Is daar ruimte vir drama en mimiek in die erediens?

Bron: Nader Bekeken, 2010. 3 bladsye.

Drama in die Erediens

Wie die opskrif hierbo lees sien waarskynlik dubbelsinnigheid daarin. Duideliker gestel, as jy drama (toneel of mimiek) ʼn plek in die erediens of liturgie gee, kan jy daarop reken dat dit drama in die kerk tot gevolg sal hê. Baie gereformeerde kerkgangers bevraagteken die gebruik van drama in ʼn gereformeerde erediens.

Ons as gereformeerde kerke het tog daarby gebly dat Woordverkondiging sentraal staan in die erediens? Dat die gemeente deur sang, gebed en belydenis met die Woordverkondiging instem? Drama behoort tog nie daar nie? Trouens, wat kan tydens die diens ‘uitgebeeld’ word? Sekerlik nie die Here self nie! Ons bely immers in die Kategismus oor die tweede gebod dat ons die Here op geen manier kan of mag afbeeld nie; en dat ons nie wyser moet wees nie as Hy wat sy Christene nie deur stomme beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord wil laat onderrig (Heidelbergse Kategismus, Sondag 35). En lees ons nie in Romeine 10:17 nie:

“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God,”
of Jesus se eie woorde in Johannes 20:29 nie:
“salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het”?

Dat die bogenoemde argumente vir baie mense in ons kerke nie waterdig is nie, blyk daaruit dat daar al hoe meer in verskeie gemeentes in ons kerkverband sprake is van drama in die erediens. By een gebeur dit op ʼn beskeie en ondersteunende manier, as ʼn soort aanloop tot die prediking (wat Schuringa die Willow Creek model noem[1 By ander funksioneer dit as ʼn ‘verryking’ van of toevoeging tot die ‘gewone’ (lees: vervelige) liturgie. Ander gebruik drama bloot om die erediens vir die visueel georiënteerde jongmense aantrekliker te maak.

Voer jy hieroor gesprek, kry jy reaksies soos: ‘Ons lewe in ʼn visuele konteks. In die erediens moet ook daarmee rekening gehou word.’ Wie na aanleiding van Sondag 35 drama in die erediens wil verbied, gaan te ver. Of, so word geargumenteer, in Romeine 10:17 sou dit nie gaan oor geloof uit die gehoor nie, maar oor die proses van die ontstaan van die geloof. Die tydloosheid of eksklusiwiteit van die hoorbare prediking as manier om inligting oor te dra sou dan nêrens in Romeine ter sprake kom nie; en die visualisering daarvan nog minder. Romeine 10 kan dus nie as bewysplaas gebruik word om drama in die erediens te verbied nie. ʼn Ander argument is dat drama dieselfde funksie as die sakramente het: dit is visuele middels ter ondersteuning van die prediking en tot opbou van die geloof. Baie predikante gebruik ʼn dataprojektor om hulle prediking te ondersteun. Waarom dan moeilik wees as iets ‘live’ tydens die erediens opgevoer of vertoon word?

Daar is miskien meer argumente wat hier bygevoeg kan word. ʼn Opsie is om op elke argument afsonderlik in te gaan, op gevaar af van ʼn ‘is − is nie’ gesprek. Of ʼn eksegetiese diskussie waarby elke gespreksgenoot by sy eie eksegetiese standpunt bly. Ek is van mening dat ʼn meer waardevolle evaluasie van drama in die erediens haalbaar is, deur te vra na die karakter van ons gereformeerde erediens en daaruit die toepaslikheid van drama in die erediens te toets.

Die erediens as amptelike omgang van Christus met sy gemeente🔗

Ons het nie in die erediens met die persoonlike aanbidding van elke gelowige afsonderlik te doen nie. Ook nie met die verering van God deur ʼn groep nie. Dit gaan in die erediens oor die omgang van Christus met die gelowiges as gemeente. Dit is ʼn ontmoeting tussen God en sy volk. Dit is nie sommer net ʼn byeenkoms nie; dit is die vergadering, deur Christus, van sy gemeente. En dit doen Hy onder die leiding en die toesig van die besondere ampte.

Die kern van ʼn erediens is die besondere werk van die drie-enige God. In die erediens openbaar Hy sy liefde aan geredde sondaars. Die erediens is gerig op God in Christus. Hy neem die inisiatief in die erediens. Van daaruit is die diens gerig op die gelowiges in hulle belewing van die gemeenskaplike geloof in Christus en gesamentlike omgang met Hom. Hulle word gebou as gemeente. Vanuit die erediens rig die gemeente hulle ook na die verlore wêreld om hulle heen. Sodat die na Hom getrek word.

Die hele erediens is dus primêr die werk van God (opus Dei). Hy bring die mense in die erediens daartoe om Hom as enigste ware God te erken. Op hierdie werk van God volg die gelowige reaksie van die mens (opus populi). Die gemeente reageer op die liefdeswoorde van haar Here. Ons kom in die erediens na Hom toe, omdat Hy eerste na ons gekom het en dit vir ons moontlik gemaak het om na Hom te kom en te kan antwoord. Die Gees van Christus bring die gemeente tot ware betrokkenheid by die erediens.

In hierdie ontmoeting met Christus ervaar ons die gemeenskap van die heiliges, en ons beleef dit deur die Woord en Gees van God in die eenheid van ware geloof. So kan die gelowiges almal saam en elkeen persoonlik in die erediens deel hê aan Sy skatte en gawes (Heidelbergse Kategismus, Sondag 21).

Dit is belangrik dat die gemeente nie sal bestaan uit onmondige toeskouers nie, maar uit volwaardige deelnemers. Dit is nog belangriker dat die deelname aan die erediens gesamentlik sal wees. Dit is immers die gemeente as sodanig wat aan die erediens deelneem. Individualistiese deelname deur enkeles (byvoorbeeld in ʼn drama opvoering) is nie werklike deelname nie. Die hele gemeente moet by elke aspek van die erediens aktief betrokke wees. Dit kom veral tot sy reg in gebed, skuldbelydenis, geloofsbelydenis, sang, die kollekte en die luister na die Woord van God. Al speel die voorganger daarin ʼn leidende rol, is die gemeente as gesamentlike eenheid tydens die erediens aktief besig. Daarom het die voorganger nie die vryheid om die vorm van die erediens na eie goeddunke in te vul nie, maar moet hom hou by die liturgiese orde volgens die afspraak van die kerke in die kerkorde. Dit voorkom demokratisering en vervlakking van die erediens tot ʼn blote menslike aktiwiteit

Heilig die doel die middele?🔗

Soos reeds gesê, neem die sprekende God tydens die diens die primêre plek in. Die Heilige Gees werk geloof in die gemeente deur die Woord en die verkondiging daarvan. Maar, vra hulle, is die amptelike verkondiging van die Woord dan die enigste manier waarop die Gees geloof in die mense werk? Werk die Gees ook geloof deur die uitbeelding van die Woord van God in dramavorm? Maak dit saak in watter ‘verpakking’ die evangelie in die erediens na die gemeente kom? En word die Gees dan nie gedien met ʼn ondersteunende drama in die diens om geloof te werk nie?

Dit is goed om daaraan te dink dat die vorm waarin die Woord van God bedien word nie opsioneel is nie. Die doel heilig nie die middel nie. Die medium waarin en waarmee die Woord van God gebring word, is van belang. En toneelspel is daarvoor nie geskik nie, want wat gebeur met die inhoud van die Bybel as dit nie die verkondiger is nie, maar ʼn speler wat dit probeer oordra? Ek verwys graag in hierdie verband na die proefskrif van Z. Rittersma, Het dramatiseren van bijbelse geschiedenissen door jeugdigen (1972). Rittersma waarsku teen die volgende: ‘Sowel die speler as die toeskouer verplaas hulle opsetlik na ʼn skynwêreld. Ook die Bybelse verhale beland in dieselfde wêreld. Die speler maak asof hy bedroef is, asof hy ʼn geloofsbelydenis doen, asof hy Josef is, asof hy goed of kwaad doen. Die speler vertolk goed of sleg sonder dat hy sedelike eise van waarheid en opregtheid aan homself stel. Die sedelike rol wat hy vertolk, is ʼn masker wat ʼn persoonlike konfrontasie met die eise wat die evangelie stel, teenwerk. Die skyn-doen verskil fundamenteel van dié doen wat ʼn gelowige en bewuste nakoming is van wat God in die werklike lewe vra.’ Verder waarsku Rittersma teen eksemplariese omgang met God se Woord in drama. ‘Opvoering van Bybelse stof is ʼn ontkenning van die heilshistoriese karakter van die Woord van God. Die heilshistoriese stof word uitgesoek op grond van wat vir die toneelspel geskikte voorbeelde is. Die voorbeelde word uit die heilshistoriese verband waarin hulle voorkom losgemaak en die stof wat verwerk gaan word kry die karakter van illustrasiemateriaal.’2 Só kom die karakter van die Woord van God en die amptelike verkondiging daarvan in gedrang.

ʼn Preek daarenteen is anders van aard. ʼn Preek van ʼn predikant wat die Woord van God trou en suiwer verkondig, ook al het die preek gebreke in struktuur en aanbieding, is vir die Gees voldoende om kragtige wonders van herskepping in mense te bewerk. Die Here het dit in sy wysheid so bepaal (lees Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 24). Hy het geen ondersteunende drama daarvoor nodig nie.

Ons kan hier byvoeg dat die kern van die erediens en die gepaardgaande liturgie verder strek as net wat op Sondag gebeur. Die erediens van Sondag is ook bepalend vir erediens van die lewe van elke dag. As die erediens nie ʼn uitwerking in die daaglikse doen en late het nie, dan word dit ʼn mistieke kultus soos by die heidene. Dan loop die erediens en liturgie gevaar om ʼn geïsoleerde religieuse aktiwiteit te word, waarvan die vermaaklikheidskarakter aangepas word by die behoeftes van die toeskouer. Met drama in die liturgie word die gevaar van ʼn vermaaklikheidselement in die erediens groot.

Terselfdertyd is daar die risiko dat ons die liturgiese band met die Ou Testamentiese liturgie soos ons dit in die tabernakel- en tempeldiens vind, en met die hemelse erediens wat in Openbaring beskryf word, kwytraak. In nie een van dié twee liturgieë vind mens iets soos drama soos dit soms in ons eredienste plaasvind nie.

Nodig?🔗

Ons mag ons dus afvra of drama in die gereformeerde liturgie gepas of selfs verantwoordbaar is. Het ons drama nodig om ons Christelike geloof op te bou? Is die hoorbare verkondiging (prediking) en sigbare verkondiging (sakramente) nie voldoende nie? Dit is. Drama kan nooit die plek daarvan inneem nie, want die armoede van die kuns, ook van drama, is dat dit met alle eerlik bedoelde pogings tot opheldering, moet aansluit by die gegewe werklikheid. Die (gepredikte) Woord styg daarbo uit. Dit maak die onvertolkbare hemelse werklikheid in hoorbare en leesbare woorde bekend. Nie as ʼn virtuele werklikheid nie, maar as ʼn omgang van God met sy volk wat beleef en deurleef kan word. Na my mening is drama in die erediens nie nodig nie. Die gereformeerde liturgie wat ons in die kerkordelike afspraak vind, bied ʼn beter grondslag om die werklikheid in heerlikheid wat deur die Gees aan ons geskenk word, te geniet.

Ten slotte besef ons dat daar soveel kante aan hierdie onderwerp is dat die laaste woord daaroor nie gespreek is nie. Hierdie artikel is dan ook net ʼn poging om by te dra tot die gesprek oor drama in die erediens. Mag die Here gee dat hierdie gesprek uiteindelik sal bydra tot eerbiedige lof en eer van sy heilige Naam.

Endnotes🔗

  1. ^ H. David Schuringa, Hearing the Word in a Visual Age: A practical Theological Consideration of Preaching within the Contemporary Urge to Visualization, Kampen, Theologische Universiteit 1995.
  2. ^ Rittersma, p. 124.