Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Dra so Mekaar se Laste

'n Gelowige kind van God kan val🔗

Lees Galasiërs 6:1-10🔗

Die vraag word dikwels gevra: Wat is die bewys van ware vriendskap, ware broeder­skap? Mooiweersvriende ken ons mos al­mal. Wanneer die geld baie is, die sosiale status hoog is, en die lewenstandaard kompeterend, dan is ook die vriende baie. Maar wanneer daar een of ander krisis kom, verdwyn die vriende soos die weer. 'n Ware vriend is egter 'n vriend in nood. Dit is eintlik teen die normale menslike grein in, maar dit is ingebou as deel van die karak­terpaket wanneer ons die beginsels van kerkwees – ware kerkwees, van die Heilige Gees af ontvang.

Eintlik is dit onverwagse woorde wat Paulus aan die Christene van Galasië geskryf het. Want ons verwag tog dat 'n Christen iemand is wat deur die oorwinningskrag van die Heilige Gees lewe. Dit is iemand wat onder die suksesvolle koningskap van Christus lewe. Eintlik verwag ons dat 'n Christen met die sondes afgereken het. En nou kom maak Paulus hierdie skokaankondiging: Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad gevang word, moet julle ander hom reghelp.

Die punt is: dat 'n gelowige kind van God kan val. Dit is moontlik. En ons ervaring leer ons ook dat dit beslis dikwels gebeur. Die lidmaat wat nie al 'n keer of meer in die slaggat van die sonde geval het nie, moet nog gebore word. Johannes waarsku ons dat die persoon wat sê dat hy nie gesondig het nie, 'n leuenaar is en hy maak God ook tot 'n leuenaar.

Niemand van ons het die reg om ons te verbeel dat ons sterker staan as Moses – die man wat met God van aangesig tot aangesig gepraat het – sodat ons nie ook dikwels in frustrasie-opstand die rots in eie krag slaan, pleks daarvan om aan God die eer te gee nie.

Niemand het die reputasie agter hom, dat hy hom kan verbeel dat hy beter is as Dawid, die vriend van God, en kategories verklaar dat hy nie soos Dawid in die versoeking sal val om te begeer om ontug te pleeg as hy 'n mooi kaal vrou sien bad nie en daarna 'n slim plan sal maak om sy ontug weg te steek deur moord te pleeg nie.

Niemand van ons moet dit waag om te dink dat ons vaster kan staan as Petrus – dat ons nie die Here Jesus sal verloën as ons onder druk van Hom moet getuig nie.

Rampe en ellendes kom van tyd tot tyd oor almal van ons, en skandes veel meer, en baie dikwels bring ons dit sommer self oor ons. Dan gebeur dit met 'n gelowige broeder of suster dat hulle deur 'n misdaad oorval word. Die twee broers stap beide met goeie bedoelings die veld binne en niksvermoedend ontstaan 'n hewige argu­ment. Dan tel die een 'n stuk hout op en hy slaan sy broer dood. Ons ken tog almal die geskiedenis van Kain en Abel. Die sonde het vir Kain gelê en loer en voor hy hom kom kry was hy daardeur in 'n vangstrik verlei. Hy moes daaroor heers, maar die sonde het hom oorval.

Wat is nou ons reaksie as iemand onder ons deur 'n misdaad oorval word? Daar is dikwels sommer 'n hele proses van aksies. Die eerste is dat ons so 'n broeder vermy. Die lidmate wil nie met so een geassosieer wees nie. Dit is die eerste ding wat ons doen; ons kyk hom so op 'n lang afstand met sulke deurborende hout-oë aan. Ons vermy hom.

Die tweede ding wat ons doen, is om oor hom te begin praat: "So 'n daad is tog veragtelik in die kerk van die Here."

En ons oordeel is nie saggies nie: "so ie­mand hoort nie tussen ons nie." En so skinder en praat en gons dit in elke open­bare plek, by die werkplekke, tussen die vriendegesprekke, in ons huise. En in die koerante word dit aan die groot klok opge­hang. Hierdie is nou presies wat nie mag gebeur nie. Ons het weer die eerbare era nodig waar 'n dapper mens sy glimlag hou vir sy vyand, sy trane vir sy vriend, sy hart gee vir sy medemens, sy oordeel hou vir homself en sy gewete vir God.

Ons gaan dikwels so maklik deur die lewe; ons maak vandag nuwe vriende om môre weer opsy te gooi – of deur hulle opsy gegooi te word, en so lank as die vriendskap duur, maak ons 'n groter ophef van hulle as van die ou beproefdes. Die ou vriende van jare­lange stand is heen en weer geskommel op die stampplekke van ons nukke en grille, ons storm en drang. Hulle was by ons in die son van ons voorspoed toe ons ons rug op hulle wou draai, toe ons gedink het dat ons self kan regkom in ons oormoed, en hulle vriendskap het nie vervaag nie. Hulle was ook by ons toe die res van die wêreld die rug vir ons gedraai het in die gure reëns van teenspoed. (CJ Langenhoven)

Dit is wat Paulus in gedagte gehad het toe hy onder inspirasie geskryf het dat ons mekaar se laste moet dra. Daar is geen sin in om ons medelidmaat wat vasgevang is in die strik van 'n misdaad met ons oë, ons gebare en ons agteraf-gesprekke verder te deurboor nie. Ons is immers nie vir mekaar gegee sodat ons mekaar dieper die verdoe­menis kan inboender nie. Maar nou lyk dit so tragies of dit van die lekkerste stokperd­jies onder mense is.

Die Here gebruik nie verniet hierdie spe­sifieke woorde van 'n "misdaad" en om daardeur "oorval" te word nie. Om deur iets oorval te word is soos wanneer voëlvan­gers hulle net bo-oor die voëls laat val. Of soos wat 'n rotsstorting onder in 'n myn bo-op die werkers toeval… Die persoon wat oorval word, is in desperate nood en kan self nie daaruit ontworstel nie. Daarom moet noodwendig van buite-uit te hulp gesnel word.

Wie mag 'n gevalle gelowige reghelp?🔗

Lees Galasiërs 6:1-10🔗

Nou gee die Here presiese voorskrifte hoe­-dat en wie-dat hierdie hulp moet bied. Die eerste en basiese strekking van hierdie voorskrif is dat daar by ons 'n gees van hulpvaar­digheid vir mekaar oor ons moet heers. Trouens, niks en niemand anders as die Gees van ons Here Jesus Christus word be­doel nie. Kyk ons na die lewenswyse van ons Meester, sy optrede teenoor die mense met wie Hy daagliks omgegaan het, dan is dit juis die gesindheid wat by Hom aanwe­sig was. Selfs tot die uiterste toe: die Offergawe van sy lewe in ons plek. Wanneer sy Gees dus ook oor sy dissipels en dissipelin­ne heers, oor sy kerk, oor ons, dan sal ons ook offerbereid en hulpvaardig jeens mekaar wil wees. Want hulpvaardigheid is 'n duidelike eienskap van die lewe wat die Heilige Gees in ons binneste skep. Onbe­trokkenheid, koudheid, afsydigheid en on­willigheid teenoor die huisgenote van God se huishouding is blatante liefdelose werke van die duiwel.

Eerste word dus 'n gees van hulpvaardig­heid vereis.

Maar dan ook besondere toerusting. Die Here sê dat julle wat Geestelik is, so een moet reghelp. Geestelik staan met 'n hoofletter. Dit beteken dat iemand wat sonder die Heilige Gees of buite die Heilige Gees om wil terapie verleen summier gediskwali­fiseer is. Dit help dus nie jy stuur jou verslaafde kind na 'n ateïstiese of ongelowige berader toe nie, dit is immers God wat die menslike gedrag volkome vernuwe. Dit sal ook nie help as jy jou vernietigde huwelik in die hande van 'n ongelowige geneesheer laat nie – dit is immers God wat die huwelik ingestel het. Dit is dus die eerste kwalifika­sie wat my helper moet hê: Hy moet my met Godgegewe hulp kan bystaan. Daarom moet dit 'n persoon wees wat aktief die lei­ding van die Gees soek en daarin wandel. Nou vra u terreg, hoe sal ek weet wanneer iemand die leiding van die Gees soek en daarin wandel. Vir baie mense is hierdie juis een van hulle grootste probleme. Want dit was meestal nog net mense wat hulleself vreeslik Christelik en vroom voorgedoen het wat hulle die ergste skade berokken het, die grootste bedrog gepleeg het, en die skelmste gesteel het. Trouens, daar is mense wat vir jou sal sê: As 'n mens homself as 'n Christen aan jou voorstel, moet jy ekstra versigtig wees vir hom. Nou dit is die wolf-­in-skaapsklere sindroom. Die gedaante van die godsaligheid sonder die krag daarvan. Die Bybel ken ook hierdie mense. Die Here Jesus het gesê ons moet hulle aan hulle werke toets. 'n Jakkals kan tog nie blêr nie. 'n Skaap kan tog nie vleis eet nie. Paulus weer, gee vir Timoteus geïnspireerde ad­vies as hy skryf dat mense se reputasies voete het. Hulle sondes loop hulle vooruit en ander s'n volg hulle eers agterna (1 Timoteus 5:24). Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie. So moet ons deeglik kennis neem van iemand se lewensgetuie­nis. Iemand wat onder leiding van die Gees lewe, sal ook in staat wees om iemand anders in so 'n lewe te begelei. Dit hoef dus nie 'n slim geleerde mens met grade en boekekennis te wees nie. Baie keer was dit juis die ongeletterde Omie wat die Bybel met die voorvinger gelees het wat die wys­heid besit het. Onder leiding van die Gees beteken in die mees konkrete sin ook niks anders as die opdragte en die leringe van ons Here Jesus self nie. Sy Gees het immers gekom om ons te herinner aan alles wat Hy ons beveel het. Sy Gees sal dus nêrens in stryd met sy eie leringe wees nie. Op hierdie manier is ons vir die leiding van die Gees regstreeks van die Skrif afhanklik, want die Hele Skrif is deur God geïnspireer, en kan ons volmaak toerus (2 Timoteus 3:17 e.v.). Wanneer ek iemand soek wat Hom deur die Gees laat lei, sal dit iemand wees waar­van ek weet dat hy of sy 'n deeglike en onder­legde Skrifkennis besit en terselfdertyd ie­mand wat in diepe afhanklikheid en gods­vrug self uit die Skrif leef.

In watter styl moet gelowiges mekaar reghelp?🔗

In die volgende kwalifikasies, beskrywe Paulus die eienskappe van die persoon wat hom deur die Gees laat lei. Hy verduidelik die kenmerkende styl waarmee die Gees van Christus ons lei om mekaar te help, naamlik met 'n gees van sagmoedigheid. Sagmoedigheid vind sy volmaakte beteke­nis in Christus wat ons uitgenooi het: Almal wat vermoeid en belas is, om na Hom toe te kom en sy las op te neem en van Hom te leer, want Hy is sagmoedig en nederig van hart. Oor die sagmoedigheid en nederigheid van hart het die profeet Jesaja geprofeteer, dat die Kneg van die Here sagmoedig is en op 'n donkievul ry. Dit kom dan daarop neer dat ons Here Jesus nie hoogmoedig, meerderwaardig, snobisties die armsalige sukkelende mense ter wille was nie. Hy het Homself met elke mens op sy lewensvlak identifiseer. Nie uit die hoogte lag vir die gevalle sondaar nie, maar saam in die modderput inklim, en ook vol modder raak, en uithelp, 'n gees van sagmoedigheid.

Dan is daar 'n belangrike waarskuwing. Dis altyd deel van die help-proses. Dis ook deel van die kenmerkende leiding van die Heilige Gees. Jy moet Geesvervuld op jou­self let dat jy nie ook versoek word nie. Dis deel van die sagmoedigheid. Die besef dat ons mense nie volmaak is nie, en dat almal van ons kan val. Dit help immers nie die mense roep jou toe: Geneesheer genees jou­self nie. Die geneesheer wat siekes help, moet ook op homself let, dat hy nie self siek word nie. Die werking is soos die van 'n katalisator: Dit laat groot veranderinge teweeg bring sonder dat dit self enige veran­deringe ondergaan. So was dit immers ook met die helpende werk van ons Here Jesus gewees. Selfs deur die diepste benoudhede en helse smarte heen, het daar by Homself geen verandering of skaduwee van omke­ring gekom nie. En ons wat ons deur sy Gees laat lei, sal ook deur sy Gees die krag ontvang om nie self in versoeking te kom nie.

Ons is as gemeente op mekaar aangewese. Nie om vir mekaar te lag, of mekaar te beskinder nie, maar om mekaar se laste te help dra. Dit is die rede waarom jy 'n lid­maat van die kerk, en 'n kind van die he­melse Vader is, waarom Hy wil hê dat jy ingeskakel en deel van sy gemeente moet wees, sodat jy binne die werksruimte van sy Heilige Gees, die ondersteuning kan soek, en die leiding kan ontvang, en reggehelp kan word wanneer jy deur 'n misdaad oorval sou word. So ook is dit die rede waar­om die Here jou in sy gemeente wil gebruik: sodat jy weer vir medebroeders en mede­susters tot hulp kan wees en hulle laste kan help dra, wanneer iemand van ons deur een of ander misdaad oorval word.

Op hierdie manier is die kerk 'n liggaam met ledemate wat vir mekaar sorg en me­kaar opbou in die liefde.