2 bladsye. Vertaal deur Louise Haak.

Drie is één

Hoe kan ek? Wie is ek, dat ek sommer so maklik vertel hoe God inmekaar sit?  “Kyk né, dit werk so, daar is ʼn Vader en ʼn Seun en ʼn Gees..." Asof dit oor ʼn moeilike onderdeel van die natuurkunde gaan!

Dit werk nie so nie. Ek kan net oor God praat, as ek self besef hoe klein ek is – ʼn nietige skepsel van die grote God en as ek dan eerbiedig probeer ná sê wat Hy oor Homself vertel het.

Dit beteken dat ek my eie logika voorlopig maar agterweë laat. Ek kan Hom immers nie in die rede val nie, deur te sê: drie kan mos nie één wees nie!? As Hy dit wel kan, kan ek niks daarop antwoord nie. Ek sal selfs nie kan sê nie: U het oral in u skepping die wet vasgelê, dat drie nie terselfdertyd één kan wees nie, dus... Want Hy is self mos nie onderworpe aan die reëls van sy skepping nie?

Daar sal dus maar net geluister moet word. Na die waarskuwende stem: Oppas, Ek is die Enige.

Na die ander verklarende stem: Die Vader en Ek is één. Wie My gesien het, het die Vader gesien. Wie die Seun nie eer nie, eer ook nie die Vader nie.

Hoe kan dit tegelyk waar wees? Hoe kan ek God hier gehoorsaam wees? Moet ek dan my verstand afskakel?

Of − moet ek met my verstand tot die gevolgtrekking kom dat ek in my eie wêreld geen vergelykingsmateriaal het nie? Híér kan drie nêrens tegelyk één wees nie. Nie by mense nie, nie by diere nie en ook nie by dinge nie. Maar waarom sou dit by ʼn god nie moontlik wees nie? Die probleem is net, dat daar nie ander gode ter vergelyking is nie. Ons het maar net één God, en dit is Hy, en dus kan Hy nêrens aan gemeet word nie. As Hy sê dat Hy so is, dan sal dit wel so wees!

In die vroeë Christelike kerk was daar ʼn groep mense wat nie moeite daarmee gehad het nie. Hul godsbeeld was soos die van die Griekse filosowe van daardie tyd: ʼn afstandelike oppergod, onbeweeglik, kan deur niks aangeraak word nie, te hoog vir regstreekse kontak met hierdie aarde. Dit was dan ook logies dat hierdie god hom nie aan mense openbaar soos hy was nie. Hy kon dit net doen in verskillende gestaltes, waarin hy hom min of meer aangepas het by die laere menslike. Vader, Seun en Gees was drie van die gestaltes van die Een God.

Nee, het die kerk gesê. Dit is nie hoe Christus oor sy Vader praat nie. Dan praat Hy regtig oor ʼn Ander, wat Hom liefhet, wat Hom alles laat sien wat Hy doen (Johannes 5:20). God speel maar nie af en toe die rol van die Vader nie, Hy is werklik Vader. En die Seun is werklik Seun, ʼn aparte persoon in God.

Toe die kerk dit bely het, het hulle ook die ou Griekse godsbeeld afgebreek. God hoef nie ʼn rolspel te speel nie! Toe die Seun aarde toe gekom het, het God Self Hom in al sy volheid na ons toe oorgebuig. Wie praat oor drie persone, kan maar moeilik nog praat oor ʼn onbewoë God.

Maar dan kan jy ook nie oor Hom uitgedink raak nie. Eén magtig-majesteitlike God en tegelyk drie, ʼn volheid van lewe van drie verskillende persone, met elk sy eie karaktereienskappe, ʼn ryke verskeidenheid en tegelyk ʼn intense eenheid. Hierdie God moet tog tot in alle ewighede genoeg aan Homself hê!

Dat Hy ʼn aarde geskep het, kan ek my nog voorstel. Om te skep moet vir Hom ʼn speletjie wees. Maar dat Hy sonde op die aarde geduld het, dat Eén van die Drie mens wou word om die sonde weg te kry, dit sal ek nooit verstaan nie.

Die enigste wat ek begryp, is dat Hy veel en veel groter moet wees as ekself. Aanbiddelik groot.

Die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie.

Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.

Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 8

As Ek net oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is.

Johannes 5: 31, 32