal kan praat.

Kontekstuele Teologie🔗

Dit kom daarop neer dat die Skrif mense se ervarings en belewing van (en oor) God is, en ’n saak moet eers beleef word voordat God op sy Woord geneem kan word. As ons belewing en ervaring reg is, dan is dit vir God ook reg. Die werklikheid word elke keer vanuit my situasie en my belewing vertolk, en selfs God, Hy wat die Here is, moet eers in relasie met my konteks, my situasie, my werklikheid gestel word, voordat God kan praat en ek sal luister. Die standpunt dat die waarheid eers vir my werklikheid moet wees voordat dit waarheid is, raak geheel en al onhoudbaar. Op sigself het die Bybel dan vir ons niks meer te sê nie. Die Bybel moet ook eers deur die proses van ’n relasionele waarheidsbeskouing gemaal word voordat ek daarna kan luister. Daarom is dit nie verbasend dat daar in die teologie ook met die gedagte van ’n kontekstuele teologie na vore gekom is nie, omdat ’n relasionele waarheidsbeskouing noodwendig ’n kontekstuele teologie benodig.

Leuen of waarheid🔗

Leuen-Waarheid🔗

So sal in die kontekstuele teologie altyd alles prysgegee word, solank waarheid en werklikheid tog net ten alle koste altyd dieselfde moet wees. Mense sal in ’n politieke werklikheid altyd poog om soveel as moontlik waarheid daarin te lees, en die kerke se waarheid (belydenis) sal selfs aangepas moet kan word om by die politieke werklikheid te pas. (Is dit nou maar ’n blote “toevalligheid” dat politieke sake kerkagendas vol skryf?) Met die relasionele waarheidsbeskouing kan leuens en bedrog nie meer wees wat dit was nie. Met die beskouing lê leuens en bedrog gerieflikheidshalwe versluier agter die blote feit van die relasie en is dit ’n kwessie van tyd of die leuen word in terme van die relasie ook 'n waarheid gemaak. So maklik kan mens die leuen dieselfde as die waarheid wil maak deur die werklikheid altyd in ’n eietydse konteks te wil plaas – en die eietydse konteks of my belewing daarvan het die finale sê. So kom ons by die punt om te moet sê: daar is nie meer so iets soos ’n ware leuen nie, maar alle waarheid is eintlik maar ’n leuen-waarheid.

Slegs ’n Hulpmiddel🔗

Die relasie (verhouding) sal bepaal of my waardering van ’n saak positief of negatief sal wees. Die Bybel is nou slegs ’n “hulpmiddel” as dit by die bepaling van my waardering oor reg of verkeerd kom, en God se Woord kom dus eintlik eers later ter sprake en moet by voorbaat geen rol speel in die voorafbepaling van die relasie nie.

Grys Gebied🔗

Die verskil tussen reg of verkeerd word dan ’n grys gebied. Verskuiwing in die standpunte oor dobbelary en lotery is ’n klassieke voorbeeld. Hoe grys lê die skeidslyn tussen wanneer dobbelary en lotery reg of verkeerd is as ons na die 64ste Algemene Kerkvergadering se besluit kon beoordeel nie. Wanneer sal sonde sonde genoem kan word, want die een keer kan ek dobbel sonder dat dit sou wees (dalk op ’n basaar), maar die ander keer voel ek, dieselfde mens, dalk net ’n bietjie anders, dat my belewing en behoefte anders lyk, ek is dalk op ’n ander plek (in ’n dobbelsaal) terwyl die dobbelsaak niks verander het nie, maar nou is die saak skielik sondig! So ’n grys besluit kan nie stand hou nie, want die besluit werk met die gedagte dat daar nie meer absolutes is nie, die absolute teenstelling tussen reg en verkeerd, tussen waar en vals, tussen lig en duisternis word opgehef. ’n Kop kan nou maar eenmaal nie ’n stert wees nie, en as die stert ’n kop wil maak dan is dit ’n vervloeking. (Daardie teenstelling stel die Here vir ons in Deut. 28. Let veral op die verskil in verskuiwing van vers 13 tot 44 – dan is die verskuiwing ’n vervloeking van die Here).

Net Verkeerde Belewing🔗

Met hierdie verskuiwing in die eenvoudige voorbeeld van dobbelary en lotery kom die suiwere dogma, die leer van die ware kerk, in geding. Sonde is nou nie meer oortreding van die wil (wet) van God nie (vgl. die Kategismus vraag 3), maar sonde is slegs my verkeerde belewing van wat ek in my persoon en ’n bepaalde situasie van ’n saak maak. So kom ons dan ook by die tydsgees dat persoonlike verlossing, in terme van ’n mooi, voorbeeldige lewe, oorbeklemtoon word, terwyl die handhawing van ’n suiwere leer skynbaar niks met verlossing te doen het nie, en dit nou maar links kan gaan lê. So kry elke saak onder die son (sondig of nie) tegelyk ’n positiewe en negatiewe waardering, soos wat byvoorbeeld elektrisiteit werk. Die tipe persoon en die situasie, en nie God nie, sal in die relasie bepaal of dit in ’n bepaalde situasie positief of negatief beoordeel moet word. Die Woord kan dan nie meer direk uitspraak lewer nie.

Geen Kompromie🔗

Die Here se kerke sal met hulle wyse van Skrifhantering en Skrifbeskouing moet uitmaak waar hulle Skrifgesag plaas. Die sewe gemeentes aan wie Christus in die Openbaringboek skrywe, het elk ook verskillende situasies en omstandighede en tye gehad - maar vir elke gemeente geld dieselfde Woord sonder dat dit nodig is vir die Woord om eers aan te pas. Die Woord waarsku teen kompromieë. Efése word aangeprys oor hulle geen kompromie aangaan nie. Pergamus en Thiatire word oor hulle kompromieë gewaarsku. Smirna wys vir ons die verskil tussen ryk armes en arm rykes. In Smirna kry ons die armes, maar hulle is ryk. In Laodicea kry ons rykes, maar hulle is eintlik arm. Die kerk se standpunt sal maak dat mense al hoe meer sal wil dobbel. Baie geld, groot inkomste, mooi programme en planne kan dalk aan die werk kom, maar dan word die arm-rykes meer en vir die ryk-armes word dit al hoe moeiliker vanweë ’n kerk se standpunt!

Rentmeesters🔗

Die Here se wet dra tog nog steeds in die laatste tyd van die twintigste eeu sy omvattende karakter, en by die agste gebod staan daar kort en kragtig “jy mag nie steel nie”. God is die enigste Eienaar. Ons is slegs besitters. In die verhouding van Eienaar na besitter wil die Here hê ons moet vir Hom rentmeesters wees. Waar lê die erkenning van rentmeesterskap in die kerk se dobbel- en lotery-besluite? Mag ek vir u sê dat u rentmeesters moet wees? Alles wat ek is en het kom van God af. Elke sent wat deur my hande gaan, is God se sente.

geld

Speel met God?🔗

Wat ek met die Here se geld (elke sent) maak, bepaal elke keer of ek rentmeester vir God wil wees of nie. Wil ek die geld laat werk of wil ek die geld laat speel? Nooit sou ons kon dink dat God maar net ’n speletjie sou bedoel het toe Hy gesê het dat ons vir Hom rentmeesters moet wees nie. Kan ek ooit die dobbelspel met die spel speel, of is ons eintlik maar besig om met dobbelary en ons soort lotery ’n spel met God te wil speel?

Geluksgodin🔗

Die etiek van kans is reeds uitgewerk. Watter een word gedien as “kans” my spel word en kans eintlik my god is wat voorsien? Die Bybel praat van die geluksgod, Jes. 65:11, 12a: “Maar julle wat die Here verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat n tafel dek vir die geluksgod (Gad) en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot (Memi). Ek sal julle bestem vir die swaard.” (vgl. ook die H.K. Sondag 42). Laat ons dus sonde nog sonde noem. Al sal soveel grense vervaag en al wil mense sonde laat vervaag, die verskil tussen arm rykes en ryk armes kan danksy God se genade tog nooit vervaag nie.